Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Gruweldade’ is wel volksmoord
Hein Willemse

Heiko Maas, Duitse minister van buitelandse sake, het Vrydag kortliks verklaar dat sy regering en Namibië tot ’n vergelyk gekom het oor aanspreeklikheid vir die grootskaalse uitwissing van Herero’s en Namas aan die begin van die 20ste eeu.

“Ons doel was en is om ’n gemeenskaplike pad van versoening te vind ter herinnering aan die slagoffers. Dit sluit in die erkenning van die gebeure in die Duitse koloniale tydperk in die huidige Namibië, veral die gruweldade wat van 1904 tot 1908 plaasgevind het, sonder om dit te versag of te systap.

“Ons sal die gebeure nou ook amptelik beskryf vir wat dit vanuit die perspektiewe van vandag was: ’n volksmoord.”

In ’n kort, aparte paragraaf sê Maas: “In die lig van Duitsland se historiese en morele verantwoordelikheid, smeek ons Namibië en die afstammelinge van die slagoffers om vergifnis.”

En “as ’n gebaar ter erkenning van die onmeetbare lyding wat die slagoffers toegedien is, wil ons Namibië en die nasate van die slagoffers ondersteun met ’n aansienlike program van 1,1 miljard vir heropbou en ontwikkeling. Die gemeenskappe wat deur die volksmoord geraak word, sal ’n deurslaggewende rol speel in die . . . program. Grondige eise vir vergoeding kan nie geïgnoreer word nie.”

Dit het toegewyde navorsers en aktiviste dekades gekos om instellings en owerhede sover te kry om die gruweldaad op die naam te noem.
.

In Suid-Afrika het die aankondiging skrapse aandag gekry, meestal sonder enige noemenswaardige agtergrond.

Daar is minstens vier belangrike aspekte wat in die verklaring uitstaan, naamlik die aanvaarding van Duitse aanspreeklikheid vir die gruweldade, erkenning dat die uitwissing van 80% van die Herero’s en 50% van die Namas ’n volksmoord was, ’n pleit om vergifnis en laastens, stappe vir reparasie.

Dít is nie terloopse kwessies nie.

Aan die vooraand van Namibië se onafhanklikwording tot taamlik onlangs was daar intellektuele debatte in tydskrifte en akademiese joernale oor wat die uitwissing van 65 000 Herero’s en 10 000 Namas genoem moet word. Jare lank het revisionistiese historici en kommentators “volksmoord” probeer omseil met allerlei argumente en slimpraatjies. Dit het toegewyde navorsers en aktiviste dekades gekos om instellings en owerhede sover te kry om die gruweldaad op die naam te noem.

Dis belangrik dat dit wat dikwels sagkens as “gruweldade” voorgehou is, nou inderdaad “volksmoord” genoem word. Tot relatief onlangs het die Duitse regering weggeskram daarvan onder die voorwendsel dat die term eers by die aanvaarding van die Geneefse Konvensie van 1948 en die Verenigde Nasies (VN) se Handves van Menseregte bruikbaar geword het. Maas se aankondiging draai daardie vroeëre argument nek om.

In Namibiese mondelinge oorlewering is daar flardes stories van die Duitse Schutztruppen wat gehuggies verwoes en mense sonder aansien des persoons gemartel en uitgemoor het.

Dit is eers wanneer ’n mens die werk van historici soos Horst Dreschler en Helmut Bley, en later Jan-Bart Gewald, Tilman Diedering, Casper W. Erichsen, Werner Hillebrecht en Jeremy Silvester lees dat die omvang vir die breë publiek duidelik word.

Silvester en Gewald se Words Cannot Be Found, ’n geannoteerde herdruk van ’n verslag van latere militêre Britse administrateurs, dui daarop hoe die Duitse koloniale owerheid op sistemiese wyse­ die Herero’s en die Namas wou uitdelg. Die Duitse erkenning van die volksmoord is ’n stap nader aan die erkenning van die waardigheid van die slagoffers as mense, ’n erkenning wat hul nasate van aangesig tot aangesig sou wou hoor.

  • Prof. Willemse is verbonde aan die departement Afrikaans van die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Volksmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.