Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Haha, dis nié meer snaaks nie

Ons almal hou van lag.Maar daar kom ’n tyd wanneer afgesaagde humor in jou keel vassteek en jou wil verstik. Veral op TV.

Hoeveel keer kan ’n mens luister na ’n karakter wat met die sogenaamde helm gebore is, maar daarna verwys as die “helmet”? Of die internet word “interweb”.

Madré van Tonder

Aanvanklik giggel jy oor die taal-blapse. Maar mettertyd word dit ’n doring waarop jy telkens trap as jy na ’n komedie kyk.

In Huis Lelieveld vertel Fleur Pot vir die dominee sy kan nog die splits doen. In haar tiervel-leotard. Haha, lag ons.

Maar dit word elke episode herhaal en dit raak moeilik om dit nog snaaks te vind.

Hotel is vermaaklik, maar hoeveel keer gaan Ferdi nog onder lessenaars of agter potplante vir mense wegkruip?

Daar kom ’n punt wanneer genoeg genoeg is.

Op jou lewensreis kruis jou pad ook met sogenaamde grapjasse.

’n Kollega het elke vraag wat ek hom gevra het, beantwoord met: “Dans eers vir my op die tafel.”

Dit was later onmoontlik om met hom te praat.

Nog ’n kollega het Maandae werk toe gekom met ’n sonbril en baie pepperminte: “Bacchus het my die naweek weer beetgehad.”

Ons het aangeneem dis ’n spottery en almal gelag. Maar hy het sy werk verloor. Hy kon later nie meer op Maandae funksioneer nie.

Niemand het toe meer daaroor gelag nie.

Op Brandfort se Facebook-blad praat niemand meer van die munisipaliteit nie. Dis die “mislikepaliteit”.

Dis lankal nie meer snaaks nie.

Ons hou van lag.

’n Entoesiastiese hengelaar plaas ’n foto van hom en die karp wat hy gevang het op dié dorpsblad.

“Ek gaan vang nie vis nie, ek drink sommer by die huis,” is een van die kommentare. Jy het dit soveel keer al gehoor, jy wil vergeet jy het dit al weer gelees.

Jou selfoon lui: “Dis die balju. Ek wil net uitvind of jy nog lewe. Ek is op pad met ’n sleepwa.” Haha lag jy.

Later antwoord jy nie meer dié beller nie, want hierdie grappie is holrug gery. Afgesaag.

Ons hou van lag.

Jy vertel vir mense hoe jy (kastig) vir jouself gelag het toe jy op Kaapstad lughawe op die roltrappe plat op jou gesig geval het.

Maar jy vertel vir niemand jy het in die vliegtuig alleen by jou venstertjie gesit en bloei op pad terug Bloemfontein toe nie. Dit was mos snaaks. En almal het so lekker gelag.

Maar daar kom ’n tyd wanneer jy besef jy hoef nie te lag vir dinge wat vir ander dalk komies is nie.

Want soms hou dinge op om snaaks te wees.

Meer oor:  Lag  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.