Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Crispin Sonn
Laat die Sonn oor die taal skyn

In die kringloop van jou lewe kom jy by ’n plek waar jy wil terugkeer na jou wortels. Jy herbesoek weer al die hekkies wat jy agter jou toegeklap het.

Jy wil die knippie oopklik. Dis een van daardie ou houthekkies uit die woonbuurte van jou kinderjare, en as jy dit oopstoot, weet jy dit gaan ’n sleepspoor op die grond maak.

’n Kwartsirkel ooptrek.

’n Terugkeer na sy Afrikaanse identiteit het Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk wat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) aanbied, na nuwe paaie gelei. Hier is hy in die veld buite Oudtshoorn. Foto: Hans van der Veen

Vir Crispin Sonn is dié hekkie Afrikaans.

En as hy die hek se spoor sien, weet Crispin dis die kwartsirkel van sy lewe.

Die Afrikaansheid wat hy agtergelaat het.

Want Crispin leef en bid en gim in ’n Engelse, internasionale wêreld. Die wêreld waar ons vanoggend sit, hier op die stoep van die Vineyard-hotel in Kaapstad.

By die tafeltjies is sakemanne besig om hul muesli tussen syferpraatjies af te sluk.

Crispin ken omtrent iemand by elke tafel.

Hy herinner jou aan ’n jonger Barack Obama – skraal, skrander, sjarmant.

Leslie Maasdorp, die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger by die Brics- bank in Shanghai, kom groet en die twee lag weer oor Zuma se fiasko-staatsrede laasjaar, toe hulle mekaar laas gesien het.

Albei het Afrikaans grootgeword; albei se werk- én kopwêreld is nou Engels.

Maar om die een of ander rede het Afrikaans vir Crispin weer kom vasgryp soos ’n koedoe in ’n haak-en-steekbos.

Soos baie van my geslag het ons in ’n groot mate Afrikaans verleer.

Dit het begin lank voordat hy verlede jaar die voorsitter van Kunste Onbeperk (wat die Klein Karoo Nasionale Kunstefees aanbied) geword het.

“Dis ’n interessante plek waar ek myself nou bevind. Ek is deel van daai groep bruin Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners wat skisofrenies is oor Afrikaans.

“Ons is die eerste geslag wat in stede grootgeword het. My pa (die oudambassadeur Franklin Sonn) en ma kom albei uit Afrikaanse, plattelandse huise.

“As gevolg van die geskiedenis van Suid-Afrika, en die geskiedenis van bruin mense en Afrikaans is baie van ons vandag Engels.”

Hy is na ’n Engelse hoërskool, want daar was nie geleenthede vir bruin Afrikaanssprekende kinders nie.

Met sy oupa en oumas het Crispin en sy suster Afrikaans gepraat, en Engels met hul ouers en by die skool.

“Soos baie van my geslag het ons in ’n groot mate Afrikaans verleer.”

Maar daar is nou ’n nuwe geslag bruin mense, sy portuur, wat weer begin hand uitsteek na hul Afrikaanse herkoms. “Ons gaan kyk Afrikaanse toneelstukke, lees Afrikaanse boeke en tydskrifte.”

Daar is wel ’n klompie wat Afrikaans steeds sien as die taal van die verdrukker, wat steeds vasgevang is in ’n noue politieke siening van die taal.

Die Sonn-familie by die NG kerk in Carnarvon. Van links is Crispin, Louisa Boezak, Franklin Sonn, ’n gemeentelid, Pieter en Archie Sonn.

“Maar al hoe meer bruin mense sê: Hokaai, dis ons taal. Ons is óók Afrikaans, ons wil óók gesien word as Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners.

“Twintig jaar in die Nuwe Suid-Afrika begin ons sê: dis wie ons is. Al het ons meer vrae as antwoorde, is ons op hierdie reis.

“Ons verstaan AfriForum se vertrekpunt, maar ons lewensroete is heel anders as hulle s?. Ook ons aanklank met die taal is heel anders.

“Ons is bereid om te luister na wat AfriForum te sê het oor die taal, maar hulle moenie namens ons praat nie. Ons praat namens onsself.”

Ironies, glimlag Crispin, is hy nou ewe skielik kniediep in die debat rondom Afrikaans terwyl die meeste mense hom as Éngels ken.

Onlangs het hy op hierdie einste Vineyard-hotelstoep ’n gesprek gereël met dr. Danny Titus (uitvoerende direkteur: kultuur van die ATKV), Basil Kivedo (onderdirekteur van onderwys in die Wes-Kaap), sy oom Julian Sonn (oud-UWK-dosent in Afrikaans-Nederlands) en Danie van Wyk (bestuurder van die SA Onderwysontwikkelingstrust in die Wes-Kaap).

“Ons het net as bruin Afrikaanssprekende mense gesit en gesels oor hoe ons voel.”

Dié gesprek het sterk emosies by hom aangewakker.

Die eerste roeringe van sy Afrikaanse hergeboorte was twee jaar terug op Carnarvon, die Sonn-familie se bakermat.

“Ons het ons ou familiegrafte in die begraafplaas gaan herstel, want alles daar was heeltemal tot niet. Ons het ook ’n projek begin om die NG kerk op Carnarvon te restoureer.

“Dis die kerk wat my oupagrootjie, Francis, gebou het. Hy was die seun van ’n Khoi-Xhosa-vrou en ’n Duitse Jood wat hier kom bly het. Hy het hulle gelos en was later een van die stigterslede van die Wanderersklub in Johannesburg.”

Franklin Sonn het daardie Sondag die kerkdiens gelei, vertel Crispin.

“Ons was almal daar, ook die Engelssprekende kleinkinders in die kerkbanke. En daar sing en bid almal in warm aardse Carnarvon-Afrikaans.

“In daardie kerkbank het ek besef: dis my herkoms en my geskiedenis.”

’n Herkoms wat eggo in die Sonn-stamboom voorin die ou Nederlandse familiebybel van sy oupagrootjie, veilig behoue in ’n houtkissie.

Die besoek aan Carnavon het nou ’n jaarlikse instelling geword.

“Dan kom ons bymekaar by die grafte en ons praat oor wie ons is en waar ons vandaan kom.”

Die nuwe Ramaphosa-era gee ons die geleentheid om die Pandora-boksie oop te maak vir ’n insluitende gesprek oor identiteit en taal.

Dit maak hom bly.

“Dis lekker goed om mee te worstel, want dis eintlik die moeilike deel van nasiebou. Ons het nou die kans om die Suid-Afrikaanse samelewing te vorm wat ons in 1995 wou hê.”

Een ding weet Crispin helder: Afrikaans sal net groei as dit multikultureel gebeur, as ons ander inheemse tale ook omarm.

Dis vir hom belangrik dat die KKNK ’n katalisator word van ’n meer inklusiewe gesprek oor Afrikaans in die Suid-Afrikaanse samelewing.

“Ons wil die fees meer toeganklik maak vir ’n breë gehoor, meer verteenwoordigend in inhoud en in feesgangers, maar dit bly wesentlik ’n Afrikaanse fees.”

Hy glimlag. “Ons beklemtoon altyd die taal, maar ons moet eers die féés beklemtoon, ’n fees wat toevallig Afrikaans is. As jy die taal vooropstel, raak dit te polities.”

Crispin is versigtig om nie sý taalreis af te dwing op sy familie en vriende nie, maar dis vir hom lekker dat van hul vriende wat nog nooit voorheen by ’n kunstefees was nie, vanjaar die KKNK gaan bywoon.

“Dis mense met diep Afrikaanse herkomste wat totaal verengels het.”

Sy vrou, Lisa, koop deesdae Afrikaanse boeke en fliek-DVD’s om die taal by hul kinders aan te wakker.

“Dis ook ’n identiteitsontdekking vir Lisa, wat Engels grootgeword het.”

Hul oudste, Joshua, het ’n honneursgraad in strategiese handelsmerkbemarking.

Hy probeer om sy “ouskool”-pa tegnologies te laat bybly. “Hy leer my die wêreld is nie altyd wat jy dink nie.”

Lebugang, hul tweede seun, studeer onderwys. “Hy het in sy eerste twee weke op skool twee beroertes gekry wat sy linkerkant aangetas het. Ons het ’n pad gestap, maar hy het WP-kleure in gestremde sport, en hy lei ’n selfstandige lewe.

“Ons meisiekind, Emma, is perdmal, en sy en ons jongste, Franklin, is baie betrokke by die kunste. Hulle sorg dat ons in die teater kom.”

Die twee oudstes stel belang in Afrikaans asof dit ’n rariteit is. Die jongstes het ’n honger vir die taal.

Tydens hul Vineyard-gesprek het ­
Kivedo vertel in sy omgewing van Elsiesrivier, Ravensmead en Blikkiesdorp is die mense oorweldigend Afrikaanssprekend. “Engels is vir hulle vreemd, so hulle word weerhou van toegang tot hul grondwetlike regte. Afrikaans kan dit vir hulle fasiliteer.”

Net so geld dit sprekers van ander inheemse tale.

Daar is kritiek teen bruin mense omdat hulle nou eers begin opkom vir hul eie identiteit. “Maar die vraag bly staan: hoekom was ons bang? En is die tyd nie nou ryp nie?”

Bruin mense, altyd te wit of te swart. Te tussenin. “Presies. Maar ons stem nou vir eie belang.

“Soos die ANC die Wes-Kaapse bruin stem as vanselfsprekend aanvaar het, só maak die DA nou dieselfde fout.

“Die DA is so op inklusiwiteit gefokus dat minderhede uitgesluit voel. Dis nie hoe jy ’n nasie bou nie. Almal se belange tel.”

Prof. Sampie Terreblanche se boek A History of Inequality in South Africa, 1652–2002 pak die bruin dilemma in Suid-Afrika.

“Dis ’n fenomenale boek, maar niemand praat meer daaroor nie. Soos die gronddebat, moet al die boksies wat mense afhok, oopgebreek word as jy werklik ’n nuwe Suid-Afrika wil hê.

“Laat ons praat. Mense kritiseer
Ramaphosa nou oor al sy summits, maar wat die president nou doen is om die boksies oop te maak.”

Nooit weer nie, sê hy, mag ons politici carte blanche gee vir ons toekoms.

Dis hoekom Crispin met Ramaphosa se staatsrede buite die parlement ’n plakkaat gestaan en swaai het.

Hy is ’n stigterslid van die South Africa First-forum.

“Te lank het ons net om braaivleis­vure gestaan en kla. Dit help nie. Doen iets.”

So ry Crispin gereeld saam met die trokke van FoodForward – die liefdadigheidsorganisasie waarvan hy voorsitter is – as hulle daagliks kos uitdeel aan 200 000 mense, landwyd.

En naweke? Hy glimlag. Dan sorg hy dat die braaivleisvuur brand minute nadat hy die voordeur van hul vakansiehuis in Bettysbaai oopgestoot het.

“Dis ons naweekwegkom, en as die vuurtjie brand en die vleis wag, begin my afskakeltyd.”

Hy is genoem na die St. Crispin-saal in Port Elizabeth waar sy ouers, toe albei jong onderwysers, mekaar op die dansbaan ontmoet het.

“My wyse pa. Hy het ons geleer om altyd vier keer te vra: wat dan? Só deurtrap jy ’n probleem.”

Crispin Sonn het op 50 nou die hekkie oopgetrek. Die kwartsirkel lê in die grond. Nou wag: wat dan?

Meer oor:  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.