Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gun Standaardafrikaans steeds sy plek in die sonlig

Hy glo nie dat Afrikaans sal oorleef as mense aanhou om dit te praat nie. So morsig as wat baie dit klaar praat en skryf? Nee wat, dan eerder Fanagalô, skryf Johan van Wyk.

Foto: iStock

Jaloesie is glo ’n nare eienskap wat huwelike kan opbreek en vreemde begeertes by jou opwek.

Soos my vriend Willem de Waal van Moorreesburg se storie van die vryerige ou Engelse laventelhaan wat gevra is hoe hy graag hierdie verbygaande wêreld sou wou verlaat. Sy antwoord was: “Shot by a jealous husband at 95!”

Dis nie my wens nie, maar ek sal lieg as ek nie ruiterlik erken dat ek intens jaloers is op ’n klomp mense en dinge.

Boaan my lysie is die posisie en stand van Standaardafrikaans (lees witmanstaal) waaroor in die afgelope tyd weer gesinspeel is of dit oor kleurgrense heen in die breë Afrikaanse taalgemeenskap nog relevant is en ’n plek het.

Waarmee moet dit vervang word? Dalk Fanagalô, ’n mengsel van Zoeloe deurspek met Engels en Afrikaans wat as die omgangstaal in myne dien?

Ek gaan niks meer hieroor sê nie, behalwe dit: Ek en my huis sal tot ek dalk op 95 deur ’n jaloerse eggenoot geskiet word die weergawe van die hoogs ontwikkelde Afrikaanse taal waarin ek opgevoed, onderrig is en my beroep al meer as 50 jaar beoefen – dit wil sê, Standaardafrikaans – suiwer, keurig en korrek bly praat en skryf.

Soos pres. Cyril Ramaphosa oor grondonteiening sonder vergoeding verklaar het: “Whether you like it or not!” Ek hoef die polities korrekte “you’s” wat hulle vir die vervlakking, selfs sistematiese aftakeling van Standaardafrikaans beywer, nie by die naam te noem nie. Hulle weet wie hulle is.

Ek gaan ook niemand om verskoning vra of iemand se voete was nie. As die son op al die ander variante van Afrikaans kan skyn, soos ten regte vereis word, laat dit dan ook op Standaardafrikaans wees.

Jy kan net sowel aan die tandemuis glo, dat die maan van kaas gemaak en die aarde nie rond is nie, maar plat, waaroor ek nogal soms wonder.

Dit, en nie oulike woordjies, oppervlakkige feeste met bier en braaivleis, onsinnige liedjies en prettige lirieke, versies en rympies wat met prysies beloon word nie, is die behoud van Afrikaans.

Versmaai dit en Afrikaans sal tot ’n aardigheid vervlak, ’n “leuke” taaltjie, soos snobistiese, oningeligte Hollanders dit graag noem, ’n verslonste brousel, besoedel met Engels, wat nie tot die dood toe oor my lippe of uit my pen sal kom nie. Al die tekens is daar. Wie dit miskyk is siende blind.

Veral mense wat glo Afrikaans sal oorleef as dit aanhou gepraat word. Ek het nuus vir hulle. Soos op my kinders wat glo dat hul ouers skatryk is en vir ewig gaan lewe, wag daar ’n onaangename verrassing op hierdie naïewe taalidealiste.

Jy kan net sowel aan die tandemuis glo, dat die maan van kaas gemaak en die aarde nie rond is nie, maar plat, waaroor ek nogal soms wonder.

Maar nee, ek glo nie aan een van die drie mites nie. En ook nie dat Afrikaans sal oorleef as mense aanhou om dit te praat nie. So morsig as wat baie dit klaar praat en skryf? Nee wat, dan eerder Fanagalô!

Ek onthou juis hoe vriendelik en behulpsaam swart mense was wanneer ’n aangetroude oom, Daan Ellis, wat ’n ondergrondse mynwerker was voordat hy hoofsekretaris van die eertydse magtige, wit Mynwerkersunie geword het, hulle in Fanagalô aangespreek het. Hy het dit in die Randse goudmyne aangeleer.

Persoonlik verkies ek egter die kookskerm van gannabos waarmee ek in die Karoo grootgeword het, waar jy slag, kosmaak, braai én seep kook.

Die drywer van sy ampsmotor, ’n skitterende blinkswart Chrysler New Yorker, en sy kok wat elke more ’n groot pot mieliepap op ’n koolstoof in sy huis in New Red Ruth, Alberton, gemaak het, het geblom wanneer hy Fanagalô gooi.

Amper soos wat Afrikaans ten spyte van die ANC se doelgerigte pogings om dit as skool en universiteitstaal te vernietig en weer ’n mindere “kombuistaal” te maak, juis opnuut as kombuistaal floreer.

Dit pas my soos ’n handskoen. Jy maak nêrens lekkerder boerekos as in ’n kombuis nie. G’n wonder ou Koos Kombuis wil nie ’n Du Toit (sy familievan) wees nie, maar ’n Kombuis!

Persoonlik verkies ek egter die kookskerm van gannabos waarmee ek in die Karoo grootgeword het, waar jy slag, kosmaak, braai én seep kook.

Wat benewens Standaardafrikaans ’n teken is van my intense jaloesie op die Karoo.

Wees verseker dat ek gaan staak, toi-toi, klippe gooi en bande sal brand as mense aanhou om dit uit te feil, te vertrap en te verrinneweer.

Meer oor:  Johan Van Wyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.