Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Handtekeninge in ’n boek vertel hul eie stories
Prof. Fransjohan Pretorius
Prof. Fransjohan Pretorius

’n Jagter van getekende eksemplare van boeke, daardie bibliofiel met ’n klap van die geskiedenis weg, kan baie waarde tot sy versameling toevoeg.

Gustaf Pienaar, laerskoolmaat van Brits, jag só.

Agter verskeie van sy getekende boeke is daar ’n storie. Soos oor P.G. du Plessis se Fees van die ongenooides. Toe P.G. hom vra wat moet hy byskryf, vertel Gustaf vir hom van die oud-Rhodesiese premier, Ian Smith, wat voor in een van sy boeke vir iemand anders geskryf het: “I’ll do it again.” Daarop skribbel P.G.: “Gustaf, ek sal dit ook weer doen!”

Ek kan nie met die ware handtekeningjagters vergelyk word nie. Tog besit ek ’n paar getekende boeke wat ’n glimlag werd is.

Soos Paul Moorcraft se A Short Thousand Years oor die einde van Smith se regering. Ek het hom geteken gekry deur bemiddeling van sus Karin, wat tydens Rhodesië se oorgangstydperk na onafhanklikheid joernalis in Salisbury/Harare was. Op die titelblad het Moorcraft én Smith geteken. Ek wonder wat Smith met die ondertekening van my eksemplaar gedink het, want toe was ’n tussentydse regering al binne ’n duisend dáé ingestel.

Ek kan nie met die ware handtekeningjagters vergelyk word nie. Tog besit ek ’n paar getekende boeke wat ’n glimlag werd is.

In 1973 woon ek in Leiden ’n Boycott Outspan Actie-kongres by – skrikkerig, want dis almal anti-apartheidskamerade.

Peter Hain, wat kort tevore die Springboktoer in Brittanje ontwrig het, was die hoofspreker. Teetyd koop ek sy boek oor die toer, Don’t Play with Apartheid, en vra sy handtekening. “Best wishes, Peter Hain (Leiden, 17th March 1973)”, skryf hy.

Ek vertel hom dat toe ons in 1963 Pretoria toe getrek het, ons drie maande in die Wilgers gebly het, waarna hulle (die Hains) in ons plek ingetrek het, langs vriend Hoffie Hofmeyr-hulle. “The Hofmeyrs! Very sympathetic people, but very much pro-Nat!” glimlag hy.

Anderhalf jaar later ontmoet ek Suid-Afrika se staatsveiligheidshoof in Europa by ’n geselligheid in Brussel. Ek vertel hom van my Hain-ervaring.

“O, was dit jý wat so lekker met Hain gesels het? Ons man by die kongres het dit deurgegee, maar daarna gerapporteer dat hy die kêrel nie weer gesien het nie.”

By ’n konferensie in 2014 bring ’n Britse kollega vir my en ’n vriend elkeen ’n present. Ek kan nie onthou wat ek gekry het nie, maar die ander ou kry toe genl. Ben Viljoen se Anglo-Boereoorlogboek – ’n getekende eksemplaar, persoonlik opgedra aan genl. Piet Cronjé, sy mede-Sirkusboer in die VSA.

My Britse kollega het ná die konferensie stamelend om verskoning gevra dat hy te laat besef het ek moes eintlik die Viljoen-boek gekry het. Die uitverkorene is intussen oorlede, en die boek het êrens ’n ekstatiese nuwe eienaar gekry.

En dan kry jy die onnosele boekversamelaar. Ek bedoel die eienaar vóór my van J.D. Kestell en D.E. van Velden se De vredesonderhandelingen tusschen Boer en Brit in Zuid-Afrika – die notule van die Vrede van Vereeniging. Die luukse uitgawe, 1909. My vóórbesitter het die handtekening, plek en datum van die eerste eienaar doodgetrek en sý naam langsaan geskryf. Gelukkig is die doodgetrekte handtekening nog leesbaar: “D.E. van Velden, Pretoria, April 1909.”

Einste die notulehouer.

  • Prof. Pretorius is ’n geskiedkundige.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Politici  |  Boeke  |  Skrywers  |  Skryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.