Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Bridgitte Mathews

Soos jazz kierang met klank en ritme, so kierang Bridgitte Mathews met identiteit en kultuurassosiasie.

Taal is ’n vereniger, sê Bridgitte Mathews, nuwe voorsitter van die ATKV-direksie. Foto: Edrea du Toit

Dié geoktrooieerde rekenmeester wat haarself ’n grysvaal syfervrou noem, het pas die eerste swart direksievoorsitter van die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) geword.

Sy is ook die eerste vrou wat die pos beklee, en Bridgitte Mathews gee ’n erkentlike buiging na al die tannies van al die jare wat met koeksisters en melkterte en hekellappies Hartenbos help bou het.

Bridgitte se pa, Pat Matshikiza, was ’n legendariese townshipjazz-pionier wat homself trots 'n Xhosa van Queenstown genoem het.

Haar ma is ’n bloubloed-Zoeloe, kleindogter van Ngazana Luthuli, wat dekades lank redakteur was van die Zoeloekoerant Ilanga lase Natal. Hulle is van die vermaarde Luthuli’s van Groutville in KwaZulu-Natal, Albert Luthuli se mense.

Bridgitte praat klokhelder Afrikaans, want in gr. 1 het sy oorgestap Afrikaanse klas toe omdat die Engelse klas se kinders vir haar te bleeksielig was.

“En toe word my hart Afrikaans.

“Op hoërskool kla my ma eendag oor die skoolrapporte altyd in Afrikaans by ons huis aankom. Tóé eers kom ons kinders met die sak patats uit. Sy het amper ’n oorval gekry. Sy het met ons Engels gepraat, my ouma Zoeloe en ons kinders praat vandag nog net Afrikaans met mekaar.

“Ek gaan slaap in Afrikaans, ek word wakker in Afrikaans, en ek kan nie verstaan hoekom mense dink dis vreemd nie. Ek het baie vroeg in my lewe besluit kultuurgrense is onbelangrik.”

In KwaZulu-Natal glimlag almal oor my Zoeloe met die Afrikaanse aksent.

Toe Bridgitte agt was, het die gesin in die destydse bruin woonbuurt Eldoradopark gaan bly om die paswette te omseil. Die Matshikizas het die Mathewse geword.

Kierang, nog altyd.

Minstens hang die reënboognasie se reënboog oor háár familie, skerts sy. “My nefie in gr. 1 hardloop anderdag in en sê bonjour, Mama! Look at my onnie.

“My swaer, ’n Fransman uit Gaboen, vra: What is this onnie? en hy wys vir sy pa sy Superman-onderbroek!”

Sy het self Frans gaan leer toe die mense by die Montreaux-jazzfees haar skeef aangekyk het toe sy tienuur die aand hulle uitbundig ge-bonjour en nie ge-bonsoir het nie.

“Nogal snaaks dat ’n geoktrooieerde rekenmeester so ’n poliglot is, nè! Maar taal is ’n vereniger. In KwaZulu-Natal glimlag almal oor my Zoeloe met die Afrikaanse aksent.”

Dis die sertifikate iewers in ’n boks in haar motorhuis in Krugersdorp wat die vonk geslaan het tussen Bridgitte en die ATKV.

Eenvormig is die manne én die “kwaai” direksielid – Bridgitte Mathews – van Suidwes Landbou.

“Die ATKV het sertifikate vir prestasie in Afrikaans gegee, dan kom hulle skool toe en oorhandig dit. Ek onthou nog die warm gevoel van daardie eerste erkenning wat ek gekry het.”

In st. 8 (gr. 10) was sy Bessie in die skool se opvoering van die operette Jannewariebaai – en slaan daarmee ’n ATKV-prys los.

“Bessie se man, Gombaard, het elke nou en dan ’n bietjie gaan dros.”

Drie dekades later, waar ons nou hier sit in die Oude Werf op Stellenbosch, weier sy volstrek om weer daardie Groot Aria vir ons te sing.

“Ek kan nie, dis afpersmateriaal!” proes sy vrolik.

Dan, as kompromis, knyp sy haar oë styf toe en dra die reëls voor: Al was hy kort en skeel, al was hy skraal en lelik, al was hy soms oneerlik, het hy my hart gesteel . . . sonder aarsel terug op die verhoog . . . waar is my Gombaard, die vader van my kroos? (“Want natuurlik het Gombaard elke keer vir die arme Bessie ’n geskenkie gelos!”) Ek het hom nodig om my vanaand te vertroos . . .

Dié skoolpryse het haar oor die jare laat besef wat die mense van die ATKV als aanvang.

“Toe ek in 2014 aansoek gedoen het vir die direksiepos, het my vriende, selfs die Afrikaanses, gevra hoekom wil jy nou dáántoe gaan. Toe sê ek: Weet julle wat kry daai mense rég?”

Die direksieverkiesing was vir haar stresvol verby. “By ander direksies wag so vier, vyf mense vir jou in die raadsaal en almal praat hoërgraad-taal.

“En nou kom jy by die ATKV, by Buffelspoort, met ’n paar honderd mense in die saal, en die tannies sit almal en brei. Ek het eers later gehoor dis vir ’n projek.

“Vyf van ons het aansoek gedoen. Ek dog: Ek staan nie ’n kans nie, dis manne wat reeds in die direksie was en ek is al vrou en al nie-wit persoon . . .”

Eers toe die kinders ná die tyd kom sê: Tannie, ons is tog so bly tannie is nou deel van die ATKV, het sy besef sy het dit gemáák.

Wat sy by die ATKV beleef, is kundigheid en ordentlikheid en warmte, vertel Bridgitte.

“Ek het eers gedink dit gaan net oor taal en kultuur. Maar daar’s ’n diep besef dat daar ’n besigheid is om te bedryf, een wat baie ernstig opgeneem word.”

En selfs vir ’n beroepsdireksielid was die ATKV ’n leerkurwe, want hulle doen dinge nog ernstig korporatief. “Jy praat deur die voorsitter, wag jou beurt af, alles gebeur ordentlik. Dié kundigheid word nogal waardeer by die ander direksies waarin ek dien (PSG, Suidwes Landbou, Redefine en OneLogix).”

Die reaksie op haar aanstelling – ’n vrou! swart! . . . of is sy bruin? praat sy Afrikaans? – skeel haar min. Trouens, sy het dit verwag.

“Natuurlik. Voorheen was die direksie net wit, nou is dit ook swart. Dis al. Daar is meer bekwame en geleerde mense wat kan intellektualiseer oor hoe bruin ’n bruin mens moet wees, maar ek sal nooit mense se seer oor die verlede minag nie. Dis iets wat ons nooit mag vergeet nie.”

Sy is nie op sosiale media nie. “Liewer nie, want met mý fomo sal ek nooit geslaap kry nie. Daar sal altyd iemand wees wat vra: is sy te kort? is sy te lank? het sy styl? dra sy plakkies? Ek wil nie weet nie.

“Mense kan natuurlik sê wat hulle dink, maar kontak my eerder, práát met my, gesig tot gesig, dan kry ons dinge reg.”

Die afgelope algemene jaarvergadering van die ATKV in sy Klein Kariba-oord by Bela-Bela was geen “joegaai-maats-byeenkoms” nie, skryf Beeld se redakteur, Barnard Beukman.

Die afgevaardigdes het nie geskroom om sensitiewe kwessies reguit te pak nie, knik Bridgitte. “Daar was byvoorbeeld ’n warm debat oor hoekom ons, met die res van die land wat van ouditeure verander, steeds dieselfde groep aanstel.”

Sy doseer deeltyds finansiële bestuur by die Milpark-sakeskool. Haar “fix” is die positiwiteit van die jong mense wat dinge gedoen wil kry en sonder bagasie vorentoe gaan. Maar, frons sy, hulle vermy haar beroep, juis oor die slegte naam wat geoktrooieerde rekenmeesters het ná die Gupta-skandale.

“As mense hoor wat ek doen, sê hulle: O, is jy een van dáái skelms?”

Indrukke skaad, het die ATKV self laas jaar beleef nadat Deidre Le Hanie, die gewese besturende hoof, groot kritiek ontlok het toe sy haar eerste nuuskonferensie in Engels gehou het, met wilde stellings soos dat sy die ATKV binne maande van 68 000 lede tot ’n miljoen wil laat groei. Al wat Bridgitte daaroor sê: Ons kyk nou vorentoe. En gee ’n Mona Lisa-glimlag.

Op Pretoria FM vra iemand haar: Gaan die ATKV nou ’n meer aktivistiese rol speel?

Nee.

“Dis nie hoe die ATKV dinge doen nie. Ons raak betrokke by kwessies wat ons lede raak. Maar die manier waarop ons dit doen, is anders.”

Nié vingerswaai op verhoë nie, eerder kulturele diplomasie.

“Presiés.”

Suutjies trap?

“Maar ons is g’n trapsuutjies nie.”

Sê hierdie elegante direkteur wat met haar all-sorts-lewe en ’n turkoois pashmina niks minder as ’n verkleurmannetjie is nie.

So streng soos sy is in Suidwes Landbou se ouditkomitee (“die boere sê ek is kwaai”) só is sy jazz-verslaaf, só is sy parfuumverslaaf.

Met haar rooi rok in ’n direksievergadering, My Insolence van Guerlain, as sy nie lus is vir besluite nie, Gucci se Guilty, as sy met haar nefies en niggies kuier, Olympeavan Paco Rabanne. Kuiertjies by die kerk se ou mense: Guerlain se Samsara, want dis ’n mmm-geur.

Jazz, net so. Brasiliaanse jazz met Tania Maria. Kurt Elling as sy na ’n mooi man wil luister, Miles Davis vir trompet-towerkuns. “Toe my nefie vir my Maroon 5 speel, vra ek: TJ, are you listening to white music? Huh, sê hy, you don’t understand, Maroon 5 may be a colour, but music has no colour.”

Sy lewe in raadskamers en vliegtuie. In haar min vrye tyd verbeel sy haar sy’s ’n masterchef. “As ek gelukkig is, kook ek en as ek stres, bak ek. Met verjaardae is die familie bymekaar en die tafel kreun onder my agtgang-ete. Ja! En as ek afsluit met malvapoedinkies en die vla langsaan in shot-glasies, neem my familie foto’s en sê oukei, dis mooi, maar waar’s die groot bak malva, Bridgitte? Moenie té fensie kom raak nie.”

Sy soek op haar selfoon na twee spesifieke foto’s. Die eerste: ’n direksiefoto van Suidwes Landbou op Bridgitte se eerste werkdag daar. In rye sit die direkteure in Leeudoringstad, besadig, two-tones en baie kakie . . . en Bridgitte. “Al vrou, al swart, oukei, nié-wit persoon. En so is dit nog.”

Die tweede foto is ’n jaar later geneem. Die direksie sit op hooibale. Álmal glimlag. En álmal dra blou Suidwes Landbouhemde. “Wát gebeur het,” vertel sy laggend, “die boere se vroue het my vir tee genooi, hulle wou sien wie’s die vrou vir wie die boere nou skielik ordentlik aantrek vergaderings toe.

“Nou oudit ek die boere, en spa lekker saam met hul vroue.”

Sy kyk na die selfoonfoto’s, lig haar kop en lag. Die blou Muranoglas-oorbelle swaai saam.

“Ek stuur dié foto’s vir my siniese wat-maak-jy-by-dáái-mense-pêlle en sê: Haibo, voor julle oordeel, kom hier, vat hande en verander die wêreld so bietjie-bietjie.”

Meer oor:  Atkv
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.