Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met die Steynvaarts

Dit was maar net ’n gewone skooldag. Die gewone gestoei om uit die bed te kom. Presies kwart voor ses, soos altyd, het Charmaine Steynvaart en haar Mieliemalie, soos sy haar meisiekind terg-terg noem, oor die veldjie gestap na ouma Poppie se huis.

“Ek moet nou sterk staan vir my kind. Maar ek het maar my moments,” sê Charmaine Steynvaart, wie se dogter Shamoné verlam geraak het toe ’n betonblok by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark op 1 Februarie neergestort het. Foto: Deon Raath

Daar kry Charmaine haar saamrygeleentheid werk toe, en Shamoné, nadat Ouma haar ’n stewige bord pap ingejaag het, word opgelaai vir skool.

Dié stappie oor die veld is gewoonlik ’n getjommel. Hulle twee kan góéd laf wees, sê Charmaine en haar oë blink sommer.

Stamp-stamp aan mekaar, gooi klippies na mekaar, of Shamoné, op 13 klaar groter as haar ma, kry ’n nuk: kom, jy’s vandag die kind, laat ek jou abba!

Shamoné is Kobus en Charmaine se enigste en alleste. Hulle kon net een kind hê.

Sy sal wat wil gee vir net weer één so oggend, sê Charmaine in die voorportaal van die Die Wilgers-hospitaal in Pretoria.

“Ek het nog R20 in haar kosbakkie gesit as ’n surpraais vir snoepie.”

Ma en kind, Charmaine en Shamoné, maar ook beste maats.

Dis nou ses dae nadat ’n betonblok op 1 Februarie neergestort het op 24 leerlinge van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark. Vier kinders is dood. Shamoné is van haar naeltjie ondertoe verlam.

Die gemeenskap het onmiddellik laer getrek om die families van die slagoffers. “Ek het nooit geweet ons mense kan só saamstaan nie.”

En dis oupas en oumas, neefs, niggies, dit voel asof die hele Vanderbijlpark hier in die hospitaalvoorportaal kampeer, almal is hier vir hul ou Sussatjie.

My hart gaan uit na daardie mammas en pappas. Ek het darem nog my kind. Wat sê mens vir hulle?.?.?.

Charmaine waai heeltyd vir mense wat verbystap. Terwyl ons daar sit, kom gee ’n Moreletapark-selgroep haar ’n troosdruk en ’n koevertjie “met ietsie”’. Cappuccino’s word anoniem in die saal vir haar afgelewer.

’n Vrou het na Jacaranda FM ingebel met ’n skenking van R200 000 vir die Steynvaarts en R500 000 vir die skool. Hul huis in Vanderbijlpark word ook “as geskenk” herbou om dit rolstoelvriendelik te maak, selfs met ’n hysbak van R400 000. Rolstoele is geskenk, ’n hoësorgbed . . .

Iewers, diep in die maag van die hospitaal, is haar meisiekind. Hulle hou besoekers weg, want dis op die oomblik ’n gestoei om haar koors gebreek te kry. Eers dan kan hulle haar na die Muelmed-hospitaal se rehabilitasie-eenheid skuif.

Die Hoërskool Driehoek se heining het ’n gedenkmuur geword. Foto: Deon Raath

In Muelmed gaan die werklikheid van ’n stukkende T7 in die oë gekyk word, die gebreekte werwel wat Shamoné verlam gelaat het.

Hoe vergruis een oomblik nie jou hele lewe nie.

Die CCTV-beeld by die skool wys opgewonde kinders wat onder die betonbrug deurstap. Die kameratyd 08:06:16. Die volgende oomblik word die skerm swart toe die kabel van die kamera deur die slag uitgeruk is.

Hein Knoetze, skoolhoof van die Hoërskool Driehoek by die betonblok wat neergestort het.

Vir vier kinders het die lewe om 08:06:17 ook donker geword.

Om 08:06:17 was Charmaine besig om ’n Freshline-trok se inhoud by die Euro Spar in Drie Riviere, Vereeniging, in te teken. Sy werk al 17 jaar daar as bestuurder by “Receiving”.

Haar kollega, Yianni Taglis, het haar oudergewoonte berispe oor sy al weer haar selfoon by die huis vergeet het. “Sê nou die skool soek jou, Charmaine, hê?”

Sy skud haar kop stadig.

“Hy was nog besig om my te skel, toe lees hy op sy selfoon van ’n ongeluk by die skool.”

Kobus Steynvaart: “Ek is stukkend oor my kind. Ek sukkel." Foto: Deon Raath

Charmaine druk haar hande teen haar wange, onthou die skrik van vooraf. “Ek kon nie eens Shamoné se nommer onthou nie. Toe ek haar uiteindelik gebel kry, was haar foon dood. Bel weer. Niks. Weer. Niks.”

Dis die oomblik wat elke ouer vrees, knik sy kop. En dit was besig om met haar te gebeur.

“My skoonsus laat weet: Gryp jou handsak en kom, jou kind het seergekry. Ek sê nog maar wat van die Freshline-trok . . . toe hol Yianni agter my aan met my handsak en skree: ‘Gaan soek jou kind!’

“My skoonsus het die #&% uit die kar gejaag Vanderbijl toe,” breek ’n glimlag deur. “Sy jaag soos ’n paloeka en ek bid onophoudelik liewe-Here-asseblief-kyk-na-my-kind.”

Sy druk die hartseer weg, amper verbete positief. Al wat nou tel, is haar kind. Al waarop sy voortjaag, is adrenalien. “Ek het my moments,” maar die hartseer moet wag. Dis vir later.

“Kom sit by ons, Kobus,” roep sy haar man. Koponderstebo kom sit hy op die voorportaalstoel, ’n fris bouer in ’n kortbroek, T-hemp en plakkies. Sy skouers hang. Hy kyk meestal af, hande styf teen mekaar.

“Kobus gaan staan maar in die hoekie en huil. Hy praat nie. Hy is net stil.”

Kobus: “Ek is stukkend oor my kind. Ek sukkel.”

Hy begin praat, haak dan vas. Begin weer, haak weer vas, altyd by dieselfde sin: “Ek is bang vir die eerste keer as ek my meisiekind in ’n rystoel gaan sien.”

Eers baie later kom die res.

“Ek hou my nou sterk, maar ek vrees daai oomblik van die rystoel. Ek dink ek gaan dan crack, en ek moenie, ek moet sterk wees vir my kind. Sê nou ek begin bitterlik huil? En ek gaan. En ek moenie. Ek kan nie my kind so sien nie.”

Charmaine: “En jy moet haar rondstoot. Maar sy gaan óns rondstoot . . .” probeer sy planmaak, en haak dan ook vas.

Om 08:06:17 was Kobus en sy broer Jan net om die draai van die skool besig om ’n dak te verf.

“Chané, Jan se meisiekind, het ons gebel en gesê ’n brug het op die kinders geval. Sy was histeries, want sy het oral rondgehol, maar kon Shamoné nêrens kry nie.”

By die skool het Kobus en Jan die mense gaan help om die betonblok te probeer oplig. “Ek het maar eenkant gaan staan, ek kan dit nie hanteer om mense so te sien seerkry nie.”

As die verpleegsters vir Shamoné omdraai en sy begin huil van die seer, loop Kobus uit die saal.

“Saans val ek doodmoeg aan die slaap, maar vyf minute later staan ek weer langs daai stuk concrete en sy lê iewers daaronder, en ek sien weer daai kindertjies wat ek gesien het. Ek kan nie ophou dink daaraan nie, ek wil mal raak daarvan.”

Die kinders se hande en voete wat onder die beton uitsteek, hul benoude roepe, een se laaste woorde ‘ek sien juffrou aan die anderkant’, ouers wat histeries rondhardloop, die harde stemme van dié wat ’n reddingspoging probeer koördineer.

Van die domkragte wat die onderwysers uit hul karre gaan haal het, het gebreek onder die gewig en later, met die sterker domkragte, moes hulle die blad gelyk aan alle kante probeer lig, anders gil die kinders aan die kant waar die blad op hulle afsak.

“As dit nie vir die flower-boksie was waarop die betonblok se een kant net-net geval het nie, was meer kinders daardie dag dood,” sê Kobus.

Een seun se selfoon in sy broek se agtersak is deur die rand van die vallende blad getref. Hy het die slag met millimeters gemis.

“Daar is nie ’n handboek vir sulke krisisse nie . . .” het ’n onderwyser vroeër vir ons gesê.

Kobus: “My broer het ’n kind se voet onder die beton gevoel. En hulle begin haar daar uittrek aan haar voet, en dis Shamoné, en toe lose ek dit en hol weg, bakkie toe. My broer bel my en sê ek moet terugkom, sy lewe. En ek gaan kyk. En sy lewe.

“My boetie is baie stukkend. Hy het haar maatjie Marli ook gekry, dink ek. Marli was nie so gelukkig nie,” bondel die woorde uit. “Shamoné het my vertel sy en Marli en nog ’n maatjie het langs mekaar geloop en tjie-tjie-tjie en verder weet sy niks.”

Marli en Shamoné was beste maats van gr. 1 af, nes Charmaine en Marli se ma, Annelie, ook van gr. 1 af vriende is.

Charmaine: “Soos hulle hul skoolloopbaan met handjiesvashou begin het, só was hulle tot op die einde.”

Kobus lig sy hand en druk sy wys- en middelvinger styf teen mekaar. “Ek en Sussatjie was nog altyd só.

“Toe sy begin praat, het sy my sommer Koos begin noem. By my kom sy met alles weg, al sê haar ma nee. Ek en sy speel baie putt-putt, ons het ’n gaatjie in die jaart en die een wat verloor, moet skottelgoed was. Ek verloor partykeer baie.

“Maar wat ek meeste gaan mis, is hoe Sussa vir Nero, ons baster-dobermantjie, soos ’n baba ronddra. Sy het ’n sagte hart, my kind.”

Hierdie ding wens hy nie sy grootste vyand toe nie, sê Kobus en sy oë skiet vol trane.

“Jy staan voor die MRI-screen en die neuroloog wys vir jou: hier en hier en hier, frakture, jou kind se werwel het vorentoe geskuif.

Charmaine: “Ja, maar hulle sê daar’s hoop, Koos! Die spesialis by Die Wilgers het gesê dis ’n baie lelike breuk, hy wil ons nie hoop gee nie, maar daar is altyd hoop.”

Kobus: “Jy wens jy kan jou kind se pyn op jouself neem. Maar jy kan nie, dis soos dit is. Dis eintlik ’n wonderwerk dat sy leef.”

Charmaine: “Agt ton . . . Ek sou ’n patty gewees het. Marli se ma vat dit baie sleg, ek het amper nie die moed gehad om haar te bel nie. Tot iets Sondag net vir my gesê het: Bél haar. Sy het so passionate uitgevra oor Shamoné. My hart gaan uit na daardie mammas en pappas. Ek het darem nog my kind. Wat sê ’n mens vir hulle . . .”

’n Glimlaggie. Ander dink seker ook: Wat sê ’n mens vir Charmaine en Kobus?

Shamoné wou heeltyd weet: “Is Marli orraait? Hoekom voel ek nie my bene nie?”

“Dan jok ek maar, want sy moes eers stabiliseer voor die volgende skokke.

“Toe die dokter dit vir haar uiteindelik sê, het sy só gehuil. Weg is haar drome. Sy wou ’n paramedikus of ’n nursie geword het, heeltyd Binnelanders, Chicago PD en Med gelê en kyk.”

Snags as die onrustigheid Shamoné pak en sy ruk wakker, is Charmaine daar om te troos: Ek is nie nou minder lief vir jou nie, ek is juis méér lief vir jou.

En dan hardloop die grappies weer tussen ma en dogter, die geterg en sel­fies met lawwe hand signs en Shamoné sê: “Oukei, ma, ek sal ma ’n lift gee op die rystoel as ons deur die veldjie ry na ouma Poppie toe.”

Meer oor:  Shamoné Steynvaart  |  Brugtragedie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.