Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Adam Heyns

Die hipster kom ingestap met ’n ou videokasset in die hand. Hy gaan sit voor die ou buis-TV, druk die kasset in die videospeler se gleuf.

Swieeet-grrr-klak-klak laai die kasset. Sy vinger druk die “speel”-knop en skakel die TV aan.

Adam Heyns, kleinseun van dr. Johan Heyns, oud-moderator van die NG Kerk, wat op 5 November 1994 in ’n sluipmoord-aanval dood is. Foto: Edrea du Toit

En dan, skielik, is die professor-dominee met die silwer hare en uitdagende ken op die skerm.

This huge experiment called apartheid has turned out to be a failure, sê hy kalm, afgemete. There is a monster in this policy.

Só begin die treffende dokumentêr Dr. Johan Adam Heyns: Exorcist of Apartheid wat Adam Heyns oor sy oupa gemaak het.

Hy is die jong man met die videokasset. En die kasset is een van ’n boksvol wat sy ouma hom voorverlede jaar in die hand gestop het.

“Dis wat toe op die ou einde die dokumentêr geword het, net daai tapes en ’n paar ou foto’s. En daar sien ek hom en hoor hom vir die eerste keer praat,” vertel Adam.

Hy was vyf toe sy oupa dood is in ’n sluipmoord wat die land geruk het, môre presies 24 jaar gelede.

“Ek het ’n paar jaar terug vrae begin vra oor my oupa. Op ’n manier het die dokumentêr amper soos ’n roeping gevoel.”

Toe die aanslag gebeur, was dit asof sy ouma dit verwag het, ’n profetiese einde van 'n profeet.

Daarmee saam, sê Adam intens, wou hy homself betrokke maak by wat in die land gebeur.

“As ’n wit, Afrikaanse man voel jy amper jy het nie ’n stem nie, en dan kom jy agter jou oupa hét ’n stem gehad. En as jy daar begin, bring dit jou by die verlede en miskien by jouself.”

Hy haal Bob Marley aan: If you know your history, then you would know where you coming from, then you wouldn’t have to ask me, who the heck do I think I am.

Sy oupa was jare lank iemand wat hy net op foto’s gesien het. “Baie keer as ek myself voorstel, sal ouer mense sê: O, jy is Johan Heyns se kleinkind, en hul gesigte sal ophelder as hulle vertel van my oupa.”

Hy kan sy oupa se huis onthou, die sitkamer waar hy op Guy Fawkes-aand deur die venster in sy agterkop geskiet is, met sy vrou en kleinkinders om hom.

“Ek onthou die begrafnis, maar soms weet mens nie of jy dit werklik onthou en of dit nie maar net die foto’s is wat jy later gesien het nie. Wat ek wel daar vir die eerste keer besef het, is hoe finaal die dood is.”

Hulle was in Duitsland toe sy oupa geskiet is. “Ons was vir ’n naweek weg Switserland toe. Ek, my ma en my sussies het na 'n waterval gestap. Toe ons terugkom by my pa in die kar, was daar ’n somberheid om hom. Hy het die nuus met sy bietjie Duits oor die radio gehoor, want die familie kon ons glad nie opspoor nie. Toe gaan pak ons op en kom terug Suid-Afrika toe.”

Adam se terugloop op oupa Johan se spore was ’n lang proses met vele hikke en knikke.

Desember 1991. Drie jaar later is Johan Heyns, oud-moderator van die NG Kerk in ’n sluipmoord-aanval dood. Adam, sy kleinseun, het nou ’n dokumentêr oor sy oupa gemaak. By Adam en sy oupa is sy ouma Renée, sy ouers, Christof en Fearika, en sy suster Willemien.

Hy’t gaan rondkrap in die kerkargiewe op Stellenbosch, effe chaoties, glimlag hy, hy’t nie geweet wáár om te begin nie.

“Ek het aanvanklik gedink miskien moet ek dit soos ’n whodunnit aanpak. Dit het vir my soos ’n groot avontuur geklink. Ek het dit baie keer vol bravade en oorambisieus aangepak, en dan crash dit en dan doen ek weer ander goed.

“Daar was geen druk van buite nie, maar ek dink ek het baie druk op myself geplaas hieroor. En toe raak my pa betrokke.”

Pa Christof is ’n internasionaal gerekende menseregte-kenner, professor aan Tukkies en lid van die VN se menseregte-komitee.

Saam is hulle na sy oupa se grootword-plaas Bloemkraal naby Tweeling in die Oos-Vrystaat. “Ek kom van die stad en dit het vir my gevoel soos ’n ander tydsone. Ons is so warm ontvang.”

Dis op Bloemkraal waar Johan Heyns se gewaarwording van ongeregtigheid begin het. Hy kon nie verstaan hoekom sy speelmaat, Toet, onder die boom moes eet, terwyl hulle in die huis eet nie.

Naby die plaas loop ’n treinspoor. Sy oupa het apartheid met ’n voortsnellende trein vergelyk: Jy kan dit net stop as jy óp die trein is, deel van die establishment, van binne en nie van buite nie. Hy het dit kritiese solidariteit genoem.

“Allan Boesak het gesê hy moes afgeklim het, hy sou genoeg mense saamgevat het. Ouens soos Nico Smith en Beyers Naudé het afgeklim, maar Oupa se mission was om dit van binne af te verander. Ek dink dit was meer effektief.”

Sy ouma Renée se boks videokassette het sy oupa se wêreld vir Adam oopgemaak.

“In die preekgoed klink hy soos die dominees wat ek van skool af onthou toe ek nog in die kerk was. Maar daar is ook heelwat onderhoude wat hy oorsee gevoer het, vreeslik welsprekend. Een van hulle was vir ’n Nederlandse show.” Hy gee ’n laggie.

Adam Heyns was vyf toe sy oupa dood is. “Dis waar ek die eerste keer besef het die dood is onomkeerbaar.” Hier is hy by sy oupa se kis saam met sy nefie Hannes en sussie Renée.

“In die begin praat die onderhoudvoerder Nederlands en Oupa antwoord in Afrikaans. Maar soos die onderhoud aangaan, praat Oupa al hoe meer Nederlands.

“En my ouma . . . Op een van die video’s vertel sy kalm hoe hulle in die laat 1980’s verwag het daar gaan ’n aanslag op my oupa se lewe wees. En toe dit gebeur, was dit asof sy dit verwag het, ’n profetiese einde van ’n profeet.”

Die ankervideo in die dokumentêr is die Geloftedagpreek van sy oupa in 1988 by die Voortrekkermonument.

“Die hele volk was daar saamgetrek. Die ou vlae het so van bo af oor die hoeke van die monument gehang. Dit het my nogal gevang, die mitologie van Afrikaners en die Voortrekkermonument, hoe Afrikaners die Groot Trek vergelyk het met die Ou Testament. My oupa se preek was juis oor Amos wat die Israeliete waarsku dat God hulle gaan oordeel, want hulle leef in voorspoed, maar hulle is eintlik goddeloos. Maar God is mos aan ons kant, sê hulle. En dan sê Amos maar God is ook aan die kant van die Kussiete, die ras uit Noord-Afrika. God ís ook met ander mense.

“Dit was dapper van my oupa om dit vir mense te sê.”

Dit alles het hom laat besef hoe nou apartheid vervleg was met die Bybel. “Dis maklik om nou, met die voordeel van terugkyk, apartheid te veroordeel as absurd.

“Maar ek het nou meer empatie met die mense uit daardie era, hulle is so grootgemaak, hulle het dit geglo, en dit was hooggeleerde mense.”

In die dokumentêr sê ’n man 20, 30 jaar lank was apartheid volgens die Skrif, maar nou het die Bybel ewe skielik verander . . .

“Dit moes moeilik gewees het. Iets binne jou sê vir jou apartheid is verkeerd, maar dan gaan jy Sondag kerk toe en God sê dis orraait en dit gee jou gemoedsrus. En om dan ewe skielik te hoor God is nié orraait daarmee nie – dit moes vir baie mense skrikwekkend gewees het. En my oupa, die moderator, wat nou sê dis verkéérd, hul pilaar wat toe die uitverkoper geword het.”

Adam onthou hoe hy in ’n yslike NG kerk gesit het waar die dokumentêr vroeër vanjaar gewys is. Almal daar was ou mense. Hy kon die tragiek aanvoel van ’n kerk wat kleiner en leër raak.

Daar was ook maar spanning tussen hom en sy pa met die maak van die dokumentêr, voeg hy met ’n effense glimlag by.

“Veral wanneer ek vertroue verloor het en afstand wou kry. Ek het in alles begin twyfel, en veral aan myself. Dit het ook bietjie selfgenoegsaam gevoel om jou familie so te wys. Filmmaak is wat ek probeer doen vir ’n lewe, maar hier was my familie betrokke.

“Ek kon nie by my familie van die projek wegkom nie en ek kon nie van my familie wegkom met die projek nie. Dit was nogal verwarrend.”

Adam het filosofie, tale en rolprentkunde by Tukkies gestudeer nadat hy en pêlle by die Hoërskool Menlopark vir die grap Pimpmy skooltas-video’s as parodie op Pimp My Ride, gemaak het. Dit was so gewild, die ou TV-musiekkanaal MK het ’n klomp episodes daarvan uitgesaai.

Laas jaar het hy gespeel in die Silwerskermfees-wenner Wonderlus – wat Leon van Nierop beskryf as the unbearable lightness of being young en een van die heel beste Afrikaanse flieks.

“Aan die einde van die fliek bring my karakter die bruidegom bietjie terug aarde toe: Jy hét jou verantwoordelikhede en jy moet hulle nakom.”

En die ondraaglike ligtheid om nou 29, Afrikaans en ’n wit man in Suid-Afrika te wees?

“Met al die identiteitspolitiek deesdae voel dit vir my dis nie wát jy sê nie, maar wié dit sê wat saak maak.

“Ek het in ’n stadium ’n Venn-diagram gemaak van waar ek in die lewe inpas. My vriend het dit die axis of evil genoem: man, Afrikaans, wit, vleiseter, hipster. The worst of the worst. Jy voel asof jy . . .”

Hy frons. Skouers styfgetrek, dun, intens, kompleks.

“Op die oomblik weet ek nie eintlik hoe om white privilege reg te gebruik nie. Of vir iets beters te gebruik nie. Ek val bietjie vas daarin . . .”

Dan glip jy maar jou voorouers se kasset in die VCR, druk play, draai die volume op en gaan soek na jouself.

  * Dr. Johan Adam Heyns: Exorcist of Apartheid word Sondag om 12:00 – 13:30 in die Atterbury-teater, Pretoria, vertoon. Kaartjies is by Computicket of by die teater te koop. Daar sal ook ’n paneelbespreking wees.

Meer oor:  Pretoria  |  Ng Kerk  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.