Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Annelize Crosby

Die Dinsdagaand in Julie toe ’n stroewe pres. Cyril Ramaphosa binne ses minute aankondig die ANC gaan die Grondwet verander om grond te onteien sonder vergoeding, was Annelize Crosby op die plaas van ’n vyfdegeslag-skaapboer in die Noord-Kaap.

Grondhervorming het ’n politieke speelbal geword, sê Annelize Crosby, Agri SA se hoof van grondsake. Sy bly in Bloubergstrand. Hier is sy op ’n plaas buite Durbanville, waar die kanola-gewasse geel blom. Foto: Edrea du Toit

Onder die sterre op Vondelingsfontein in die Roggeveld het hulle tot laatnag probeer uitpluis hoe boere sinvol kan help met grondhervorming.

Hoe nodig handevat is. Want grond is vir Suid-Afrikaners die moederskoot, die wieg en die graf.

Dis ’n gesprek waarmee Annelize, Agri S­A se hoof van grondsake, al 21 jaar besig is. Grondhervorming is die Eat Pray Love van haar lewe.

Vondelingsfontein het nie selfoon-ontvangs nie, en eers halftien die volgende oggend, toe sy Calvinia inry, brrrt haar selfoon met 35 WhatsApps, 20 e-posse, vyf missed calls en almal skree paniek.

“Ek kon net my kop skud en vra, wat op dees aarde gaan hier aan?”

Dis ’n vreemde ding wat ons president gedoen het, sê Annelize.

Net daar het hy ’n streep getrek deur die openbare verhore en parlementêre proses oor die beoogde grondwetwysiging.

“Net die parlement, die wetgewende gesag, kan die Grondwet wysig. As leier van die uitvoerende gesag het hy by die wetgewende gesag se werk gaan inmeng, die skeiding van magte geskend.

“Die ANC-LP’s wat moontlik volgens hul gewetens teen die wysiging van art. 25 sou stem, moet nou op instruksie van pres. Ramaphosa dit steun. Só het hy die grondhervormingsproses in gedrang gebring.”

Die EFF en ANC het die hele gronddebat gereduseer tot een vraag, sê Annelize. “Die verkéérde vraag: Gaan onteiening sonder vergoeding grondhervorming ewe skielik vinniger laat gebeur? Gaan dit ewe skielik volhoubaar word? Die antwoord is nee.

“Dis totaal verkeerd om die Grondwet te wysig, maar nou is emosies opgesweep en politieke verwagtinge geskep.

“Grondhervorming is nou ’n politieke speelbal. Mense begin nou eie reg gebruik. Dis láát in die dag . . .”

Toe ons van die lys hoor, was die skade reeds gedoen. Dit was te laat. En wie ly daaronder? Die boere.

Oor grondsake, hoor jy by dié wat weet, is Annelize Crosby die een wat werklik alles weet.

In 1997, toe sy as jong Tukkie-dosent by die ou Suid-Afrikaanse Landbou-unie begin werk het, is die eerste grond-wetgewing pas aanvaar. Van toe af is sy op elke vlak betrokke.

“In 21 jaar het ons regtig net agteruitbeweeg in die debat oor grond.”

As die staat vroeër sy onteieningsbevoegdhede gebruik het waar onderhandelinge in ’n doodloopstraat beland het, was die Grondwet en die eiendomsklousule nie nou bedreig nie, sê sy.

“Dis die tragiese prys wat ons nou betaal vir die staat se gesloerdery.”

Dis presies wat Tembeka Ngcukaitobi in sy boek The Land is Ours skryf: Dis vir hom die grootste raaisel dat die staat nooit sy onteieningsbevoegdhede in die hof gaan toets het nie.

“Presies. Die waarnemende direkteur-generaal sê nou die staat raak vasgevang in ’n dooiepunt wanneer boere vasskop teen die onteieningsaanbod, en dis hoekom die Grondwet moet verander. Dis bloot nie waar nie. Die regering het ’n politieke keuse gemaak om dit nie in die hof te toets nie – iets waarvoor die Grondwet wel voorsiening maak.

“Ons kon jare terug al duidelikheid van die howe gehad het oor hoe vergoeding bereken moet word, hoe jy uitkom by ‘regverdig en billik’. Dan sou ons nie nou hierdie druk gehad het op die gewillige-koper-verkoper-beginsel nie.”

Sy haal aan uit die Motlanthe-verslag: Daar was nooit werklik die politieke wil om grondhervorming te maak werk nie. “En ook nooit die wil om grondonteiening deur te voer nie.”

Dít het nou die jakkals geword wat die skape kom doodbyt.

Sedert 2015, met die instelling van die kantoor van die waardeerder-generaal, is plase tot 60% ondergewaardeer.

“Hy gebruik ’n formule om huidige gebruikswaarde te bereken op grond van die winsgewendheid van die besigheid. Dan tel hulle dit by die markwaarde, deel dit deur twee, en dan is daar ook verdere aftrekkings.

“So, in sekere tipes boerdery, of as jy ’n swak jaar gehad het, gaan dit jou baie negatief tref. Dis nog ’n rede hoekom toetssake nodig is. Die hof sal moet beslis oor dié vreemde konsep-regulasies van die waardeerder-generaal.

“Dit benadeel boere, want die waardasie dek nie noodwendig eens die verband nie. Die boer sal dalk selfs die bank moet terugbetaal. En hy verloor al die jare se swoeg en sweet en geld wat hy in die plaas gesteek het. Dit is uiters onbillik.

Koelkop in warm gronddebatte. Annelize Crosby het vir die ou Suid-Afrikaanse Landbou-unie begin werk, wat intussen Agri SA geword het.

“Basa (die Bankvereniging van Suid-Afrika) neem sterk standpunt in teen onteiening sonder vergoeding. Hulle voel sterk oor die beskerming van eiendomsreg. Maar banke sal op die een of ander manier hul risiko’s probeer verskans.”

Voor ons onderhoud het Annelize in die parlement bontgestaan oor Agri SA die heropening van restitusie-eise teenstaan.

“Ek is ernstig gekap. Maar teen die huidige pas sal dit ons nog 35 jaar neem om net die vorige grondeise af te handel, en sou dit heropen, sal dit 709 jaar duur om al die verwagte eise af te handel.

“Die probleem is, jy skep weer verwagtinge. En wanneer mense se verwagtinge aanmekaar in die wind geslaan word, verloor hulle vertroue in die stelsel. Soos ek sê – dan gebruik mense eie reg. En dis die gevaarlikste moontlike scenario.”

As boere hoor Annelize kom by hul vereniging praat, daag hulle in hul massas op. En op dié vergaderings, vertel ? kollega, kan die ooms goed opgeklits raak. “Annelize het so ’n rustige, ewewigtige manier. Aan die einde van haar sinne gaan haar stem so bietjie op, soos sy duidelik maak sy sluit die argument. Sy werk met die feite op die tafel. Net die feite. Emosies word bestuur.”

Toe sy laas week hoor van Gwede Mantashe se koorsdroom dat geen boer meer as 12 000 ha mag besit nie, en dat die staat die res moet kry sonder ’n sent vir die boer, het sy net een lang kalm sug gegee.

“Ek is nou al in die stadium van: Ag, wat nou nóg? Dan sit jy maar terug en analiseer: Is dit realisties? Gaan dit regtig gebeur? Gaan dit die probleem oplos?

“Ek raak nie meer paniekerig nie, want ek het al te veel sulke wilde uitlatings gehoor. Maar ek kan maklik praat. Ek het nie ’n plaas nie, my toekoms hang nie daarvan af nie.”

Sy was in die middel van die paniek en chaos onder boere wat gevolg het nadat AfriForum ’n lys laat lek het van 194 plase wat glo onteien gaan word.

“My Sondagstappie met my honde was weens AfriForum by die venster uit,” glimlag sy. “Ons is toegegooi met navrae van benoude boere. Dalk bestaan daar so ’n lys, maar dis nie dáái lys nie. Hoe kan die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die lys lyk vir hulle eg? Die plaasname sluit nie onderverdelings in nie, die lys is boonop in Afrikaans, van die plase het swart mede-eienaarskap en van hulle is net ’n erf.

“So, dis ’n betekenislose lys.”

Dit was onverantwoordelik van AfriForum, sê sy en frons. “Skielik het jy ’n teiken op jou rug. Skielik het 194 plase geen markwaarde nie, is hulle leningsrisiko’s.”

Ten spyte van hul samewerkingsooreenkoms, is Agri SA nie ingelig voordat AfriForum die lys openbaar gemaak het nie. “Toe ons daarvan hoor, was die skade reeds gedoen. Dit was te laat. En wie ly daaronder? Die boere.”

In die praktyk kom daar dadels van die sogenaamde verenigde front van landbou-organisasies. Die twee swart landbougroepe steun onteiening sonder vergoeding, reëlreg teen die Transvaalse Landbou-unie en Agri SA. En dan spring AfriForum as drukgroep ook op die wa.

“Dis moeilik, maar met soveel op die spel kan die groepe nie meer bekostig om kleinlik te wees nie. Ons glo sterk dat ’n mens tog probeer redelik bly in hierdie debat en nie mense polariseer nie. Ons is apolities. Dis ’n wanidee dat ons net wit kommersiële boere verteenwoordig.”

Annelize is een van enkele rolspelers in die gronddebat wat koelkop bly en haar wye kennis van grondreg gebruik om boere, aktiviste én politici se verwagtinge te temper, sê Omri van Zyl, Agri SA se hoof.

En om te dink sy wou 'n veearts word. “Jy kan dit seker sien,” en sy wys na haar twee dierewelsyn-gevalle en bejaarde Belgiese herdershond. Sy en haar man, Charles, ? lugvaartingenieur en haar ou skoolliefde, bly in Bloubergstrand.

Regte was haar tweede keuse. Maar nie in ’n prokureursfirma nie, het sy tydens haar klerkskap besef. Toe die ou Suid-Afrikaanse Landbou-unie in 1995 ’n regsbeampte soek, het sy gespring.

“Ek het nie eens ’n oupa of oom met ’n plaas nie. Maar my hart is nog altyd buite die stad.”

Met ’n meestersgraad in grondwetlike praktyk was sy skielik presies op die regte plek en tyd. “Ek het besef my lewe gaan grondhervorming wees.”

Sy het laas week in die parlement gesê die Motlanthe-kommissie se ontleding van die foute met grondhervorming is absoluut in die kol.

“Dis presies wat ek self in 21 jaar ervaar het. Die kommissie lê hul vinger op die regte seerplekke en maak die regte aanbevelings. Dit moet so gou moontlik aanvaar en toegepas word.”

En ons president wat met sy paaiery van koning Goodwill Zwelithini die Mo­tlanthe-aanbevelings net daar onteien (sonder vergoeding)?

“Ja, dis politiek. Daar’s niks meer wat ek daaroor kan sê nie. Net: Dit hoort nie so nie.”

Sy bly ’n oomblik stil, en sê sy sukkel om negatief te wees. “Ek is nie so bedraad nie.

“Ek glo werklik aan ’n Hoër Hand wat als bestuur. Ek glo daar is ’n doel hoekom ons as wit mense hier is – om ’n verskil te maak en ons vaardighede oor te dra.”

’n Glimlag kom oor haar gesig.

En daar is die ménse. Die grondaktiviste, akademici, en ja, ook amptenare. Sekeres.

“My hoop lê nie by die politici nie, maar by die gewone mense van Suid-Afrika wat steeds glo ons kan handevat oor grond.”

Meer oor:  Boere  |  Afriforum  |  Grondonteiening  |  Landbou  |  Agri Sa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.