Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met David Rakgase
‘Staat het my gekniehalter’

‘Die staat het my bene met kettings vasgemaak. Die Afrikaanse woord is kniehalter. Dis ’n mooi woord daardie. Ook ’n harde woord. Dis as jy die donkie se been vasmaak sodat hy nie ver kan gaan nie. Jy verstaan daai ding?”

“My trop is lekker vet­gevreet van die soetveld van Nooitgedacht.” David Rakgase is trots op sy vleis-brahmane en nguni-beeste. Foto: Deon Raath

Ons staan onder ’n bosveldboom. Die voëls kwetter bo ons koppe. David Rakgase se oë is kleingetrek tussen 80 jaar se plooie.

Hy lig sy een voet, wys hoe lyk ’n kniehalter.

“Só. Jy verstaan?”

Sy arm swaai na ’n John Deere op blokke onder die afdak. Hy praat ’n ouwêreldse Afrikaans.

“Ek het groot planne gehad vir hierdie plaas. Maar ek moes wag en wag en nou word ek op 11 Oktober 80.

Eintlik is hierdie regering se beleid eenvoudig, hulle wil die grond aan hul vriende gee.

“Ek het soveel drome gehad. Ek wou groot slagpale bou, groothandelaar wees van vleis, vleis ook buiteland toe stuur. Maar op hierdie plaas waar ek al 28 jaar lank boer, het die staat my 17 jaar lank gekniehalter.”

Ons gaan sit. Op hierdie vaalrooi plastiekstoele, in hierdie skaduwee, tob David Rakgase al hierdie jare oor hierdie lap rooi aarde se “kaart en transport”.

Hierdie boer in sy Jonsson-two-tone-hemp en wyerandhoed teen die Limpopo-son, is die slagoffer van die regering se mislukte grondhervormingsbeleid.

Rakgase boer reeds sedert 1991 op Nooitgedacht, 7 km buite Northam in Limpopo. Hy het die plaas by die ou Bophuthatswana-regering gehuur.

“Die ergste is, die staat het my nie hierdie plaas gegee nie, hulle het my in 1994 op hierdie plaas kom kry mét die opsie om te koop.”

“Kyk die slotte van die grondgrypers.”

In 2002 het die staat ingevolge ’n grondverdelingsprogram (LRAD) die plaas vir hom te koop aangebied. Sy aanbod is in 2003 skriftelik aanvaar. En toe val die wiele af.

Op 4 September het regter Norman Davis in ’n striemende uitspraak die staat beskuldig dat hulle irrasioneel en onkonstitusioneel opgetree het en beveel om die plaas aan Rakgase te verkoop.

“Eintlik het die staatsamptenare gedink ek sal miskien vinnig doodgaan, voor die einde van die hofsaak,” lag hy ’n lekker lag.

“Ek was so bly, ek het die Vader in die hemel gedank vir alles wat Hy gedoen het. Dit was die wonderlike werk van Bo af, nie van die mens af nie. Nou weet ek my kinders sal kan aangaan met die boerdery.

“Ná die judge se uitspraak . . . ooei, daai pad van Pretoria af hiernatoe, my gedagtes het nie gewerk nie. My kop het gaan staan, ek het bietjie gewonder of die goed wat ek gehoor het, waar is.

Sy vrou en kleinkinders se grafte lê ’n klipgooi van die opstal af. Foto: Deon Raath

“Maar die belangrikste ding,” skuif hy bietjie vorentoe, “ek is nie al een wat só deur die staat mishandel is nie. Ander boere het dieselfde dokumente as myne, dis ook nie geprosesseer nie. Hulle was te bang. Hierdie armoede waarin ons lewe, as jy sien die goete loop nie reg nie . . . jy is te bang om te praat, jy sê vir jouself jy gaan verloor.”

Hy vertel hoe die regering stilgebly het toe van die ander boere se huurgeld agterstallig geraak het, net om hulle later van die plase af te skop. Al was die versoeking groot in maer tye, het Rakgase elke maand getrou betaal. “Toe my huurkontrak op 31 Mei 2016 eindig het die staatsamptenaar vir my kom sê hulle gaan dit nie verleng nie. Nét hier het die man gestaan en dit vir my kom sê. Ja.

“Maar toe hou ek aan huur betaal, sonder kontrak. Ek het gister se strokie in my boek, wil jy sien?”

Hy skud van die lag.

“Ek het al soveel huur betaal, ek sou die plaas kon koop daarmee. Eintlik skuld die staat vir my change! Van 1 April 1991, R3 410 per maand, hulle skuld my báie geld!”

Die departement van landbou het vir jare studente na Nooitgedacht gestuur om praktiese ondervinding op te doen. “Die staat gebruik my as voorbeeld, maar dan maak hulle só.”

Die regeringsamptenare het in die verlede inspeksies kom doen “om te sien of Nooitgedacht mooi bewaar is. Hulle het my goeie rapporte gegee.”

Nadat grondgrypers in 2016 driekwart van sy plaas beset het, is die grond oorbewei, kaalgevreet. “Dit maak my hart so seer. Maar nou is daar nie meer inspeksies nie, die regering kyk anderpad, hulle weet hulle het vir die grondgrypers gesê my huurkontrak het verstryk.

“Hierdie mense (besetters) betaal niks per maand nie, hulle bly net hier. Ék betaal vir hulle. Dis baie, baie sleg hoe die boere behandel word. Die Engelse woord hiervoor is cruel.

“Ek bly net op ’n sesde van die plaas, die res is nou vol van die besetters se beeste. En die skape en bokke wat hulle van my kom steel het. Ek het 19 bokke gehad, net 12 is oor. Van die 500 beeste het hulle 300 gesteel, van die 80 skape is net 23 oor.

“Hulle saag die bome, verkoop die houte van die plaas, die wild is verwaarloos. En,” skep hy asem teen die verontwaardiging, “daar is tot mense wat die grond aan hierdie mense verhuur, en die regering kyk anderpad!”

Hy was die vorige dag by ’n prokureur om ’n beskermingsbevel teen een van hierdie opportunistiese ‘verhuurders’ te kry. Op 15 Oktober is hy in die hof vir ’n uitsettingsbevel teen die grondgrypers. Alles op eie koste. Dan eers sal hy kan terugtrek plaas toe, na die grond waar sy vrou en twee kleinkinders begrawe lê. “Ons bly nie meer hier nie, ek is bang hulle kom maak ons dood.”

Hy gaan wys ons die grafte, ’n klipgooi van die huis af. Rosemary, sy skoolhoofvrou wat deur kanker kom haal is. Hy’s al 14 jaar lank ’n wewenaar. Lag, nee, g'n weer vrouvat nie, dis moeilikheid! Klein Mary lê daar. Met die teddiebeer op die grafsteentjie. Doodgebore. En Andreas. Ongeluk. Hulle het sy tweedejaar-slaagsyfer op Wits ontvang nadat hy al begrawe is.

Daar kom ’n verlatenheid oor hom.

“Dink jy ek sou hulle hier kom begrawe het as ek nie seker was die grond is myne nie?”

Ons stap beeskraal toe, verby die 19 jong Dorper-lammers in die kampie. Sy trots, die wit brahmane, die taai nguni’s.

Nou hiér’s die ding, kom dit dan met ’n wrang glimlag. “As jy nie vir amptenare iets (omkoopgeld) gee nie, sal jou goete nie regkom nie. Ek betaal niks omkoopgeld nie, daarom sukkel ek.

“Hierdie plaas langs my, die man was výf jaar hier, toe kry hy titelakte. Die amptenare het vir hom mooi gewys: as jy my nie ‘kos’ (omkoopgeld) gee nie, gaan ek jou nie help nie. Ek loop nie daai paadjie nie, nee, nee, nee, kruisig my liewer.”

Cyril Ramaphosa wat so luid verkondig oor die “diep behoefte en soeke omeiendom te besit” . . . “Ek nooi hom graag Nooitgedacht toe. Hy sê mos oral sulke dinge, maar hy moet dit nie net sê nie, hy moet dit toepas ook.”

Rakgase kry so glimlag, sê: “Miskien kan die president sy buffels hier laat wei, ek sal hulle mooi oppas. Ons het soetveld hier, hierdie is die béste grond, suikergrond.

“Thoko (Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling) het gesê die swart man kan nie boer nie, jy moet hom 30 jaar gee en weer 20 jaar. 50 jaar . . . dan sal jy sien dis ’n boer. As jy hom 50 jaar hou op die plaas, vra ek jou, op watter ouderdom het hy daar aangekom?

“As hulle sê die swart man kan nie boer nie, sê hulle mos ook die swart man kan nie regeer nie. Dis verskriklik. Dis hartseer.

“My moed is verby vir hierdie mense. En dis nie ek alleen nie, die gemeenskap vertrou nie meer die regering nie.”

Rakgase het, toe al in sy 70’s, ’n sakeplan moes indien vir ’n nuwe 30-jaar-huurkontrak. “Elke nuwe beleid kom met die opsie om te koop, maar hulle weet hulle gaan dit nie toepas nie. Hulle lieg vir die mense, baie ook, nie bietjie nie.

“Eintlik is hierdie regering se beleid eenvoudig, hulle wil die grond aan hul vriende gee. As jy nie vriende van iemand daarbo is nie, kry jy niks.”

Hy het op die Bakgatla-stamgrond 12 km van Nooitgedacht grootgeword. Sy oupa was ’n stamleier met “grondpapiere” uit die 1800’s.

Die Rakgases het deur kolonialisme én apartheid vir hul grond baklei en nooit gedag hulle sou in die nuwe demokrasie in die howe daarvoor moet gaan veg nie.

“My oupa het ’n langtermynplan gehad vir sy nageslag. Hierdie beeste kom van my pa af, wat dit by my oupa geërf het. Dis ’n wiel wat draai, dit kom nie net van nêrens af nie, dit het ’n geskiedenis. Ek was teenwoordig by my pa se afsterwe, toe sy gees uitgaan. Sy laaste woorde vir my was: ek los hierdie beeste vir jou, David, vat jou kinders skool toe.

“Nou het drie van my vyf kinders grade. Die beeste het vir hulle betaal. Mofa doen sy doktorsgraad in landbou, die meisiekind is ’n onderwyseres, een het op hoërskool landbou geneem in Taung, en die jongste dametjie het ook landbou geleer, maar sy bestuur nou ons slaghuis op Northam,” tel hy op sy vingers af. Trots: “Die slaghuis is added value vir die plaas.”

En nou, om die dolk in dié ntate-moholo se rug nog ’n draai te gee, wil die regering appelleer teen die hofbevel.

“Gelukkig raak ek nie bitter nie, anders was ek lankal dood aan my hart. Ek worrie niks oor die appèl nie, ek weet mos dis leuens wat hulle probeer. Die geld om die plaas te koop, lê reg. Ons het dit van 2002 af bymekaargemaak.”

Hy gaan wys ons die slotte van die grondgrypers. Tien by die een hek, 13 by die volgende, 50 in totaal. “Hierdie mense is so slordig, elke ene sit sy eie slot op, hoekom nie net een slot met duplicates nie,” skud hy kop, gee ’n laggie.

In die verte hoor jy die grondgrypers se kettingsaag.

Sy hand is om die hek. Sy hek. Hy het die drade gespan. Sy sweet.

Wat het al hierdie seer en gesukkel vir David Rakgase geleer?

“Dat ’n mens geduldig moet wees. En as jy seker is wat gebeur die waarheid is, weet jy die waarheid sal hou. Dit sal bly.

“Die waarheid sal die waarheid praat.”

Meer oor:  Limpopo  |  Northam  |  Plaas  |  Boer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.