Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Alan Winde

Oorkant ’n Italiaanse roomyswinkel in ’n kantoor met ’n groot glasvenster wat direk op die besige Langstraat uitkyk, sit die man wat waarskynlik die volgende Wes-Kaapse premier gaan wees.

Alan Winde word Saterdag by die bekendstelling van die DA se verkiesingsveldtog deur die Kaapstadse raadslid Ncumisa Mahangu omhels. Foto: Edrea du Toit

“Wat doen jy Donderdagaand? Kom maak hier ’n draai,” nooi die man met die Jack Kennedy-kakebeen.

“Een keer ’n maand maak ons deure oop vir mense en idees en planne rondom ’n tema, iets wat te doen het met die ekonomie. Dan’s hier dosyne jong entrepreneurs. Dit maak my opgewonde. Nee, ek is mál daaroor.”

Alan Winde se geesdrif het die hele kantoor op tou. Die enigste ding wat hier soos ’n staatskantoor voel, is die eerste woord van die metaalletters teen die muur: Ministry of Economic Opportunities. Glasdeure en die minimum sekerheid, uitstallings van wyne uit die streek, plaaswerkers se kuns teen die mure as deel van ’n bemagtigingsinisiatief. Toeganklik. Positief. Plat-op-die-aarde.

Dis die ministerie van maak-dit-werk dié, die ministerie van oplossings.

Met die minister wat teen die venster sit en uitkyk op Langstraat se sypaadjie.

Anders as sy partyleier se politieke paddaspronge tussen topposte, het Winde die harde langpad gevat boontoe vandat hy in 1996 as Knysna-entrepreneur besluit het hy wil help bou aan Projek Nuwe SA.

As iemand anders dit beter kan doen, staan ek terug. Maar dit gaan tog nie daaroor of ek wit is of nie.

Politikus sonder geraamtes, word oor hom ge-cliché, ’n man wat dinge eerder gedoen kry as om slimpraatjies te maak van podiums af. Onder die radar in interne partygevegte, nooit deel van faksies nie.

Maar ís hy ’n politikus?

“Ek is nóú . . .” Bars hy uit van die lag.

“En ek is wie ek is. Ek het amper nie eens sekerheid hier nie, mense kan net instap. Hier is nie geraamtes in kaste en geheime vergaderings agter toe deure nie, my selfoon hoef nie afgevat te word nie,” verwys hy skalks na die vars interne ondersoek onder leiding van die DA se regs-rottweiler Glynnis Breytenbach waarin drie partyleiers se selfone en skootrekenaars aangevra is nadat inligting oor die premierskandidaat-wedloop in die media uitgelek het.

Nee, hy is nie een van die drie nie, sê Winde.

Hy was die topkandidaat toe Mmusi Maimane homself in die doodsnikke van die keuringsproses vir die premierspos beskikbaar wou stel – ’n besluit reg in die wensirkel van politieke onnoselheid, noem Tony Leon dit.

“Ja, natuurlik het dit ’n invloed op my gehad. Ek het begin wonder of ek op ’n vroeë aftrede gaan . . .” Hy lag. “As die federale uitvoerende komitee sê dis in ons DA-grondwet, sou ek dit moes aanvaar sonder appèl. Helen Zille het dit ook gedoen. Maar op die ou einde is die regte besluit geneem.”

Alan Winde het langpad in die politiek gekom nadat hy in 1994 by die DA aangesluit het. Hier is hy in 2007 ten tyde van die verkiesingsveldtog. Foto: Verskaf

Maar voor Maimane Winde gloeiend aangekondig het as die DA se “werkskeppingspremier”, was daar ’n “nuwe” lys met Bonginkosi Madikizela (DA-voorsitter in die Wes-Kaap) skielik bo-aan en Winde se dreigement van regstappe as die oorspronklike lys nie behou word nie.

Het Madikizela aangedring op ’n swart premier?

“Maar natuurlik, hy was ’n kandidaat. Maar ek en Bongi is kabinetskollegas en ons werk goed saam. Ons het vooraf ooreengekom: wen hy, ondersteun ek hom, en andersom.

“My antwoord vir die keurkomitee, toe daar gesê is: Jy behoort nie te staan vir die posisie nie, want jy’s wit, was: ‘Wag ’n bietjie, in die DA maak dit nie saak wie jy is nie. As iemand anders dit beter kan doen, staan ek terug. Maar dit gaan tog sekerlik nie daaroor of ek wit is of nie. En natuurlik het ons hierdie verlede, en natuurlik is ras ’n groot kwessie, maar soos ons vorentoe gaan in hierdie land, pósitief vorentoe gaan, moet ons iewers begin sê: As ek ’n verskil kan maak, steek ek my hand op.’

“Mense kan maar hierdie speletjies speel deur te sê as LUR bemagtig ek net wit ondernemings en wit belange en ek gaan dit as premier ook doen. Dis absurd.”

Soos Phumzile van Damme (DA-LP) se twiet: “Not that it matters but to set you others spewing this false narrative straight regarding our Premier can­didates . . . Leader: Black; Gauteng: Black; KZN: Black . . .” met net WC: White.

So eintlik bewys die twiet dit maak wél saak, knik Winde. “En ras gaan vir geslagte vorentoe steeds saak maak.

“Apartheid het baie mense bitter seergemaak. Dis vir ewig in ons DNS. Jy raak nie net ontslae van so iets nie. Maar dit help ook nie om elke dag negatiewe rassistiese opmerkings rond te gooi nie.”

Sy nuwe werk-adres? Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme is die DA se premierskandidaat in dié provinsie.Foto: Edrea du Toit

En hoekom kán daar nie weer eendag ’n wit DA-leier wees nie, antwoord hy die vraag. “Ek wonder nogal wat die ANC sal antwoord op so ’n vraag. Sal daar ooit ’n wit leier van die ANC wees? Ek wonder.”

Oor Ebrahim Rasool, wat die ANC se verkiesingsveldtog in die Wes-Kaap lei, se jubeling dat die ANC nie kon bid vir ? beter DA-kandidaat as Winde nie, met die sosiale media wat saameggo: die kandidaat is dan spierewit!, grinnik Alan Winde net.

“Rasool moet nou rêrig ontslae raak van Bell Pottinger se advies. Ek was daar in die wetgewer toe die ANC vir Rasool uitgegooi het, met die bruin koevert-skandaal. Nou is hy terug as ambassadeur in Amerika, en die eerste ding wat hy doen is om die rassekaart te trek. Hoe gaan ons op dié manier ’n nasie bou?”

Nege jaar terug, toe Winde LUR vir ekonomiese ontwikkeling en toerisme geword het, het hy dit soos ’n entrepreneur aangepak en 640 000 nuwe werkgeleenthede in die provinsie geskep. Moody’s verwag 2,8% ekonomiese groei vanjaar in die Wes-Kaap teenoor die landwye syfer van tussen 0,7% en 1%. Volgens Statistieke Suid-Afrika was die nasionale werkloosheidsyfer in Julie 27,2%, met 19,5% in die Wes-Kaap.

“Dis dalk omdat ek presies verstaan watter uitdagings ’n entrepreneur het.”

Hy het ook grootgeword in ’n huis waar die eettafelgesprekke gegaan het oor bankbestuurders, oortrokke rekeninge en slegte skuld. Sy ouers het ’n perskeplaas in Gauteng gehad, en op 13 het die jong Alan die groente uit sy eie tuin op die mark gesmous.

“Ek was 16 toe my ouers Knysna toe getrek het, en jy kan jou indink hoe lekker dit daar vir ’n tiener was: waterski, strand, visvang, skubaduik. My ouers en twee susters bly nog daar en ek het steeds my huis in Belvidere.”

Sy ouers en susters het hul huise in laas jaar se groot Knysnabrand verloor. “Ons huis staan nog, maar my klein fabriek en werkwinkel het afgebrand. Gelukkig was ons verseker.”

Winde het tien sakeondernemings in Knysna gehad – van ’n reisagentskap tot ’n curio-winkel.

“Die meeste hiervan was in vennootskappe. In ons fietswinkel, byvoorbeeld, het Niklaas Bruintjies die vaardighede gegee en ek die geld. Hy’t voor dit karre gediens by die motorhandelaar. So, ek weet wat dit vat om ’n kleinsakeman te wees. Die sakesektor skep werk, nie regerings nie. Regerings kan net ’n positiewe omgewing daarvoor skep.”

Waar hulle kan, raak Winde en sy span ontslae van administratiewe rompslomp.

“Al wat jy eintlik maar net moet doen, is om die vlam aan te steek, en jou te omring met slim mense wat met jou debatteer. Sou ek premier word, sal ek net eenvoudig moet voortgaan om werkgeleenthede te skep.”

Nou verruil Alan en Tracey Winde (“ons is al so lank getroud, ek het al telling verloor”) en hul twee tieners hul kompakte huis in laer-Claremont waarskynlik vir die herehuis by Leeuwenhof, met sy uitgestrekte tuine én sy spook.

En daarmee saam gaan hy gewis die politieke binnegevegte wat die DA deesdae tot ’n kuns vervolmaak het, moeilik ontduik.

“Wat sal ek as premier graag wil takel? Misdaad, ongetwyfeld. Ons moet nou polisiëring regkry. Misdaad is hééltemal, totaal buite beheer.”

Die Wes-Kaap het tans 560 inwoners per een polisielid, teenoor ’n nasionale gemiddelde van 388:1. Helen Zille se pleidooie vir meer polisielede en om die weermag te ontplooi in erge misdaadgebiede het tot dusver op dowe ore geval.

“Dis uitdagings, ja, maar dis wat entrepreneurs doen, hulle maak dinge wat skeef is reguit. Wat sal gebeur as ons vir die nasionale regering vra, gee die polisie vir ons? As julle nie die werk kan doen nie, sal óns.”

En die onwilligheid van die nasionale regering om die Wes-Kaap te help . . . “Nee, ek gebruik nie daai as verskoning nie.”

As voorbeeld noem Winde hul hantering van OTM-bedrog by toeristeplekke in die Kaapse middestad, wat van 50 gevalle per maand tot byna nul gedaal het. “Ek glo in vennootskappe, so ons het die SAPD en gemeenskapsveiligheid betrokke gekry. Uit Projek Chrysalis in Tokai, wat kinders uit bende-omgewings ‘red’, het ons 50 ouens opgelei, uniforms gegee en by OTM-masjiene ontplooi.”

Kameras, datastelsels, nommerplaat-herkenning – tegnologie kan veel doen om misdaad te bekamp, sê hy. “Maar hoe bring jy alles suksesvol bymekaar? Suid-Afrika het 200 000 polisiebeamptes en meer as 500 000 sekerheidswagte in die private sektor – iewers moet dié sektore begin hande vat.”

Sy entrepreneuriese aanslag het dié silwerkop-LUR selfs in sy eie proe van misdaad bygestaan. Toe hy in 2012 op pad werk toe van sy fiets (“ek ry om my kop skoon te kry”) gegooi en van sy selfoon beroof is, het hy met GPS-opsporing sy selfoon binne 58 minute teruggekry – en die rower in die selle.

Sal hy die sukses van sy nis-portefeulje kan uitbrei na ’n hele provinsie?

“Of jy nou ’n LUR, premier, of baas van ’n groot maatskappy is – al waaroor dit gaan, is hoe jy jou spanne saamstel, strukture daarstel, en verantwoordelikhede toeken.”

Openbare vervoer is nog ’n uitdaging, sê Winde. “Jy kan nie ’n ekonomie groei en geleenthede skep as mense nie van A tot B kan kom nie.

“Ek sal so graag vir die nasionale regering wil sê: Gee Prasa in die Wes-Kaap vir ons, ons sal ’n span daar inkry wat dinge roer.”

Of Winde sy ambisies vir die Wes-Kaap sal kan verwesenlik as sy party nie ’n volstrekte meerderheid behaal nie, is iets waaraan hy self nie eens wil dink nie.

Met die Slag van Nelson Mandelabaai, die Pat de Lille-debakel, die DA wat van een krisis na ’n volgende strompel, interne gevegte wat lomp in die media uitspeel . . . het hulle beslis steun verloor, knik Winde.

“Ek weet mense is baie krities. Ek ril as ek daaraan dink dat ons steun tot onder 50% kan sak. Ons weet nou dis uiters moeilik om in ’n koalisie te regeer.”

Sy rol nou, in die nege maande voor die verkiesing, is om vir kiesers te oortuig: “My prestasielys wys wat ek gedoen het met jul stemme. Gee my die kans om dit vir die provinsie te doen.”

Buite loei ’n polisiesirene verby.

“Ek ken nog nie al die antwoorde nie. Ek is nog net ’n paar dae die premierskandidaat. Ek weet net: Wanneer mense hulpeloos is, hetsy weens misdaad of armoede, pla dit my verskriklik. Hoe maak ek ’n verskil, hoe skep ek ’n omgewing waarin mense hul lewens kan verander . . . Dís hoekom ek nog hier is.”

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Premier  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.