Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Gupta-virus trek die ANC plat

Verloën en verraai. ’n Petrus-en-Judas-kombo. Dís hoe die stomme ANC-apparatsjiks twee keer die afgelope week gereageer het. Eers is hulle ontnugter toe die Noord-Kaapse premier, Sylvia Lucas, ’n dag voor die ANC se provinsiale kongres hier haar kabinet geskommel en die anti-Zuma-kamerade in die pad gesteek het.

Sylvia Lucas, Noord-Kaapse premier.

Lucas is nou nie iemand wat jy aan ’n flinkdink-program sal wil laat deelneem nie. Mev. Kentucky, soos Lucas ook bekend staan (sy het mos die staat se kredietkaart gebruik om tientalle Streetwise Two-kombinasieste koop vir haar faksie), is ’n opperste knievaller vir pres. Jacob Zuma en het geen geheim daarvan gemaak dat Nkosazana Dlamini-Zuma haar voorkeurkandidaat is om die presidentleisels by haar eks­man oor te neem nie.

In die ANC is daar ’n konvensie dat die alliansievennote en die ANC-ringkoppe geken moet word wanneer ’n premier haar uitvoerende raad wil skommel. Iets wat mev. Kentucky nie gedoen het nie. Maar hoekom sou sy? Sy doen net wat Nommer Een doen. Maar van vanoggend af is Lucas nie meer in beheer van die Noord-Kaap nie. Zamani Saul, ’n Cyril Ramaphosa-man, sal van nou af vir Lucas bepaal hoe hoog of laag sy moet spring.

Die ANC het skaars ná die Lucas-manewales sy asem teruggekry of minister Lynne Brown en die Eskom-direksie besluit dat die wenende Brian ­Molefe weer sy joppie by die elektrisiteitsverskaffer kan terugkry.

Dít kom nou nadat hy bedank het as uitvoerende hoof en deur die openbare beskermer uitgewys is as iemand wat gereeld oproepe gekry het uit Saxonwold – die Gupta-landgoed. Net soos Zuma het hy ook die Gupta-virus.

Weer moes die ANC skarrel en het Brown gerepudieer omdat sy en die Eskom-direksie eensydige besluite geneem het. Molefe én Brown behoort summier die trekpas te kry.

Onthou nou, Molefe se goue handdruk van Eskom het R30 miljoen beloop. Brown het daarteen vasgeskop en wonderbaarlik nou besef dat hulle Molefe maar sy ou pos moet teruggee.

Goeie hemel, lyk radikale ekonomiese transformasie dan só?

Die Lucas- en Molefe-kaskenades wys maar net weer dat die politieke sklerose in die ANC nie gekeer kan word nie. Dit het al te ver gevorder en onder Zuma is dit net verhaas.

Zuma kan hierdie land van ons niks anders meer bied as ellende en mismoedigheid nie.

Zuma kan hierdie land van ons niks anders meer bied as ellende en mismoedigheid nie. Polities word hy aan die lewe gehou deur die kabaal daar in Saxonwold, want die ANC-koukus is nie meer in beheer nie, die Saxonwold-koukus is. Hulle dink vir Zuma. Hulle beheer hom.

Boonop is Zuma nie ’n slim man nie. Eerder slu. Roekelose retoriek is die kommoditeit waarin hy handel dryf.

Die ANC se mandaryne kan maar hul kele hees skree dat die ANC groter is as Zuma. Dis gewoon nie waar nie.

Die ANC het ná die konstitusionele hof se uitspraak dat Zuma sy ampseed verbreek het die geleentheid gehad om hom te herroep. Hulle het nie. Dit is asof die party eenvoudig nie diep genoeg in homself delf om die regte ding te doen nie. Hoekom? Die ANC het soos Zuma geword. Korrup, gierig en hardkoppig. ’n Klomp politieke sakkerollers. Tsotsi’s. Stropers.

As die bevryders soos verdrukkers begin optree, is dit tyd hom hulle in hul peetjie te stuur. Die ANC verdien ons nie. En ons verdien nie die ANC van Zuma nie.

Dis tyd dat die ANC van sy troon afgestoot word en as hulle in die proses bloei, laat hulle verdomp bloei, want die hemel weet, ons het genoeg gehad van die Gupta-virus wat ons samelewing wegvreet.

Meer oor:  Anc  |  Jacob Zuma  |  Brian Molefe  |  Gupta  |  Sylvia Lucas  |  Lynne Brown  |  Johann Maarman  |  Korrupsie  |  Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.