Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Gun Afrikaans ’n lewe sonder polisiemag'

Mag die stryd tussen standaardtaal en dialek spoedig tot ’n einde kom, skryf Danny Titus.

Danny Titus.

Dit was Tim du Plessis wat onlangs in Rapport die stelling gemaak het dat die toekoms van Afrikaans in bruin hande is. ’n Mens kan die stelling van alle kante benader, maar dat bruin mense se aandeel tot Afrikaans veel meer erkenning moet kry, is gewis.

Twee byeenkomste van die Afrikaanse Taalraad (ATR) het dit die afgelope maand baie duidelik gemaak. Die een was die algemene jaarvergadering in Pretoria met ’n daaropvolgende simposium oor geloof en die Afrikaanse taal.

Die jaarvergadering, waarvan al die Afrikaanse lidorganisasies deel was, is maar skraps bygewoon en die simposium nog skrapser.

In skrille kontras daarmee het die Afrikaanse Taalmonument en -Museum saam met die ATR en ’n byeenkoms oor die herkoms van Afrikaans in die hartjie van die Paarl aangebied.

Die saal het geborrel van mense, die oorgrote meerderheid van hulle bruin mense. Die kultuurprogram ná die gesprek, was gepak met Afrikaanse kultuur uit die rieldanse, die meelewende Afrikaanse liedere van die Kaapse Maleierkoor, die stories van die hoofman Poem Mooney van Oudtshoorn, en ds. André Boezak van Oudtshoorn se voorlesings uit sy eie werk.

Die paneellede was prof. Christo van Rensburg van Potchefstroom, Imam Salie van die Bo-Kaap, Donique Cloete van Okiep en Anzil Kulsen, skryfster en projek-organiseerder van die ATKV in die Noord-Kaap.

Die gespreksleier uit Namibië was die oudnuusleser Rian Cloete.

Sy het verwys na die stigma van Afrikaans as die taal van die verdrukker teenoor die taal van die bevryding.

Van Rensburg het, soos altyd, nie teleurgestel nie. Dié man het oor die jare ongelooflik waardevolle navorsings oor veral Khoi-Afrikaans gedoen. Dit sal goed wees as ’n bibliografie van sy lewenswerk so wyd as moontlik beskikbaar gestel word.

Sy lesing oor die ontwikkeling van Afrikaans nog lank voordat Jan van Riebeeck aan wal gestap het, beklemtoon die verdraaiing van ons lands- en taalgeskiedenis en dat dit iets is wat reggestel moet word.

Hy het ’n beroep gedoen dat navorsing gedoen moet word oor Khoi-Afrikaans voor Van Riebeeck. En daarmee stem ek heelhartig saam.

As fasiliteerder was Rian Cloete ’n wenner en sy kommentaar tussendeur treffend: Afrikaans is nie net in ons hart nie, maar diep in ons bloed, het hy gesê ná Van Rensburg se lesing. Hy het ook verwys hy na die Afrikaans-band tussen Suid-Afrika en Namibië as “’n bloedstreep tussen Namakwaland en Namibië”.

Die verhaal van Oranjerivier-Afrikaans of Nama-Afrikaans het ’n tema van die byeenkoms geword soos nog weinig op ons taalbodem gehoor is.

Donique Cloete, ’n Okiepse vrou wat aan die UWK klasgee, het ’n interessante buiteperspektief oor Kaaps gegee. Sy het verwys na die stigma van Afrikaans as die taal van die verdrukker teenoor die taal van die bevryding. Sy het Hans du Plessis aangehaal: “Afrikaans is van ons almal, jy rol hom uit soos ’n vars deeg.”

Die lyn tussen Arabiese Afrikaans en latere Afrikaans het duideliker begin word.

Jy kry standaard-Afrikaans, die dominante taal, en dan kry jy die polilektiese perspektief wat gaan oor die diversiteit van Afrikaans, verskillend en uniek, het sy gesê.

Imam Salie het daarna kom praat oor die Afrikaanse baanbrekerswerk van wyle Achmat Davids. Hy het gepraat van moskee-Afrikaans. Ja, Afrikaans is in die moskees gepreek. Vandag hoor jy Afrikaans nie daar nie.

Tye het verander, het hy gesê.

“Maar ons moet erken in die vroeë dae aan die Kaap is Islam verbied tot in 1806. Ons moes bid,” het hy bygevoeg.

Die lyn tussen Arabiese Afrikaans en latere Afrikaans het duideliker begin word. “Bayang tramakassie” het spoedig “baie dankie” geword, met “baie” die een word wat Afrikaans duidelik onderskei van Nederlands.

Salie het ook daarop gewys dat daar selfs in die politiek van Arabiese Afrikaans gebruik gemaak word. Hy verwys na ’n politieke plakkaat van 1872 wat in Arabiese Afrikaans geskryf is. En mense uit die slawetyperk van destyds kon hul praktyke boekstaaf lank voor die Afrikaanse Patriotte.

Daarom het hy gevra “erken ons voorouers vir ons Afrikaanse taal”.

En daarop het Rian gesê: “’n Mens staan verstom. Dis soos sop by ’n kaggel.” Vol verskillende bestanddele, maar só lekker.

Die skrywer en ATKV-projekorganiseerder, Anzil Kulsen, het weer Oranjerivier-Afrikaans op smaakvolle wyse teruggebring na die gehoor.

“Ek het nie geweet my Afrikaans is eintlik Oranjerivier-Afrikaans nie. Dis ook Gariep-Afrikaans en Nama-Afrikaans,” het sy gesê en die gehoor saamgevat na haar Gordonia-streek, die Oranjerivier. Wanneer jy iemand daar ontstel, dan praat die mense van “ag, jy maak my hart so ver van die Here af!”

Sy het gepleit vir taaltrots, vir taalkultuurtrots. Die kinders word aangesê dat hulle verkeerd praat. Dan raak hulle skaam vir hul taal en praat dan eerder Engels.

Sy het gevra vir meer letterkunde in hul eie konteks, hul eie stories wat opgeskryf kan word. Sy het gesê sy doen dit in haar boeke en moedig ander aan om dit ook te doen.

“Mense is baie skugter om hul stories te vertel want dit word gesteel. Wie kry dan die erkenning vir hul stories, word gevra. Ons sal maniere moet vind om mense se vertroue te kry – dalk deur slypskole.”

Die rieldansers en die Maleierkoor het jou hartsnare gepluk.

Dit is baie belangrik dat kultuurorganisasies en die akademie groter erkenning gee aan mense se stories, het sy bygevoeg

Die gesprekke was sterk inhoudelik met enkele skerp kantjies. Dit was ’n belewenis om vir die eerste keer só in die aanskyn van Gariep Afrikaans te kon staan. Gewoonlik is Afrikaans-simposiums maar saai goed met oordosisse van steriele navorsing. Nie dié een nie. Afrikaans het hier sy sprekers sterk gereflekteer.

Waar die Afrikaanse Taalraad se vergadering die vorige week in Pretoria taamlik dun gesaai was, was dié byeenkoms ’n borreling van Afrikaanssprekers wat vir my die ander rigting van ’n lewenskragtige Afrikaans aandui. Terwyl mense in die res van land veg en stoei oor kultuurhistoriese identiteite van Afrikaans, Afrikaans Plus en Afrikaans Blus, het dit hier gemaklik gevloei in verskillende strome.

Die middagprogram het net so geborrel van talent en Afrikaanse pittighede. Poem Mooney het hom met sy spitsvondigheid bewys as uitstekende seremoniemeester en ds. André Boezak se voorlesings uit sy eie werke was voortreflik.

Die rieldansers en die Maleierkoor het jou hartsnare gepluk. Die slimfone is gou uitgehaal om die Young Men Sporting Club-koor se liedjies soos “God bewaar ons moederstad,” die immergroen “Rosa” en die apie wat met die bobbejaan getrou het, digitaal vas te lê.

Dié dag het ongetwyfeld ’n stewige bydrae tot die Afrikaanse ontwikkeling gelewer. Ons het soveel om te bied in Afrikaans. Dit was nog altyd daar, ’n mens hoop maar net die sogenaamde hoofstroom-Afrikaans neem kennis van die gebeure in ons eie boesem.

Mag die stryd tussen standaardtaal en dialek spoedig tot ’n einde kom. Dit is tog so dat ’n dialek eintlik maar ’n standaardtaal sonder ’n weermag is. Die sogenaamde standaardtaal het vir dekades ’n weermag en ’n polisiemag gehad. Mag Afrikaans nou daarsonder klaarkom.

* Dr. Titus is die ATKV se uitvoerende direkteur: kultuur.

Meer oor:  Danny Titus  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.