Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Groot gevaar is flitsend en handpas
Esté Gross

Op ’n bekende reiswebwerf sien ek onlangs ’n navraag van iemand wat ’n grot wil besoek: “Is dit waar dat jy nie toegelaat word om selfone, kameras of enige toestel wat kan foto’s neem in te neem nie? As dit die geval is, sal ek nie eens my tyd mors om die grot te besoek nie.”

Ek het in ongeloof gestaar na die inskrywing – is dit werklik vir die persoon tydmors om iets eerstehands te beleef as hy nie ’n foto kan neem nie? Het ons verleer om foto’s met ons geheue te neem? Is die enigste lewenservaring wat tel een wat deur ’n lens vasgevang kan word?

Die navraag som ’n tragiese hedendaagse tendens goed op. Dit is asof sommige mense vasgevang word in ’n virtuele bestaan en toenemend aanlyn en op kamera leef en nie aflyn of lensloos kán leef nie. Dit laat my dink aan die 1999-wetenskapsfiksiefliek The Matrix. Die fliek stel ’n distopiese samelewing voor waar die mense nie besef hulle leef in ’n nagebootste werklikheid nie.

’n Gebeurtenis het vir sommige nie waarde as daar nie ’n foto geneem is om op so­siale media aan ander te wys nie. In sommige gevalle word dit selfs ’n saak van lewe en dood . . .

Ek wonder net hoeveel van jou lewe verlore gaan as jy vasgevang raak in ’n lenslewe of ’n weerkaatsing van ’n selfoonskerm.

Die berigte herinner my ontstellend baie aan Narcissus, ’n karakter in die Griekse mitologie wat ’n weerkaatsing van homself in ’n waterpoel gesien en so meegesleur geraak het deur sy eie beeld dat hy homself nie kon wegskeur daarvan nie en uiteindelik weggekwyn het. In sommige weergawes het hy homself om die lewe gebring.

En daarmee sê ek nie dat almal wat ’n selfie neem narcisties is nie. Ek wonder net hoeveel van jou lewe verlore gaan as jy vasgevang raak in ’n lenslewe of ’n weerkaatsing van ’n selfoonskerm. Kan die slimfoon wat so handpas elke dag ons metgesel is nie soms ’n gevaar wees wat ons hande vol hou met ’n kunsmatige werklikheid nie?

Slimfone het byna ’n verlenging van jou identiteit geword. ’n Ledemaat, ’n ekstra hand. Sonder sy luiende, flitsende teenwoordigheid voel jy dikwels verlore. Ek wonder soms heimlik hoe vorige generasies sonder selfone gefunksioneer het.

Wat moet ons verloor voordat ons opkyk? ’n Foto op sy tyd vang kosbare herinneringe vas, maar die beste herinneringe word dikwels vasgevang deur onthou. ’n Selfoonlose grot sonder kameras klink vir my baie aanloklik. Dit is ’n ontvlugting van die flitsende, luiende, virtuele wêreld na ’n stiller, onopgesmukte, werklike werklikheid.

Meer oor:  Esté Gross  |  Selfies  |  Selfoon  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.