Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Barend du Plessis

‘Die etiket is nou aan my vas. As jy my van dié kant af kyk, is ek ’n pedofiel, en van daai kant af is my nommerplaat ‘moordenaar’.

“Dis wat Tafelberg Uitgewers en die koerante aan my gedoen het vir walglike, goedkoop sensasie. Ek is belaster.”

Barend du Plessis, oudminister van finansies, in sy aftreehuis in Hazeldean, Pretoria: “Waar is die feite? Waar is die bewyse? Wat van die arme kinders?” Foto: Alet Pretorius

Terwyl hy dit sê, stik oudminister Barend du Plessis byna van verontwaardiging hier oorkant my in sy aftree-kothuis buite Pretoria. Dit was die ergste paar dae in sy lewe, sê hy, sedert wilde bewerings oor ’n sogenaamde pedofielnetwerk van oudministers in ’n nuwe boek koerantvoorblaaie gehaal het.

In Die Seuns van Bird Island word beweer dat die oudministers Magnus Malan, John Wiley en nóg een wie se naam op grond van regsadvies nie in die boek en media vermeld word nie, destyds aan seksorgies met jong seuns tydens “visvanguitstappies” op Birdeiland deelgeneem het.

“Ek het dadelik besef hul verwysing na die ‘derde minister’ beskryf my perfek – wie anders het ’n strandhuis in die Oos-Kaap en was een van die sogenaamde voorlopers om PW Botha op te volg? Ek is duidelik in die boek geïdentifiseer.

“Dis ook presies wat dosyne mense wat my van heinde en ver gebel, ge­WhatsApp of ge-e-pos het, gedink het. Van wildvreemdelinge tot kennisse met wie ek dekades laas gepraat het, het my ontsteld gekontak. Hulle kan nie glo sulke walglike snert word oor my en Magnus geskryf nie.

“My twee seuns in Australië, albei is dokters daar, het dadelik gebel: ‘Maar Pappa, dis mos jy hierdie!’ ”

Sy oë skiet vol trane.

“Ek voel verskriklik hieroor. Weet jy, soos ek hier sit, kry ek rillings langs my ruggraat af van verontwaardiging. In my lewe het ek nog nooit so aangetas gevoel soos nou nie.

“Laat ek dit net duidelik stel: Die feit dat ek nou die skoen aantrek, is hoegenaamd nie ’n erkenning van die ontstellende bewerings nie.”

'Hoe verweer mens jouself? Binne enkele dae het die storie in die media gesneeubal van blote bewerings tot die ‘NP se seksskandaal’. Dit word aangebied as ’n onbetwisbare, feitelike waarheid. My liewe land! En nie net het ons drie pedofiele orgie ná orgie op ’n eiland gehad nie, volgens hulle was ons boonop vrolik kop in een mus met die moordenaar Gert van Rooyen in die misbruik, moord en verdwyning van etlike jong dogters.'

Die 78-jarige oudminister, wat ly aan ’n ongeneeslike longsiekte, moes die afgelope week ’n dringende operasie uitstel weens die skok.

“Selfs nadat ek Maandag ’n persverklaring uitgereik het met my naam baie duidelik daarop, het Netwerk24 steeds geweier om my naam te noem, so asof ek hulle gevra of gedwing het om dit stil te hou. So asof ek ’n benoude ou pedofielietjie is wat doodbenoud êrens in ’n hoekie sit en bewe. Shame. Pateties.”

Die eintlike rede vir hul weiering om sy naam te noem, sê Barend, is “omdat ek ongelukkig nog nie dood is nie, so hulle kan my nie na hartelus belaster nie. Ek kan myself nog verdedig teen hierdie karakterskending. Magnus kan nie.

“Hier is só ’n skreiende gebrek aan integriteit dat hulle seker ’n sogenaamde slagoffer van iewers sal opraap en afrig om teen ons te gebruik. Ek twyfel nie eens daaroor nie. Enigiemand kan nou enigiets sê en dit word soos soetkoek opgevreet.”

Barend du Plessis en sy eerste vrou, Antoinette, by ’n parlementsopening in die middel ’70’s. Antoinette is nou getroud met oudmin. Adriaan Vlok.

’n Dag later, pas nadat ’n Mnr. X aan Die Burger onthul het Magnus Malan was die “Oom 2” wat hom seksueel aangerand het, sê Barend: “Jislaaik, ek is verstom. Wat ’n saamgeflanste sob story! Hoe sou sulke wilde ontvoerings van jong seuns in ’n blou weermagkombi mét gordyntjies ooit geheim kon gebly het? Die man sê almal het ‘daai safari suits’ gedra. Magnus in ’n safaripak? Ek? In my léwe nooit! Al daai ure en ure in die helikopter langs hom van Ondangwa af op pad na Jonas Savimbi het ek wragtig nooit ’n sweempie gekry van duur reukweerder nie,” gee hy ’n droë laggie oor Mnr. X wat gesê het Magnus se “duur reukweerder” kleef vandag steeds aan hom.

Dis alles so absurd, sê Barend vroeër in ons onderhoud. “Ek kan net namens myself praat. Ek weet, sonder enige twyfel, oor hierdie saak kan ek voor God staan en sê Here, ek het as mens baie sondes, maar U weet dat hierdie sonde waarvan hulle my beskuldig, nie waar is nie.

“En ek kén vir Magnus. Hy was ’n man’s man, die topstudent van West­point, ’n toonbeeld van gedissiplineerde manlikheid. En, ja, kliphard. ’n Militaris met soveel brons op sy skouers duld nie nonsens van enigiemand met ’n milligram minder op sy skouers nie.”

En die bewerings wat vir Magnus al 30 jaar lank volg soos een van Krygkor se Kukri-missiele?

“Ek gee jou my erewoord, ek het nooit in my lewe so iets van Magnus gehoor nie, buiten vir ’n spul bespiegelings uit ’n Playboy-artikel in 1995. Op regsadvies het ons dit geïgnoreer. Dit was ’n klomp snert.”

In die Playboy-artikel is Magnus gepols oor sy vriendskap met die pedofiel Dave Allen, John Wiley se ryk sakeman-vriend wat homself geskiet het drie weke voor Wiley sy eie lewe geneem het. Hy het hom eenkeer ontmoet, het Malan volgens Playboy geantwoord. Hy het ook geweet Allen is ’n pedofiel, “want ek hoor baie dinge in my posisie. Die volgende ding wat jy gaan vra, is seker of ek betrokke was by pedofiel-aktiwiteite”.

En nou, 23 jaar later, kom twee twyfelagtige skrywers en bied daai Playboy-storie aan as nuwe, vars onthullings, sê Barend.

“Dis mos nou die era van sensasionele onthullings, nè. Soos Jacques Pauw met sy boek oor oudpres. Zuma, wil hulle toe ook ’n lekker boek skryf en ’n lekker klomp geld maak. En die uitgewer sluk alles, sien net sirkulasie en hoor die geldlaai klingel.

“Die skrywers suggereer dat Magnus nou vir John en daai Allen, of wat ook al sy naam is, laat doodskiet het om die dinge toe te smeer.”

Hy stik amper weer van verontwaardiging. “Maar ek is kwansuis die derde minister en hy het niks aan my gedoen nie. Ek het geen idee wat hieragter sit nie. Miskien is dit na aanleiding van iets wat met John en die ander ou gebeur het, ek weet nie.

“Waar is die feite? Waar is die bewyse? Wat van die arme kinders? En waar is hulle vandag? Waar is die vlieënier, die dokters, die verpleegpersoneel, en hoe skiet mens ’n seun in sy anus en hy oorleef dit? Al skiet jy hom met ’n blank, hy gaan dit nie oorleef nie.

“En my hart gaan uit, want ek het vier kinders en nege kleinkinders.”

Hy kyk buite toe, waar sy een kleindogter draaie op haar pienk fietsie ry. “My kleinkinders se skoolmaats sal nou seker kom sê: Wat het jou oupa gedoen met seuntjies? Want die ouers gaan daaroor praat en die kinders gaan dit hoor.”

Wrágtig, hy is eerder ’n moordenaar as ’n pedofiel, sê Barend. “Jy kan in ’n oomblik van woede iemand doodmaak, maar ’n pedofiel beplan. Hoe sou ek nagmaal kon gebruik hier in ons klein kerkie in die aftreeoord se klubhuis? Hóé, as ek in my hart die geheim ronddra dat ek ’n closet pedofiel was?”

Sy oë skiet weer vol trane.

Barend was ook bevriend met die miljardêr-makelaar Sidney Frankel – wat die sakewêreld geskok het toe dit bekend word hy is ’n pedofiel.

“Ja, ek het hom goed geken. Die arme Michael Katz, vir wie ek in die Margot-kommissie aangestel het, is sy swaer. Ek sou dit nooit ooit van Frankel verwag het nie.”

Hoe weet mens van ’n ander se donker kante? Hoe weet mens die bewerings teen Magnus is nie waar nie?

“Hoe weet jy . . . daar is die Sidney Frankels, daar is die ander. Maar dan geld presies dieselfde vir my. En hoe kan ek myself daarteen verweer?

“Ek kan jou ten minste in die oë kyk en sê sowaar as wat die Here leef, ek is dit nie. Maar Magnus kan nie.”

Hy skud sy kop stadig. “Hoe verweer mens jouself? Binne enkele dae het die storie in die media gesneeubal van blote bewerings tot die ‘NP se seksskandaal’.

“Dit word aangebied as ’n onbetwisbare, feitelike waarheid. My liewe land!

“En nie net het ons drie pedofiele orgie ná orgie op ’n eiland gehad nie, volgens hulle was ons boonop vrolik kop in een mus met die moordenaar Gert van Rooyen in die misbruik, moord en verdwyning van etlike jong dogters.”

Vir John Wiley, sê Barend, het hy nie goed geken nie. “Hy was my kaptein in die parlementêre krieketspan. ’n Uitstekende sportman. Ek het nie geweet hy is gay nie. Toe dit ná sy dood uitkom, het dit my herinneringe aan hom nie verander nie. So what, ons het gay mense in ons families, weerskante, dis nie vir my ’n kwessie nie.”

Hy dink ook nie Magnus en Wiley was sulke hegte vriende soos nou beweer word nie.

“Magnus was ’n baie private mens. Soos ons almal, het hy sy eie vriendekring buite die politiek gehad.”

Toe Wiley hom in Desember 1986 uitnooi na die openingsgeleentheid van die nuwe kaai op Birdeiland het Barend ingestem. “John het gesê as die weer reg is, sou daar ook geleentheid wees vir visvang. Nou, ek is al van kleins af ’n hengelaar, ek staan ure daar op Heidestrand met my lyn in die water.”

Toe Barend wou weet hoe hy daar gaan kom, het Wiley gesê Magnus is ook genooi, hulle sal Barend sommer met die helikopter by Heidestrand, waar hy met vakansie was, kom oppik.

“Dit was my eerste en enigste besoek aan die eiland. Ek is die Vrydagmiddag opgelaai, en was twee nagte op die eiland.

“En: ek het nie ’n probleem daarmee gehad dat Magnus sy helikopter gebruik het om my op te laai nie. Verdedigingsministers het vandag nog die reg om enige weermagvervoermiddel te gebruik, volgens eie oordeel, sonder tesourie-toestemming.”

Hy kan nie onthou wie saamgevlieg het nie, maar daar was minstens vier ander ministers ook op die eiland. Hy dink nie daar was private sekretarisse of personeel saam nie, want die akkommodasie was beperk.

“Ek was seker maar daar omdat dit ’n tesourie-gefinansierde projek was.

“Vir Dave Allen kan ek nie onthou nie. Ek het hom seker daar ontmoet, en nooit weer daarna gesien nie. Ek sou hom nie uit ’n duisend foto’s herken het nie.”

Daar was wel iemand op die eiland wat hy baie goed geken het, glimlag hy. Willie Maritz, ’n klasmaat van sy oudste seun Jean, wat navorsing vir sy PhD op die eiland gedoen het.

“Willie het my die malgasse gaan wys. Een het nog sy lading afgegooi hier teen my agterkop tot in my skoene. Willie se hut was langs ons s'n en ons is soontoe om dit te gaan afwas.

“As ons bose dinge gedoen het, sou ons vir Willie moes narkose gee om hom uit die pad uit te kry.”

Voor ek ry, gaan wys hy my eers die stukkie Bosveld agter sy huis. Skraal en regop, jy sien nog die minister wat die parlementstrappe twee-twee opvaar, die begroting in sy rooi aktetas.

Destyds, as een van Pik Botha se verligte rebelle in die kabinet, het hy met net agt stemme teen FW de Klerk verloor om PW Botha op te volg.

Pik is vandag nog sy ouboet, sy raadgewer en, die afgelope week, sy steunpilaar.

Hy wys my die saadbakkies vir die voëls, die boomtak waar die nagapies saans kom piesangs eet. Hy het weer hier kom mens word, ná ’n leeftyd in die ongenadige politiek. Hy weier selfs om in die aftreeoord se direksie te dien, want hy soek geen kollig meer nie. Asseblief. Net vrede.

En nou dié.

By die kar vertel hy van die breuk-operasie wat Woensdag wag, sónder narkose, want narkose is ’n te groot risiko.

En nou dié . . .

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.