Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met adv. Gerrit Roberts
Satan, goths... Daar’s iets in Krugersdorp se water!

Hy ken die doolhowe van ’n misdadiger se kop. Die afdraaipaaie van boosheid.

Adv. Gerrit Roberts, adjunkdirekteur van openbare vervolging in Johannesburg, tree in April ná 40 jaar af. Hy is ’n beroepstaatsaanklaer met ’n rits groot sake agter hom. Foto: Elizabeth Sejake

’n Panorama-foto van Gerrit Louis Roberts SC se loopbaan sou dossiere vol grusaamhede wys, witboordjieskelms, reeksmoordenaars wat hy vir meer as 1 000 jaar agter tralies gaan bêre het, die Johannesburgse onderwêreld waarin Lolly Jackson vermoor is, die goth-skoolseun wat een gewone oggend sy skoolmaats met ’n samoerai-swaard begin afmaai het.

Gerrit Roberts is ’n lang, saaklike man met min woorde. As jy hom lank ken, sal jy weet van sy droë sin vir humor.

Hy tree in April af, een van die laastes van ’n groep beroepsaanklaers, yster-SC’s wat g’n pap van kabouters gevat het nie.

Letterlik in elke soort hof in Suid-Afrika het Roberts verskyn – van die kleinste periodieke distrikshof in die platteland tot in die konstitusionele hof in Braamfontein.

Ná 40 jaar kon niks hierdie man meer verbaas nie.

En toe kruis sy pad dié van ’n bose huisvrou van Krugersdorp wat maak asof sy bloed opgooi en astrale reise onderneem.

Die betrokkenes het gemoor sonder om twee keer te dink.

Cecilia Steyn, meesteres van die opspraakwekkende Krugersdorp-moordbende, het oor sewe jaar 11 mense laat vermoor sonder om self ’n vinger te verroer.

Gerrit Roberts kon haar in Junie 2019 skuldig bevind kry op al 32 aanklagte teen haar.

Dit was sy laaste saak en die hoogtepunt van sy loopbaan.

“Of die laagtepunt, as jy dit meet aan hoe bisar dit was.” Die getuies was vreesbevange om teen die bendelede te getuig, hulle wou glad nie saamwerk nie, bang hulle word astraal uitgehaal. En die moordenaars het een vir een die wrede moorde beskryf asof dit so terloops soos koekies bak was.

Zak Valentine en Cecilia Steyn het als ontken, maar die ander het emosieloos getuig: “En toe het ek hom verwurg . . .”

Die jongste, Marcel Steyn, was nog op skool toe die moordvlaag begin het. “Sy het in moeilike omstandighede grootgeword, maar presies geweet wat sy aanvang. Ook haar getuienis was emosieloos, asof sy maar net oor nog ’n storietjie praat.”

As jong aanklaer in 1982 op Nylstroom. “Daardie jare is betoë en getuienis in die plattelandse howe nog met die ‘lang hand’ gedoen.”

Die ergste vir hom is hoe mense mislei kan word deur godsdiens. “Hulle lees die Bybel uit konteks en op grond daarvan oortuig hulle mense om te moor.

“Hierdie saak was vreemd en uniek, maar tog relevant vir almal wat deel is van ’n Christelike kerk of beweging, veral met die wegbreekgroepe wat deesdae ontstaan. Almal baseer hul boodskap op die Bybel, maar hierdie saak het my duidelik gewys hoe gevaarlik die verkeerde lees van die Bybel kan wees. Om Bybeltekste lukraak en uit konteks aan te haal, kan letterlik dodelik gevaarlik wees. Soos die ou spreekwoord sê, ‘elke ketter het sy letter’. Ek glo die Bybel kan slegs binne die historiese konteks gelees word.

“Ex post facto, nadat ons die hele prentjie ontrafel het, lyk dit so onsinnig dat volwassenes sulke belaglikhede kon glo, maar in daardie omstandighede was dit vir die betrokkenes dodelike erns, hulle het gemoor sonder om twee keer te dink.”

Sodra daar sprake is van die bonatuurlike, lyk dit vir hom asof die meeste mense eenvoudig afskakel en nie meer vir hulself dink nie. “Dis asof hulle alles vir soetkoek opeet sodra daar ’n godsdienstige sousie oor gegooi is.

“Die boek wat die Netwerk24-joernalis Jana Marx hieroor geskryf het, Afspraak met moord, verduidelik hierdie pad-byster-raak-situasie.”

Dit was soete sukses vir Roberts en sy span toe hulle daarin kon slaag om die hof te oortuig om die kultusgroep nie net lewenslank vir die moorde te vonnis nie, maar ook lewenslank vir rampokkery.

Roberts skrik dikwels in die middel van die nag wakker met ’n deurbraak-vraag of stelling wat hy in sy onderbewussyn uitgewerk het. Nadat hy dit vinnig neergeskryf het, slaap hy dan verder.

“Met die Krugersdorp-saak kon ek nie sommer weer aan die slaap raak nie, want die goed maal deur jou kop. Al hierdie gruwelikhede het tóg ’n effek. Ek sê vir myself dit verander my nie regtig nie, maar mense om my sê dit gebeur tóg ’n bietjie.”

“Soos nou met die Zondo-kommissie – mense is só ongeduldig vir resultate, maar dit gaan tyd neem om die bewerings wat daar gemaak word as getuienis voor te berei.”

Daar is seker iets in Krugersdorp se water, kom dit droog, want in die samoerai-swaardmoord in 2008 het die hoërskoolkind Morné Harmse ook geëksperimenteer met die okkulte, hy het ’n goth-slaapkamer en fiksasies gehad met swaarde en tarotkaarte. Daar word deesdae bespiegel oor ’n verband tussen dié twee Krugersdorp-moordgevalle. “Harmse het ook geen gevoel in die beskuldigdebank getoon nie.”

Word ’n mens boos gebore?

“Uit jare se ervaring kan ek regtig sê daar is baie mense in hierdie samelewing wat inherent boos is. Ongelukkig kan ’n mens nie vooraf bepaal wie is dié mense nie, en eers as ’n ernstige misdryf gepleeg word, sien jy die inherente boosheid.”

Roberts lees nie juis misdaadboeke of speurverhale nie. Hy lees dossiere. Die werklikheid is in elk geval meestal veel erger as fiksie.

Sy vrou, Suzette, vertel van ’n onderliggende spanning in die huis tydens groot sake. “Dis asof hy ’n muur om hom bou. Hy is die lekkerste ou om mee saam vakansie te hou, maar elke keer as ons terugry, begin die spanning opbou. Dan sê ek: Jy gaan nou terug werk toe, kom jý net smiddae huis toe, moenie dat hulle daai ander ou vir my terugstuur nie.”

Daar is vir hom genade in klein dingetjies. Biltong en wors koop by Groenkloof-slaghuis. ’n Lekker braai. Skree vir die Blou Bulle in sy sitkamer, eerder as ’n losie, want dan kan hy na hartelus “saamspeel”. Wegkomnaweke saam met die Capital Singers, Christo Burger en Michael Barrett se sanggroep waarin hy bas sing.

En, veral, sy geloof. “Om as Christen net weer my sanity te kry.”

Daar is die wrede sake, daar is die hartseer sake.

Die man van Linden wat sy vrou en gestremde seun versmoor het en hom daarna onsuksesvol in sy kar probeer vergas het.

“Hy was ’n finansiële adviseur by ’n bekende welvaartmaatskappy. Ure voor sy verhoor sou begin, het hy met sy BMW voor ’n vragmotor ingejaag en gesterf. Dié saak het oor ’n regsbeginsel gegaan: of borgtog verbeurd verklaar kan word waar ’n beskuldigde sy eie lewe neem.”

Roberts en die speurder Piet Byleveld het baie jare lank nou saamgewerk. Tot sy dood het Byleveld hom altyd formeel as “meneer Gerrit” aangespreek.

“My vrou was een oggend vroeg in my kantoor. Toe Piet daar instap, was hy só vervaard, só ordentlik, hy het sy sigaret in sy baadjiesak doodgedruk.”

Hul eerste saak saam was dié van die Wemmerpan-reeksmoordenaar, die überwrede Cedric Maake. Roberts kon hom wegsit vir 26 lewenslange termyne én nog een van meer as ’n 1 000 jaar.

“Maake het alle sogenaamde deskundige menings oor reeksmoordenaars op die kop gekeer. Volgens kenners verander reeksmoordenaars nie hul modus operandi of tipe teikens nie. Maake se metodes en teikens het só gewissel, die ondersoekers het aanvanklik gedink dis twee reeksmoordenaars.”

Vir dié saak het hulle bykans alle forensiese dissiplines gebruik: lugfoto’s, handskrifdeskundiges, patologiese en ballistiese getuienis, vingerafdrukke, DNS.

Dis nou al ’n kultuur in die Roberts-huis in Lynnwood, Pretoria, dat hul gesprekke gereeld in tenniswedstryde ontaard met vlymskerp opmerkings oor en weer tussen Gerrit, sy vrou en die twee dogters. Mini-hofsittings, en die vroue wen meestal. “Die getalle is teen my!”

Sy jongste, ’n mediese student, sê altyd haar pa is eerlik tot op die punt dat dit amper ’n fout is. Vir hom is daar net die straight and narrow.

Dis presies hoekom hy ’n aanklaer geword het. Om skelms in die tronk te kry. Die balie, groot geld, was nooit ’n oorweging nie.

“ ’n Staatsaanklaer kom die naaste aan die waarheid, aan wat wérklik gebeur het. Dit lê daar in die dossier.

“Ek kan dit nie hanteer as mense met allerhande fanciful verdedigingstegnieke en tegniese puntjies probeer om ’n skuldige los te kry nie, terwyl almal voor hul siele weet wie die misdaad gepleeg het.

“My leuse was nog altyd: Die waarheid moet seëvier, reg en geregtigheid moet geskied, sover dit binne my vermoë is.”

Dis swaar, daardie swart toga wat jy aantrek, antwoord hy my vraag. Jy voel die gewigtigheid, die verantwoordelikheid daarvan.

Die eerste keer, in 1978 toe hy nog ’n student was, in die periodieke hof in Groot-Brakrivier: “Diepkant ingegooi, ek het eintlik nie ’n clue gehad hoe om aan te kla nie. Al wat ek gevoel het was suiwer, onverdunde vrees.”

Hanlie Retief

Hy onthou geamuseerd hoe hy ’n jaar later vakansiewerk gaan doen het in die landdroshof op Sabie. Sy departement van justisie-treinkaartjie het hom in Nelspruit gekry, en toe verpas hy die spoorwegbus Sabie toe, en dis Saterdag en die volgende een is Maandag. “Toe ryloop ek tot by die afdraai na Graskop en stap swetend met ál my bagasie Sabie toe . . .”

En die keer toe hy in die appèlhof in Bloemfontein moes verskyn. By Winburg slaat dit hom soos ’n voorhamer: hy het sy toga en skoene by hom, maar sy pak klere vergeet. Toe gaan leen hy sy swaer se pak, twee nommers te groot, en verskyn die volgende dag in ? pak gespeld-tot-grootte.

In sy beginjare in die platteland is sake nog met die “lang hand” gedoen, die landdroste het alles, getuienis en betoë, neergeskryf. Dit het ’n ewigheid geduur.

Roberts se laaste saak is nie net verfilm nie, maar ook regstreeks op die internet uitgesaai.

“Alles gebeur nou met die druk van ’n knoppie. Mense soek onmiddellik resultate, maar regspleging werk nié so nie. Jy moet aanvaarbare en geloofwaardige getuienis hê voordat jy die saak hof toe kan neem.

“Soos nou met die Zondo-kommissie – mense is só ongeduldig vir resultate, maar dit gaan tyd neem om die bewerings wat daar gemaak word as getuienis voor te berei.”

Jy hoor frustrasie en ontsteltenis as hy praat oor die persepsie dat die vervolgingsgesag gekaap, korrup en onbekwaam is.

“Dis ’n veralgemening wat eenvoudig nie waar is nie. Daar is steeds baie toegewyde en uiters bekwame aanklaers in die vervolgingsgesag én in die polisiediens.

“Ek is in al hierdie opspraakwekkende vervolgings bygestaan deur toegewyde, uiters bevoegde junior advokate wat bygedra het tot suksesvolle vervolgings.”

Daar is wel onbekwame en korrupte polisielede en aanklaers, en hulle moet vasgevat word. “Maar moenie almal oor dieselfde kam skeer nie, dis my ernstige pleidooi. Ek voel ongelooflik sterk hieroor. Die negatiewe persepsies is allesbehalwe in belang van regspleging en dit demoraliseer dié wat hul bes lewer.”

Aprilmaand gaan Gerrit Roberts vir die eerste keer in 27 jaar nie meer weeksoggende halfvyf sy lyf uit die bed dwing om die tog Johannesburg toe aan te pak nie.

Hy en Suzette trek na ’n dorpie in die Klein-Karoo. Die 1890-huis met sy houtvloere en restourasiewerk lê soos ’n dossier en wag op hom, met instruksies deur “regter” Suzette Roberts.

“Land Rover het op ’n stadium ’n slagspreuk gehad: One Life, Live It. Ek is nou op die live it. Mens weet nooit wanneer jou strepie getrek word nie. Ek het nou genoeg gehad van die negatiewe van die samelewing.”

Die doolhowe van die donker kant.

Meer oor:  Moord  |  Krugersdorp-Moorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.