Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Handgebare en stemme kleur die buitelyne in
Annemarie van der Walt

‘Wat mis jy die meeste van ’n spesifieke persoon in jou lewe wanneer julle nie by mekaar is nie?”

Dit was ’n onverwagse vraag. Sy het so half verby my gekyk na die mingerhoute langs die smal stroom en die bosveldvisvanger wat elke nou en dan ’n turkoois duik oor die water doen. Daar was ook die opeenvolgende wolkies wit skoenlappers wat ons vroeër aan mekaar uitgewys het: “Dit is al weer dié tyd van die jaar . . .”

Sy het die papierstrooitjie al om haar vingers gedra en eers na my gekyk toe ek antwoord: “Hande. Ek mis mense se hande.” Die antwoord het myself verras.

Miskien was dit omdat ek die vorige dag verby die huis gery het waar ’n vriend eens gewoon het. Vyf jaar gelede het ek hom gaan groet. Hy het nooit teruggekom nie. Maar tot vandag toe onthou ek sy skrywerboer-hande wat oor die stoel se armleunings hang, sy vingers wat af en toe roer soos blare in ’n bries.

Ander boere in my lewe se hande kan ek steeds helder oproep: my oupa s’n vol pepermente of bakgemaak agter sy dowe ore wanneer daar kuiermense is. En ek sien nog die avokadoboer ’n takkie tussen sy naels afknyp, weet steeds presies waar sy hand op my bobeen sou rus wanneer ons langpad ry.

Wanneer ons op WhatsApp gesiggesels, is dit na hul hande wat ek kyk ...

Dit is al hoeveel jaar wat ek my ma maar selde sien, maar ek herinner my die klein beweging wat sy met haar vingers maak om die trouring reg te skuif. Ek vang myself soms dieselfde doen, al is daar slegs ’n ring aan my middelvinger.

Die hande van my tannie wat nou die dag partytjieloos 90 jaar oud geword het, is selde stil. Met haar tenger sekretaressevingers het sy haar jonger broers deur universiteit getik, vir ons niggies se troukiste gehekel, tafelmatjies geweef en pottebakkersklei gevorm. Op die foto wat gestuur is op haar verjaardag, lê haar hande roerloos in haar skoot, maar ek glo dit was slegs vir daardie enkele oomblik.

Sommige dae is die gemis aan die dogters se hande akuut. Wanneer ons op WhatsApp gesiggesels, is dit na hul hande wat ek kyk: hoe die oudste soms ingedagte met haar wysvinger oor die plooitjie tussen haar oë vryf, die manier waarop die jongste dikwels met haar vingers uitgesprei oor haar een wang luister.

Dan probeer ek terugdink aan hul kinderhande, stip, totdat die herinneringe ’n vloed word en ek my eie vuis in daardie leë holte in my borskas wil druk. Ek geniet dit wanneer mense met hul hande praat en wanneer hulle die praatwerk met hul hande doen.

“En jy? Wat mis jy van jou naaste mense?” Op my wedervraag het sy die strooitjie tot ’n klein bondeltjie opgefrommel tussen haar vingers en dit in die leë glas laat val.

“Hul stemme. Dit is asof ek stemme in kleur hoor. Maar in dié virustyd . . . ek is bang. Die kleur sypel weg, dit raak te stil om my.”

  • Van der Walt is ’n vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.
Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Dogters  |  Herinneringe  |  Whatsapp  |  Buitelyne  |  Handgebare  |  Gesiggesels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.