Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Angelo Agrizzi

As Angelo Agrizzi sy Ferrari 360 se petrolpedaal trap (sy voet, sê hy, is geneig om swaar te wees) klink die enjin vir hom soos Pavarotti wat met spykers gorrel.

Bekentenisse uit die hart van korrupsie. Angelo Agrizzi praat met Rapport. Foto: Deon Raath

Die afgelope maand was dit egter nie Pavarotti nie, dit was die kanarie van Dainfern wat gesing het voor die Zondo-kommissie.

En nadat die Valke verlede week op hierdie kanarie toegesak het, hoor hy dalk eersdaags nie meer die aria onder sy regtervoet nie, want jy kan nie jou Ferrari saamvat tronk toe nie.

Dink jou in: dié swaargewig-swendelaar in ’n oranje tronkpak in ’n rosso corsaItaliaanse hings. Dis om van te runnik.

20 jaar lank het Angelo Agrizzi pligsgetrou in die kluis van ’n obskure Wes-Randse dienstemaatskappy miljoene rande afgetel en in grys sekuriteitsakke gepak, ’n halfmiljoen per sak, om die palms van burokrate, dienende ministers, selfs Jacob Zuma, te Agrease vir staatskontrakte. Monopoly-geld, het hulle dit by Bosasa genoem.

Als glo in opdrag van Gavin Watson (een van die Oos-Kaap se bekende Watson-strugglebroers), Bosasa se charismatiese baas.

Ek gee nie om wat met my gebeur nie. Ek loop hierdie pad nou vir ons land se kinders, wit én swart.

Nadat Agrizzi in Januarie nege dae lank die skynbare korrupsie-kadawer van Bosasa tot die afgryse van die hele land voor regter Raymond Zondo gedissekteer het, is daar steeds vleis aan die been.

Net laas naweek het Gwede Mantashe erken veiligheidstoerusting wat in 2016 by sy drie huise geïnstalleer is, was ’n geskenk van Bosasa.

Noem dit Bosasa se partytjietruuk: gaan installeer gratis veiligheidskameras by ANC-invloedrykes.

“Die funny ding is, by Bosasa kan jy op jou selfoon al daai kamerabeelde monitor. Jy weet presies wat by elkeen van daardie huise aangaan,” sê Agrizzi en skud vroom sy kop, want wié sou dit nou kon dink van Gwede . . .

Mantashe se verweer is dat hy destyds nie in ’n posisie was om tenders uit te deel nie.

“Ek glo hom. Maar hy kan reël vir gunste. Kyk maar vir Vincent Smith (voorsitter van die portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste). Hy kon ook nie kontrakte uitdeel nie, so wat het dáár gebeur?”

Wat Agrizzi reeds vir die kommissie blootgelê het, is eintlik net die oortjies van die seekoei, belowe hy.

Gelukkiger dae: Agrizzi tussen sy rosso corsa speelgoed.

“Dis sover net so 20% Ek glo die nuwe hoof van die vervolgingsgesag (NVG) is onkorrupteerbaar. As dinge daar gereed is, gaan die poppe begin dans. Dan pak ons alles uit.”

Agrizzi was verlede week op pad Gariepdam toe om te gaan geelvis vang, toe die Valke hom bel en sê kom terug, jy word in hegtenis geneem.

“Ek en my regspan was voorbereid daarop, ons het geweet Gavin Watson gaan 'n punt probeer maak. Hy het nie net vir my probeer intimideer nie, maar ook die 22 ander fluitjieblasers by Bosasa.” En dís wat hom woedend maak, “want al wat nou gebeur, is die fluitjieblasers raak stil”.

Hoekom word die fluitjieblasers, en nie Gavin Watson nie, in hegtenis geneem?

Hy begin praat, bedink hom, sê dan: “Want hy het meer invloed as ek. Dis doodeenvoudig. Hoekom het die Valke nie lankal begin optree nie? Ek het Willie Hofmeyr (adjunkdirekteur van openbare vervolgings) meer as ’n jaar terug gaan vra om my te help om alles te ontmasker. En wat het gebeur? Niks. Presies soos nou weer.”

Sy gesig is bleek, sy donker oë agterdogtig hier voor my in Annica’s Designer Patisserie in Dainfern Square.

’n Patently questionable character, is hy al in die media genoem.

Jy wonder: Wat het geword van die jonger, honger Angelo, die Germiston-boikie wat hom naweke afgesloof het in die Roxana-bakkery vir kos op die Agrizzi’s se tafel? Wat ná twee jaar as topstudent by die hotelskool moes opskop omdat daar nie meer geld was nie? Wat op 24, nadat albei sy ouers binne maande van mekaar dood is, na sy broer moes omsien?

“As jy gewonder het . . . Die pad na korrupsie gebeur geleidelik. Hier ’n skimp en daar ’n suggestie, stadig word jy ge-groom, en voordat jy jou oë uitvee, is jy ingesuig, tot bokant jou kroontjie.”

Van die hoenders, die braaipakke, bier en hardehout vir Nomvula Mokonyane, die Louis Vuitton-sak vir Dudu Myeni met ’n R300 000-paaiement vir Zuma, die karre vir Patrick Gillingham se gesin, Linda Mti se huise, het ons in sy getuienis gehoor.

Maar sy “pynlikste opdrag” was toe hy twee “black gentlemen” namens Bosasa onder die bus gegooi het.

“Hul aandeelhouding in ’n SEB-mynmaatskappy is van hulle gesteel. R400 miljoen. Ek gaan hulle help om dit terug te kry. Dis twee baie bekende mans. Julle sal nog daarvan hoor.”

Black gentlemen. Dié keer noem die Grizzy hulle nie “darkies” nie, los hy nie die k-bom soos in daai omstrede opname wat so skielik in sosiale media opgeduik het nie. Dit was net ’n rassistiese oomblik, bieg hy, gepleeg onder uiterste druk.

“Vreemd, net die twee mense wat my met die dood gedreig het as ek die korrupsie sou onthul, was in daardie vertrek toe die gesprek skelm opgeneem is. Tydens daai gesprek het ek ook ’n R50 miljoen-omkoopsom geweier.”

Toe Watson hom in 1999 uit die bloute aangestel het as bemarkingskoördineerder, moes hy reeds die gevaarligte gesien het. “Gavin het my gebruik om sy vennoot uit te werk.”

As hy nie die fluitjie geblaas het nie, sou dinge vandag nog presies so aangegaan het by Bosasa.

“Gavin het ’n fenomenale vermoë om gate toe te stop en probleme te laat verdwyn deur sy kontakte, maar hyself is soos teflon. Hy het Danny Mansell (Bosasa-stigterslid) Amerika toe gepos, waar Mansell vandag nog elke maand $7 000 kry net om stil te bly. Hy het Zuma reeds in sy sak gehad, en hy wou Ramaphosa via sy seun ook inkatrol.”

Daar word beweer Bosasa het R500 000 in Andile Ramaphosa se rekening inbetaal, wat later na sy pa se veldtogrekening oorbetaal is. Hét Watson Andile Ramaphosa gekaap?

“Ek wil liewer niks sê nie, ek het al genoeg drama veroorsaak! Ek het weggestap van ’n verdagte verkooptransaksie van die Royal Swazi Sun. ’n Paar dae later het Gavin en Andile daar opgedaag . . . Daar was ook besoeke saam in Afrika, maar of Watson hom gekaap het, weet ek nie.”

Hy was nie na aan Watson nie, maar Watson se klankbord in byna alles.

“Gavin gebruik mense en dan gooi hy hulle vir die honde.”

En vir Agrizzi? “Ek het dit met hóm gedoen, dink ek.

“Gavin is ’n charismatiese narsis. Die Watsons sien neer op mense. En behoede jou as jy teen hulle probeer opstaan.”

Agrizzi het getuig hoe Watson Bosasa se daaglikse gebedsessies gebruik het om werknemers te manipuleer.

“Almal moes hardop bid, sodat Gavin kon hoor wat in hul koppe aangaan. Paff! Gebede deur die wind weggewaai.”

Hy raak opgewerk. “Hoe kan jy iemand vandag afdank, sy lewe vernietig en dan gaan bid jy ewe vroom daaroor die volgende oggend. Hóé?”

Glimlag. “Jy sal uit jou stoel val as jy hoor wie almal dié gebiddery bygewoon het.”

Op so ’n laatnag-gebedsvergadering het Watson blykbaar pastore van oor die hele Afrika heen gekry om vir hom te bid. “Ek het gehoor hulle het hom soos Kentucky Fried Twister op ’n Afrika-kaart laat lê.”

Hy bars uit van die lag, katrol homself in: “Maar dis nie vir my om sy geloofsoortuiginge te bevraagteken nie.”

Toe Agrizzi einde 2016 in die hospitaal lê en sy hart gaan staan twee keer en ’n gewas soos groot soos sy vuis word uit hom gesny, het hy vir die eerste keer in 20 jaar begin dink oor sy lewe.

“Ek het besef die hele ding is eintlik ’n kultus.

“Ek was siek en sat van die korrupsie. My gesin is alles vir my, maar toe my vrou my in die hospitaal vra watter kleur is my seun se oë, kon ek nie sê nie.”

Hoe kon hy 20 jaar lank snags rustig slaap wetende hy swendel miljarde rande uit gewone mense se sakke?

“Ek sal dit graag vir Zuma wil vra. Eintlik vir báie mense.”

En vir Angelo Agrizzi?

“As ek ’n sent gevat het wat nie myne was nie, nie deel van my salaris nie, ja.”

Wel . . . hy was tot oor sy ore deel van die korrupsie?

“Ek kan nie met jou méér saamstem nie. Maar dan: Hoeveel van die gesteelde miljarde is vandag in Agrizzi se sak?”

Die arme Italianer het maar net die omkoopgeld in sakke gepak, Watson se vuilwerk gedoen?

Hy kyk my ’n oomblik aan.

“Ek het baie keer in daai 20 jaar skuldig gevoel, dan probeer ek praat daaroor, dan sê hulle vir my: Luister hierso, ons het ’n pakt, die een wat praat, sal uitgehaal word. Dis hoe dit gewerk het. Vrees.”

Agterdogtig: “Wat gaan jy skryf? Ek vertel jou net die waarheid. Ek het niks te wen deur vir jou te lieg nie.

“Ek kon stilgebly en ’n lekker lewe gehad het met die R50 miljoen of R100 miljoen waarmee Gavin my probeer stilkry het.

“Weggeraak het in Suid-Amerika, as ek wou. Ek kan nog steeds. Hoekom sal ek hierdie miernes oopkrap, my en my gesin se lewe in gevaar stel as dit nie was om korrupsie oop te vlek sodat ons land skóón kan kom nie?”

Hulle moes trek vir hul veiligheid, sy kinders loop deur, hy’t by 28 doodsdreigemente ophou tel, hy het private beskermers “gereël deur die regte internasionale bronne”.

Nie Mike Bolhuis-hulle nie? “Nee, los dit nou maar liewer.”

Agrizzi het ook nooit gevra vir vrywaring nie, sê hy. “Ek gee nie om wat met my gebeur nie. Ek loop hierdie pad nou vir ons land se kinders, wit én swart.”

En dié wat sê Agrizzi maak net of hy so heilig is, eintlik wou hy Bosasa van Watson kaap?

Asséblief! Hy rol sy oë.

“Met R250 miljoen se belastingbedrog daar? Dis onredbaar.”

En hoe ver strek sy bekering en berou? Sal hy die miljoene wat hy geskep het uit die korrupsiebak teruggee vir die mense van Suid-Afrika?

“Vat wat oor is. Julle is welkom. Hoeveel is daar? Miskien ’n huis, miskien ’n kar of twee. Weet jy wat dit kos om ’n fluitjieblaser te wees? My regsgeld trek by R3 miljoen. Hierdie land sorg nie vir fluitjieblasers nie.

“Weet jy hoeveel kos dit my om 22 gesinne (die ander fluitjieblasers by Bosasa) te ondersteun? Iemand moet hul huur betaal, kosgeld, skoolgeld. Daai mense waag álles te midde van dreigemente en intimidasie.”

Hy praat nie daaroor nie, maar Agrizzi het al jare lank ’n oop hand – veral vir kinders met kanker en bejaardesorg. ’n Korrupte filantroop, soort van.

Hy haal ’n R200 noot uit sy Luis Vuitton-aktesak vir die drie koffies en ’n bottel water. Hou die kleingeld, swaai hy ’n hand vir die kelnerin. Ons vra vir ’n foto van hom by sy Ferrari. Eers sê hy ja, dan bedink hy hom.

Ek ry saam met hom die parkeer-garage uit. Taankleurige leer en die tenoorgrom van ’n agtsilinder.

Ek het nog baie om jou te vertel, sê hy, groot goed, kom die belofte. Laat ek net eers sien wat jy Sondag oor my skryf, kom die omkoop, verpak in ’n glimlag.

Só meesterlik, jy wonder of jy reg gehoor het.

Meer oor:  Angelo Agrizzi  |  Bosasa  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.