Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Angel Samuels

Toe die forensiese mense Dinsdag vir Angel Samuels van Tinktinkiestraat 3 bel om ’n DNS-monster by haar te kry, het sy op haar bed gaan sit en die hoop het uit haar gesypel soos ’n laaste paar druppels drinkwater uit ’n gekraakte fles.

Angel Samuels het haar enigste kind, Nico, in die ontploffing by die wapenaanleg in Macassar verloor. Hier is sy saam met sy jongste seun, Kyle.Foto: Edrea du Toit

Sy was finaal voor die rou waarheid: Haar seun is vir altyd weg.

“Hulle wou weet, het hy valstande? Het hy fillings? Nou moet ek my kind so verduidelik.”

Jô . . . wow . . . fluister sy en dis asof sy die stopknoppie in haar kop druk. Om die dink daaraan net daar te keer.

Nico Samuels was die innemende skofbaas wat Maandagmiddag kwart voor vier in ’n reuse-ontploffing by Rheinmetall Denel Munition (RDM) se wapenaanleg in Macassar saam met sewe van sy manne dood is.

Haar Nico. “Hy is my enigste kind, mevrou. Al wat ek het.”

Angel gaan haal haar vertel by die een plek wat vir haar bo alles saakmaak. Haar kind se hart.

“Hy het nooit aan homself gedink nie, hy sou sy bord kos vir iemand gee. As iets gebeur het, was hy altyd eerste om te help. As iemand hom vra: Neem my George toe of Kaap toe en hy het nie geld nie, sal hy by my kom geld leen om daai persoon weg te neem.

“Hy was té goed, amper. Ek het plek-plek kwaad geraak vir hom, want mense het sy goedheid misbruik. Maar ek het ook geweet daai was eintlik sy rêrige seëning.”

En ek vat aan daai trok en weet binne-in is wat oorgebly het van my kind in ’n lyksak.

Angel het nie die slag van die ontploffing gehoor nie. Sy was in die daghospitaal, ’n paar blokke weg. Lawrencia, Nico se vrou, wat buite vir Angel gewag het, het ’n vlam die lug sien opgaan en toe ’n wolk rook.

“Ons trek daar weg, en toe ons die draai vat by die daghospitaal, ruk sy so aan die stuurwiel en roep uit: Nico! Toe sien ek sy het dit gevoel.

“Ek het 29 jaar by Somchem (die voorloper van RDM) op een van die masjiene gewerk. Jy weet jy werk in ’n gevaarlike plek. Dis vuurpyle en missiele wat ver trek, tonne gunpowder, gevaarlike goeters. Jy is altyd versigtig. As jy ’n geluid hoor, moet jy net hardloop.”

Maar vir Nico was daar geen waarskuwing nie. Geen wegkomkans nie. Die missiele en koeëls wat ander moet doodmaak, het nou vir húlle doodgemaak.

Sy trek asem in. Blaas stadig uit.

“As so ’n huis (eenheid) opblaas, bly daar niks oor nie.”

Die volgende oggend het die naasbestaandes ’n kring gemaak en gebid by die twee forensiese trokke.

“Binne-in was die agt lyke se . . . stukkies. Hulle het gesê ons kan aan die trokke vat om hulle vir laas te groet.

“Jô. En ek vat aan daai trok. En ek weet binne-in is Nico in ’n lyksak . . . wat oorgebly het van my kind. En hulle ry weg, deur die hekke, en my hart trek, want daar gaan my kind.”

Die laaste foto van Angel en Nico Samuels. Dit was laasmaand met haar 60ste verjaardag, toe hy vir haar ’n verrassingspartytjie gereël het. “Dié memories is nou poeding vir my oudag.”

Op haar koffietafel lê Die Son. Dik letters op die voorblad: Denel se dooies. Donker wolk hang oor Denel oor geliefdes nie “stukkies lyke” kan uitken. Boaan is ’n ry foto’s van die slagoffers.

“Look it’s my dêddie,” wys die agtjarige Kyle sy pa uit in die ry slagoffers. Nico is vierde in die ry. Hy dra ’n sonbril en hy glimlag amper.

“My dêddie walks with a swag. I always tell him he is tall, dark and handsome.” Vrolik hardloop hy kamer toe, sy ouma bly dun en klein agter op die bank met die bont hekelkombers.

Hy kuier by haar, sy ouer boetie,

Liam, wou liewer by Lawrencia bly, bang hy verloor sy ma ook.

“Liam is ontroosbaar. Maandagaand sê hy vir my: This day my life is going to change. Gister sê hy vir my: Ouma, it is part of life, you always told me that, you remember?’ ”

Macassar, hierdie blouboordjievlakte tussen twee rioolplase waar die lewe opgedeel is in skofte, is Angel Samuels se wêreld.

Sy ly aan asma, met komplimente van AECI se gasontploffing in 1995 toe 15 000 ton swaeldioksied aan die brand geslaan en ’n wolk giftige gasse vrygestel het. Die R400-vergoeding van AECI laat haar vandag net kopskud – en vir Lawrencia maan: Jy teken g? papiere sonder ’n prokureur nie.

“Dié keer gaan hulle dinge nie weer onder die mat invee nie.” Nie soos in die vorige twee groot ontploffings nie. Soos in 1993, toe haar swaer se hande en gesig erg verbrand is.

Donderdagoggend het Rheinmetall se uitvoerende hoof, Norbert Schulze, met die families gepraat. “Hy het belowe hulle sal niks onder die mat invee nie. Ek kon die menslikheid in hom sien, dit het my geraak.

“Eintlik het ek hom jammer gekry. Hy kon mos nie help nie, dis ’n ongeluk. Die fabriek sit brood op ons tafel en ’n dak oor ons koppe.”

Angel en Nico se pa het skaars ses maande uitgegaan, toe raak sy swanger, en toe’s dit die laaste sien van die bliksemse kantien.

“Hy het sy rug op my gedraai. Toe ek op 10 Augustus kraam, toe’s ek 18. Twee dae later het ek 19 geword. Ek moes net cope en ek hét. Drie jaar later het ek by Somchem kom werk. Als het net oor my kind gegaan. Vir 41 jaar het my lewe net oor Nico gegaan. As ek met ’n man uitgegaan het waarvan hy nie gehou het nie, dan het ek die ou net daar gelos.”

Onafskeidbaar. “Hy was my lewe,” sê Angel Samuels oor haar seun, Nico. Sy het net vier kinderfoto’s van hom.

Laasmaand, toe sy 60 word, het Nico haar verras met ’n “tafel” – ’n partytjie in die agterjaart. Die memories van dáái behoorlike jol is nou poeding vir haar oudag, sê sy.

O ja, Antie A se six oh! glimlag Ayden Dramat, Nico se vriend wat gou ingeval het met ’n troosdrukkie vir Angel.

Nico was so opgewonde daai dag, onthou Ayden, hy’t die gwharra-gwharra gedans. Hy het jou alles vertel, Antie A, nè, troos Ayden haar en druk haar nóg stywer. Al sy geheime met jou kom deel, dis mos hoe ’n mammie en haar seun se verhouding moet wees.

Om te dink sý het die werk vir Nico by Somchem gekry, sê Angel en skud haar kop en vryf haar boarms warm.

Haar bestuurder het sterk manne gesoek wat 80 kg-sakke plofstof kan dra.

Sy onthou die beginjare. “As ek oggendskof werk en hy werk middagskof, dan sal hy by die werk vir my sê Mammie, die kos is klaar, Mammie kan maar net die wasgoed afhaal.”

Nico het deur Somchem sy matriek gemaak en homself opgewerk tot in ’n kantoor met ’n wit jas, DM1 se voorman.

“Erg oor sy werk. Hy en Lawrencia se huis is 200 m van die fabriek af, dan’s hy heeltyd oor daantoe, hééltyd, om te kyk of die skofwisselings orraait is. As hulle hom in die nag bel, dan gaan hy. Laasnaweek weer.”

Tussen sy skofte het hy altyd by haar kom inloer. Dan gaan kyk hy in die yskas vir 'n oorskiethappie van gisteraand se ma-kos. Tamatiekos, kerriekos, koolkos. “Dan plonk hy hom neer op die bank, slaap so ’n uurtjie, staan op en sê Mammie, ek gaat nou. Dit was nie nodig vir praat nie, ons was net saam.”

Nico het Maandag in N16 gewerk, dieselfde eenheid waar hy 21 jaar terug begin het.

“Volsirkel, wraggieswaar. Hoe ironic is dít. Hy het altyd gesê hy hoop die dag as hy sterf, is dit by die werk, want dan is sy vrou en kinders voor gesôre.

“En . . . ek vra ook nie vir God hoekom nie, want Hy het my alreeds kom voorberei.”

Soos die mis party wintersdae soos ’n viesnat kombers oor Macassar neersak, so het die onrus laas Krismis oor Angel Samuels kom lê.

Die gevoelente van: Iets gaan gebeur in 2018. Sy het vir haar vriendinne gesê God gaan intree. “Ek weet nie wat nie, ek weet nie hoe nie, maar iets gaan gebeur. Twee maande terug sê ek vir my vriendin, ek verstaan nie, God het my nog nie geantwoord nie.

“Toe kom die woorde by my op: Wees gerus, Ek is in beheer. Toe besef ek: Jy kan nie in vrees bly wag nie.

“Saterdag was ons heeldag saam, en daar was net iets anderster aan hom, mevrou, iets vreeslik rustigs, hy het
ge
-shine. Ek en Lawrencia was saam mall toe en toe hy ons kom oplaai, was hy nie soos gewoonlik haastig nie. Oe, hy kon my deurmekáár aanjaag – kom Mammie, kom, ek moet nog werk toe. Nie dié keer nie.

“Toe hy hier wegstap, vir oulaas, ja, toe kyk ek hom agterna en wonder oor daai kalm vibe aan hom.”

Dis die laaste wat Angel vir Nico gesien het. Sondag nog het hy spesiaal vir sy ma ’n pakkie “braai” laat aflaai.

“En nou is ek alleen. En die onrus is weg uit my, nou hét dit gebeur.

“Hy is nie langs die pad dood nie, nie met ’n mes gesteek of met ’n gun geskiet nie, hy het seker nie eens geweet hy gaan nie.

“Dit was net hierdie verskriklike boem, en my Nico is reguit hemel toe. Ek is tevrede.”

En vir die eerste keer kom die trane.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.