Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Christo Wiese
‘Ek treur nié oor geld’

In Steinhoff-kringe word die drama in die week voor die bom gebars het, in detail beskryf. Hoe die spanning opgebou het, hoe Christo Wiese al hoe onrustiger geraak het, dat daar êrens ’n helse skroef los was.

Christo Wiese die afgelope week in sy huis op Clifton se Vierde Strand.Foto: edrea du toit

Die eerste rooi lig was op Dinsdag 28 November 2017, toe Steve Booysen, Steinhoff-direkteur en voorsitter van die ouditkomitee, vir Wiese bel met die boodskap: Die ouditeure wil jou kom sien.

Oor dié week swyg Wiese soos die graf, maar dit word vertel dat Booysen, drie ouditeure, en twee Duitse prokureurs die volgende oggend in sy kantoor gesit het en Wiese vir die strak gesigte voor hom gevra het: Oukei, menere, wát gaan aan?

Besef jy, dr. Wiese – antwoord hulle toe – dat jou bestuur al jare lank waarskynlik bedrog pleeg? In die orde van 6 miljard euro . . .

Waarvan praat julle, wou ’n stomgeslane Wiese weet. Bedoel julle daar is geld gesteel? Hulle antwoord: dis moontlik. En die ouditeure verduidelik: dít, en dít, en dít is die rooi ligte.

“Maar het julle al met (Markus) Jooste (Steinhoff se uitvoerende hoof) self gepraat?” wou Wiese glo weet.

Binne ’n halfuur was Jooste daar. Kalm en selfversekerd verduidelik hy: Kyk, dit werk sús en dit werk só.

Gaaf, sê die ouditeure, bring net vir ons die ouditbewyse . . .

Gááf, sê Jooste, g’n probleem, hy gaan juis die naweek Duitsland toe. Maandag is hy terug met alles wat hulle soek.

Iewers in die naweek, so sê die skinderbekke, het Wiese glo vir Jooste gebel om te hoor of hy die ouditbewyse gereed het en Jooste het hom gerusgestel met ’n “sien jou Maandag”.

Daardie Maandag om 08:40, het Wiese blykbaar later aan sy direksie vertel, het Jooste ’n stemboodskap op Wiese se foon gelos: “Christo, ek het geland, ek gaan net gou huis toe om aan te trek, ek het al die papiere, Schreiber (’n Duitse rekenmeester) is saam met my, elfuur is ek daar om alles op te klaar.”

11:00 het gekom en gegaan en Markus Jooste het nooit opgedaag nie.

                                                                                           ****

Oorkant my kyk die man wat al verskeie kere die topposisie as die rykste man in die land gehaal het verbaas op.

“Hoe weet jy dit alles?”

Daar is ’n ongemaklike stilte.

En dan vertel hy hoe die Duitse prokureur later daardie selfde middag by sy kantoor ingestap het met ’n boodskap van Jooste: Markus bedank.

“Verbaas is ’n sagte woord. Ek was dodelik geskok. Die warboel en chaos wat toe losgebars het, was onbeskryflik. En om die ander direkteure die volgende dag, met die direksievergadering, in die oë te kyk . . .”

Aan die gekke wat my nou so kruisig, steur ek my nie. My kinders en vriende sê: Behandel hulle met die disrespek wat hulle verdien

Hy het Jooste uit daardie vergadering gebel. “Ek sê vir hom: ‘wat jy gedoen en nié gedoen het nie, sal die tyd leer, maar kom help net dat die mense die state klaarmaak’. Hy sê toe hy is binne ’n paar uur daar. Dis die laaste wat ek van hom gehoor het.”

En dit was dit.

Met die vryval van Steinhoff-aandele is 70% van Wiese se rykdom uitgewis. Steinhoff se aandeelprys het met 96% gedaal.

“Mense sê hulle sien Markus Jooste soms in Hermanus. My skoonseun het eendag in ’n restaurant gesit, toe kom Jooste ingestap en toe hy hom sien, draai hy om en stap uit.”

En nou gaan Christoffel F. Hendrik Wiese, die seun van Upington wat sy empaaier eiehandig opgebou het tot een van die grootstes op die kontinent, onthou word as die sakeman op wie se wagbeurt die grootste korporatiewe ineenstorting in Suid-Afrika se sakegeskiedenis gebeur het.

Terrible. Terrible. Om so iets oor te kom, is skrikwekkend. Ek wens dit nie vir my ergste vyand toe nie.”

Toe hy op sy donkerste, mees depressiewe was, het hy ’n gesprek met homself gevoer, ’n manier bedink om daaruit te kom.

“Ek het besluit ek bou dit op drie
pilare. Die eerste: Ek treur oor geliefdes, oor vriende en familie, maar nié oor geld nie.

“My ma het my van kleintyd af geleer om my seëninge te tel. As die shenanigans waaroor nou bespiegel word, nóg ’n jaar aangehou het, was my Shoprite-belang ook in die pot.

“Die ramp het ons op 6 Desember getref. Drie dae later is die pragtigste kleinkind gebore. Storm.”

Die naam, vroeër gekies, pas toe perfek, glimlag hy.

“En toe het hulle die naam Cristo bygesit. En sy is ’n pragtige klein Stormpie. Die oggend van haar geboorte staan ek daar,” en hy wys na sy Cliftonhuis se stoep, “en ek sê vir myself: tel jou seëninge”. My familie het my nog nie een oomblik verwyt nie.

“Die derde pilaar: moenie verbitterd word nie. En laat ek jou sê, met dié pilaar het ek die grootste probleem. So-iets het al met beter mense gebeur, maar jy het darem nie verdien dat dit met jou moet gebeur nie.”

Die rots buite die panoramavenster, die kunsskatte – William Kentridge, Alexis Preller, Pierneef – jinne, dit lyk of alles spesiaal vir Christo Wiese daar neergesit is, net vir sy plesier.

Die Lexus CHW1, die Porsche CHW3, die twee Mercedesse, die Audi TT, die twee vliegtuie wat nou verkoop gaan word vir ’n nuwe een (om Kalahari toe te vlieg), alles ’n bolwerk teen verbittering.

As jy 70% van oneindigheid verloor, sit jy darem nog met 30% van oneindigheid, is jy darem nog ’n dollarmiljardêr hier op Clifton se Vierde Strand.

Is hy skaam oor wat gebeur het?

“Ek is skaam dat ek geassosieer word met iets wat so ’n gemors blyk te wees.

“Skaam oor wat ek gedoen het? Nee.”

Dis vir hom “bietjie van ’n puzzle” dat mense nou met die storie weghol en nie ook sy ander bydraes raaksien nie, soos die 200 000 mense vir wie hy werk gee.

“Aan die gekke wat my nou so kruisig, steur ek my nie. My kinders en vriende sê: Behandel hulle met die disrespek wat hulle verdien.”

Soos dié wat sê hy het nou boonop die vermetelheid om R59 miljard te eis van ’n gemors waarvan hy self die voorsitter was. En dié wat sê as direksievoorsitter móés hy geweet het van die onreëlmatighede.

“Maar dis kranksinnig! Steinhoff het ’n hoogs gesofistikeerde interne ouditstelsel gehad. Daar was ’n rits direksies ondertoe met ouditkomitees, komponentouditeure, statutêre ouditeure. Niemand van hulle het geweet nie, nie eens die bleddie banke het geweet nie – en hulle het R150 miljard aan die maatskappy geleen!

“En nou sê die mense ék moes geweet het? Hoe op gods aarde!”

Hy kry die verontwaardiging nie betyds ingekatrol nie. Hy word sommer rooi in die gesig.

Dis moeilik om te sluk?

Knik. “Met moeite.”

Dat Christo Wiese sê hy het nié geweet nie, maak dit amper erger, sê sy kritici. Dit was immers sy wérk om te weet.

“Nou sê nou vir my, was dit die werk van die fondsbestuurders om te ontleed en tot ’n gevolgtrekking te kom? Was dit die werk van die ouditeure? Was dit die werk van die ouditkomitee? Loop lees wat Mervyn King sê: Dis nie ’n direkteur se verantwoordelikheid om ’n bloedhond te wees nie.”

Waarvoor is die direksie dan daar?

“Om strategie te ontwikkel, algemene leiding te gee, om die bestuursraad aan te stel, dís wat ’n direksie doen. Kan iemand net vir my verduidelik: Wat moes ek nou nog gedoen het?”

As voorsitter aangebly het om aandeelhouers se belange so goed moontlik te probeer beskerm?

“Daar was mos duidelik ’n potensiële konflik van belange, soos nou blyk. As die grootste aandeelhouer is ek ’n enorme eiser teen die maatskappy, as die bewerings van onreëlmatighede waar is.”

En daai gewone mense wat sê dit was juis sy teenwoordigheid in die direksie wat hulle die gemoedsrus gegee het om in Steinhoff te belê?

“Ek het eers in Mei 2016 voorsitter geword, net die mense wat van toe af aandeelhouers geword het, kan dié argument gebruik. Maar ek sê altyd, as jy dink ek het ’n Midas touch, kyk na die vrot beleggings wat ek ook gemaak het. Ek het nie nét suksesse behaal nie. Wie het?”

En die pensioentrekkers en plaaswerkers wat al hul spaargeld verloor het? Wat skaars geld het vir kruideniersware in Wiese se 2 567 supermarkte?

“My hart bloei vir hulle.”

Hulle het hom vertrou . . .

“Van wánneer af? Steinhoff was ’n R300 miljard-maatskappy voor ek voorsitter geword het. So, hoe het hulle my toe vertrou? Dis mos demonstreerbare twak.”

Wat sê hy vir hulle?

“Ek sê vir hulle ek sal probeer red wat te redde is. Wat anders kan ek sê?”

Hy sug swaar.

Hy was nog nooit iemand wat simpatie gesoek het nie, maar as sy sekretaresse vir hom van die negatiewe twiets wys, slaan sy kritici se “verskriklike gebrek” aan enige simpatie, enige begrip, hom dronk.

“Dis skrikwekkend. Ek het darem gedink hier en daar sal iemand sê jinne boys, kom ons dink darem bietjie verder, hier’s ’n ou met ’n goeie rekord wat sy lewe lank hard gewerk het, welvaart geskep het.

“Hoeveel mense behalwe my vriende het gesê siestog, die arme Christo?”

Hy soek na ’n boodskap op sy selfoon. Sy stem kraak bietjie terwyl hy lees hoe ’n bekende sakeman sê hy bid dat Wiese moet sterk staan, dat sy selfvertroue nie hierdeur aangetas word nie. Kyk op. “Nou, ek het honderde sulke boodskappe gekry.”

Dit pynig hom as hy sien hoe seer sy kinders kry “omdat hulle dink ek het seergekry”.

Hoe mense soos Bruno Steinhoff, wat soos ’n slaaf gewerk het om die onderneming op te bou, en Jooste aangeneem het soos ’n eie seun, nou gevaar staan om alles te verloor.

Wat Wiese nié vertel nie, is dat Jooste die naweek toe hy kwansuis die ouditbewyse in Duitsland gaan haal het, ’n toespraak by Bruno se 80ste verjaardag gemaak het.

En dat – net soos met Wiese – Jooste sedert die bom gebars het nooit weer met Bruno kontak gehad het nie.

Nie ’n skulderkenning, nie ’n jammer nie. Niks.

Bruno was een van die rykste mense in Duitsland, sê Wiese. “Die man is amper 81 jaar oud. Dink jy nie dít maak my hartseer nie?

“Ek is dankbaar vir die mense wat gebaat het by wat ek en my kollegas gedoen het. Baie mense het ryk geword uit Shoprite en Pep. Miljardêrs. Maar ek is hartseer oor elke mens wat seergekry het.

“Ek wil nie soetsappig klink nie.”

                                                                                                 ****

In finansiële kringe word gesê dat Wiese, op 74, sy sakeryk wou konsolideer. Hy het die risiko’s geloop, sy fortuin gebou, maar nou is die uitdaging om ryk te bly – eerder as ryk te word.

Dit was sy ooreenkoms met Jooste. Hy het vir hom gesê: “Luister, daar is geen noodsaak om buitengewone risiko’s te neem nie. Jy is ryk. Ek is ryk. Kom ons konsentreer daarop om ryk te bly.

Wiese knik.

“ ’n Vriend het eendag gesê ons kan nooit die geldjies wat ons bymekaargemaak het, uitgee nie. Maar ons kan dit verloor. Hoe wáár is dit nie.”

Sy selfoon lui, en die gesprek draai om begrafnisreëlings vir Martha, sy oudste suster, wat die vorige aand oorlede is. Dis ’n ekstra moeilike tyd vir hom.

“Siestog, my pa is vandag presies 48 jaar oorlede, alles is so op ’n bondel.

“My twee susters was mekaar se grootste geselskap, langs mekaar in ’n skakelhuis op Lourensford. Hulle het in ’n totaal ander wêreld as ek geleef. Beskermd. Martha was een van daai mense wat geen vyande gehad het nie. Hulle was glad nie bewus van hierdie Steinhoff-dinge nie.”

Wat sou sy pa vir hom oor Steinhoff sê?

Hy trek sy asem stadig in. “Mmm, interessant. Hy het min erg aan wêreldsgoed gehad. Hy sou my herinner het dat die liewe Vader jou nie ’n kruis gee wat swaarder is as wat jy kan dra nie.”

Sou sy pa nie vir hom gesê het, jislaaik man, moes jy nie vir jou ou Wilgenhof-pel en vennoot Whitey Basson geluister het toe hy jou gewaarsku het teen Jooste nie? En dat hy nie iemand ken wat slim genoeg is om ’n komplekse saak soos Steinhoff te bestuur nie.

“Ja.” En hy lag effe.

“Maar as ek altyd welmenende, intelligente vriende se raad gevolg het, sou baie dinge wat ek bereik het, nooit gebeur het nie. En Whitey het nooit vir my gesê Jooste is ’n skelm nie. Hy het nie van sy styl, en die kernhandel van Steinhoff, gehou nie.

“Jooste was skerp, ingelig. Ek het nooit ’n sweem van oneerlikheid of shadiness by hom gesien nie. Natuurlik skop ek myself dat my oordeel my so in die steek gelaat het. Maar kyk net al die ander mense wat dieselfde fout gemaak het.”

Watter les het hulle twee hieruit geleer, het hy vir Jacob, sy seun en mededirekteur van Steinhoff, gevra. “Eerlikwaar, ek het moeilikheid om daai vraag te antwoord. Die Steinhoff-mense was nie drinkers of dobbelaars nie, sulke goed kan jy mos van ’n myl af sien.”

Jooste se swierige lewenstyl, die perde, die polo-spelende blonde skelmpie, het dit hom nie laat wonder nie?

“Kyk na sy sukses, sy salaris,” probeer hy verduidelik.

En dan.

“As dit waar is dat hy ’n skelmpie het, sou ek hom nooit vertrou het nie. As ’n man vir sy vrou kan lieg, sal hy vir my ook lieg.

Maar Jooste was altyd so “ ’n lekker ou”, borduur hy verder. “Ons het ’n hele paar keer saam gaan jag in Europa. Aangenaam, sosiaal, hy kon homself in enige geselskap hanteer.”

Met die uitstap bel Clare, sy dogter wat twee jaar gelede ’n winskopie van R90 miljoen net hierbo in Nettletonweg in Clifton gekoop het.

“Klippies! My lieflingkind,” groet hy en skielik is die stroefheid weg.

So, as die hele Steinhoff-gemors uiteindelik verby en vergete is, wat sal hy onthou van hierdie maande van storm en drang?

Hy dink lank.

“Daar is so baie. Wat ek altyd sal onthou is wat Clare vir my gesê het: “Pappa, onthou net: ‘Blessed is the man that can say I have everything, I need nothing and have nothing that I don’t need’.

“Als wat ek nodig het. Niks wat ek nie nodig het nie. Ek is geseën.”

As hy nou nog net daardie R59 miljard kan terugkry . . .

Meer oor:  Christo Wiese  |  Steinhhoff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.