Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met André Schwartz
’n Man wat nog in goedheid glo

Dit ruik na gister se reën. Voëls flerts soos koekblikprente oor kosmosse langs die grondpad. By ’n plaashek naby Kromdraai wag drie honde ons in.

André Schwartz se eenoorperd se naam is Gorgeous. Op sy plaas naby Krugersdorp is daar ’n allemintige Petrof-vleuelklavier, saans huil die jakkalse, en daar is drie stoepe waarop jy G&T’s kan drink. Foto: Deon Raath

Skuus julle, ek soek gou die hek-oopmaker, laat weet André Schwartz.

Ons wag. Hondesterte swaai, harige metronome, een-twee-een-twee.

Ek soek nog steeds die oopmaker, voicenote hy weer vervaard, in daardie stem van encores.

Ons oë volg die plaveistene tot by die wit plaashuis. Hy kom aangedraf. Stoppelbaardglimlag. Superdry-hemp. Welkom julle, ek het tafel op die balkon gedek.

Hy vlerk sy arms vir ’n druk.

Die gordyne trek oop. Ouverture verby. Die middag begin.

“Ek het nog altyd in die Parks gebly,” rol die gesels uit hom. “Parktown North, Greenside, Saxonwold. En toe sien ek dié plasie vier jaar terug toevallig in ’n Property24-pop-up.”

André het ’n vriend, Gareth Edwards, ’n afgetrede plastiese chirurg, as voice of reason saamgesleep om te kom kyk. En nou bly André hier met net die honde, die perde en een liewe blinde vark genaamd Freddy.

Daar is liefde en goedheid in die wêreld, verby vooroordele?.

Dis wat hom éintlik gevang het, wys hy na die koppie agter die swembad. “As my pelle kom kuier, bestaan ek vir die eerste halfuur nie, hulle kyk net koppie. Daar’s letterlik ’n waglys van pelle wat naweke wil kom kuier.”

Hy halt vir ’n teug koue rosé, sy wenkbroue swart halfmane, lagplooie soos notebalkies langs sy oë. Jy wil glimlag vir sy glimlag, dis so voorblad-bekend.

Net ’n effense broosheid talm nog ná laas maand se paar harde dae in die hospitaal toe hy septiese skok opgedoen het.

Dis vir Gareth, met sy oorplanthart, wat André twee jaar gelede weer saamgesleep het toe hy die diagnose van sy motorneuronsiekte (MNS) gekry het.

“Toe ek en Gareth daar uitstap, sê hy: ‘So this is a bummer.’ En ek: Ja, it’s a tricky one . . . Moet ek my ma vertel? Nee, vir niemand nie, absorbeer dit eers.

“Toe ons deur die parkeerterrein se boom ry – ek sal daardie oomblik altyd onthou – sê ek: So, dit beteken ek gaan voor jou dood.

“Ja, sê hy, en dis ’n boggerop want hy het altyd gedink ek gaan op sý begrafnis praat en nou sal hy op mýne moet praat.”

“My ma Ina is die bloudruk van alle ma’s.”

Dis hoe hulle die nuus verwerk het. Dis nou dit, wat maak ons nou . . .

Daar was een baie donker dag agterna. André het met iemand gaan gesels wat ’n geliefde aan MNS verloor het.

“Dit was ’n fout, want al wat hy onthou, was die laaste, moeilikste dae. Dit was scary. Die algemene verwagting is jy het een, drie of vyf jaar oor. Binne ’n jaar sit jy in ’n rolstoel. My kop het net gesê: Ek gaan dit nie doen nie. Dis nié die manier hoe ek wil doodgaan nie.”

En net op dié oomblik hardloop sy perde onder die koppie verby, vry, die spiere rimpel oor Darling, die merrie, se ribbes. “Sy was ’n renperd, op pad leeuplaas toe. Toe vat ek vir ma en dogter, wat só verwaarloos was, sy’t net een oor. Ek noem haar Gorgeous. Darling was dragtig en eendag was daar ’n vulletjie. Miracle.”

’n Eenoor-perd, ’n driebeen-bokserhond en ’n blinde vark . . . “My vriende terg dis gevaarlik om ’n dier op my plaas te wees!”

En die ongenooide gas, MNS? “Hy dikteer nie genoeg ruimte om langs my op die bank te kom sit nie.

“Ek is nie bang vir die dood nie. Al kommer is my ma.”

Sy ma, sê hy, is die bloudruk van alle ma’s. “My een vriend ly aan depressie, sy’t vir hom gesê hy moet die pille los en ’n tjoklit eet. Dis haar raad vir alles, en gelukkig het ek daardie gees geërf.”

André is op Aderavone, die heel eerste medisyne wat vir MNS help. Dis in Amerika goedgekeur presies toe André gediagnoseer is. Dit was té laat vir Joost van der Westhuizen.

“Dit werk ook nie vir almal nie. ’n Neurochirurg-vriend in Denemarke het vir my navorsing daaroor gedoen en gesê dis nie ’n medikasie wat hulle in Denemarke sal voorskryf nie.

“Dis nie lekker nie, nè, hierdie drup-pypie wat uit jou hang, en dan dink ek jissie, miskien is dít die rede hoekom ek enkellopend is,” grinnik hy. “En sê nou ek betaal al hierdie geld en die behandeling is onnodig, want ek het ’n besonder stadig ontwikkelende MNS? ’n Mens weet so min van MNS.

“Maar wil ek die ander kant van my tong verloor? Nee.”

Hy maak vir ons ’n r-klank met sy tong, net die regterkant rrr, MNS het die linkerkant se spiere gesteel.

Wat hom onkant vang, die afgelope jaar, is die reaksie van vreemdelinge. Mense kom sê: Hoop dit gaan goed, ons bid vir jou, en dan loop hulle verder. Net dit. Dit gebeur heeltyd, heeltyd.

“En dan staan jy daar en dit tref jou: Daar is liefde en goedheid in die wêreld, verby vooroordele en politiek en godsdiens.

“Ek wens so dat mense mekaar áltyd so behandel, dat almal altyd die goedhartigheid van vreemdes só kan ervaar.”

Vir ’n oomblik is dit stil.

Hy was so ’n “vrypostige, irriterende klein seuntjie”. Julius en Ina se enkelkind. Op twaalf het hy stemme agtergekom.

Dit was tussen sy ouers in die agterry, met Norma van Bellini op die verhoog. Nellie du Toit se mond was so ’n klein skrefie. “Maar die klank uit daai skrefie!”

Volgende was op tannie Carike Keuzenkamp se Kraaines-program. Gé Korsten was die gas. “Ek het seker soos Gertjie van die plaas gelyk, want ek het net vir sy mond gekyk, weer kon ek dit nie glo nie, joe, hy kon sing.”

Iewers tussen Nellie en Gé kom die klein André toe agter hy het self ’n stem.

Die Drakensberg-seunskoor het oudisies by die Laerskool Louw Geldenhuys kom doen. “Om een of ander rede het ek die dag besluit ek gaan nou sing. En toe kom ek in. En my pa sê nee.

“Ek was nogal upset, maar vandag is ek bly, want dit het my nog ’n jaar saam met hom in die huis gegee. Hy is op 42 dood aan ’n beroerte of hartaanval.”

’n Jaar later kry André ’n goue diploma in die kunswedstryd, nog ’n jaar later ’n nederige groene. Hy het sy lied se woorde vergeet.

En die ergste is, bars hy uit van die lag, hy vergeet vandag nog steeds sy woorde – behalwe as hy die Phantom van die opera is.

Andrew Lloyd Webber beskou hom as een van die drie beste Phantoms wêreldwyd. Dis ’n rol wat in sy DNS geklim het, beskryf André dit self.

Vir André het Pieter Toerien op Carte Blanche net een beskrywing gehad: ’n ster. As hy aan André dink, dink hy: hoofrol. André interpreteer ’n lied, vou sy pragtige stem om die woorde en bied dit vir ons aan op ’n skinkbord.

Toe sir Cameron Mackintosh, die heel grootste internasionale vervaardiger van musiekproduksies, agt jaar terug hier was vir oudisies, het hy vir André gesê “hy het fantastiese dinge by Andrew Lloyd Webber-hulle gehoor van my Phantom. Ek voel toe baie lekker.”

En toe begin die poppe dans.

“Ek sing ‘Bring Him Home’ (uit Les Misérables) heel mooi. Hy sê: Jy het ’n baie mooi stem, en ek voel ewe lekker. Toe slaan hy met sy hand op die vleuelklavier en sê: ‘But what the f*ck was that? You didn’t tell me a story.’ ”

En André vervies hom, want die een ding waarop hy trots is, is hoe hy musiek kan interpreteer, storiés kan vertel.”

“Mackintosh druk-druk sy vinger teen my bors en sê: Sing die soliloquy. En ek góói, want ek wil die man wys ek vertel stories. En hy kyk my so en sê: ‘Sing a pop song.’

“Ek sing daai Patti Smith-ding ‘Take me now, baby’. Rock. En ek weet nie wát hierdie aggro man wil hê nie. Toe sê hy: ‘Now, sing the soliloquy! En ek gaan staan reg teenaan hom en ek síng. Ná die tyd is dit doodstil in die kamer, almal is wasbleek, niemand weet wat om te verwag nie.

“En hy gaan sit weer so en sê vir my: ‘That’s what I want.’ Hy smyt die stoel onderstebo, in daai kamer 308 in die Artscape en sê: ‘Now, sing ‘Bring Him Home’.’ Helfte in die song was almal in trane, en ek kon nie verder sing nie, daar was ’n emosie in die kamer wat jy nie kon glo nie.

“Dit was waarskynlik een van my grootste oomblikke in die teater, een wat niemand gesien het nie.”

André was al een met wie sir Cameron só “gedans” het.

“Hy wou waarskynlik kyk hoe ver ek kan gaan. Dit was fabulous.” Grinnik.

“Dit het my so laat dink aan daai ding in Amadeus waar Salieri gesê het: ‘the cringing mediocrities...’ ”

Tien dae per maand kry André MNS-medisyne via ’n drup wat hy sommer self insit deur ’n port, ’n stent in sy bolyf.

Ons sal nie glo op watter plekke hy homself al op ’n drup gesit het nie, skerts hy. Op die strand, die Bokboot tussen pelle . . . verkieslik met ’n G&T in die hand.

“Maar ek doen dit nou versigtiger. ’n Bakterie of iets het laas keer ingeglip, toe kry ek septiese skok. Die gif het my organe binne minute aangeval. Ek het goddank my foon by my gehad en ek teks vir Etienne, wat in die ander huis op die plaas bly: Septic shock, kom!

“Ons jaag op met die grondpad hospitaal toe, en ek verloor die heeltyd my bewussyn. En al wat die arme Etienne dink, is hoe gaan hy nou vir my ma sê ek is dood.

“En die ironie! Almal dink MNS gaan my kry, en hier dooi ek van die pypie wat my moet help teen MNS!”

Hy is nou versigtiger met die behandeling, maar daar’s steeds vriende betrokke – en G&T’s.

Ons gaan sit vir oulaas op die salige klein stoep van waar hy altyd veld toe kyk, koppie toe. Moira die skaaphond kom lê tussen ons. ’n Swaeltjie woerts uit ’n moddernes teen die plafon.

Hier sit hy in vrede.

“As jy jouself van negatiwiteite stroop, is die lewe soveel lekkerder. Jis, dit klink so wet en weak, maar daar is soveel meer goedheid as wat jy dink.

“Het my verwagtinge verander? Nee. Ek werk sonder ophou aan my show, Die pad, ek wil ’n musiekspel saam met Pieter Toerien vervaardig, ’n dokkie oor Deon van der Walt.

“Wie sê dit gaan nie gebeur nie? Dalk het ek ’n stadige MNS. Dalk werk die medisyne.”

En dan? Sy antwoord huiwer nie. “Ek dink ’n mens gaan hemel toe, waar dit ook al is. Ja, ek glo in God. God is die verwerklikheid van skoonheid en goedheid. As die kerke baklei oor gays, wil ek vir hulle sê ouens, daar is soveel belangriker dinge. Jy móét glo in goedheid.”

En in die hemel?

“Daar’s een hengse groot vleuelklavier, Liberace speel so nou en dan.”

O ja, en die strykensemble van die Titanic sal ook daar wees, verbeel ons verder. Nellie en Gé. En die meester van almal, Deon van der Walt.

Hy trek sy oë weg van die koppie en kyk vir my, en sy oë is so vol eerlikheid, so oop.

Op daardie stoep word oomblik ewigheid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.