Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Groot planne sonder nadenke oor die gevolge
Bun Booyens

Stel jou voor: ’n nuwe snelweg uit Kaapstad na Mosselbaai – nie oor Sir Lowryspas nie, maar ’n kuspad deur Gordonsbaai na Koeëlbaai, waar jy dan met ’n 4 km lange tonnel deur die Kogelberg na Kleinmond en Hermanus ry.

Van daar loop die pad met ’n nuwe brug oor die Kleinrivierstrandmeer na Gansbaai, en dan via die sendingdorpie Elim, Bredasdorp en Stilbaai tot in Mosselbaai. Dit is feitlik heelpad ’n dubbelpad en ses nuwe brûe sal gebou moet word.

Dié pad was inderdaad die departement van vervoer se plan vyf dekades gelede. “Die voorgestelde roete open ongekende ontwikkelingspotensiaal vir die Suid-Kaapse kus,” het die departement destyds by monde van P.A. de Villiers gesê. “Jy sal feitlik heeltyd teen 60 myl per uur kan ry na dorpies wat tans slegs met kronkelende en ongeteerde paaie bereik kan word.”

Geen bestaande paaie sou benut word nie; alles sou nuut gebou word. Die koste? R33 miljoen met die tonnel en al, teenoor die R55 miljoen om die bestaande pad (die huidige N2) via Riviersonderend en Swellendam op te knap.

In Hermanus is die nuus van die nuwe pad met ademlose entoesiasme begroet.

In Hermanus is die nuus van die nuwe pad met ademlose entoesiasme begroet. “Our gateway to the world,” noem die dorp se reklamevereniging dit in die dorpskoerant van 15 Julie 1967.

“It conjures up the most exciting prospects for Hermanus as an almost year-round national and indeed world playground. We can look forward to ‘Jumbo’ jets jam packed with South African, Rhodesian and overseas visitors.”

Die burgemeester, F.J. Pope, het gesê: “The route across the Klein River Lagoon would pave the way for big developments. Control over the lagoon water could eventually lead to a fresh water lake and a water supply for the town.”

Kaapstad sou ook binne trefafstand vir pendelaars wees, om van Hermanus ’n “nuwe voorstad” van die Moederstad te maak. Die kus tot by Stilbaai se visbron sou behoorlik benut kon word.

Vandag val die naïwiteit van destyds se aannames jou op. Die mense sal kom, die 747’s sal land én die vis sal byt . . . die plan moet net groot genoeg wees.

’n Mens sidder as jy dink aan wat in die slag sou bly. Daardie tonnel sou uitgemond het langs die Palmiet­rivier in die hartjie van die Kogelberg-biosfeer, ’n lappie grond met moontlik die mees diverse plantgemeenskap ter wêreld.

Die verkeerslading sou Kleinmond onherroeplik verander het. Die brug oor die Kleinrivier-strandmeer sou die Walkerbaai-reservaat tot niet gemaak het. Die “ongekende ontwikkeling” langs die nuwe pad by Bredasdorp en Stilbaai sou eintlik maar net sake weggevat het van Riviersonderend en Heidelberg langs die ou pad.

Genadiglik is die groot padplan laat vaar (ek vermoed die koste van daardie tonnel is erg onderskat), maar een ding is helaas steeds met ons: ’n regering met ’n voorliefde vir gróót planne met min besonderhede, soos tans met pres. Cyril Ramaphosa se visie van hoëspoedtreine wat die land deurkruis en futuristiese stede wat uit niks uit verrys.

Genadiglik lyk dit of die “moeilik bereikbare” dorpies langs “kronkelende ongeteerde paadjies” in die Suid-Kaap nie deel van hierdie Groot Plan is nie.

  • Booyens is ’n vryskutskrywer. Hy sal voortaan elke tweede week in hierdie ruimte skryf.
Meer oor:  Bun Booyens  |  Kaapstad  |  Mosselbaai  |  Hermanus  |  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.