Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Haatspraak is nie te regverdig

As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie ’n dag kwaad afsluit nie.

Hierdie woorde klink bekend vir elkeen wat in die Christelike tradisie grootgeword het – en met rede. Dis ’n bekende aanhaling uit Efesiërs. Die woorde is in die jaar 62 n.C. deur Paulus geskryf terwyl hy in ’n tronk in Rome gesit het.

Die tye waarin Paulus as ’n prediker van die Christelike geloof gewerk het, is gekenmerk deur die vervolging, marteling, vernedering en teregstelling van Christene op die wreedaardigste maniere denkbaar.

Hoewel Paulus dus self marteling, vernedering en uiteindelik, twee jaar later, teregstelling by wyse van onthoofding moes ly, was sy advies aan Christene van destyds om nie sonde te doen as hulle kwaad word nie en om nie ’n dag kwaad af te sluit nie.

Teen die jaar 325 n.C. was daar sowat 7 miljoen Christene in Europa, Noord-Afrika en die Midde-Ooste, met ongeveer 2 miljoen wat as deel van die sporadiese vervolging deur Romeinse keisers doodgemaak is. ’n Volksmoord dus, volgens alle maatstawwe.

Nogtans het die woorde van Paulus deur die eeue heen steeds opgeklink.

Daar is ’n toenemende, gevaarlike neiging in die joernalistieke en politieke omgewing om swart woede te verheerlik en haat vir al wat wit is te regverdig.

In teenstelling hiermee lees ek vandeesweek ’n artikel op News24, geskryf deur ’n meesterstudent in joernalistiek, Zenoyise John.

Volgens haar LinkedIn-profiel is sy ’n leefstyl-afdelingsredakteur by Media24.

John stel haarself op haar Twitter-profiel voor as die mens oor wie God in Jeremia 51:20 geskryf het, naamlik: “Jy was my hamer, Babel, my oorlogswapen; Ek het nasies met jou verslaan, Ek het koninkryke met jou vernietig.” Inderdaad groot woorde vir enige mens om oor hom- of haarself te uiter.

In haar artikel verdedig sy die rassisme en haatspraak van Lindsay Maasdorp, Black First Land First (BLF) se woordvoerder wat ’n opskudding veroorsaak het toe hy die tragiese dood van vier kinders by die Hoërskool Driehoek verwelkom het. Sy betreur dit dat wit en swart mense in groot getalle Maasdorp se haatgedrag veroordeel het.

Sy skryf: “Die vereiste om waardig en sagmoedig te bly ten aanskoue van rassisme raak te veel gevra. Dit is onregverdig dat enigiemand die voorwaardes bepaal waarvolgens swart mense die gevolge van hierdie sondige stelsel (van apartheid) moet hanteer. Swart woede ten aanskoue van al dié dinge is regverdig en geregverdig. [...] Sedert die aanvang van demokrasie moes ons onvoorwaardelik vergewe en ons emosie onderdruk. Dit is onnatuurlike en ongesonde gedrag. Ons is gedwing om woede, pyn en ontsteltenis weg te steek om die gevoelens van wit mense te beskerm [...]”

Terwyl sy meen dis onregverdig dat enigiemand aan swart mense voorskryf hoe hulle hul woede moet wegsteek, skryf sy aan wit mense voor wat hulle te doen staan: “Wit mense moet introspeksie doen en die maniere waarop hulle bevoordeel word deur wit sistemiese en institusionele mag en bevoorregting ondersoek en konfronteer.”

Wit mense het “herhaaldelik nagelaat om selfondersoek te doen oor hul bevoorregting en om verskoning te vra vir hul onmenslike dade”, aldus John.

Daar is ’n toenemende, gevaarlike neiging in die joernalistieke en politieke omgewing om swart woede te verheerlik en haat vir al wat wit is te regverdig. John se skrywe is nog so ’n artikel. In dié geval is dit geskryf deur iemand met ’n skeefgetrekte selfkonsep van ’n goddelike missie.

Byna 2000 jaar ná die onthoofding van Paulus, leef sy woorde nog voort en inspireer dit steeds wellewendheid onder Christene en selfs nie-Christene.

  • As die woorde van die Johns van hierdie wêreld in die dekades wat kom onthou gaan word, gaan dit bes moontlik met skaamte en selfs afgryse wees. Spies is ’n prokureur en direkteur in die regsfirma Hurter Spies Ing.
Meer oor:  Willie Spies  |  Rassisme  |  Apartheid  |  Haatspraak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.