Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Allan Heyl

Gekker en wilder kon dit nie.

Op 9 Desember 1983, byna 35 jaar gelede, het André Stander en Allan Heyl sommer so, op die ingewing van die oomblik, in die hemelblou Cortina XR6 geklim en doodluiters vier banke in Johannesburg gaan beroof.

In dié 3x4 m- gebou wat soms vir hom soos ’n tronksel gevoel het, het Allan Heyl, die enigste oorlewende lid van die berugte Stander-bankrowerbende, sy lewensverhaal geskryf. Foto: Deon Raath

Allan, die enigste oorlewende lid van die Stander-bankrowerbende, vertel die storie asof dit vanoggend gebeur het.

“Ná die vierde rooftog het ons besef ons moet spore maak, want al vier banke was naby mekaar, die polisie sou oral wees. Ons jaag in daai gaar XR6 wat teen 180 km/h so begin skud, jy’s bang hy breek in stukke.

“Onder ’n kombers op die agtersitplek was twee haelgewere, ’n Ruger en hope militêre ammunisie wat ek daar versteek het. André het vroeër ewe vermakerig gesê as hy homself nie met sy Ruger-rewolwer uit die moeilikheid kan skiet nie, gaan daai spul wapens niks help nie.

Ek het soort van gehoop om nog eendag ’n normale lewe te hê?.

“Volgende begin ’n polisiehelikopter ons jaag, jis en die XR6 skeur die hoofweg af en André skree: Skiet daai ding! En ek gryp my .357, mik deur die kar se sondak en skree: Met hierdie rewolwer kan ek my uit enige moeilikheid skiet! André het histeries begin lag, en vir my het daai oomblik alles vertel van die broederskap tussen ons, ons siek sin vir humor, want hier’s ons, pas vier banke beroof, ’n polisiehelikopter op ons en ek piepie op sy batterye!”

Hulle was amper kultushelde, hierdie Stander-bende wat in die vroeë 1980’s met hul vals snorre en pruike ewe galant amok gesaai het onder Johannesburgse banke. Hulle sou ’n paar banke deurdraf, teen middagete in ’n vyfsterhotel se jacuzzi sit en luister na nuusberigte oor hul eskapades, dit opvolg met ’n Sweedse massering en heelmiddag afrond met die hotel se high tea en ’n wilde nag van drank met ’n handvol speed dial prostitute.

Dis die “stuff of seriously bad fiction”, maar dit was realiteit, vertel Allan in sy boek Bank Robber: My Time with André Stander, wat pas verskyn het.

Ewe gek en wild was die Russiese roulette-insident.

Die jong intellektueel. Maar toe verruil hy boeke vir banknote.

In André se Houghton-miljoenêrshuis sit die twee blink gekuier by die kroegtoonbank toe

André vyf patrone uit sy Ruger-rewolwer haal, hulle uitpak op die toonbank en vra: het jy al ooit Russiese roulette gespeel?

“Ag nee man, dis malligheid, sê ek. O, jy sê ek is mal? Wel, as jy dit al ooit gedoen het, já.

“Maar verstaan jy nie, sê André, dis ’n interaksie met lewe en dood waaroor jy totale beheer het, of geen beheer nie . . .

“Hy spin die magasyn en ek weet daar is een patroon binne. Hy haal hom oor, druk die loop teen sy kop en trek die sneller. Klik.

“Spin weer die magasyn, swaai die loop na my toe, sê: ‘Jou beurt!’ en trek die sneller.

“Klik.

Rapport se beriggewing in November 1983.

“Hy sê: ‘Jou gelukkige bogger, kom ons probeer weer’ en toe’s ek al amper om die swembad met hom dronk agter my aan en ek hoor net klik-klik soos hy oorhaal en skiet, en elke keer: ‘Gelukkige bogger!’

“Op pad om my eie rewolwer te gryp, stop ek skielik, onthou hy het altyd net vyf patrone in sy rewolwer gesit. So, die rewolwer was heeltyd leeg!

“Jou siek psycho, skree ek vir hom terwyl hy omtrent in die swembad val soos hy lag.

“Vroeg die volgende oggend druk hy sy babelas-kop by my kamerdeur in. Luister, ek het vanoggend wakker geword met hierdie vae beeld . . . het ek jou gejaag met die rewolwer? Ek sê ja, en dankie daarvoor . . .

“Toe gaan sit hy in die sitkamer met sy kop in sy hande. Hy kyk op na my en skud sy kop. Die woord jammer het nooit uit André se mond gekom nie.”

Bedags het hulle James Joyce, Hemingway en Saul Bellow gelees en ure omgesels oor letterkunde. Hul snaaksste Steinbeck-kwinkslag, uit Tortilla Flat, het ’n mantra tussen hulle geword: Ameego, my leetle friend, I have for you here two great steaks of God’s own peeg . . .

“Maar snágs . . . drank, en dan bel hy die meisies. Hy het gedobbel met die dood op ’n heel ander vlak as ek. Ek het soort van gehoop om nog eendag ’n normale lewe te hê.

Polisiefoto’s van Stander ná sy inhegtenisneming in Fort Lauderdale, Florida.

“Hy het grootgeword in ’n konserwatiewe Pretoria-polisiehuis, die voorbeeldige polisieman, maar . . . Hy het dit nooit direk vir my gesê nie, maar tussen die lyne wel: dat hy nooit sy generaal-majoor-pa kon konfronteer nie, nooit vir hom kon sê: ek wil my hare tot op my heupe laat groei en gedigte skryf . . . nie.

“Hy het partykeer so ingekeer geraak, ontsnap binne-in homself. Ek het sy siel uitgetrek oor hy die blomme in die tuin so obsessief kon versorg, die swembadwater wat hy perfek gehou het.”

Hulle het geweet slordige, bloederige bankrooftogte is sleg vir sake, niemand is dood in enige Stander-bankroof nie.

“Ons is die gentlemen-bankrowers genoem, en ek kon dit nooit verstaan nie, dit was eintlik ontnugterend, want ’n mens kan nie ’n gentleman én ’n bankrower wees nie.

“Maar ons was altyd hoflik. Ons sou ses, sewe tellers roof en met die uitstap het die sekuriteitswag vir ons die deur oopgehou terwyl die mense in die rye totaal onbewus was van wat gebeur het.”

Hy skud ’n sigaret uit ’n verfrommelde pakkie R10-sigarette. “Ek is nou so lus vir rook ek rook sommer twee gelyk. Ek het nou opgehou om te wil ophou rook.”

Die Standerbende se seisoen in die son was ná drie maande in ’n polisie-hinderlaag oor en uit toe Patrick Lee McCall doodgeskiet is.

André Stander is in sy wit langbroek, wit skoene, pienk hemp en blonde lokke landuit na Fort Lauderdale, waar hy in ’n banale polisiekonfrontasie doodgeskiet is.

Allan Heyl het homself met ’n dik Joodse aksent uit die moeder van alle padblokkades in Van Reenenspas gewikkel en Engeland toe gevlug. Daar is hy in ’n mini-rooftog gevang en sewe jaar tronk toe voor hy na Suid-Afrika uitgelewer is.

Met sy vrylating in 2005, in die ouderdom van 54, was hy altesaam 27 jaar agter tralies.

Aanvanklik het dit goed gegaan met sy loopbaan as openbare spreker, maar die laaste paar jaar was moeilik, erken hy.

Hy het ons gaan wys waar hy sy boek geskryf het – ’n 3x4 m- enkelvertrekhuisie sonder water op ’n kleinhoewe naby Lanseria. Skaars groter as ’n tronksel.

“Vir twee en ? half jaar was dié my huis,” sê hy en gaan sit op die trappies voor die verweerde blou deur. Die sweet tap hom af. Sy geel hemp se een knoop is los. Hy vertel sy storie so plesierig, jy’s sommer self lus vir ’n bankrooftog of twee.

Toe donderweer sy skootrekenaar befomfaai, het hy sy manuskrip verloor.

Hy moes van vooraf begin. Die eerste 20 000 woorde is op sy BlackBerry geskryf (“hierdie duim was naderhand baie seer”) voor iemand hom ’n ou skootrekenaar gegee het.

’n Vriend het die eerste drie hoofstukke vir Penguin-uitgewers gestuur, en hulle het binne ’n dag die manuskrip aanvaar.

Lucky, die plaaswerkers se tweejarige seuntjie, sien vir Allan en kom met uitgestrekte arms nadergehardloop. Sy ma-hulle bly in die huis langsaan. Dis by hulle waar Allan water en vriendskap gekry het.

“Dis waar ek gestoei het met my verlammende depressie, die swart hond wat my al van kleinsaf jaag. Ek het dae lank gelê en kyk vir die rekenaar, naderhand op die rand van kranksinnigheid,” sê hy met ’n vrolike lag wat eindig in ’n hoesbui.

“Die plek waar ek nou bly is van die botter na die wors, soos my ou dosent altyd gegrap het oor from bad to worse.

“Maar dinge is aan die verbeter. Ek trek in Januarie in ’n nuwe plek in, al weet ek nog nie hoe ek daarvoor gaan betaal nie. Weet jy, vandág begin dinge klaar beter lyk hier in my uur van ernstige nood,” sê hy sonder ’n sweem van selfbejammering.

Feite is feite.

“Ek het dit reggekry om hierdie boek te skryf teen alle waarskynlikheid in. Ek het die onoorleefbare oorleef. Wat oorgebly het, is verwyte en spyt.

“As die lewe jou baie gee, balanseer dit iewers uit met swaarkry – net om jou te herinner aan alles wat jy gehad het . . . lest you forget . . .

“Dalk moes ek ’n akteur gewees het . . . lest you forget,” dra hy gemaak-dramaties voor. Vir die foto trek hy ’n John Wayne-gesig. “Ek is mos ’n cowboy.”

Soos die keer toe hulle ’n bank onder die neus van ’n polisieman beroof het . . .

“Ons het pas twee banke in Braamfontein beroof. By ’n verkeerslig sien ons nog ’n bank, mét parkeerplek.

“Ek was besig om uit te klim, toe pluk André my terug en wys waar ’n polisieman oorkant die pad staan en die omgewing bespied.

“Koeëlvaste baadjie, so regte Rambo-moenie-my-rondneuk-nie, op sy polisieradio seker aan die praat oor die banke wat ons pas beroof het. Terwyl die mees berugte Cortina in die land reg onder sy neus staan . . .

“Ons het ’n paar minute daar gesit en gewonder wat om te doen, en toe besluit: kom ons beroof maar die bank.

“Rambo het seker ’n Steve McQueen-fliektoneel verwag van skreeuende bande, deure wat oopvlieg – nie twee ouens wat ewe ordentlik by die rooi verkeerslig stilhou en dan ’n bank binnedrentel nie . . .”

Hy onthou hoe hy André die laaste keer by die lughawe afgelaai het en hom gemaan het om nie ’n kar te koop nie, nie te jaag nie, dis Amerika, hy bewonder die FBI nie vir niks nie . . .

André het geïrriteerd teen sy slaap getik en gesê Allan klink nes sy ma en Bekkie, sy eks.

“Toe koop hy vir hom ’n Mustang – so bietjie V8 Yankee power – ry deur ’n rooi verkeerslig, hulle vang hom, die kar se papiere is verdag, die kar word geskut, André kom uit op borgtog, gaan steel wragtig die kar uit die skut, weerstaan die arrestasie, word geskiet, bloei dood op die teerpad . . .”

Ná al hierdie jare het Allan

Heyl nog steeds nie woorde hiervoor nie. Al wat hy kan uitkry, is: dit was die einde van André Stander.

Allan en Bekkie was in Cabana Beach, Umhlanga Rocks, toe die nuus breek. Hy onthou die draagbaar op TV, met André se gunsteling- blou Nike-hardloopskoene en die lang blonde hare wat uitsteek onder die kombers.

“Al die misterie . . . dood.”

Hy onthou die paniek toe hy van Umhlanga af teruggery het Johannesburg toe.

“Jy is heeltemal alleen, die hele land is op soek na jou, jy het niemand na wie jy jou kan wend nie.”

In die vliegtuig op pad Engeland toe, lees hy die koerant­opskrif: Spotlight on Allan Heyl.

Hy wys dit vir die ou tannie langs hom en vra in sy beste Duitse aksent of sy gehoor het van die bankrowers.

En sy sê: “What terrible people.”

“Ja, dis wat ons was . . .”

En hy skud nog ’n skewe sigaret uit die verfrommelde R10-pakkie.

Meer oor:  Allan Heyl  |  André Stander  |  Bankroof  |  Stander-Bende
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.