Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Adrian Lackay

Dit het op ’n laatmiddag in Mei 2015 gekom met ’n klop aan die voordeur.

Werkloos, met klein Ava op sy heup, haar sussie in die bad saam met sy vrou, Charlene, het die balju voor hom gestaan in die voordeur van sy huis in Centurion.

Die SAID se R12 miljoen-lastereis teen Adrian Lackay, oudwoordvoerder van SAID, is teruggetrek. Foto: Elizabeth Sejake

En net daar kry Adrian Marck Lackay sy you’ve been served-oomblik. Tom Moyane en die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se siviele eis van R12 miljoen is op hom beteken.

“Jy is onmiddellik geskok, amper in ’n verlamming, hierdie ding word op jou bedien en . . . ek het hierdie agt maande oue baba by my . . . en jy slaat ’n paniek en jou bloeddruk skiet die hoogte in, want jy weet nie wat kom volgende nie. Gaan daar ’n klopjag by jou huis wees? Dis hoe dit ontvou het.”

Hierdie gerespekteerde oudwoordvoerder van die SAID is die afgelope drie jaar deur diep water. Hy en sy vrou, die TV-joernalis Charlene Lackay, en hul twee dogtertjies is deur hul eie long walk.

Adrian Lackay se verhaal vertel watter prys ’n fluitjieblaser in Suid-Afrika betaal, selfs al gaan blaas hy die fluitjie by die plek wat staatsamptenare tot verantwoording behoort te roep – die parlement.

Die parlement het Lackay nie beskerm nie, hulle het hom vir die wolwe gegooi.

Wat tans in die Nugent-kommissie uitspeel, staaf presies dít wat Lackay en sy destydse kollegas by die SAID – Ivan Pillay, Johann van Loggerenberg en Pete Richer – vroeg in 2015 teen gewaarsku het.

"Jy gaan kantoor toe en bewe letterlik, onseker met wie om te praat en wat om volgende te doen."

Pas ná sy bedanking in Maart 2015 het Lackay ’n voorlegging aan twee parlementêre komitees gedoen oor die uitkalwing van die SAID en die waninligtingsveldtog in die media. Dis deur albei komitees verwerp.

En die fluitjieblaser se beloning? ’n Reuse- siviele eis.

In Pniel onthou die oumense Adrian Lackay vandag nog as ’n dêm hardkoppige knaap wat dit waaragtig nooit ontgroei het nie. Dit wys nie op sy CV nie, wel dalk in psigometriese toetse, maar sy hardkoppigheid is wat Lackay die Moyane-snotklap laat oorleef het.

En nou, ná drie jaar, is die R12 miljoen-albatros uiteindelik van sy nek af. Toe hy die SMS kry dat Moyane en die SAID se siviele eis teen hom teruggetrek word, het hy nie geweet wát om te voel nie.

“Ek was langs minister Pravin Gor­dhan in ’n raadsaal. Ek wys toe vir hom my foon en hy gee ’n thumbs-up. Die trane sit maar vlak in jou oë, jy is emosioneel, jy wonder: moet ek nou opspring en skree . . .

“Ek het van die begin af geweet die eis het geen regsmeriete nie, dit was net ’n belaglike aansoek om my te intimideer en finansieel te vernietig. Maar aan die ander kant moes ek in die hof verskyn in November 2016, daar is argumente gevoer . . . Dit het my emosioneel geweldig, geweldig ontstel. Vir my familie ook. En my kans om weer ’n werk te kry was vir ’n baie lang tyd ’n ronde nul.”

In sy stem hoor jy iets van die oorblufte gelatenheid van iemand wat ’n ongeluk skrams oorleef het.

Lackay en sy vrou, Charlene, buite die hof in 2016. Foto: Cornél van Heerden

Yunus Carrim, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor finansies, het verlede week in ’n tirade vir Lackay beskuldig hy lieg as hy sê die komitee het niks gedoen in verband met sy voorlegging nie.

“Kyk, die ANC-koukus in 2015 was behep daarmee om Zuma en die party te beskerm. Carrim sê nou hy wou nie hê die komitee moes betrokke raak by ’n arbeidsdispuut nie. Ek het in my voorlegging uiters duidelik gesê as hulle nie met my wil praat nie, praat met Ivan Pillay, Johann van Loggerenberg en Pete Richer.

“Carrim is ’n politikus en hy tree op soos een. Dis al wat ek daarop kan sê.”

As Lackay ’n barometerlesing sou neem van die afgelope drie jaar, was 2015 die ergste wat betref Zuma se uitkalwing van die staatsinstellings, en spesifiek die wetstoepassingsagentskappe.

“Dit het onmoontlik geraak om by die SAID vas te byt met die leuens, intimidasie en vrees wat Moyane-hulle geskep het. Jy gaan kantoor toe en bewe letterlik, onseker met wie om te praat en wat om volgende te doen.

“Die ding waaraan ek die meeste waarde heg, is my reputasie, en spesifiek in my verhouding met die media.

“As Moyane-hulle dit kon regkry om ’n wolhaarstorie dat die SAID ’n bordeel bedryf het, as feite op die voorblad van die Sunday Times geplaas te kry, kon hulle enigiets doen. Ek het geweet die dag kom dat hulle vir my gaan sê doen X, maar ek wéét dis verkeerd en ek wys vir hulle die middelvinger en dan’s dit die einde van my.”

Lackay en sy oud-SAID-kollegas het mekaar ondersteun. “Ons het net mekaar gehad. Yolisa Pikie moes sy woonstel verkoop om te kan oorleef, Pete Richer twee van sy eiendomme, Johann ook. Ek was gelukkig, my kinders het nog ’n dak oor hul kop.”

Dis hoekom die Nugent-kommissie – en Tom Moyane se bisarre bokspronge daar – vir Lackay nou adish best served cold is.

“Moyane litigeer nie in belang van geregtigheid nie, hy litigeer in belang van sy eie ego. En dan noem hy homself die beste SAID-kommissaris sedert die demokrasie. Die laaste ou wat homself the greatest genoem het, was Muhammad Ali, en hy kón.”

Een vir een peul die geraamtes uit die kas by die Nugent-kommissie, sê Lackay.

Soos regter Frank Kroon se bom van ’n bieg dat sy destydse bevinding dat die “geheime spioenasie-eenheid” (rogue unit) in die SAID onwettig geskep is, ’n fout was.

“Ek gaan myself nie die reg toe-eien om regter Kroon in die openbaar te veroordeel nie. Maar sy gedrag het my oudkollegas groot leed aangedoen. Dis iets waarmee hy en sy gewete moet saamleef. En ek glo daar gaan nog verdere gevolge wees.”

Die huidige Sunday Times-redakteur, Bongani Siqoko, probeer tans hard om die skade te herstel wat dié koerant jare lank aangerig het met voortdurende vals beriggewing oor die “geheime spioenasie-eenheid”, sê Adrian.

“Ek dink hulle behoort voor die kommissie te verskyn. Die beskerming van bronne is heilig in die joernalistiek, maar het jy dieselfde verantwoordelikheid teenoor ’n bron wat jou konstant mislei met vals inligting wat jy as feite publiseer?”

Die frustrasie oor die skade wat dié koerant aan Lackay-hulle aangerig het, het onlangs oorgeloop by die boekbekendstelling van Stephan Hofstatter, destyds in die rogue unit-span by die Sunday Times. Pete Richer het hom gekonfronteer oor die vals berigte.

“Toe Pete daar opstaan, kon jy sien hy is regtig ontsteld. Hy kon vir die eerste keer een van die teenstanders in die oë kyk en sê: ‘Kyk wat het jy aan my gedoen, my loopbaan en reputasie lê aan flarde.’ Dit was baie braaf.”

Dis vir Lackay ontstellend dat Pillay en Van Loggerenberg steeds strafregtelike sake teen hulle het. “Ons het hul kundigheid en ervaring so nodig in die staatsdiens. Hoekom is hulle nie al lank­al terug nie?”

Die een ding wat hy in dié tyd van homself geleer het, was om beter te kommunikeer met die mense na aan hom.

“Ek moes beslis werk aan die ‘kommunikasieding’ in my huwelik. Deesdae, voor ek enigiets besluit of in die openbaar sê, sal ek dit eers by my eie regering by die huis uitklaar en toestemming kry sodat daar ’n konsensusposisie kan wees,” lag hy ligweg.

“Charlene was baie braaf, sy het heeltyd by my gestaan. Maar die druk op ons huwelik was erg. Te midde van al die spanninge, wanneer julle dae lank nie met mekaar praat nie . . . moes jy teruggaan na jou beginsels: hoekom is jy in ’n huwelik, hoekom het jy hierdie twee pragtige dogters in die lewe gebring. Want ons het spesifiek in ’n kerk getrou en beloftes gemaak voor ons families en aan God.

“Ons het ’n verantwoordelikheid teenoor ons kinders. Nie een van ons wil hê Mia (6) en Ava (4) moet grootword met ’n enkelouer uit ’n gebroke huwelik nie.”

Hy het nooit besef hóéveel mense vir hulle bid nie. “Jy sal nie glo hoeveel boodskappe ek die afgelope week gekry het nie.”

Lackay is deesdae Pravin Gordhan se woordvoerder by openbare ondernemings. Hul pad saam kom reeds van 2003 af, en ’n unieke band het deur die jare tussen hulle ontwikkel.

“Ek dink ons verstaan mekaar, maar daar is ’n vlak waar Pravin na sesde rat oorskakel, en dan is hy bo almal se koppe.”

Die president het Gordhan in dié ministerie aangestel met ’n duidelike opdrag: Sny die verrotting uit en raak ontslae van die mense verantwoordelik daarvoor, kry die staatsondernemings weer finansieel lewensvatbaar.

“Dis nou ses maande, en dinge gebeur teen ’n tempo wat jou moeg maak, maar dis lonend. Daar’s pas nóg iemand afgedank.

“En dis hoekom ons nou hierdie pushback-veldtog sien. En dié pushback het ’n politieke strategie, ’n regstrategie en ’n sosialemediastrategie met Pravin Gordhan as hoofteiken.”

Oor die EFF se rol hierin kan hy net wonder, sê Lackay. Die sosialemedia-smeerveldtog teen Gordhan, Dali Mpofu wat die litigasie doen vir sowel Seth Radebe, teen Gordhan, as Tom Moyane teen die president . . .

“Pravin is nou kwansuis deel van ’n Indiër-kabaal, teen ‘black excellence’.”

Nee, lag Lackay, sinisme is nog nie deel van sy DNS nie.

“Nee, man, hoe kan ek sinies wees! As ek saans tuiskom, wag daai drie vroue my in. Ek het by die SAID geleer: as al die goeie ouens weg is, los jy die skelms met soveel mag en niemand daag hulle uit nie.

“Ons het in Suid-Afrika 'n keerpunt bereik. Moenie ’n oorwinning op ’n skinkbord verwag nie, dis presies hoekom hier nou ’n pushback-veldtog is.”

Hy’t deesdae skaars tyd om terug te gaan huis toe. Pniel toe, waar hy as kind die Simonsberg gehad het om in te speel, die Dwarsrivier om in die Boland-somers in af te koel.

“Sorgelose, beskermde kinderdae wat ek altyd koester.”

Sy ma was ’n onderwyseres, vaderdank sy’s in 2006 oorlede, sy’s al hierdie dinge gespaar.

Sy pa het sy lewe lank vir Boschendal gewerk. “Die laaste paar jaar het hy deel geraak van die boerdery-inisiatiewe en dit só geniet.”

Ja, ja, ja, sy pa is trots op hom, trek jy dit uit Lackay. “Hy sê hy weet nie waar ek, in sy woorde, die guts vandaan kry nie. Dan sê ek vir hom miskien is ek nie baie slim nie, ek weet eintlik nie van beter nie.”

En vir die soveelste keer korrel hy my kant toe: “Hoekom wil jy nou eintlik met my praat? Ek speel maar net ’n klein rol.”

’n Klein fluitjie wat ’n sirene geword het teen die uitkalwing van ons demokrasie.

Meer oor:  Tom Moyane  |  Adrian Lackay  |  Said  |  Nugent-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.