Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Andrew MacPherson
‘Al hoe ons virus wen, is saam . . .’

‘Ons Suid-Afrikaners dink mos ons is koeëlvas. Ons leef in hierdie borrel dat dit nie regtig óns probleem is nie. Tot iemand na aan ons die virus kry.

“Mac kan nie sy geluk glo om my vir twee weke nét vir homself te hê nie.” Andrew MacPherson, hoof van balansstaat-bestuur by Old Mutual het ná ’n sakebesoek in Londen en ’n paar dae se ski in Switserland teruggekom met die koronavirus. Hy is die eerste Suid-Afrikaner wat bereid was om openlik te praat oor sy ondervinding . Hy en sy Staffie-hond is in self-isolasie in sy huis in Groenpunt. Foto: Verskaf

“Ek het Covid-19. Moenie dit ligtelik opneem nie. Dis massief. Die wêreld het vir altyd verander.”

Andrew MacPherson is die eerste Suid-Afrikaner met die koronavirussiekte wat bereid is om openlik sy ervaring te deel.

Tot nou toe was daar ’n groot stilte om Covid-19-slagoffers. Niemand wou praat nie.

Hierdie 45-jarige geoktrooieerde rekenmeester, hoof van balansstaatbestuur by Old Mutual, het nou Suid-Afrika se gesig van Covid-19 geword.

“My ma sê nog altyd ek het ’n gesig vir radio, maar sy is duidelik verkeerd – ek het ’n gesig vir ’n virus!”

Andrew praat vinnig, energiek, dringend. Eintlik wil hy van die dakke af skree, al is dit om vir mense net één ding te laat besef:

“Moenie die virus vrees nie, vrees dat jy die virus gaan versprei. Dis hoe ons ons land gaan red.”

Moenie die virus vrees nie, vrees dat jy die virus gaan versprei.

“Vreemde mense bel my paniekbevange, tot in die middel van die nag. My vriende vra: moet ons jou nou groet . . .

“Almal met wie ek praat, wil weet wat hulle moet doen om dit nié te kry nie. Dis die verkeerde vraag. Vra wat jy moet doen om dit nie aan ánder oor te dra nie.

“As jy nie elke Suid-Afrikaner teen die virus beskerm nie, kan jy ook nie jou familie en geliefdes beskerm nie. Of ons almal wen hier, of ons almal verloor. Daar is nie ’n middeweg nie. As net 10% van die land handreinigers het en 90% nié, is almal ewe blootgestel.

“As ons nie nou saamstaan (oukei, twee meter van mekaar . . .) teen dié pandemie nie, is ons onderdeur. En nie net ons nie, die wêreld.”

Hy lag.

“ ’n Vriend vertel: Dis werklik die eerste ramp in Suid-Afrika wat jou nie laat dink aan emigreer nie. Miskien is daar ’n boodskap hierin, nè.”

Hy lag effens. Sê: En moenie dink als is oor twee weke verby en ons kan maar weer lekker aangaan met ons lewens nie. Dis nie soos beurtkrag wat ophou nie. Ons is maar aan die begin van die pandemie. Dit gaan etlike maande duur.

Nie net het jou pensioenfonds waarskynlik met die helfte verminder nie, jou wêreld het vir altyd verander.

“Die paar dae se ski in Verbier, Switserland, was vir ons so ’n bietjie lala-land tot ons beelde van lyksakke van Covid-19-slagoffers in Iran begin sien het.”

Andrew is op 3 Maart Londen toe vir sake, en het daarna saam met vyf vriende vir vier dae gaan ski in die Switserse Alpedorpie Verbier.

“Ons het heerlik geski, lekker in lala-land. En toe ‘ontplof’ die virus in Iran en Italië. Ons het TV-beelde gesien van lyksakke in Iran en skielik was dit baie werklik.

“Ek het reeds in Verbier ’n seer keel begin kry, ek het die virus seker op een van die lughawens, Londen, Dubai of Zürich, opgedoen.

“Terug in Suid-Afrika was dit vir my erg hoe onvoorbereid en ongeërg ons hieroor was.”

Ná Andrew se keelseer (wat ná die eerste oggendkoffie beter voel) het hy ’n irriterende droë hoesie gekry. Ná ’n paar dae volg die tweede stadium, meer grieperig, seer spiere. “Ek het met ’n dowwe kop wakker geword, gesukkel om te konsentreer.

“As jy ongelukkig is, haal jy die derde: respiratoriese probleme, dit versprei na jou longe.”

Met sulke ligte simptome gaan ’n supermarkwerker, ’n taxibestuurder, ’n huiswerker aanhou werk. Dis waar die risiko lê.

“Ek kyk nou na ’n klomp konstruksiewerkers hier oorkant die straat. Hulle staan teenaan mekaar en werk. Het hul werkgewer hulle ingelig? Waar is die maskers? Ten minste help maskers dat jy nie heeltyd aan jou gesig vat nie.

“Dit maak my bang. Hier wag ’n potensiële ramp op ons.”

Hy en sy ski-vriende het ’n woonstel in Verbier gedeel, drie van hulle het sedertdien positief getoets vir Covid-19.

“Op 9 Maart is ons regdeur doeane, want hulle toets net vir koors en nie een van ons was koorsig nie. Ons het vir hulle gesê van ons seer kele, maar hulle het net gesê dis oukei, weg is julle.”

Hy is dadelik in self-isolasie in sy huis in Groenpunt en het sy huiswerker laat weet om nie meer te kom nie.

“Van toe af is ek net ek en Mac, my staffie-hond. Mac kan nie sy geluk glo om my vir twee weke nét vir homself te hê nie. Maar selfs Mac raak nou moeg vir hierdie kwarantyn!”

Hy moes twee dae wag om getoets te word. By die private hospitaal waar hy uiteindelik beland het, het hy twee uur lank in noodgevalle se wagkamer tussen 15 ander mense, een ’n swanger vrou, gesit en wag. Die verpleegster wat hom ondersoek het, was sonder handskoene of ’n masker, al het hy heeltyd vir haar gesê hy is daar vir ’n Covid-19 toets. “Ek was 95% oortuig ek het nie Covid-19 nie, maar selfs ek het besef ek moet liewer ’n masker dra.”

Eers nadat die hospitaal by die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) toestemming gekry het om hom te toets, het die mediese personeel beskermende oorpakke aangetrek. Effe té laat, het hy opgemerk.

Op 12 Maart, ’n dag ná die toets, was die uitslag daar: positief.

“Ek het geskrik toe ek dit hoor. Ek is asmaties, wat ’n groter risiko inhou. Wat nou? het ek die dokter gevra. Bly in jou huis, Nios gaan jou bel.

“Dit het eers drie dae later gebeur. Die vrou het nie geweet waarvan sy praat nie. Wat moet ek doen as ek in nood gaan, wou ek weet. Géén inligting nie. Ek het uitgelewer gevoel.”

Gefrustreerd deur die gebrek aan kommunikasie, het Andrew die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die hoof van siektebeheer gekontak en gesê: Dis belaglik, hoekom neem julle Covid-19 nie ernstig op nie?

“Hulle werk so hard as hulle kan, maar niks word oorkoepelend gekoördineer nie. Waar is die groot aankondigings oor isolasiegeriewe? Oor waar ons genoeg ventilators in die hande gaan kry?

“Mense dink steeds dis oukei as hulle hospitaal toe gaan met Covid-19-simptome. Maar dis so aansteeklik, as jy daar instap, moet die hospitaal agterna ontruim en ontsmet word. Dis ’n doodsvonnis vir ander pasiënte.”

Dis nie net Suid-Afrika wat onkant betrap is deur dié pandemie nie. Trouens, ná pres. Ramaphosa se aankondigings is Suid-Afrika nou voor Amerika en Europa wat voorbereiding betref, sê Andrew.

“ ’n Paar dinge tel in ons guns, niemand is nog ernstig siek daarvan nie, dalk het die Suid-Afrikaanse somer iets daarmee te doen. Ons moet dit tot ons voordeel gebruik om teen wintertyd beter voorbereid te wees.

“Feit is, mense gáán aansteek, maar ons moet die getalle so ver moontlik beperk. As dit buite beheer raak, stort ons gesondheidsdienste ineen, en daarna, reg en orde.

Hanlie Retief

“Hierdie virus gaan nie verdwyn nie, so ons sal die situasie baie goed moet bestuur vir die volgende agt, nege maande tot ’n entstof beskikbaar is.”

Hy benadruk: Mense moet besef die wêreld het vir altyd verander.

“En dis nie alles sleg nie. In China het besoedelingsvlakke só gedaal, mense kan nou die son vir die eerste keer in tien jaar sien. Daar is nou weer lewe in Venesië se kanale.

“Bisar, nè, noudat die grootste parasiete op die planeet – ons – deur ’n virus verlam word, begin die aarde homself genees.

“Miskien is dié virus besig om vir ons belangrike lesse te leer. Ons moet onsself afvra: Hoe moet ons verander, wát moet ons verander? Daar is soveel ongelykhede in ons land, ons is so gepolariseer – godsdiens, ras, geslag – maar hierdie virus maak geen onderskeid nie.”

Dalk leer dié virus ons weer ubuntu.

“As ons net na ons eie belange kyk, gaan daar geweldig baie bankrotskappe wees wat gaan lei tot nóg meer werkloosheid en hongerte. Dis die heel ergste scenario vir Suid-Afrika.

“Ons moet dié gemeenskappe beskerm wat dit nie self kan doen nie.

“Wat jy nou sien, is paniek. In die geldmarkte, die winkels, in mense se oë. Mense moet besef dis die nuwe norm vir 18 maande en gewoond raak daaraan.

“Elke dag sterf 150 000 mense in die wêreld teenoor die 10 000 wat sover dood is aan die koronavirussiekte.”

As uitvoerende amptenaar by Old Mutual het hy die afgelope twee weke in self-isolasie hard gewerk om die chaos wat die paniek in die ekonomie gesaai het, teen te werk.

“Die slegste ding wat jy kan doen, is om jou pensioen te verkoop. Die markte sal wel uiteindelik herstel. Die Reserwebank se toetrede het ook kalmte gebring. Paniekoptrede soos om grense vir produkte te sluit en in hibernasie te gaan – soos Donald Trump voorgestel het – gaan ons eerder terugneem na die donker eeue.”

Covid-19 is nie die einde van die wêreld nie, herhaal hy, dis net ’n ander wêreld.

“Die vreemdste ding is, ek het met meer mense kontak gemaak hier in isolasie as in jare. Ek praat nou met vriende met wie ek vyf jaar laas gepraat het. Sjoe, nie alles hiervan is sleg nie.”

Hy voel fantasties en is Vrydag weer getoets. As twee toetse ná mekaar negatief is, maak hy daai voordeur oop en spring weer op sy fiets, klim in sy kano vir ’n bietjie see-roei. Ná twee weke se CNN 24/7 sal dit ’n lafenis wees.

Maar éérs nog ’n bietjie skadebeheer van dié balansstaat-man:

“Hoe gaan ons dit óóit regkry om die helfte van Suid-Afrika drie keer te toets?

“Selfs Switserland met sy uitstekende infrastruktuur sê as jy onder 65 is, moenie vir ’n toets gaan nie. As jy siek voel, gaan eenvoudig huis toe vir 14 dae, dan is jy virusvry en sal niemand meer aansteek nie.”

Onder hom, vanuit die venster daar in die heel boonste straat in Groenpunt, lê Tafelbaai en glinster.

Maar dis nie soos dit altyd was nie. Dit sal nooit weer wees nie, weet Andrew MacPherson.

“Dis ’n ander wêreld, ’n nuwe wêreld, en miskien, en ek glo dit werklik, word dit selfs ’n beter wêreld.”

Meer oor:  Andrew Macpherson  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.