Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Derek Hanekom
Hy swem tussen die krokodille

Derek Hanekom was al ’n tronkvoël, ’n knoffelboer, ’n hippie in ’n Kuilsrivier-kommune, nagklerk in die Lanzerac-hotel, Gulliver op ’n speeldorpie, kaptein van ’n stoomboot op Wemmerpan, ’n minister, toe eks-minister, toe wéér minister, toe wéér eksminister . . .

En nou, in die Cyril Ramaphosa-kabinet, is hierdie comeback kid wéér minister van toerisme.

Nou kan die werk begin, sê Derek Hanekom, toerismeminister, nadat hy vir die tweede keer in dié portefeulje aangestel is. Hier is hy by die V&A Waterfront in Kaapstad, wat weens Dag Zero-vrese ’n afname in toerisme beleef het. Foto: Edrea du Toit

“Dis my unieke onderskeiding – die enigste minister ooit wat twéé keer teruggekom het kabinet toe,” vertel hy onlangs by ’n toerismeberaad in Kaapstad, minute ná hy ’n staande toejuiging gekry het.

En dít slaat hom vir ’n ses – dat die toerismebedryf hom so geesdriftig terugverwelkom as minister. Dalk is dit oor daar so bitter min in die portefeulje gebeur het in die jaar van sy afwe­sig­- heid . . .

“In Hoedspruit, onlangs, toe ek by ’n saal met 250 toeristegidse instap, het almal spontaan opgestaan en begin hande klap. Dis nie iets wat politici gewoonlik ervaar nie . . . daar was werklike warmte.”

Sy “ballingskap”-jaar as gewone parlementslid was op ’n manier goed, sê Hanekom.

“So ’n bietjie wegstaan gee jou kans om na te dink oor jou pos. Hoe kon ek dinge beter gedoen het? En, as daar weer ’n kans is, hoe doen ek dan beter?”

Hy frons bekommerd.

“En hier kry ek nou die kans, en die groot verwelkomings ruk my aan die hart. Ek voel: hei, jy skuld dit aan hierdie Hoedspruit-gidse, álmal. So, die res van hierdie termyn is in my hande, ek moet die beste daarvan maak.”

Hierdie is Ronde Een van die Rama­phosa-regering, herinner hy. “Sy eerste werklike termyn begin ná die 2019-verkiesing, met ’n nuwe, hergestruktureerde kabinet.”

As o.16-hoogspringer by die Hoërskool Jan van Riebeeck se jaarlikse sportdag in die Groenpunt-stadion het Derek Hanekom die nuusblaaie gehaal.

Hy glimlag. “Ons moet net eers daai verkiesing wen.”

Hanekom se terugkeer as toerismeminister, soos met sy eerste aanstelling in 2014, is in ’n moeilike toerismetyd. Laas was dit in die middel van die Ebola-uitbraak in Wes- en Noord-Afrika en die omstrede, strenger visumregulasies.

“Die 2017-toerismesyfers lyk ook nie besonder goed nie, en buitelanders het só geskrik vir die Dag Zero-praatjies dat dit Wes-Kaapse toerisme geknou het.”

Bangmaakpraatjies oor die listeriose-uitbraak het ’n kleiner impak, sê hy.

Laloo Isu Chiba het my geleer dat ons nooit moet moeg raak om onbaatsugtig te dien nie.

Op die jaarlikse beraad van die G20-lande se toerismeministers (bekend as die T20) verlede Dinsdag in Buenos Aires, het Hanekom gesê hy is oortuig Suid-Afrika kan teen 2026 vir ’n miljoen Suid-Afrikaners werk skep in die toerismebedryf.

Op ’n paneelbespreking van die wêreldraad vir reis en toerisme (WTTC) se beraad het Hanekom beklemtoon dat makliker toegang tot Suid-Afrika – ’n verslapping in visumregulasies – die deur sal oopmaak vir groei in toerisme.

Hanekom is opgewonde oor die toerismepotensiaal wat nou onder Rama­phosa ontsluit kan word.

Hy en Malusi Gigaba kon selfs vroeëre strydbyle begrawe oor die gewraakte visumregulasies waaroor Gigaba in sy vorige ronde as minister van binnelandse sake so onverbiddelik was.

“Ek en min. Gigaba hét vordering gemaak. Trouens, ons was laasjaar op die punt om ooreenkomste te bereik toe ons altwee uit ons poste geskuif is.

“In die 11 maande se afwesigheid uit ons ministeries het die hele proses gaan stilstaan. Dit was toe frustrerend, en dis nou nóg meer frustrerend – nee, kommerwekkend – om terug te kom en te sien niks het gebeur nie.”

Nou gaan hy en Gigaba praat.

“Met ’n duidelike opdrag van ons president, méér as ondersteunend, om die regulatoriese hindernisse te verwyder. Dit sê alles.”

Gigaba het reeds vir Hanekom gesê hy is gretig dat binnelandse sake die vermoë ontwikkel om visums by aankoms te kan uitreik.

“Baie lande doen dit só. Gigaba is gretig om vernuwend te dink hieroor, ek sien hom nie as ’n struikelblok nie.”

Nie meer nie.

Dis skaars vier maande (“was dit in Januarie, Februarie, ek kan nie eens onthou nie”) sedert Suid-Afrika uiteindelik bevry is van Zuma. “Dit kon ons land soveel pyn gespaar het as dit

vroeër gebeur het.”

’n Jong Derek Hanekom tydens die End Conscription-veldtog (ECC).

Derek Hanekom kry krediet daarvoor dat hy die man is wat einde 2016 die gety teen Zuma laat keer het op ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK).

Hy was die eerste in die NUK met ’n beroep op Zuma om “die beste ding vir die land én die ANC te doen: tree uit.”

Hy het sy gewete gevolg, sê Hanekom, wel wetende dat dit politieke selfmoord sou wees.

“Dit was noodsaaklik, maar ook pynlik. Jy vra jou leier in sy gesig om te loop . . .”

Vir ’n swem tussen krokodille was Derek Hanekom egter nog nooit bang nie. Toe die polisie hom as jong aktivis voor John Vorsterplein tydens ’n kersligbetoging aanrand, het hy húlle aangekla en met die vergoedingsgeld vir hom ? koei gekoop . . .

Om Zuma te vra om te bedank, was net die begin. Sy gewaagde anti-Zuma- twiets het die (vorige) kommunikasieminister Mmamoloko Kubayi van verontwaardiging laat stik oor hy “sosiale media so misbruik”.

Hanekom is deur die Zuma-kamp daarvan beskuldig dat hy sy president wou verneder deur te weier dat hy op Ahmed Kathrada se begrafnis (Maart 2017) praat.

“As voorsitter van die Kathrada-stigting het ek net die wense van die familie uitgevoer.”

Die begrafnis het ontaard in die eerste openlike anti-Zuma-opstand. En die laaste strooi vir die president.

’n Nag later het Zuma vir Hanekom dramaties uit die kabinet geskop sonder om hom, soos gebruiklik, eers vooraf persoonlik in te lig.

Dit was ’n pynlike tyd, veral so kort ná Kathrada se dood, erken hy. Lag. “Het ek toe gestres gelyk? Dit was seker ’n verkoue, want ek was natuurlik allermins verbaas oor my afdanking.”

Die jag op Hanekom is daarna oop verklaar. Hy is afgedank as voorsitter van die ANC se dissiplinêre komitee. Edward Zuma het hom uitgekryt as ’n “wit Afrikaner-askari”, opgevolg met ANN7 wat later askies moes sê oor hulle hom ’n apartheidsagent genoem het.

Maar soos Pravin Gordhan het hy dit nooit eens oorweeg om uit die parlement te bedank nie.

Projek #CR17 was te belangrik.

Hanekom wil hom nie uitlaat oor die Zuma-faksie wat nou van die Ramaphosa-presidentskap ’n balanseertoertjie maak nie.

Ook nie oor Ace Magashule, Vrystaatse premier, se uitlating in Desember dat Ramaphosa net tydelik in dié pos is, nie.

“Dis nie my plek om iemand in die openbaar tereg te wys nie, maar dit wás ’n onvanpaste opmerking. Ek hoop hy besef dit self, want ons hét ’n konferensie gehad en daar wás besorgdheid oor alles wat in aanloop tot die konferensie gebeur en impak gehad het op die uitslae. Laat ek nie eens in daai rigting gáán nie . . .”

As minister van landbou en grondsake in die Mandela-kabinet het Hanekom die sooie gespit vir grondhervorming.

In November het hy van ’n verhoog af gesê daar sal geen grondonteiening sonder vergoeding wees nie.

Einde Februarie het hy gestem in ’n mosie om die Grondwet te verander om dit wél moontlik te maak.

“Ek het dit ondersteun, ja. Ek het my sê gesê in die debat by die ANC-kongres. Maar die kongresbesluit én parlementêre mosie was genuanseerd. Nie: ons gaan onteien sonder vergoeding, kom wat wil, nie. Niks is nog finaal nie.”

Dis ook nie nodig om die Grondwet te verander nie, sê hy. “Ons navorsing wys duidelik: om grond te onteien, en in sekere gevalle sonder vergoeding, is dit nie nodig om die Grondwet te verander nie.

“Verdere besinning hieroor is nou eers nodig. Ook regters het gesê ons het nog nooit die Grondwet hieroor getoets nie.”

Belangriker, nou, sê Hanekom, is die onteieningswetgewing. “Dit sal waarskynlik aangepas moet word om grondonteiening toe te laat in gevalle waar dit sonder vergoeding geregverdig is.

“Toe die DA-burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba, gesê het hulle gaan grond onteien, het pres Ramaphosa benadruk die magte van onteiening lê nie net by die nasionale regering nie, maar ook by plaaslike regerings.”

’n (Hoërskool) Jan van Riebeeck-boikie, noem hy homself. Sy ma was Engels, sy pa Afrikaans en tot 1969 ’n Nasionale Party-ondersteuner. Tot Distrik Ses gebeur het. “Ons is grootgemaak met die besef dat apartheid ongeregtig was.”

Hy is saam met sy vrou, Trish, in 1983 gevang en hulle het onderskeidelik drie en vier jaar tronkstraf uitgedien.

Sy mentor was die ou Robbeneilander, Laloo Isu Chiba.

“Toe ek in 1986 uit die tronk kom, het hy my onder sy vlerk geneem. Hy is minder bekend, maar hy was 18 jaar lank op Robbeneiland en is vir my die verpersoonliking van nederigheid en ekstreme dissipline.

“Hy het my geleer dat ons nooit moet moeg raak om onbaatsugtig te dien nie. Ek was lief vir daai man,” sê hy met ’n stem vol emosie.

As voorsitter van die ANC se dissiplinêre komitee het Derek Hanekom daartoe bygedra om die jeugliga-leier bekend vir sy ekstreme ondissipline in 2012 uit die ANC te skors.

En die bromance nou tussen einste Julius Malema en Ramaphosa, die geflikflooi om Malema te laat terugkeer na sy ANC-huis?

“Net soos partylede geskors kan word, kan hulle weer teruggenooi word. Maar . . . ek is baie bekommerd oor sommige van sy uitlatings.

“As openbare figuur is hy aanhitsend en verdelend. Dit help allermins ons nasionale projek om die samelewing te verenig en ’n gesamentlike visie te ontwikkel.”

Dit gesê, was Malema se geesdriftige ondersteuning vir die president tydens die staatsrede, vir Hanekom “lovely”.

“As Malema sy talente op beter maniere gebruik, minder kwaad wees oor alles, kan hy ’n groot bydrae tot die land maak.”

En só dalk eendag as ANC-president die volgende Zuma word? Hoekom duld die ANC enigsins sy rassistiese aanvalle?

“Ons het geen direkte beheer oor wat hy sê nie en kan hom dus nie teregwys nie. Dis makliker om iemand binne jou organisasie te mentor en te beheer as buite.

“Die laaste tyd was daar soveel wangedrag wat onder normale omstandighede dissiplinêr vasgevat sou gewees het. Noudat die stof rondom die nuwe president gaan lê het, gaan die dissipline in die party verskerp word. Ons sien reeds mense is versigtiger met wat hulle sê.”

Volgende jaar is Derek André Hanekom 25 jaar in die parlement.

Op Twitter volg jy ’n minister met hart en siel in sy portefeulje. Hy duik saam met haaie, spring van brûe af en bemark selfs Seepunt se sonsondergange.

#Mzansimagic, uiteindelik.

Meer oor:  Derek Hanekom  |  Anc  |  Kabinet  |  Minister
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.