Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Braam van Huyssteen

In 1989 leen Braam van Huyssteen R20 000 by sy ma. Met ’n paar bokse klere begin hy ’n empaaier. In 2011 word die tekkie-miljardêr van Mosselbaai Suid-Afrika se Entrepreneur van die Jaar.

Braam van Huyssteen se perd Undercover Agent het Saterdag op die Greyville-renbaan gehardloop. “Hulle sê perderenne is ‘months of misery and moments of magic. Foto: RAJESH JANTILAL

In dieselfde jaar koop hy ’n resiesperd, aangespoor deur sy dogter, Bianca, ’n SA junior kampioen in perdespring.

Die perdjie begin wen.

Sy tweede perd, met ’n wedkans van 66 teen 1 op July-dag, wen óók. Die R3 000 wat hy stilletjies verwed, word R200 000, en daar gryp die perdekoors vir Braam van Huyssteen.

En die noodlot se dobbelstene begin rol.

In 2015 kom ’n man met onberispelike maniere en ’n sjampanje-glimlag bladskud by ’n partytjie ná ’n perdewedren.

“Hy sien ons tekkie-besigheidjie groei so mooi, sê Markus Jooste vir my, wat’s ons planne vorentoe? Seker maar Afrika inploeter à la dr. Livingstone, antwoord ek.”

Nee, sê die Sultan van Steinhoff vir die Tekkiekoning. Vergeet van Afrika. Pole is die plek. Kom kyk.

“En toe hou hy sy woord en die drywer kom laai my op en ons vlieg in die Steinhoff-straler Pole toe.”

Laat ek dit nou maar sê: Die man wat alles begin het, word ook nou onder die bus gegooi.

Vier maande later koop Steinhoff Tekkie Town vir R3,25 miljard. Braam-hulle word met Steinhoff-aandele betaal. Wat hulle – o, die pyngedagte – eers ná drie jaar sou kon verhandel.

Nou is die aandele Monopoly-geld. Maar tóé was hierdie “outjies van Mosselbaai oorstelp dat kleinhandel-ikone soos dr. Christo Wiese en Markus Jooste hul vertroue in ons kon stel”.

Tekkie Town word toe verreweg die beste eenheid in Steinhoff se spesialiteitsgroep.

Vir die Pepkor-veterane by Steinhoff was Braam “iets wat die kat (Jooste) daar ingedra het”.

Die jafel van Mosselbaai, het hulle hom genoem, die man met sy baadjiepante flappend oor sy gul maag langs Jooste en hul wenperde by die resiesbaan.

“Dan gaan sit ek aspris op vergaderings langs Pieter Erasmus (vorige Pepkor-baas). Hy kon Markus nie verdra nie. En, klokslag, kom Pieter se afknouvragie: Hoe gaan dit met daai transaksie wat jy en Markus op die resiesbaan gedoen het?”

Braam van Huyssteen en sy twee generaals, Bernard Mostert en Dawie van Niekerk. “Bernard sê altyd ons bou nie besighede nie, ons bou mense.”

Hoekom gaan almal so tekere oor die perd wat hy en Jooste saam gekoop het, wonder hy hardop.

“Jooste het net eendag vir my gesê: Maar hoorie, wil jy nie ’n perd saam met my koop nie? Joe, natuurlik, wat ’n groot voorreg. Ek het al saam met Gaynor Rupert óók ’n perd gehad. Én saam met mechanics ook. Ek meng met alles en almal.”

Toe Jooste voorstel dat Tekkie Town se “jafels” Steinhoff se sukkelende spesialiteitswinkels oorneem en regruk, het die Pepkor-manne vasgeskop.

Eers ná Star se notering is bes gegee. “Markus en dr. Wiese het rang getrek. En toe, in ons eerste drie maande saam in die spesialiteitsgroep, maak Tekkie Town R270 miljoen wins, en die ander vier sukkelboeties en -sussies maak vir die eerste keer in die geskiedenis ál vier ’n wins. Ons was nie bietjie trots nie, hoor!”

Hy grinnik.

“Maar ons was soos die mooi meisie op die partytjie wat deur die ander girltjies aangegluur word.”

Die twee faksies het mekaar aangegluur en verduur totdat die Steinhoff-bom in Desember gebars het.

As hy nou terugkyk op sy lewe, vertel Braam, het hy drie noue ontkomings gehad.

Eers is hy amper bokveld toe met ’n noodlanding in ? mielieland buite Bloemfontein. Die vliegtuig se enjin het gestaak. In 2001, ná ’n vlug Amerika toe, het hy diepaartrombose gekry. Twee klonte is deur sy hart tot in sy long.

En toe: Steinhoff.

“My eerste reaksie was: Jissie, hier het nou ’n groot vliegtuig geval maar ek kan wegstap van die toneel af, ek lewe, my gesin lewe.

“En,” grinnik hy, “ek is toe nie so materialisties soos ek gedink het nie.”

Braam het Tekkie Town en R1,8 miljard verloor. En nou het die ou Pepkor-manne hom finaal uitgewerk.

“Soos ek nou hier staan, is ek sonder ’n besigheid en sonder ’n jop.

“Die Pepkor-garde is nou besig om hulself te wreek. Ouens soos Pieter Erasmus en Louis Brand wat deur Jooste en dr. Wiese opsygeskuif is vir óns, maak een vir een ’n comeback. Die Parow-exco swaai nou die septer.”

Hy huiwer ’n oomblik.

“Laat ek dit nou maar sê: Die man wat alles begin het, dr. Christo Wiese, word ook nou onder die bus gegooi.

“Soos Markus Jooste persona non grata is in Stellenbosch, só is dr. Wiese dit nou by Pepkor. Waar dit altyd dr. Wiese hier en dr. Wiese daar was, praat hulle nou van die man op die derde vloer. Dis die reine waarheid, ek het vyftien getuies, tien sal lieg, maar vyf nie. Ek was geskok.

“Anderdag sê hulle vir my hulle gaan sy huurfaktuur by hom aflewer. Of dit rêrig is, kan ek darem nie dink nie.”

Die Pepkor-span sluit Wiese uit, want hulle verkwalik hom vir die hele toedrag van sake, sê Braam.

“Dis hoekom hulle agter sy rug met Remgro probeer onderhandel het. Selfs die raad en voorsitter, Jayendra Naidoo, het nie daarvan geweet nie.”

Leon Lourens, uitvoerende hoof van Star, het laas week in ’n koerantonderhoud bevestig Star “is maar die Pepkor-ouens, daar is omtrent nie een van Steinhoff nie”.

Presiés, sê Braam. “Dis hoe ek in die slag gebly het. Ek is nie deel van die old boys club nie.

“Laat ek nou maar die nuus breek: Eugene Beneke het ook nou sy goed gevat en geloop.”

Beneke was uitvoerende hoof van

Iliad Africa toe Steinhoff dié maatskappy gekoop het. By Star het hy die boumateriaal-onderneming Buco bestuur.

“Lourens en kie vergeet lekker hulle is de facto bankrot én steeds 71% Steinhoff. Ek wonder: Hoe weeg hul eie belange op teen dié van die aandeelhouers? Dis ’n bitter ongesonde situasie.”

Die kleinhandelaar in hom begin lag. “As ek ’n winkelbestuurder aanstel met R200 000 se agterstallige skuld, line ek myself op vir iemand wat homself gaan help uit die geldlaai. Nè? Nie dat ek sê dinge gaan so wees nie.”

Oor Jooste sê Braam tot vandag toe nie ’n skewe woord nie.

Hanlie Retief

Hy verduidelik dit in een kort sin: ’n Mens staan by jou mense, deur dik en dun. Buitendien, nét een ou het al sonder sonde op hierdie aarde rondgeloop, en dis Liewe Jesus.

Toe Hansie Cronjé laag in sy skande gelê het op Fancourt, was sy buurman Braam ál ou wat hom uit sy depressie gaan haal het vir ’n potjie gholf.

Hy is nou die énigste ou wat erken hy het nog kontak met Markus Jooste; wat hom vergewe het, wat weier om hom ’n kroek te noem.

Hulle het so onlangs as ’n paar dae gelede gesels.

“Dit gaan maar swaar met die ou. Dis nie asof hy maak asof niks gebeur het nie. Hy lees die koerante; hy weet presies wat mense van hom sê. Hy is besig om hom voor te berei om homself te verdedig.

“Ek vra hom nie uit nie, wil ook nie weet wat hy gedoen het nie, want dan impliseer ek myself. Net nadat die bom gebars het, het hy in ’n SMS gesê hy sal my nooit weer in die oë kan kyk nie.

“Hy weet ons het so R2 miljard verloor. Maar geld is aardse goeters, nè.”

Nou hoekom kruip Jooste so diep weg as hy so ordentlik is?

“ ’n Mens kan daaroor bespiegel. Maar só kan ons ook bespiegel oor wat ’n misdaad in Holland, in Duitsland, in Suid-Afrika is? Het die raad daarvan geweet? Is daar notule gehou? Hoe vloei 10 miljard tussen rekeninge? Waar’s die finanshoofde? Wie’t die transaksie gedoen? Die betaling gemaak?

“Want een ding kan ek jou sê: Markus Jooste sit nie agter ’n rekenaar en maak betalings nie, hy doen ook nie inskrywings in boeke nie. Maar dis als bespiegeling. Soos almal wag ek vir die PwC-ouditverslag.”

Tot vandag toe is daar nie een klag teen Jooste oor een daad van oneerlikheid nie, benadruk Braam.

“Ek sê nie hy het niks verkeerds gedoen nie. Al wat ek weet: Hier is ’n besigheid wat oor 29 jaar opgebou is. Miskien het hulle ’n paar transaksies gedoen wat nie mooi uitgewerk het nie; benoude bokke maak benoude spronge.”

’n Oomblik stilte.

“En die ander vraag: Wil jy my sê een man doen dit op sy eie?”

Het Christo Wiese geweet?

Hy antwoord nie.

“ ’n Mens kan seker net altyd sê tot watter mate, nè. Miskien is 50 misdade gepleeg en hy het van vyf geweet. Ons brand almal om te weet.”

Vir Braam van Huyssteen is sy onverwagse werkloosheid “nogal vreemd”.

Maar die man sit ook nie stil nie.

Die Tekkie Town-manne eis nou €120 miljoen van Steinhoff, en dagvaar Star oor hulle nie ’n prestasiebonus erken nie.

“Hulle wil hul eie dobbelskuld vereffen, maar wil nie pa staan vir ’n prestasie-gebonde agterskot wat ons regverdig met Steinhoff onderhandel en Star saam met die besigheid geërf het nie.

“Man, ek het ’n perd daarna genoem. Agterskot. As hy hardloop, moes hy ons herinner aan die teikens wat ons jaag.

“Agterskot is nou al afgetree, maar hierdie agterskot gaan oor my dooie liggaam nie aftree nie.”

Tussen hom en die Pepkor-manne “is dit nou ’n verbrokkelde huwelik in die ergste graad”.

So, Braam het intussen “ ’n handelsmerkie of twee of drie geregistreer”.

“Jy’s reg,” lag hy luid, “Tekkie Town 2 is nou amptelik myne!”

Die pakhuise en kantore en baie van die eiendomme waarin daar Tekkie Towns is, is in elk geval syne.

“Ek sal die Tekkie Towns net moet uitskop . . .”

Hy is reg vir Ronde Twee.

“Ek kon dit maak met R20 000, ek kan dit weer maak. My geld kan jy vat, maar moenie met my mense sukkel nie. Moenie ons menswaardigheid aantas nie.”

Noue Ontkoming #3.

Die Mosselbaaise tekkiehandelaar stap nou weg van die Steinhoff-wrak.

Die jafel-etiket los hy vir hulle.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.