Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Haat jy mans?

Is dit vroue se reg om mans te haat en moet alle mans oor dieselfde kam geskeer word? vra Erla-Mari Diedericks.

Erla-Mari Diedericks

“Ek dink ek haat mans.”

Só sê my vriendin nou die dag. Haar man het haar ná 30 jaar vir ’n 22-jarige giminstruktrise gelos.

“ ’n Mens kan nie anders as om mans te haat nie,” laat iemand hoor ná nog ’n geslagsmisdaad. En in Frankryk het ’n skrywer, Pauline Harmange, pas opslae gemaak met haar boek, I Hate Men.

Terwyl die term misoginie, die haat van vroue, taamlik bekend is, is misandrie, oftewel om mans te haat, minder bekend.

Harmange meen dit is vroue se reg om mans te haat, sou hulle wou. Volgens haar is misandrie nie ’n natuurlike instink nie, maar eerder ’n reaksie op misoginie. Sy redeneer statistiek bewys dat die meeste van geslagsmisdade en verkragtings deur mans gepleeg word. Daarom verdien mans die haat van vroue, reken Harmange.

Wat interessant is, is dat Harmange getroud is met ’n man, maar volgens haar is hy die uitsondering op die reël.

Dit wil voorkom dat Harmange verkies om mans as ’n geslag te haat, en dan uitsonderings te maak vir dié mans wat nie moor of verkrag of teen vroue diskrimineer nie.

Anders as Harmange, is ek nie gelukkig getroud nie, maar wel ’n statistiek.

’n Statistiek van gesinsgeweld.

Anders as Harmange, haat ek nie mans nie.

Ek voel ook glad nie dat haat ’n reg is nie, maar ’n reaksie. ’n Reg insinueer dat dit wetlik aanvaarbaar is, maar haatspraak en die uiting van haat teen enige ander groep in die samelewing is in die meeste lande inderdaad ’n wetsoortreding.

En om te redeneer dat die haat van mans ’n reaksie is op die haat van vroue, is maar wankelrig. Haat is haat. Dit is ’n persoonlike keuse.

Ja, die meeste geslagsmisdade is teen vroue en kinders (dis nou as ’n mens uitsluit dat mans ook hul eie geslag vermoor en aanrand) en ja, verkragtings is besig om elke dag toe te neem. Dat daar iets aan gewelddadige optrede onder mans gedoen moet word, is duidelik.

Dit beteken 100 000 van die 28,86 miljoen mans in Suid-Afrika is seksuele misdadigers en 4 000 is moordenaars.

Maar perspektief is nodig.

In 2019 was daar 28,86 miljoen mans in Suid-Afrika. In dieselfde jaar is 3 771 vroue en kinders deur mans vermoor. Daar was ook 53 000 seksuele aanrandingsake. Kom ons neem aan dat elke misdaad deur verskillende individue gepleeg is en kom ons raak wild en verdubbel die seksuele aanrandings en rond dit af tot 100 000 omdat baie nie aangemeld word nie, en kom ons rond die moorde af tot 4 000.

Dan beteken dit 100 000 van die 28,86 miljoen mans is seksuele misdadigers en 4 000 is moordenaars.

Wat is die res? Net gewone mans. Mans met geite en gure en foute en mislikhede en goeie harte en buie en humeure en humor en drome.

Perspektief.

Onthou ook dat misdade gepleeg word deur misdadigers. Dus, haat die misdaad, verafsku die misdadiger. Moord, verkragtings en seksmisdade word dan ook nie net deur mans gepleeg nie. Om alle mans oor dieselfde misdaadkam te skeer, is ’n groot fout.

Aan die ander kant van die munt, weet ek wel waar die skrywer vandaan kom met haar redenasie dat vroue geleer word om mans te vertrou en selfs te verafgod.

Vroue word wel van kleinsaf gekondisioneer (en hier praat ek van my geslag) om mans te sien as die redder, die prins op die wit perd, die goeie, wonderlike man wat jou gaan oorval met liefde, geskenke en sjokolade.

Die werklikheid is ietwat anders. Vroue word deur mans verneuk, alleen gelos om kinders op hul eie groot te maak, hulle word deur mans uit geld geswendel, verneder en misbruik.

Albei geslagte kan harte en beloftes breek en soos sosiopate optree.

Vroue, oortuig deur rolprente en boeke dat die romantiese held altyd ’n hart van goud het, is dan dikwels ontnugter. Dit kan lei tot wantroue in mans. Wat heeltemal verstaanbaar is. Maar om mans te wil haat?

As iemand wat nou al ’n paar keer met verskillende mans uitgegaan het, kan ek ook noem dat vroue nie engeltjies is nie.

Daar is mans wat alleen gelos word met die kinders terwyl die ma aantrek agter ’n ander man of verslawing aan, en die stories van emosionele teistering deur vroue en affairs is volop.

Albei geslagte kan harte en beloftes breek en soos sosiopate optree.

Gee dit jou die reg om van daardie persoon te skei en dalk selfs nooit te vergewe nie?

Natuurlik.

Is dit ook jou reg om ’n hele geslag te haat vir die sondes van een?

Nee.

Dit is ’n onreg.

* Diedericks is ’n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Misoginie  |  Vroue  |  Mans  |  Misandrie  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.