In my vorige rubriek het ek gevra dat besin word oor die datum vir die heropening van skole. Dit is verblydend die versoek het nie op dowe ore geval nie. Nogtans gaan 2021 vol uitdagings wees. Die eerste? Met so baie onderwysers wat siek is of gesterf het, gaan hoofde sukkel om betyds plaasvervangers te kry voor 15 Februarie.
Een oplossing sou wees om finalejaar- B.Ed-studente in te span. Die Universiteit Stellenbosch het vanjaar baie meer aansoeke as normaalweg gekry vir honneurs, meer as waarvoor daar plek is. Daar is twee redes waarom studente kies om liefs nóg ’n graad (aanlyn) te doen: Die eerste is die onsekerheid oor die veiligheid van onderwysers; die tweede is dat graduandi selfs met ’n B.Ed-graad sukkel om werk te kry.
Amptelik is 30,8% of 11,1 miljoen Suid-Afrikaners van werkende ouderdom werkloos of studeer nie verder nie. Werkloosheid onder jong mense tussen 18 en 24 was reeds voor die pandemie ’n probleem. Ná die eerste golf het dit gestyg tot 23,3% – van die hoogste ter wêreld. Navorsing wys dat jong mense tydens ’n ekonomiese krisis die eerste is wat hul werk verloor en die laaste om hul werk terug te kry.
Dit vra vir ’n dringende ingryping en onderwys het ’n belangrike rol te speel. Matriek is belangrik, maar hoe eties is dit om ’n matrieksertifikaat voor te hou as die sleutel tot die toekoms indien matrieks nie vakke neem wat hulle vir die wêreld van werk voorberei nie?
Alle leerlinge behoort op skool aan entrepreneurskap blootgestel te word. Dit leer jong mense om vir hulself werk te skep, pleks om werk te soek.
Alle leerlinge behoort op skool aan entrepreneurskap blootgestel te word. Dit leer jong mense om vir hulself werk te skep, pleks om werk te soek. Duisende mense het gedurende die pandemie hul werk verloor, maar die pandemie het ook talle nuwe geleenthede geskep.
Dink aan die seuns van Khayelitsha wat met hul fietse ’n inkopiediens vir bejaardes begin het en die jong man wat gedurende die droogte van 2017 begin het om watertenke te installeer. Hierdie jong mense sorg nou vir hulself, lewer ’n diens aan die samelewing en maak ’n bydrae tot die ekonomie. Daar is baie ander voorbeelde.
Dit is ook ’n goeie idee om in hierdie tyd van werkskaarste jou dienste vir ’n skool of enige ander organisasie gratis aan te bied. Veral skole kan doen met ’n paar ekstra hande. Wys wat in jou steek en sorg dat jy ’n diens lewer wat onmisbaar is. Sien dit as ’n belegging in jou toekoms.
Die Chinese spreekwoord om iemand te leer visvang pleks van ’n vis te gee, is steeds waar. Dit moet die doel wees van onderwys – om jong mense te leer dat hulle selfversorgend moet wees in plaas om van elke dag in ’n tou te staan vir ’n aalmoes. In die verlede het ons kinders geleer om ’n aansoekbrief te skryf. In die nuwe normaal moet ons dalk vir kinders wys hoe om ’n sakeplan op te stel. Gryp die oomblik!
- Prof. Le Cordeur is hoof van die US se departement kurrikulumstudie.