Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Christo Davids

‘Ons almal loop nie die Klopse nie. Daar is ander kante aan bruin mense wat selde ondersoek word. Ek kom van ’n proud people.”

Dis wat hy is, sê Christo Davids.

Christo Davids wil die eenjarige Elijah Afrikaans grootmaak, sodat hy altyd kan weet waar sy wortels lê. Foto: Deon Raath

Dís hoe dit vir hom is om 35 jaar en bruin te wees in Suid-Afrika.

“My oupa Goliath het my geleer: As jy nie weet waarvandaan jy kom nie, weet jy wragtig nie waarheen jy gaan nie.”

Hy sit skouers en hande en oë vorentoe, elke sentimeter in sy lyf ’n uitroep soos hy praat.

“Ek is nie swart nie, ek praat nie Xhosa of Zoeloe nie. Ek doen nie hul kultuurdinge nie, en net so is daar dinge wat whiteys doen wat ek óók nie doen nie.”

Ek is nie swart nie, ek praat nie Xhosa of Zoeloe nie. Ek doen nie hul kultuurdinge nie, en net so is daar dinge wat whiteys doen wat ek óók nie doen nie.

Sý dinge is roetie en kerrie en samoesas en Krismisdag se feesmaal met al die anties en uncles saam. En Nuwejaarsnag op Preekstoel by Stilbaai, waar sy familie al 50 jaar kampeer.

“En almal maak potjiekos Nuwejaarsnag, álmal, so moenie sê ons het nie ’n kultuur nie.”

Dit brand in Christo om stories te vertel van bruin rolmodelle. Want dis wat nou nodig is.

“Elke keer as ek ’n storie kyk, is daar ’n gangster in. Die wit karakter sal vir die bruin een sê, vat my na jou huis, en raai waarheen gaan hulle? Na ’n blok flêtse met die antie wat oor die deur hang met ’n soolkous op haar kop.

“Wat is verkeerd met ’n bruinman in ’n suit? Hoekom is dit nie bemarkbaar nie? Hoekom verkoop dit nie? Hoekom nie ’n storie skryf oor iemand wat nié in die tronk was nie, ’n ander kant wys van die gemeenskap waaroor ons net bolangs dink: O, Mitchells Plain, jy is ’n gangster, wat’s jou nommer? Niemand sien ooit my ouma se huis nie. Stap deur haar voordeur, die voorkamer is netjies. Nes die ander voorkamers in haar straat.

“Dis ’n stigma wat afgebreek moet word en as skrywer is dit my plig om dit te wys.”

Die 11-jarige Christo Davids (voor regs) wat sy debuut in 1994 in Onder engele gemaak het. Hier staan hy langs sy oupa Goliath en Althea Buis (voor), met June van Merch, Denise Newman, Cedwyn Joel en Roderick Japhta agter. Foto: Rapport

Dis hoekom Christo Davids deesdae agter die kameras werk. Én hy wen die een prys ná die ander met sy draaiboeke en regiewerk.

“Dit kom uit my gut . . .”

Die meeste mense ken hom as Errol, die straatkind in 7de Laan wat op 17 in Charmaine en Neville Meintjies se lewe gekom het, ewig bekkig met sêgoed soos A for away!

Hy werk steeds as regisseur by 7de Laan. Sy eetkamertafel in Olivedale, Johannesburg, lê vol 7de Laan-draaiboeke én papiere met krabbels wat sy eenjarige laaitie, Elijah, daar langs sy pa sit en maak.

Sy een produksie, My seuns, het pas ses pryse gewen op Aardklop in Potchefstroom. Dié toneelstuk oor die komplekse verhoudings in ’n veelrassige gesin, is onder meer bestempel as “grensverskuiwend”.

“Ek is baie dankbaar vir die pryse, maar dit laat my altyd dink aan Oupa Goliath. In 2006, toe ek benoem is vir ’n Fleur du Cap-prys, het ek hom opgewonde gebel met die nuus. Toe sê hy vir my baie geluk, jy gaan nie wen nie, dit was nie ’n award winning performance nie, maar dis goed dat mense begin notice neem van jou. So . . . die aarde sal altyd onder my bly,” lag hy.

In 2008 het Christo sy LLB-graad aan die UWK verwerf, en ’n kontrak by die Baxter-teater losgeslaan. Foto: Rapport

Sy oupa was ’n baanbreker-akteur – as Selling Komoetie in Fiela se Kind; die eerste bruin Kanna; in Meeulanders . . .

“Ek het my eerste nege jaar in Mitchells Plain grootgeword, en toe het ons Heidelberg toe getrek, na oupa Goliath-hulle. Hy het sy kleinkinders gedigte geleer. “Kaalvoetklonkie”. “Ken jy die see, meneer?” “Die ou Slamaaierwinkel”. En as daar familie kom, moet jy dit vir hulle opsê. Dan is jy nou skouperd.”

Op 11 sleep sy oupa hom saam na die oudisies vir die TV-reeks Onder engele. “Ek sê toe my lyne op en sommer ‘Kaalvoetklonkie’ ook, as bonus.”

Christo het ’n Artes vir sy rol as Dialtjie gewen, die jongste akteur wat daarvoor benoem is.

In sy huis in Olivedale, Johannesburg. “Maar as ek vir myself in die spieël kyk is ek maar nog net ’n laaitie van Heidelberg in die Kaap.” Foto: Deon Raath

Hy het sy eerste toneelstuk in st. 5 geskryf. “Daar was ’n ou tikmasjien sonder ’n lint by ons huis. Oupa sê toe as ek Fiela se kind deurlees én al sy vrae daaroor kan antwoord, mag ek die tikmasjien kry. Toe score ek die tik­ma­sjien en skryf nét daar ’n draaiboek.”

Sy maats, Theodore Jantjies (wat Xander Meintjies speel in 7de Laan) en Maurice Page (Tyrone in Suidooster), het daarin gespeel.

“Ek en Maurice het albei in Hoogstraat gebly en Theodore Jantjies in die straat net agter ons.”

Die hele Heidelberg is aangesteek vir teater, alles deur sy oupa.

Goliath het elke vier jaar ’n Passiespele op die dorp gedoen.

“Die hele gemeenskap het deelgeneem. Die ou wat by Spar werk, is Jesus en die plumber is Barabas en so. Naweke was repetisietyd. Die een Saterdagmiddag vra my oupa waar is Jesus? En die ouens sê nee, hy sit hier agter en drink saam met die Joodse Raad.

“Kyk, my oupa het gestalte gegee aan sy naam.”

Toe Christo drama wou gaan studeer, is daar ’n stokkie voor gesteek. “Oupa het gesê hy kan my alles self leer.”

Christo het regte aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gaan studeer, maar saans sy lyf akteur gehou. Vyf jaar later, toe sy klasmaats aansoek doen om klerkskappe, het hy as ’n akteurskontrak gehad by die Baxter-teater.

Sy toneelstukke is dorings onder sagte Suid-Afrikaanse voete, dit ontstel en laat jou nadink. Dit gaan oor kleur-stereotipes, oor wantroue, oor wit en bruin struggle-veterane wat nêrens meer inpas nie.

My seuns is ’n verwerking van Arthur Miller se drama All My Sons, maar is gegrond op sy oom Loyd Davids se ervarings.

“My oom was in die apartheidsjare twee keer in die tronk gegooi. Hy het alles gegee vir die struggle.

“Vandag is hy 62 en hy sit net daar en sê: Weet jy wat het ek gedoen vir hierdie land? Weet jy ek het matriek in die tronk geskryf?

“Maar niemand wil weet nie . . . Dis die hartseer werklikheid vir duisende soos my oom.

“Dis hulle wat heeltyd gemarginaliseer word, wat heeltyd hoor: O, ons sal jou help, maar wag net eers. O, jy is orraait vir dáái pos, nie vir hierdie een nie. Jy kan nie minister wees nie, wees jy die adjunk se assistent.”

Dit irriteer hom as mense praat van ’n gebrek aan bruin leiers in Suid-Afrika vandag.

“Ons bruin leiers word nie erken nie. Daar was die Arbeidersparty en die UDF en mense soos Ashley Kriel wat hul lewe opgeoffer het.

“Vandag is daar geen erkenning vir óns bydrae nie.

“Nie nét swart mense was in die struggle nie.”

Hy is deel van die post-apartheid-geslag. “Toe ek my verstand kom kry, toe is Mandela al vrygelaat. Maar ons het nuwe struggles. Dis hoekom Westbury nou brand. Die bruin gemeenskap voel hulle word nie gehoor nie.

“Ek het soveel keer in my lewe gevoel ek moet harder werk om iewers te kom, harder as die wittes, harder as die swartes. Net om ’n way in te kry.”

Dit was in ’n Aardklop-gesprek “Wie is jy?” dat Christo besef het wat sy belangrikste identiteit is.

“Dis om ’n pa vir my seun te wees, en ’n man vir Cin­dy, my vrou. Die res kom agterna.

“Dís die identiteit wat ek nou het as 35-jarige bruin man in Suid-Afrika.”

Dis vir hom en Cindy belangrik om Elijah Afrikaans groot te maak.

Hy stem saam met Antjie Krog: Die behoud van Afrikaans is in die hande van die bruin mense, want dis hulle wat die meeste Afrikaans praat.

Christo het al lang gesprekke hieroor gehad met vriende wat hul kinders Engels grootmaak. “Elke ouer maak daardie keuses. Van my ouer niggies en neefs se ouers het blatant geweier om hulle Afrikaans te leer, uit protes teen die Nasionale Party se taal.

“Maar nou is dit tyd om dié dinge wat aan ons behoort, weer op te eis. Soos Afrikaans.”

Apartheid het nie net ’n impak op swart mense nie, maar op almal van ons, sê hy. “Dis hoe boos dit was. Ons moet ook weet die idee van die reënboognasie is presies dit – ’n idee. Want ons is almal anders.”

Hy leun weer vorentoe, beduie met sy hande. “Jy kan nie na my kyk en nié sien ek is bruin nie. Ek kan nie nié sien jy is wit nie. Anders ontken ons mekaar se agtergrond, ons menswees, en daarsonder kan ’n mens nie. Dis wat ek en Cindy vir Elijah wil leer.”

Dan draai die gesprek weer terug Heidelberg toe, na Hoogstraat 30. Na die jong Christo wat ‘Master Harold’ and the Boys se toespraak moet voordra terwyl hy deur die venster sien hoe sy maatjies krieket speel.

Maar dit is in dié ure dat Christo Davids sy waardevolste lesse oor toneelspel geleer het.

Speel wat die teks nie sê nie.

“En vergeet maar van die applous. As mense op straat vir jou skree: Errol! moenie dink hulle roep jóú nie . . .

“Jou naam is Christo Davids, onthou dit. Jou pa se naam is Jefferson, sy pa se naam is Goliath, sy pa se naam is Jafta. Dis wat jy moet onthou.”

Jy kom van ’n proud people.

Meer oor:  Christo Davids  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.