SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Adri Klindt
‘Leef is al wat sy wou doen’

Met die winkels vol Kersfeesblink en 2018 op sy laaste draai, het haar man sy wapen op haar gerig. Dié keer was Kenny Braaf verby woede, dié keer wou hy moor. Vandag skiet ek jou vrek.

Ernestine Braaf, wat op 21 Oktober deur haar man, Kenneth, vermoor is, het vroeër vanjaar in Huis Jabes, ’n tydelike hawe vir mishandelde vroue in die noordelike voorstede van Kaapstad gewoon. Adri Klindt, stigter van dié unieke veilige huis, vertel in Huis Jabes se mooi sitkamer Ernestine se verhaal. Foto: Edrea du Toit

Met mooipraat kon sy hom uiteindelik sover kry om die wapen neer te sit. Dis toe dat Ernestine Braaf in haar groot wit Mercedes klim, ’n beskermingsbevel teen haar man kry en reguit na ’n ander Kaapse voorstad ry om te gaan wegkruip in ’n huis vir mishandelde vroue.

Die heel eerste ding wat die vroue in Huis Jabes vertel as jy hulle oor Ernestine uitvra, is dat sy bang was. Dit het aan haar gekleef.

Toe sy ná weke daar die moed bymekaarskraap om entjies in die buurt te gaan stap, het sy haar altyd vermom met ’n pruik of hoed, ’n sonbril. In die vier maande in Huis Jabes het sy nie een keer met die Mercedes gery nie, want sê nou hy hét ’n private speurder, sê nou hy hét haar uitgesnuffel en lê haar voor?

Bietjie vir bietjie het sy kop begin optel, vertel hulle, en Aprilmaand was sy gereed om in haar wit kar weer die wêreld in te ry, terug huis toe na haar twee dogters en erg gestremde kleindogter, na haar kliënte wat haar aromaterapie só gemis het.

Hy het vir haar geskryf hy sal haar agtervolg waar sy ook al sal gaan.

Ernestine kon immers nie vir altyd wegkruip nie.

“Sy was sterk genoeg om die lewe weer in die oë te kyk,” vertel Adri Klindt, stigter van Huis Jabes.

“Met ’n egskeiding op pad, ’n beskermingsbevel, die feit dat haar man nie meer ’n vuurwapen gehad nie, het sy gevoel sy is veilig.”

Op Maandagaand 21 Oktober het Kenny haar by haar huis voorgelê. Die buurvrou het haar hoor skree, en toe kom die skoot. Sy is in haar Mercedes doodgeskiet.

Dié keer kon mooipraat haar nie red nie.

Ernestine Braaf se laaste Kersfees. Op haar wenslys was wol, want sy wou poppe brei vir ’n liefdadigheidsprojek.

By Huis Jabes gesels ek en Adri in Ernestine se ou kamer. Op die vensterbank, by die tafel waar haar Bybel altyd oop gelê het, het die vroue ’n bossie laventelblomme en ’n spoelklip neergesit.

“Ek praat vandag oor Ernestine, want ons hier in Huis Jabes wil haar stem wees. Ek wil vertel van óns Ernie, statige Ernie met die aura om haar, wat altyd gelyk het asof sy sweef as sy beweeg. Daar is baie geskryf oor Kenny, die stil, gawe gholfspeler wat gereeld by die Kuilsrivier-gholfklub was, die man wat vermoed het sy vrou het ’n verhouding met ’n ander vrou. Dis nonsens. Sy het ons vertel hy beskuldig haar daarvan, dat hy haar naam probeer swartsmeer.

“Vir die ander vroue hier was Ernestine ’n toevlug. Nadat hulle bedags gewerk het, het sy hulle ingewag met ’n koppie tee onder die koelteboom. Sy was vir hulle ’n oor gewees, ’n moederfiguur, haar rustigheid was aansteeklik.”

Toe Adri haar vra wat is op haar wenslysie vir Kersfees, wou Ernestine niks gehad het nie, sy was net dankbaar om by Huis Jabes te wees waar sy veilig voel. Toe Adri aanhou, kom dit uiteindelik: wol. “Wol! Om poppe te brei vir ’n geldinsamelingsprojek waarby sy betrokke was.”

Kenny Braaf. Drie uur nadat hy Ernestine vermoor het, het hy homself doodgeskiet.

Huis Jabes is meer gastehuis as huis, die meubels is mooi, kamers word nuut uitgeverf vir ’n nuwe gekweste aankomeling, met splinternuwe beddegoed, alles hier sê: Ons respekteer jou.

“Dis gemik op vroue uit ’n middel- tot hoë-inkomstegroep. Daar is bitter min ‘veilige’ huise in die land, en ek dink ons is die enigste een in die land op dié standaard.”

Die afgelope tien jaar het hulle reeds meer as duisend vroue gehelp, van wie 500 tot ses maande lank daar gebly het. Die vroue kom van oral, daar was al ’n prokureur, ’n geoktrooi­­eerde rekenmeester, noem maar op, sê sy. “Hulle kom hier aan in blink motors sonder brandstof, want hul mans het hul bankkaarte gestop.”

Die een vrou se man het haar in ’n vertrek tussen ’n klomp slange toegesluit, die polisie het haar daar gaan uithaal. Nog een se man het haar onderklere stukkend gesny en verbrand.

“Een van die mooiste stories van Huis Jabes is dié van ’n plaasvrou wie se man haar heeltyd gemonitor het. Hy het haar erg verniel, daardie boer . . . Sy het hier aangekom met haar twee dogters en ’n bondel vol papnat wasgoed. Sy het die oggend komberse en gordyne begin was sodat haar man moes dink sy sou die hele dag besig wees, hy kan maar ry. Hy was skaars by daai plaashek uit, toe sy haar kinders en die nat wasgoed in haar kar laai en vlug.”

In een van die kamers sit ’n vrou en borsvoed. “Dis Huis Jabes se babatjie,” sê sy met ’n groot glimlag. “Ek was sewe maande

Huis Jabes se baba. Sy ma het ver swanger van ’n Weskusdorp daar aangekom, met net ’n sak klere in haar besit. Foto: Ilse de Klerk

swanger toe ek hier aangekom het. Ek was rêrigwaar stukkend. Ek het weggehardloop toe my kêrel een nag probeer het om my baba uit my maag te skop, hy wou hom nie meer gehad het nie. Die dag toe hy hoor ek is swanger, het hy my begin slaan. Drie maande hier, met tannie Adri se liefde, hoe kan jy nié regkom nie?”

Die vroue hoor altyd by Adri: In Huis Jabes kry jy groente, roetine en dissipline. “Want hulle kom hier sonder enige van dié drie, hulle het net oorleef. Hier eet die kinders aan tafel, hulle is in ’n roetine, hier is groente, nie 2 minute noodles nie.

“Sondagaande stuur die vroue hul inkopielys vir die week se spyskaart. Ernestine s? was altyd anders, sy het die lekkerste kos gemaak, maar vreemde kos, met gemmer en speserye. Die vroue het gekla dis darem net te speseryerig,” lag Adri.

“Ernestine het vir hulle geleer: Al is jy alleen, kan jy steeds lief wees vir jouself. Sy het die tafel gedek met kerse, kos is met liefde gegee.”

Ernestine het nie so ’n dood verdien nie, skud Adri stadig haar kop. Niemand verdien so ’n dood nie.

“Ek en Johann, my man, het een keer ’n vrou by ’n woonstel gaan haal, van haar ribbes was gebreek soos haar man haar geskop het. Sy kon nie opstaan nie, my man moes haar dra tot in die kar.”

Sy bly ’n oomblik stil, en kyk dan op, helder oë vol gevoel.

“ ’n Slagoffer kry simpatie vir ’n blou kol, of as jou tand uitgeslaan is. Maar jy kry nie simpatie as dit binne seer is nie. Ek het al gesien die vroue wat emosioneel mishandel is, is eintlik erger.”

Eendag, naby Huis Jabes, jaag ’n motorfiets by Adri verby. Een van die inwoners stap op die sypaadjie met haar kind in ’n stootwaentjie. Die man op die motorfiets stop en gryp die kind. “Dit was die pa. En ek hou stil, man, en spring soos ’n cowboy daar tussen hom en sy motorfiets in en gryp die kind. En hy staan so met sy fietshelm en sê: ‘Vir jou slaan ek vrek vandag.’ ‘Ráák aan my,’ sê ek vir hom, ‘jy het nie ’n idee wat met jou gaan gebeur nie!’ Toe klim hy op sy fiets en ry weg. Hulle is lafaards, almal van hulle.”

Ernestine se man het vroeg vanjaar op een of ander manier by Huis Jabes ingekom en ’n briefie op Ernestine se stoel gelos. “Sy was besig in die tuin. Hy het vir haar geskryf hy sal haar agtervolg waar sy ook al sal gaan.”

Adri is al 28 jaar lank ’n senior finansiële adviseur by Sanlam. Die jongste van hul vier kinders is nog op laerskool. Huis Jabes was een van daai dinge wat net móés gebeur, sê sy. Dit het met ’n rede oor haar pad gekom.

“Ek het in ’n losieshuis in Kuruman grootgeword. Adrinie-losieshuis, toe my ma-hulle die plek na my vernoem, het hulle my geváng,” lag sy, met verwysing na haar eie “losieshuis”. “Ek het grootgeword tussen mense en ’n ma met ’n omgeehart.

“Een keer, met ’n kuier, het ek seker ’n halfglas wyn te veel ingehad, want toe blaker ek uit: Ek wil ’n veilige huis vir mishandelde vroue begin. En toe ek dit sê, was dit asof ek ’n paar balle in die lug gooi, en elkeen het geval presies waar dit moes. ’n Bietjie geld het beskikbaar geraak, ek was in die bestuur van die Durbanville-sakekamer, en almal het begin help, ’n prokureur met die trust-akte, ’n boekhouer.

“In daai stadium was Jabes se gebed deel van my lewe. Dis vandag nog. Nes ek heeltemal moedeloos raak oor finansiering, kom daar ’n oplossing. Vandag,” blink haar oë, “is dié plek in ons naam geregistreer. Ons is afhanklik van skenkings, ons kry nie ’n sent by die staat nie.”

’n Meisietjie kom kruip styf onder Adri se blad in. Sy’s vyf, wys sy met haar vingers, onsekerheid in haar oë.

Later vertel Adri sy en haar ma bly al ’n hele ruk daar, maar die hof het die pa steeds toegang gegee tot sy kind, ten spyte van vermoedens van molestering. “Twee weke terug wou die pa haar nie terugbring nie, ek het die polisie gebel, en hulle het haar gaan haal. Sy is met ’n sigaret gebrand, en die vermoedens van molestering is sterk. Dit breek jou hart.”

Dié kind se ma het by die dood omgedraai nadat haar man met haar kar se remme gepeuter het en sy een middag 17:00 in Voortrekkerweg ’n ongeluk gehad het.

Vanoggend het Adri in Prediker gelees: Ellende wag vir almal. “Jy kan nie alles keer nie, maar party kan jy, jy láát dit oor jou kom. Dis hoekom ek my laatlamdogtertjie nou al leer hoe ’n man haar moet behandel. Maar ek wil haar ook leer hoe sy ’n man moet behandel. Dit help nie jy sê vir jou seuntjie jy mag nie jou sussie slaan nie, maar jy leer nooit jou dogter hoe om teenoor ’n seun op te tree nie.”

Nie ’n dag gaan verby sonder minstens vyf oproepe van vroue wat ’n heenkome soek nie. “Dis naderhand asof mens immuun raak teen seer. As iemand haar storie vertel, en ek wil antwoord: Dis nie só erg nie, hy doen net dít aan jou, besef ek ek is moeg, ek moet ’n bietjie wegkom, asem skep.”

Wat Adri die meeste ruk, is die niks in die vroue se oë as hulle daar aankom. “Leeg. Só depressief, jy moet keer vir selfmoord. Snaaks, nié Ernestine nie. Al wat sy wou hê, is om te kan leef.”

Meer oor:  Moord  |  Liefdadigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.