Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gun die Eerste Mense meer

Die geringskatting van die Eerste Mense van verskeie vastelande is een van die grootste onregte van die moderne era. Dit is ’n stille kondonering van kolonialistiese onderdrukking en van etniese en rasmeerderwaardigheid.

Dit is veral waar van Afrika, Noord- en Suid-Amerika, Australië en Nieu-Seeland, maar ook van gebiede in die Midde-Ooste en Asië.

Chief Khoi-San SA (50), wat saam met Shane Plaatjies (23) van Port Elizabeth na Pretoria gestap het om ’n griefskrif aan die president te oorhandig. Foto: mlungisi louw

Ek was al in “Indiaan-reservate” in Amerika, het van die oerinwoners van Venezuela se kulturele sentrums besoek, en by Australiese inboorling- (Aborigine) aktiviste besoek afgelê.

Dit het my getref hoe dié gemeenskappe – as hulle hoegenaamd raakgesien word – bloot net geduld of as oulike toeristetrekpleisters gesien word, en in sommige gevalle met paternalistiese bemoeisiekheid behandel word.

My gedagtes hieroor is onlangs weer geprikkel deur ’n kort dokumentêr oor tradisionele rieldanse op CNN, en deur die Khoi-San-aktiviste wat in tradisionele drag van Port Elizabeth na die Uniegebou gestap het om ’n griefskrif aan die president te oorhandig: Chief Khoi-San SA, Shane Plaatjies en Brendon Billings.

Hulle is toegang geweier omdat hul kleredrag as “onvanpas” verklaar is en het in tente op die terrein gebly totdat die minister in die presidensie, Jeff Radebe, uiteindelik met hulle gaan bladskud het.

Dié inisiatief het min publisiteit in die swart en Engelstalige media geniet. ’n Mens sou nooit uit die openbare reaksie kon aflei nie dat van alle Suid-Afrikaners oor die eeue, die Khoi-San en hul nasate aan die heel kortste end getrek het.

Maar méér nog, dat die Khoi-San vir millennia die enigste mense aan die suidpunt van Afrika was; en dat die meeste van ons wat vandag lewe – swart, bruin en wit Afrikaans – van hul gene in ons omdra.

(Hoeveel mense weet dat ’n ontleding van Nelson Mandela se DNS getoon het dat hy van moederskant pure Khoi-San was?)

Die meeste van ons weet iets van die leiers in ons verlede, mense soos Maqoma, Moshoeshoe, Shaka en Sekhukhune, ook van Jan van Riebeeck, Simon van der Stel, Cecil John Rhodes en Piet Retief. Daar is baie boeke oor dié mense en die kulture waaruit hulle kom.

Maar hoeveel van julle het al gehoor van die formidabele hoofman Sousoa van die Chainokwa, van Ngonnemoa van die Cochokwa of Gaukau van die Hessekwa?

Of van Nommoa (ook Doman genoem) wat Batavië toe geneem is om Hollands (en “goeie maniere”) aan te leer en toe met sy terugkeer na die Kaap die eerste oorlog teen die VOC begin het?

Niemand in Suid-Afrika dink dit is vreemd as die president sy luiperdvel aantrek en aan tradisionele danse deelneem nie. Ons almal aanvaar die inisiasierituele van die Xhosa en Basotho as normale verskynsels en geniet die Swazi’s se rietdanse as kleurryke vierings van kultuur.

Maar as mense die Khoi-San-erfenis en -rituele wil laat herleef, dink baie van ons, en dit sluit swart Suid-Afrika in, dat dit ’n bietjie verspot of vals is.

En ons vra wie dié mense is wat so in die verlede wil leef.

Dit sal ons almal in Suid-Afrika verryk as ons begin om die Khoi-Khoi en Boesmans (San) se ryk kultuur en diep spiritualiteit te herontdek.

Die Khoi-Khoi het uitvoerige oorgangsrituele (geboorte, volwassenheid, huwelike, begrafnisse) en fassinerende ontstaanlegendes gehad.

Hulle het byvoorbeeld lank voor ander beskawings volgens ’n kalenderjaar van 12 periodes geleef. Dit het in Augustus met die eerste

reëns begin, en maande het name soos “gedraaide oortjies” (Maart) gehad wanneer dassies kleintjies gekry het.

As ons onsself regtig as ’n beskawing sien, moet ons respek vir ons Eerste Mense ontwikkel en hul nageslagte ’n ruimer spasie in ons land en ons nasionale lewe gun.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.