Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Bennie Fourie
Gebore om ons te laat lag . . .

Nico Panagio het so ’n korporatiewe James Bond-Survivor-faktor, Gérard Rudolf het die binne-aarse ysfaktor van ’n reeksmoordenaar, maar die ander mens, Bennie Fourie het . . . wag daarvoor, #wááág, kry die timing reg, dêmmit . . . Bennie “Bleeksiel” het die . . . oorrompelende glimlagfaktor.

Bennie “Bleeksiel” Fourie: “Ek verkleurmannetjie myself vir elke projek.” Foto: Deon Raath

Klipgesig-humor geclingwrap in charisma.

Jis, praat net met hom op die foon en jy raak gekielie.

Vyf jaar terug het Bennie en sy oud-Puk-pel Bouwer Bosch, destyds twee sulke beskimmelde mannetjies, met hul Vuil Wasgoed by die Silwerskerm-fees opgedaag en daar wen die kortfilm toe wragtie ’n prys.

Vanjaar was hy op die Silwerskermfees met Ander mens, en nou is Bennie Fourie ’n feeskees, een van die menere van die silwerskerm.

Bennie en Bouwer is nie net in ’n bromance nie, hulle is ook die breine agter daardie skreeusnaakse King Price-#BRAAAAAI!-advertensie waarin Bennie in ’n verbleikte ou bakkie ’n spietkop probeer braai uit ’n boete.

Anders as soveel komediante, probeer hy nie snaaks wees nie, hy ís snaaks.

En daar’s #KingPrice2 oor die two-tone boer wat moves doen met sy trekker, want hy en sy vrou, Hettie, sukkel in die slaapkamer en die Engelse dokter op die dorp se raad was “you have to do something sexy to attract her, Kallie . . .”

Dit het alles begin toe dié twee oudisies gedoen het vir die romantiese hoofrol in die fliek Mooirivier. Hulle kry toe eerder die rolle van twee vyandige sidekicks. “Ons het gaan uiteet en gepraat oor ons drome. Bouwer is nogal ’n selflessfire starter. Hy vertel my toe van hierdie Silwerskerm-ding waarmee jy ontwikkelingsgeld kan kry, en ek sê kom ons doen dit. En ek skryf Vuil wasgoed, ons skiet dit en daar wen ons,” ryg hy die #wenresep uit.

“Toe ons van die verhoog afstap, sê Karen Meiring hulle wil vir ons R100 000 ontwikkelingsgeld gee om Vuil wasgoed in ’n TV-reeks te omskep. Toe blaas ons breine. Op die vergadering later was ek nogal cocky en sê nie ’n TV-reeks nie, maar ’n Vuil Wasgoed-fliek. Hulle het ingestem, en aan die einde van die meeting, vra ek: Maar siende dat julle aanvanklik ’n TV-reeks gesoek het, kan ek oor twee weke vir julle iets kom pitch? Ja . . .

“Ek het in daai stadium nie ’n idee gehad nie, níks, maar gaan toe huis toe en skryf Hotel se loodsepisode en 13 idees vir episodes. Ek en Stiaan Smith het dit ontwikkel.”

kykNET het dit aanvaar, en nou is Hotel al in sy vierde seisoen. “Hy’t onlangs die nuus gebeat op ratings, hoe cool is dít!”

“Help nie jy trek gesigte nie, Bennie, ons weet dis jy . . .”

Nadat Leon Schuster en Willie Esterhuizen die komedietoneel so lank oorheers het, is Bennie Fourie hier, maar met sy eie vars, gehoorvriendelike styl. Leon van Nierop sê Bennie is ongedwonge, gemaklik in sy komedie-vel. “Hy’t g’n opleiding nie, maar hy’s ’n natural. Anders as soveel komediante, probeer hy nie snaaks wees nie, hy ís snaaks.”

Mense herken hom nooit op straat nie, vertel Bennie, seker oor sy “vaalseun langsaan”-gesig.

“Ek verkleurmannetjie myself vir elke projek, deur ’n snor te groei, of 16 kg op te tel, my voortand te tjip.”’

In die fliek Sy klink soos lente was Bennie ’n mechanic. Om hom “bietjie onafgerond” te laat lyk, het ’n tandarts die vulsel van sy voortand wat hy op laerskool getjip het, verwyder. “Toe loop ek vyf weke lank so rond en mense kyk my op en af met ’n jislaaik, ou.”

Vir Ander mens, wat tans in die teaters draai, het Bennie hom letterlik ingevreet in die rol van die dikdooi Daniël Niemand. “Bier, Coke, pizzas en geen oefening nie. Daniël se vrou het hom gelos vir hul huweliksberader . . . ek was só geïrriteerd met hom, hy’s so pateties,” sug hy. “En dis goor om só oorgewig te wees, jy voel heeltyd jy wil jou klere lostrek van jou lyf. Ergste, ek het depressief begin raak, want as mense sê, haai, Bennie, jy is besig om lekker dik te raak, wou ek ook nie sê: haai, ek speel in ’n fliek nie, jy wil nie dáái poephol wees nie. Dan grinnik jy maar . . .”

Hy het binne ’n jaar, en soveel Crossfit dat sy knieë opgepak het, die 16 kg verloor.

Bennie is ’n pastoriekind. Sy pa, Ben, is Kameeldrift se Dopperpredikant en ’n biblioteek van grappies, sê Bennie. “Hy vertel die grappies, ek maak die grappies.”

Oom Kallie. Bennie se ma het hom gewoonlik ’n foonkaart belowe as hy oom Kallie speel voor ander mense.

Die Fourie-kinders was altyd laat vir kerk. “En ons bly 25 m van die kerk af . . . Ons moes na altwee dienste gaan, jy sit soet al verstaan jy niks, jy moet luister. Gelukkig het ek hierdie ongelooflike slaappro­bleem ontwikkel, ek kon nie wakker bly nie. Ek dink ek het vier van my pa se preke rêrig gehoor in my hele lewe.”

Nee wat, lag ds. Ben Fourie toe ek hom later bel. “Bennie oordryf, hy kan nie eens vier onthou nie! Ek het later die preke uitgedruk, dan lees Bennie dit tydens die diens om my te probeer uitvang waar ek afwyk. Maar selfs dan val hy aan die slaap.

“Op ons gesinsvideo’s is Bennie altyd besig om te vermaak, êrens iemand te terg. Kersfeeste doen ek my bes om die Kersverhaal te vertel, en die boeties luister mooi, behalwe Bennie wat já, pá, goed, pá, want hy kan nie wag om die presente oop te maak nie.

“Ek het elkeen van my kinders apart op ’n vakansietjie gevat. Bennie was saam Pilanesberg toe, en hy het die hele trip met ’n Hollandse aksent gepraat, nie dat hy een woord Hollands kan praat nie.

“Op hoërskool, voor ’n rugbywedstryd – hy was nogal ’n kranige skopper – het Bennie hom altyd voor die spieël in sy kamer geparkeer en homself opgepsych met ’n opruiende spanpraatjie terwyl Eminem hard speel.”

Dis Bennie se onvermoë om in vervelige situasies wakker te bly wat hom in die toneelwêreld laat beland het. Regsfakulteitlesings het dit net nie vir hom gedoen nie. Hy ly aan narkolepsie. “Ek was tot al in ’n slaap-lab, maar ons kon nog nooit uitfigure hoekom dit so is nie, ” vertel Bennie.

Ons kuier in sy predikantbroer Reynald se huis in Brackenfell, en die volgende geslag pastorie-Fourie-seuntjies kom loer kort-kort hoekom Bennie so lank gesels in die sitkamer.

Imberbe-lodge het dié opgestopte leeu. “Fantastiese prop!”

“Improvisasie is die lewendigste en wakkerste ding wat ek nog ooit in my lewe gedoen het. Dis basies teater sonder teks, waar akteurs woorde en storielyne in die oomblik uitdink. Én dit hou my wakker.

“Ek hou van in die oomblik. Vinnig. Skerp. Enigeen kan ’n grappie maak as jy tyd het. Ek wil hom maak nog voor die person se woorde koud is.”

Hy het verlede jaar improvisasie in Amerika gaan studeer by The Second City, waar sy “groot idols” soos Steve Carell, Tina Fey en Bill Murray ook was. “Al het ek geleer om in Engels te improviseer, is Amerika so anders. Iemand sal in die klas vra: You want a Quest? Dan sal ek gaan: I’ll take that if you tell me what it is! (Hy improv ’n perfekte Amerikaanse aksent.) Dan onthou hulle ek is van Suid-Afrika, en sê: Oh yeah, of course, it’s a cigarette! Só het dit ’n speletjie in my klas geword, hulle moes als verduidelik vir my, wat wonderlik was.”

Bennie en hierdie bende nuwegenerasie Afrikaanse komedie-kunstenaars bly letterlik langs mekaar in dieselfde woonstelblok in Linden. Woonstelle 205, 206 en 207 kook met komedie. Hulle’t met ’n improvisasieklas begin, genaamd Humor Vittone.

Uit dié groep het Bennie, Bouwer, Schalk Bezuidenhout, Mila Guy, Barbara Brasington en Beer Adriaanse die sketskomedie Die intermissie ontwikkel.

“Ons het vir drie weke van agt tot vyf geoefen. As iets vir ons snaaks was, het ons dit neergeskryf, en só het die show ontwikkel.” Al die vertonings van Die intermissie het op die Woordfees uitverkoop.

Bennie sê hy voel nooit die snaaksste mens in die kamer nie, maar lag voel vir hom soos Prestik wat mense aanmekaar hou. Dis vir hom veral lekker om iemand wat homself te ernstig opneem, se ballon met humor te prik. In sy gesin kon niemand wegkom met vroom en stroef nie. “Eintlik was ék die goody two shoes, my broer het eenkeer sy juffrou se Golf geadverteer teen ’n belaglik prys mét haar telefoonnommer. Toe sy hom uitvang, het hy skuus gesê en dit weer geadverteer. Ons is baie tight, ek en my broers en sussie.

“Ons was eintlik vyf kinders, ek het ’n sussie wat oorlede is toe ek agt was. Elizma was twee jaar oud, sy het net ná geboorte ’n kiem in die hospitaal gekry, bietjie breinskade opgedoen en ’n swak immuunstelsel gehad. Sy is dood aan longontsteking. Ek dink dit was verskriklik rof vir my ouers, maar hulle het ’n great job gedoen om ons nie te laat voel ons hele lewe is nou ’n hartseer situasie nie.”

Op universiteit was al drie broers primariusse van Hombré-koshuis. Toe Bennie wou staan vir die studenteraad, het ’n vriend hom die raad gegee om eerder iets te doen wat hom uitdaag, want hy ken reeds leierskapposisies. “Ek besef toe dan sal ek moet gaan waiter, want dis heeltemal buite my gemaksone. Ná my regsgraad het ek my onderwysdiploma met my geld van waitering betaal én myself leer ken. Skielik was ego nie meer ’n leiersposisie nie, ek het nie meer geworry wat mense van my dink nie.”

Hy beskryf homself as nogal konserwatief. Grinnik: “Dis ’n fassinerende setup, my vriendekring. Ek het baie pelle in die film- en TV-bedryf, ouens wat voel ons moet so woke wees as wat ons kan, en dan’t ek het vriende wat boere is en so, wat nie weet daar bestaan ’n woord soos woke nie.”

Hy lag droog. “Dié groepe moet mekaar liewer nie ontmoet nie. My troue gaan eendag baie uhm, interessant wees . . . Ek love hierdie vriende, die gewones, die plat-op-die-aardes, ja, soms het hulle nogal ou sienings, maar jy kan met hulle praat daaroor.”

En dis presies wat hy doen met sy draaiboeke en TV-advertensies, hy bring uiteenlopendes nader aan mekaar. “Laat hulle lag vir kwessies waaroor hulle aanvanklik sou gedink het néé. Jy kan nie ’n grappie maak oor ’n ou wat ’n ander ou soen nie, so wat doen jy? Jy maak daai grappie. En dan’s dit skielik snaaks en interessant en mense kan daaroor praat, dís waaroor dit gaan.”

En net daar speel hy met woord en konteks en gooi ’n grappie wat vir ’n pastorieseun nogal woke is.

“Die ou is allergies vir suiwel, maar Christene dink hy laster as hy sê hy moet wegbly van Sy wil af . . .”

Hy glimlag. Verleë. Die een wat jou hom alles laat vergewe.

Meer oor:  Bennie Fourie  |  Kyknet  |  Komedie  |  Hotel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.