Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Amanda Strydom
‘Ons loop nou hierdie pad, my lam’

‘Ons woon op ’n klein blou ghoen. Soos kinders met haar gedoen wat ons wou doen. Sy hang draadloos in die sfeer. Haar skouers mank, sy’t geen verweer . . .”

Amanda op die verhoog met Nostalgie, haar nuwe konsert. Sy het net een voorvertoning daarvan gehad, voor sy KKNK toe sou gaan. Foto: Helene Cilliers

Amanda Strydom se stem lê die leë teater vol en die hele wêreld word sag.

Uit 100 000 aanlyn strome uit 100 lande oor hierdie blou ghoen heen klap hulle hande vir die beleë diva, laas Saterdagaand, op die eerste, besonderse aanlyn konsert in die Atterbury-teater.

“Jy staan voor 400 leë stoele, en dit word die grootste gehoor van jou lewe. Ons klap hande vir julle uit Perth en Welkom, het hulle vir ons oor die internet laat weet, ons is nét hier agter julle in Centurion, ons is ver weg in Mongolië . . .

“Een ou werk op ’n passasierskip tussen Honolulu en iewers, ‘gestrand’ op die boot, vasgekeer oor die virus. Hy’t vir my ’n video gewhatsapp van hom in sy kajuit, en op sy laptop sien jy my in die konsert, en in die agtergrond die see deur sy kajuitvenster.

“Ander wys foto’s van hul aandetes met glasies wyn op die tafels uitgepak, en daar is ek op die skerm aan die ander kant van die tafel. Verstommend.”

Kýk hoe blou is die lug, hoe word die jaar ryp in goue akkerblare.

Ongekende planne vir kunstenaars in ongekende tye, my lam, sê Amanda en haar stem is 85% Lindt, aards en rustig in hierdie niemandsland waarin ons beland het.

“Hoe fantasties, die tegnologie wat ons vandag saambind sonder dat ons by mekaar is.”

Een reël wat haar bybly vir hierdie 21 dae kom uit die lied wat sy spesifiek vir die konsert gekies het: God is watching us from a distance.

“Hierdie virus het almal tot stilstand gebring. Wanneer laas het jy net op jou stoep gesit? Nou moet jy. En as jy nie ’n stoep het nie, sit op jou kombuistrappe. En kyk.

“Kýk hoe blou is die lug, hoe word die jaar ryp in goue akkerblare.

“As hierdie gedwonge stilte nie weer iets wakker maak van ek moet weer koester, ek moet weer gee, dan weet ek nie.”

Die gratis aanlyn vertoning van Optog! verlede Saterdag in die Atterbury-teater was ’n groot sukses. Dit word nou opgevolg met drie soortgelyke vertonings wat mense kan stroom teen R50 om die kunstenaars só te ondersteun. Die eerste konsert is vandag om 17:00 by www.optog.co.za. Hier is Amanda en die pianis Coenraad Rall tydens die opname, ure voor die inperking. Foto: Fuzz Senekal

Sy trek haar asem diep in.

“Ek en my man lewe maar altyd soos kluisenaars, want ek leef baie na buite wanneer ek optree. Dis vir ons heerlik om by die huis te wees, heerlik in die tuin, Tony plant, alles waaraan hy raak, word groen.

“Ek leef na binne. Ons is lief vir ons TV, ek vir my boeke. Ons voel verskriklik tuis in hierdie inperking. Uiteindelik pas ons nou in.”

Jy hoor die bietjie selflag, die gelatenheid van ’n vrou wat weet hoe om paniek af te skil tot kalmte.

Dit verstom haar, dié mense wat so verskriklik sukkel om alleen te wees. In haar eerste eenvrouvertoning, State of the Heart, sê sy: If you can learn to be by yourself and like it, you’ll never need anyone, and you’ll never get hurt.

Dit was in 1994, 26 jaar gelede. Nou is sy verby 60. Sy lewe dit.

“As jy begin jammer voel vir jouself omdat jy alleen is, praat dan met jouself, man, jy kan jouself antwoord ook, dis oukei.”

Is dit nie wonderlik hoe mens nou die kans kry om diep in jouself te kyk nie? Jy kan jou ego bekyk, jy kan weer besef: Ek is glad nie so great soos ek gedink het nie.

Fluister sy.

“Dis waaragtig nou terug na die basiese, om die bietjie wat jy het, te gebruik. Ontgin dit, geniét dit. Dit kos niks om op te kyk en die wolke te sien nie.” Sy lag effens, herhaal: Dit kos wraggies niks.

Is haar hart benoud oor haar beursie?

“Ná soveel krisisse al, besef ek daar is absoluut niks wat ek daaromtrent kan doen nie. En ek is nie alleen hierin nie, daar is honderde der honderde kunstenaars, en as ek dit duisende maak, sluit ek feesbeplanners, stalletjiehouers, hoteleienaars, gastehuiseienaars, vliegtuigkaartjies wat verbeur is, inkomste wat net verdwyn het.

“En dis maar net die kunste. Wat van die duisende klein besighede? Én die grotes. Almal. Ek is nie alleen nie.

“Ons weet nie wat voorlê nie, maar ek gaan nie ophou glo dat dit sal verbygaan nie. Ons moet nou net sente omdraai en dankbaar wees vir elke dag wat jy wakker word met asem in jou longe, oë wat sien en hande wat kan vat.”

Ná die KKNK sou Amanda in Junie Vrystaat Kunstefees toe gegaan het. “Nou is dit uitgestel, dalk afgestel. Die res van die jaar se inkomste is skielik weg. Daarom is ek so dankbaar vir die Woordfees wat so wonderlik was. Ons vertonings het uitverkoop.

“En as jy niks meer het nie, dan het jy niks meer nie. Dan sal ek moet leer om te bak of iets, ek weet’ie, ek is hopeloos!

“Alles waaraan ons gewoond was, is van ons weggevat. En ek glo dis met ’n rede. Ek weet dis ’n virus en die wetenskaplikes sal vir jou sê: Dis hoe dit werk, pas jouself op, isoleer jouself, en alles. Maar ek kan nie help – ek wat Amanda is – om die spirituele hierin te sien nie. Waarheen is die wêreld op pad? Hierdie planeet? Dit was so nodig gewees, nou.

“Vir my as bipolêre mens, waar balans die belangrikste ding is in my lewe . . . balans . . . hou dit reg, gebalanseerd, anders verval jy in die donker of jy dans té naby aan die vlam, en jy brand. Die balans op ons planeet is heeltemal, heeltemal omver gegooi. Die reënwoude, hoe kán mense nog aardverwarming bevraagteken, ons stuur af op selfvernietiging.

“Ná elke plaag en elke oorlog deur die eeue, was dit: Oukei, daar gaat ons maar net weer aan soos tevore. Gaan hierdie ding ons wakker ruk om weer na binne te kyk, na mekaar te kyk?”

Sy was barstrots om ’n Suid-Afrikaner te wees toe sy hoor hoe kalm en sonder bravade pres. Ramaphosa die staat van inperking aangekondig het.

“So anders as die man met die oranje hare in Amerika.”

Dis vir haar skielik so ’n ongelooflike woord: besmetting.

“Die aarde is besmet. Ons moet skoon word, man, en dis wat hierdie ding doen. Dis die groot Vim, Jik, Handy Andy hierdie, sê ek vir jou, hy maak vir ons skoon. En as jy vuil wil binne bly en buite, ly ander daaronder.

“Haai, ek klink nou soos ’n prediker in een van daai tente,” bars sy uit van die lag.

Almal wat so hol vir toiletpapier, jimmel, wat ís dit met hulle? “Iemand het gesê hulle koop so baie want as iemand nies, beskyt hulle hulself. Michelle Breedt, die operasanger, stuur uit Oostenryk ’n prentjie van twee aliens wat wonder waar’s al die aardlinge heen. Dan sê die een: Hulle het só geskrik, they’ve wiped themselves out with toilet paper.”

Humor is nou die pleister op ons nerwe. “Die virus is alsbehalwe snaaks, die virus is die gelykmaker, maar die vader weet sonder humor sal ons ten gronde gaan.”

En al die mooi wat uitkom, soos die mense wat op balkonne in Italië saamsing. “Die mooiste was een ou wat sit met sy keyboard en hy speel ‘My Heart Will Go On’, en twee woonstelle ondertoe in ’n ander blok haal ’n ou sy saxo­foon uit en hulle begin saam busk, en almal kom uit op hul balkonne en klap hande en voel saam.

“Ons lewe nou in iets soos ’n moewie, nè. Ek het nou nie ’n balkon nie, maar as jy ’n vreeslike geskree uit Westdene hoor, is dit ek en Tony, hy sit die sound system aan, dan sing ek op backtracks!

“Almal gaan sê o my aarde, she’s losing it again.”

Maar sy’t haar vroeër in die week verbeel sy’s ’n Facebook-Fellini en haar agtertuin teen skemertyd opgeneem. Nicky, die kolgans wat elke dag haar happie saad kom eet voor sy dam toe vlieg vir slaap. Iewers hoor jy sagte tromme, jong stemme wat busk terwyl die son ondergaan.

“Daar is baie studente om ons, ons bly net agter die dam in Westdene. Hulle het hul tromme en hulle is bymekaar en hulle sing. Ek is mal daaroor om ’n Afrikaan te wees.”

Vir die volgende drie weke beplan Amanda . . . om haar kaste reg te pak. Ja, wragtie.

“Want vader weet, as ek kyk na als wat ek opgegaar het, en vir myself gesê het as ek net nog ’n bietjie gewig verloor sal ek weer in daai top of broek pas, jy ken daai gevoel nè. Ek moet nou wreed wees en uitgooi, want op die oomblik skree daai inge-squeeze-de klere: Help my, jy knyp my!”

Amanda het haar simpel ou oefenfiets gaan uitgrawe, hy’s glad nie soos haar lekker fiets in die gim nie, maar sy trap hom terwyl sy luister na Beethoven, Strauss en die wonderlike Charl du Plessis op Classic FM.

“Veertig minute lank dat ek kan hoor my hart klop nog.”

Miskien, dalk, vind haar vingers nou hul pad na nuwe woorde en note vir nuwe liedjies, begin sy huiwerig sê.

“Ek het bitter lanklaas geskryf, dit voel vir my my woorde het opgeraak. Maar ’n krisis maak mens mos wakker, en dan kom daar weer woorde na jou toe.

“Ek het lankal besluit as ek niks het om te sê nie, gaan ek dit nie dwing nie. Moet ek sing die lug is blou, bokkie, ek is lief vir jou? That’s not me.”

Sy speel al jare internet-Scrabble met ’n klomp mense oor die planeet heen. Daar is Angie en Ann Thomas in Wallis, Marilyn Wright op die Franse platteland, Ian Marchant in Londen, en hierso stof Michèle Nigrini, die skilder, haar gereeld uit, Pierre Greeff van die Heuwels Fantasties se pa, Johan, die Hoons op Paternoster . . .

“Mens kan nie verveeld raak as daar soveel goeters is om te doen op hierdie blou ghoen nie.”

Dit is nou tyd om te kyk na wat ons het.

Wat vir ons van die begin af gegee is.

Wat ons as vanselfsprekend aanvaar en wat ons afgeskeep het.

“Ons loop nou hierdie pad, my lam.”

Meer oor:  Amanda Strydom  |  Sanger  |  Covid-19  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.