SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Menings
Hanlie Retief gesels met Dana Snyman

Dit voel soos ’n Joodse Paasmaaltyd, met die gedekte, leë plek vir die afwesige gas. Die glas wyn, onaangeraak.

Want sy is nie hier nie, maar sy is hier.

Haar kar staan nie meer, soos altyd, op die stuk vaalgroen gras voor die huis nie. Haar breiwerk lê nie meer in ’n sak op die bank nie.

Maar hier, in Dana Snyman se huis in Jacobsbaai, ís Anette nog.

Elke middag is dit staptyd vir Dana en sy vier honde op Jacobsbaai. Hy het nou sy huis daar verkoop en trek na Kaapschehoop in Mpumalanga. Foto: Edrea du Toit

Sy is in Dana se oë, in sy stem wat plek-plek breek, op die groot, geblokte foto van hulle twee in die veld.

Twee mense, deur die lewe getimmer, liefde gewen en verloor, uitgespoel soos bloublasies op ’n strand.

Op ’n ander foto staan sy in ’n deur en kyk na die oggendlig buite.

“Die Lig, het ek vir haar gesê. Altyd na die Lig toe.”

Waar daar nou opgewonde laaste troureëlings sou wees, ’n wit rok wat buite ’n kas aan ’n spesiale hanger gereed sou hang, die troupak gepars en die fynblomme gepluk vir die bruidsruiker, is ’n ander fees in Jacobsbaai beplan.

Dana se konsert vir Anette. Een met die swart hond as gas aan die hooftafel.

Die swart hond wat op ’n Vrydagoggend saam met haar, sonder ’n woord, met net ’n handsak, in die kar geklim en Bloemfontein toe gery het.

Vir haar allerlaaste afspraak, die oorsteek van die verste grens, in ’n vriend se kar, op die dag toe Dana 55 geword het.

Bakkes vra: Gaan ons huil? Toe sê ek ons sal seker huil, maar ons moet ook die swart hond besweer. Al is dit net vir ’n aand.

Saterdag sou hulle getrou het in die kerkie in Saldanha wat hy vir haar gekies het. Die onthaal sou in Jacobsbaai gewees het.

Dana knip-knip sy oë.

“Ek dink dit sou een hengse paartie geraak het . . . Dis waar ons nou konsert gaan hou, en waarskynlik, ek weet nie, gaan dit óók so wees.

Vyf skape op die spit. 500 gratis kaartjies is blitsig opgeraap, mobiele toilette word aangery, ’n skerm opgerig teen die Suidoos, want, skryf hy, “ons gaan nie toelaat dat ons drome wegwaai nie . . .”

Maar altyd die twyfel: Sê nou net hy, Johan Bakkes en die musikante moet die skape alleen opeet, skryf hy op Facebook. En al die wyn . . . Eisj.

Voor die man wat ons almal, deur sy oë, op ver paaie neem, het ’n nuwe pad oopgemaak. ’n Nuwe beweging het begin. Die Pad van die Swart Hond.

“Bakkes het my vanoggend gebel en gevra: Gaan ons huil? Toe sê ek ons sal seker huil, maar ons moet ook die swart hond besweer. Al is dit net vir ’n aand.

“En julle moet vir my sing – hy lyk vir my so baie na Ta’ Koek se hoenderhaan . . . het ek vir Bakkes gesê.”

Dana was in ’n inkopiesentrum toe hy laasweek hoor Anette se pa, Jan Schoeman, het homself ook om die lewe gebring. Hy het Jan op Anette se begrafnis ontmoet. “So ’n sagte oompie. Slim oompie. Hy moes erg swaargekry het ná Anette se dood.”

In die gesels vanoggend waai die hartseer oor hom soos vlae wind oor Weskusbossies. Dan kom die trane, dan druk hy hulle weg, terug hartseerkraaltjie toe.

“Ek het dadelik geweet sy is die een vir my.”

En dan kom hulle weer.

In die hoek van die sitkamer is ’n staanlamp, die skerm effens skuinsgedraai vir lig op die lessenaar waar hy skryf. Langs sy rekenaar, ’n leë pilhouer met vakkies vir elke dag van die week.

Hy sit en skryf op sy oorlede pa se ou stoel. Sy oorlede ma se laslappiekombers lê nog op die sitplek waar hy gisteraand gewerk het. Hy kan die see skuinsweg deur die venster sien. Vandag se Die Burger lê toegevou.

Op die kombuisblad staan sonneblomme. Dana het altyd sonneblomme in sy huis.

In Februarie het hy, verlief, vir haar vieruur die oggend by Adderleystraat se blommeverkopers armsvol sonneblomme gaan koop.

Oor alles in hierdie huis hang één vraag: Hoe gebeur dit dat jy iemand goed ken, op trou staan, en dan ry sy blindelings Bloemfontein toe en bring haarself om die lewe terwyl jy niksvermoedend op Jacobsbaai sit?

“Ja,” sê Dana. “Ja . . .

“Ek het haar maar net nege maande geken, nè. Dis amper absurd om jou in die oë te kyk en te sê ons was hierdie nege maande seker 90% van die tyd gelukkig.”

Hy, skrywer, waarnemer, kon haar donkerte nie raaksien nie.

“Tot my skande, my verwyt.”

Anette is op ’n Vrydagoggend hier weg. Hulle was pas terug uit Namibië ná ’n “hengse lekker trip” waar hulle baie gelag het saam met Bakkes en Valiant Swart-hulle.

Bakkes vra: Gaan ons huil? Toe sê ek ons sal seker huil, maar ons moet ook die swart hond besweer. Al is dit net vir ’n aand.

“Ons het verskríklik baie gelag . . .” herhaal hy asof hy die twyfel wat bly torring, wil besweer.

Hulle het die Woensdagmiddag met die honde gaan stap. “Ek kom toe agter sy raak so afferig. As jy saam met iemand leef, leer ken jy mos hul stiltes.”

Die Donderdag raak dit erger. Dana vra heeltyd of sy orraait is. Hy weet nie wat aangaan nie, wat om te doen nie.

“Ek is van nature baie onseker, en ek dink dis waarom ons so ’n goeie verhouding gehad het. Ek is maar swak en sy het my sterk gemaak.”

Haar eerste woorde die volgende oggend was dat sy wil terug Bloemfontein toe. Maar hulle gaan in elk geval Sondag se kant soontoe, probeer Dana keer.

Dis toe dat die dinge in haar kop begin skuinsdraai het, dink hy nou.

“Bipolêre gemoedsversteuring voel vir my soos depressie op turbo. Vyf jaar terug, ná ’n liefdesteleurstelling, het my wêreld ineengetuimel. Ek het ’n jaar lank anti-depressante gedrink.

“Ek het toe ook selfmoordgedagtes gehad, ek het ’n melankoliese persoonlikheid, maar ek is op die ou einde te lief vir die lewe.

“As jy bipolêr is, beleef jy ’n maniese fase wat maande kan duur. En dan val jy weer terug.”

Anette se kinders het vir Dana die mooiste, hartseerste ding gesê: dat hy hul ma in haar morfienfase beleef het.

“En toe, sorrie man,” sluk hy trane weg, “toe sê sy sy wil met my praat. En sy vra, ‘Wil jy regtig nog met my trou? Want dit lyk nie of jy genoeg belang stel nie.’

“En ek sê, nee jissou Anette, ons het dan gister na die kerk gaan kyk.”

Hy sug. “En ek sien haar nou nog so terugsit en sê: ‘Ek voel heeltemal nutteloos.’ En toe loop daar ’n traan uit haar linkeroog.”

Nadat sy met die honde gaan stap het, het Anette gesê sy wil ’n ent gaan ry om bietjie te dink. “Ek het saamgestap kar toe, voorgestel sy moet gaan koffie drink by Sandra by die Kontrei-Kafee.

“Toe ry sy hier weg, Bloemfontein toe. Ek probeer hierdie ding verduidelik, maar hóé? Dis mos die klassieke scenario: ’n bakleiery en een vat die pad. Maar jy kan ’n waarheidsmasjien op my sit, hier was nie ’n bakleiery nie, niks.

“Die volgende oggend, toe ek uiteindelik ordentlik met haar kon praat, sê sy sy het gery ‘om te gaan selfmoord pleeg’.

“Dis . . . dis . . . net . . . ek kon dit nie verstáán nie, alles was so goed en mooi. En hier’s ek met my onseker persoonlikheid en iemand met wie ek wil trou, praat van selfdood en ek raak paniekerig.”

Dana het mense in Bloemfontein gevra om haar te probeer help tot hy daar kom. Dan sou hulle kon praat, dinge uitstryk. “Maar voor ek nog daar kon kom, toe . . . doen sy dit.”

Die “drie-en-’n-half keer” wat hulle baklei het, was elke keer oor Anette se diepe onsekerheid.

“En saam daarmee, verskriklike woedebuie en beskuldigings op Facebook en sulke goed, dat ek ander meisies wil hê. Ek het vroeg in ons verhouding my gmails vir haar oopgemaak sodat sy als kon lees, juis daaroor.

“Daar is nie ander vroue nie, níks sulke goed nie. Maar dan het sy aangehou, ook teenoor Bakkes die aand nadat sy hier weggery het.

“Sy het vir my gesê sy is kwaad vir die lewe. Sy het veral hierdie ding oor my gehad – sy’t vir ander vertel ek het ’n beeld na buite van ’n goeie ou, maar sy ken die ware Dana. En ek kon nie haar onsekerhede besweer nie, ek kon nie haar redder wees nie.”

Hy het eers ná haar dood by die kinders gehoor daar was al ’n vorige selfdoodpoging.

“Sy het haar kinders wonderlik grootgemaak. Hoe meer ek hoor hoe sy gesukkel het, hoe liewer raak ek vir haar, want sy moes al hierdie goed wegsteek.”

Tot die donkerte te groot geraak het.

“Die aand voor haar dood het sy so mooi met my gepraat. Ek het gery, en dan vra sy: Sien jy die bokkies? Kinderlik, amper. ’n Hunkering na ’n verlore onskuld.”

Heeltyd so kalm, onthou hy. Nou weet hy sy het haar dood reeds klaar beplan. “Drie dae vroeër het sy gereël om die kar te kry om haarself in te vergas.

“Sy was al klaar uit op die oop see.”

Die volgende oggend het sy hom weer, vir oulaas, gebel.

“Ek moes baie na aan haar dood met haar gepraat het, en ek het dit nie geweet nie. Toe sê sy net: ‘Ek is baie lief vir jou en mooi gaan.’ En toe raak die telefoon stil.”

Sedert Anette se dood word Dana toegevou met liefde. Almal huil saam, sy inboks loop oor. “Ek kan nie voorbly om te antwoord nie. Mense gee my al daai liefde, hulle dra kos aan.”

Nou die dag kom ’n oom daar aan met ’n briefie op ou skryfblokpapier: ‘Ek wil net vir jou sê Jesus het die gom wat jou weer aanmekaar gaan heg.’

“ ’n Doodeenvoudige oom, hy was ’n passer-en-draaier by die treine. Ek kry al hierdie goeters! My geluk is, omdat mense my ken, half, praat hulle maklik. Gewoonlik hang daar ’n stilte oor so iets. Party mense dink sulke mense gaan hel toe.”

Kersfees, wat wittebrood moes wees, lê nou voor.

“Net nége maande saam,” knip-knip sy oë.

Toe hy haar in Januarie in Jacobsbaai ontmoet het, het hy geweet sy is die een.

“Ons het absoluut die rooi-roos-roete gedoen. Net, sonneblomme.”

Op Valentynsdag het hulle deur die Kaap gestap. Heeldag. Van die middestad Drieankerbaai toe. Deur die Bo-Kaap. En tree vir tree het hulle hopeloos verlief geraak.

“Sy’t omgegee, sy’t my verstaan. Ek is mos maar bietjie van ’n klein seuntjie. Geen vrou was nog ooit so goed vir my nie. En ek . . .” haak hy vir ’n oomblik vas, “kon net nie sterk genoeg vir haar wees teen die einde nie.”

Dana het klaar sy huis in Jacobsbaai verkoop. Volgende jaar trek hy na die anderkant van die land, Kaapschehoop in Mpumalanga.

Tyd vir nuwe hoop.

Sy nuutste boek vra: Het jy nog hoop vir die land? Min het hy besef dat daardie vraag, vir hom, sou groei tot: Het jy nog hoop vir die lewe?

“Mens moet hoopvol lewe. Ek is 55. Ek was nog nooit ambisieus nie, maar die 15, 20 jaar wat oor is, wil ek iewers help.

“Ek is nie gekwalifiseerd nie, maar ek kan vloere vee, ek kan luister.

“En ek sal maar altyd skryf . . .”

Sodat ons ook ons land en sy mense deur Dana se opmerksame oë beter kan verstaan. Sodat ons almal sagter kan word, soos Dana sagter geword het.

Meer oor:  Dana Snyman  |  Depressie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.