Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Die Klipwerf-orkes

Die Hantam het sy musiek in die veld gekry. Tussen donkiebos en kraakbos en gannabos en kriedorings het oom Hentie-hulle saans saam met die skaapwagters in die takskerm gesit en kitaar tokkel.

Die Klipwerf-orkes in vrolike luim. Die orkes is 50 jaar oud en maak steeds musiek wat die stof laat opskop. Edwin Bradley, Gené van Niekerk, Kobus Visagie en Jacob van Niekerk was die afgelope week in Kaapstad om hul 32ste CD op te neem. Foto: Edrea du Toit

Om die vuur het die wysies gekom, met die skaap soos bleek vierbeen­spoke om hulle en die sterre ’n kombers oor hulle.

Kobus Visagie kry ’n ver kyk wanneer hy vertel hoe sy pa, die ou korrelkop-patriarg van die Klipwerf-orkes, sy liedjies tussen veldbosse met dansname loop haal het.

Gené van Niekerk, sy Klipwerf-mater hier langs hom in die ateljee, knyp sommer oë toe van lekkerte.

“Terwyl Kobus nou so van die bossies praat, rúík ek hulle. Skoon soos kruie, eie aan ons wêreld. Ons musiek is die Hantam en die Boesmanland waarvandaan ons kom.”

Van Klipwerf se Hantam-klanke is al 1,5 miljoen CD’s verkoop. Hulle is verreweg die suksesvolste Afrikaanse musiekgroep.

Hulle is vanjaar 50 jaar aan die musiek maak, en het al 2 miljoen kilometer vir optredes afgelê.

In die Visagies se huis op Calvinia hang ’n kaart waarin Kobus spelde gesteek het op al die plekke waar hulle al opgetree het. “Nou, dáái kaart is al voosgesteek . . .”

Ons gesels in die Milestone-ateljee in Kaapstad waar hulle die afgelope week besig was met opnames vir hul 32ste CD.

‘Die musiek laat hulle voel hulle kan maar net wees.’

Gené, baksteen-en-Mariebeskuitjie hoog, is die afgelope 20 jaar ’n Klipwerwer en vandag hier saam met Kobus loop die stories, en elke storie is 'n staaltjie . . . soos die een van Kobus wat op hoërskool vakansietye sawens op sy broer se meisie se trekklavier leer deuntjies maak het terwyl ouboet en sy meisie mekaar vuurwarm vry.

Eintlik het die musiek vroeër begin, onthou hy skielik.

In st. 2 of 3, wanneer die Visagies klaar geluister het na die nuus en treffersparade, “was daar niks verder op die radio nie, dan vat Pa die kitaar en bekfluitjie en ek sit voor hom op die tafel”.

Gené se talent kom van haar ouma Ella Swartjan, skrywer van die liedjie “Boesmanland” wat Worsie Visser later beroemd gemaak het. “Die Swartjan kom van my oupa, dit was sy bynaam. By my was dit dieselfde prentjie as by Kobus, ek het as dogtertjie by Ouma gesit as sy viool speel.”

Die jongklomp het altyd by die oupas en ooms op plaasdanse geleer, en so is die musiek deur die geslagte voortgeneem. Maar dié oorlewering is nou verby. Klipwerf gaan vir die volgende geslagte net bly voortleef in opnames met titels soos Hantam Vrolikheid, Hantam Kaperjolle en Hantam Moedskep.

Kobus: “My seun speel kitaar en goete, maar hy is baie besiger as ek met die boerdery. Ek was destyds die jongste in die orkes, nou’s ek die oudste, my pa en broer is albei dood.”

Die orkes ry meestal deur die nag na hul optredes. Die Klipwerf-bus is só ingerig dat twee orkeslede kan slaap terwyl die ander twee bestuur, “anders sal ons dit nie hou nie”, sê Gené.

“Donderdagmiddae vyfuur vertrek hulle van Calvinia en kom tel my op Upington op. Ons gooi brandstof in, eet gou hamburgers by die vulstasie, en dan begin ek en Edwin gewoonlik bestuur tot by Vryburg, waar ons iewers tussen twaalfuur en halftwee bene rek.”

Die roetine is ingeoefen.

Kobus: “Deur al die jare is ons sover ongeluksvry en jy moet die Here se genade daarin sien.”

Danspartytjies bly maar die lekkerste om voor te speel.

Kobus: “O, as daar ’n duisend mense voor jou dans, en jy maak vir hulle musiek . . .”

Gené: “As ons nader kom saal toe, begin jou hart klop in jou bors. Met die eerste noot spring daai mense op die baan. Dis soos ’n damwal wat breek. Jy kan dit vir geen mens beskryf nie, maar dis regtig iets magics.”

Kobus: “Behalwe op Calvinia, daar begin hulle eers by die vierde stuk dans.”

Gené: “So gewoond is hulle aan ons!”

Kobus: “So, nou begin speel ons sommer by die vierde stuk!”

Klipwerf het al by 27 Calvinia-Vleisfeeste gespeel, en hulle loop dit vir niks mis nie. Net 20 dae nadat Kobus vyf hart­vat­omleidings gekry het, was hy agter sy klawerbord vir die Vleisfees.

Hy kan my sy sny wys as ek wil sien, sê Kobus en knoop sy boonste hempsknoop oop sonder om te wag vir ’n antwoord, en wys ’n allemintige litteken. Die naweek voor sy operasie het hulle ’n groot optrede in Pretoria gehad. “Ek kon sien Kobus is bitterlik siek, hy kon nie eens sy arms oplig nie. Ons het hom net laat sit en speel.”

Kobus: “Toe ek die derde keer wil opstaan om mense te groet, het ek amper bo-oor hulle geval, so duiselig was ek.”

’n Lag trek droog uit daardie waenhuis van ’n borskas toe hy aankondig sy laaste liedjie eendag moet wees “Goodnight, Irene”.

“As ek agter my keyboard omval, sal ek tevrede wees. Maar nie nou al nie.”

Gené: “Nee wat, my laaste moet net ’n lekker Klipwerf-losgooistuk wees.”

Maar sy dood ook oor “Spanish Eyes”. Elke keer.

’n Instelling by Klipwerf nou al, is Gené se hand wat iewers gaan oplig met die wysvingertjie boontoe.

En dis nóg ’n storie. Een wintersaand by Carnival City ná die rugby op die grootskerm trek Klipwerf weg en die mense dans dat die graspolle spat.

“En ek kyk die mense so, en die Hoëveldse sterre en dink: Hoe sê ’n mens vir die Here dankie hiervoor? Want die musiek is in jou hart – dít is blessings, hoor. Ek kon nou nie daar op my knieë gaan nie, toe steek ek maar my hand op en iemand dink ek waai vir hom daar agter, en dis hoe dit begin het!”

As Gené deesdae nié haar hand opsteek nie, wonder die mense wat aangaan.

Die stories, al die stories . . . skud die twee saam kop met groot glimlagte.

Randfontein se meisie met die visnetkouse en die ballroom-skoene. En so klein skirtjie net van hier tot hier, wys Gené na haar heupe.

Kobus: “So ’n geletjie.”

Gené: “Met so ’n pienk zippie.”

Kobus: “En soos sy verby die tafels dans, gryp sy die mense se shooters. En toe sy hier by óns verbykom, is sy alte danig met Edwin (Bradley), hy was mos nou jonk en dis kuite en al wat ’n ding is. Ou Edwin het naderhand skoon skuins agtertoe gespeel.”

Gené: “Onthou jy die nag op Petrusville? Toe jy klop en klop by die hotel, maar daar is nie ’n mens nie!”

Kobus: “Naderhand bel ek die vrou, en sy sê die bakker, slagter, kok, barman en tuinier staan in die middel van die hoofstraat in die middel van die nag en wag vir julle, waar is julle?

“En ons sê ons staan in die hoofstraat, maar hier’s nie ’n siel nie.”

Toe kom hulle agter hulle is op die verkeerde Petrus – Petrusville, terwyl hulle op Petrusburg moes wees . . .

“Op Williston dans oom Izak, nog leliker as ek, hoor, met die vroutjie wie se man by die poskantoor werk. Daai tyd was kaalrug-rokke mode, en haar rug was heel kaal tot heel onder. En nou korrel oom Izak met die een oog hier oor haar skouer terwyl hulle dans. My pa se kitaarsnare was nie netjies kort afgeknip nie, en hy staan teenaan die dansbaan. En daar vat oom Izak sy draai te ver en daai meisiemens is in my pa se kitaarnek in, nè, en daai lang kitaarsnare steek haar rou op plekke waar sy nie gesteek wil word nie.”

By amper elke optrede is daar kinders met Down se sindroom. “Die Downsies vrek oor Klipwerf, blykbaar is dit die spesifieke ritme van ons musiek.”

Gené: “Ek het self ’n verstandelik gestremde seun met Williams se sindroom. As ek oefen, kom luister hy altyd. Ons het baie gespeel by die Alta du Toit-skool waar hy was, en ek kon sien die musiek laat hulle voel hulle kan maar net wees.”

Eintlik dans mense nie langarm op Klipwerf nie, hulle dans vasvat, want daar’s nooit genoeg plek op die dansvloer nie. En dis nie boeremusiek nie, dis dansmusiek, gaan luister maar, Klipwerf het nie ? konsertina nie.

Én daar’s ’n vrou.

Die mense het Gené aanvanklik skeef aangekyk.

Sy’t so gestres toe sy die eerste keer saam met hulle gespeel het, sy het drie kilogram in twee dae verloor, grinnik Gené.

“Toe ons daai eerste stuk speel, bewe my hande so ek kan nie speel nie. Maar Kobus het soveel begrip en ordentlikheid, daai man het nie ’n gesig op hom gehad nie, hy het net my klank so bietjie afgedraai. En toe ons die tweede stuk vat, toe vát ek hom. Gené, sê Johann daar van agter af, jy hou hom net daar, nét waar hy nou is . . .”

Toe Gené laataand stokflou terugklim in die bus, wag daar ’n blikkie koeldrank en ’n Lunch Bar op haar sitplek. “Is dit nie verskriklik ordentlik nie, wee-jy ek huil sommer weer daaroor.” En Gené gaan net daar aan die huil.

Doeriejare, in oom Hentie se tyd, het hulle altyd in die Kerkhuis in Bellville oorgebly. Een aand ná ’n optrede, was die seuns honger en hulle ry Voortrekkerweg af op soek na ’n eetplek.

“ ‘Moonlight’, sien ons in pienk letters teen ’n muur, en dog: dié plek het seker kos. Nou stap ons oor, maar my pa moan hier agter ons, hy wil net loop slaap. Maar ek en Johann stoot aan. Toe ons die deur oopmaak, sit hier ’n klomp meisiekinders op ouens se skote, en dinge is rof, en die rook hang dik, toe’s hierdie Moonlight ’n night bar club-besigheid en ek en Johann sit hom in reverse. Maar Pa stoot ons van agter af: Nee, julle bliksems, kom, gaan vreet nou!”

Toe oom Hentie op 95 bedlêend was, het hy die mense ge-order hy wil op sy regtersy lê sodat hy die Hantam kan sien. En so is hy glo dood.

Met die Hantam in sy oë.

Klipwerf is sonder tierlantyne, sê Kobus. “Dit wat jy het, dié gebruik jy. Dis ons en dis dit en ons deuntjies laat jou dans.”

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.