Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gun maar vir ou Tjortsie sy luukse dieet
Nolan Venter

Ek kyk deesdae met nuwe oë na die geveerdes in my hoenderhok hier op my plattelandse kleinhoewe. Vir hoenders het ek groot agting en respek.

Reeds sedert my kinderdae al. Danksy Ouma se henne kon ek so af en toe die luuksheid van ’n gebakte eier geniet en as dit nie vir ons werfhaan was wat my klokslag soggens wakker gekraai het nie, het my bas elke oggend by die skool vir laatkom gebrand.

Dan was ons hoenderhok nog ’n belegging ook in jare toe dit vrek moeilik was om ’n spaarvarkie te onderhou. In tye van nood het Ouma haar tot ons hoenderhok gewend en dan sou ek in ’n japtrap hoender omhoog langs die stofpad staan om een van Ouma se geveerdes te verkwansel sodat sy darem suiker en teetjies kon aankoop.

Tjortsie die hoenderhaan het sy eienaars ’n dikke R14 000 aan veeartskoste uit die sak gejaag. Slaan my dood met ’n veer!

Dis juis daarom dat die storie van Tjortsie die hoenderhaan my die afgelope tyd so aangegryp het. Dis nou daai beenbek wat sy eienaars ’n dikke R14 000 aan veeartskoste uit die sak gejaag het. Slaan my dood met ’n veer!

Terwyl baie daaroor ’n eiertjie te lê sal hê en andere dit selfs sal beskryf as malligheid, sal nét mense met ’n passie vir diere en voëls Tjortsie se mense-ma en pa se daad verstaan. Dit is gebore uit ’n hegte innerlike band wat reeds in Tjortsie se kuikendae met hom gevorm is.

Tjortsie is onlosmaaklik deel van hul gesin. Daarvan getuig nie net sy weelderige koningslewe nie, maar ook die groot opoffering wat hulle bereid was om te maak om sy gesondheid te verseker. En mense wat verby hul eie behoeftes kyk ter wille van die welsyn van dit waarvoor hulle lief is en grensloos omgee, verdien ’n klop op die skouer.

Ekself het jare gelede so ’n spierwit getroue brakkie gehad wat my daagliks skool toe vergesel en ook altyd op die voorste sitplek van my motor stelling ingeneem het. Ons twee was onafskeidbaar. Toe trek bosluiskoors hom plat en die veearts stel ’n lewerdieet voor om hom weer sy blaf terug te gee. Ek onthou hoe ek saans langtand aan toebroodjies gepeusel het terwyl hy ten duurste aan sy smaaklike lewer smul.

Vroeër vanjaar moes my dogter se lieflinghond ook ná vele veeartsbesoeke en operasies weens kanker van kant gemaak word. Dit was asof die wêreld vir haar tot ’n einde sou kom. Die dag toe hulle sy as by die veearts gaan haal, kon sy nie haar droefheid verberg nie en was weke daarna nog in rou. En dit was nou nadat sy ’n fortuin op sy mediese onkoste uitgegee het.

Tjortsie se storie het al daardie herinneringe by my teruggebring. Juis daarom gun ek hom sy koningskos van McCain-mielies, pampoen en patats en kan hy ook na willekeur in sy ouers se huis kraai en tjorts.

Elke hond kry mos immers sy dag en so kan Tjortsie ook maar sy McDonald’s en sy spesiale sorg en aandag kry.

Soos gestel deur sy ma: “Vir my gaan dit nie om geld nie. ’n Mens kan nie ’n prys op liefde sit nie. Hy is my kind.” Daarop sê ek: “Tjorts!” Gee daai haan en sy ma ’n Bells!

Meer oor:  Nolan Venter  |  Haan  |  Hoender  |  Troeteldiiere  |  Tjortsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.