Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met onnie wat elke dag vir 400 kinders kosgee
‘Kyk om jou en maak ’n verskil’

Terwyl die wêreld oor Kersfees afgeskakel en poedingbakkies vol trifle geskep het, het ’n jong onderwyser van ’n laerskool in Elsiesrivier elke oggend 08:00 by sy skool opgedaag en pap uitgedeel aan 400 honger kinders. Elke dag van die lang skoolvakansie was hy daar, ook smiddae met spaghetti bolognaise, met hoenderkerrie, borde vol gesonde kos.

Dillon Henwood, ’n onderwyser by die Laerskool Elnor in Elsiesrivier, Kaapstad, het die vakansie elke dag vir leerlinge kos gebring. Foto: Edrea du Toit

As die skoolhekke oor naweke en vakansies sluit, sluit die skoolvoedingskema ook en die kinders ly honger.

Toe Dillon Henwood, groentjie-onderwyser van die Elnor Primary School, dít besef, het hy plan gemaak.

Dit het alles begin by gr. 5E se moeilikste kalant. Hy was 13, 14 jaar oud al, so ’n klein maergat met twee druipjare agter hom en voor hom ’n lewe in die Horribles of die Terribles, die bendes wat Elsiesrivier regeer.

Elke keer as Dillon vir 5E se 42 leerlinge gesê het om te sit, het die kind bly staan. As hulle moet staan, dan bly hy sit. En dan, arms gevou, skouers uitdagend agtertoe, snou hy sy onderwyser toe: “Moenie vir djou djas hou nie, jou n****r!”

Maandag is baie kinders se oë vaal van die honger, dis asof hulle afgeskakel is.

Vir Dillon, vanjaar in sy tweede onderwysjaar, was die vuil taal só skokkend, hy bloos selfs vandag nog as hy daaroor praat.

Maar hy onthou ook die desperaatheid in die seun se oë. “Hy het die ander kinders se kos begin afvat. Naderhand het ek vir hom gesê: ‘As ek vir jou kos skool toe bring, sal jy ophou om die ander s’n te vat?’ Hy het woord gehou.”

Een aand in die Junie-vakansie het die seun uit die bloute vir Dillon ’n Facebook-boodskap gestuur. “Hy het iemand se selfoon geleen, en gevra of ek vir hom kos kan bring, hy het niks om te eet nie. Hy moes baie desperaat gewees het, want ons twee het baie in die klas koppe gestamp. Toe ek sê ek bring dit vir hom die volgende oggend, antwoord hy nee, vandag asseblief. Toe besef ek hy is baie honger.”

Dillon het laataand na die kind se blyplek gery in ’n baie onveilige gebied in Elsiesrivier. “Hy het vir my gesê hy het vier dae laas geëet. Hy bly saam met ses mense in ’n plakkershut, en het op ’n verflenterde gim-matjie geslaap, letterlik in die water, want dit het gereën. Ek kon nie gló ’n mens lewe so nie, net op ’n matjie op die vloer. Ek het daar uitgestap en gehuil op pad terug huis toe. Die volgende dag het ek vir hom my bed ook gevat.”

Dillon toe hy vyf of ses was. “My moeilike kinderjare het my ’n omgeehart vir kinders gegee.”

Hierdie onmoontlike kind, sê Dillon, se noodroep was die inspirasie vir die vakansie-eetprogram.

“Dit het my laat besef hoe dringend die kinders se behoefte is vir iets so basies soos voeding. Maandagoggend is baie kinders se oë vaal van die honger, dis asof hulle afgeskakel is. Ons is ’n geen-skoolgeld-skool in ’n uiters arm gemeenskap, in baie gevalle is kinders aan die hoof van die huishouding. Hier is straatkinders wat skoolgaan net vir die kos wat pouses uitgedeel word. Laas jaar het een van dié straatkinders in ’n opstel geskryf al waarvoor hy wens op aarde, is om by iemand te kan bly.”

En dié met ouers . . . “Laas jaar het ek op ’n Saterdag ’n ouervergadering gehad, ek het heeldag hier gesit en wag, net een ouer het opgedaag. Daar is bykans geen ouerbetrokkenheid nie. Jy kan vergeet dat kinders huiswerk doen, vergeet daarvan dat die konsepte smiddae tuis vasgelê word.”

Toe hulle ’n sokkerwedstryd tussen pa’s en seuns gereël het, vertel Mark Agulhas, Elnor se skoolhoof, het net drie pa’s opgedaag. “Dis ’n vaderlose gemeenskap, dié. Dis juis hoekom rolmodelle so bitter nodig is, mense soos Dillon. Dillon praat min, hy soek nie glorie nie, maar ek het lanklaas so ’n go-getter gesien. Ons moes einde laas jaar drie poste sny, en ek het baklei om hom te behou. Hoe kan ’n mens só ’n onderwyser verloor? Ek het hom aangestel oor hy wiskunde gee, ek het nooit besef ek kry ’n filantroop ook nie.”

Die verskil tussen geen respek en respek vir hom as onderwyser het gelê in ’n toebroodjie, sê Dillon.

In die hoek van Agulhas se kantoor is ’n stapel ou skoolskoene, geërf van ’n laerskool in ’n meer gegoede woonbuurt. Elke bietjie help.

Die skoolgeboue is 60 jaar oud, elke dag word die rommel, aangewarrel deur die Suidoos, opgetel. Die mure is 'n vars turkoois geverf.

“Stuk-stuk herstel ons die klaskamers” wys Dillon terwyl hy pouse-diens doen. “Dinge het ’n paar jaar terug maar beroerd gelyk, die skool was vir ses jaar onder kuratorskap. Rooivlag-skool, skool in die moeilikheid.”

Ook Agulhas het uit eie keuse van ’n gegoede skool af hierheen gekom. “Dit was vir my nogal ’n aanpassing, kan jy jou indink hoe erg dit vir Dillon was? Ons is reg in die middel van ’n bendegeteisterde gebied, maar hierbinne is die kinders veilig, ons betaal self vir veiligheidswagte. Bang kinders kan nie leer nie. Honger kinders ook nie. En . . . het jy ons nuwe opslaanklaskamers gesien?” spog hy trots.

’n Vriendin van Dillon, die Amerikaanse sangeres Stacy Francis wat in die Broadway-vertoning Footloose was, het spesiaal Kaap toe gevlieg om die skool te besoek. “Toe ek haar vertel van die moeilike omstandighede, het sy kom help. Dit beteken so baie.”

Dillon het Francis leer ken toe hy haar op Twitter gekontak het ná haar oudisie op The X Factor USA. “Ons het gereeld begin FaceTime en Skype en groot vriende geword. Sy het die musiekbedryf vir 12 jaar verlaat weens haar man wat haar onderdruk het. Ons praat byna daagliks met mekaar.”

Vir sy voedingsprojek het Dillon die nieregeringsorganisasie PWR Project genader. “Ons het laas week 650 kinders op een dag gevoed, ek sal nooit so iets alleen kan behartig nie. Hulle het die geriewe om die kos voor te berei, ek kry die geld en doen die aankope en deel die kos uit.”

Terwyl ons in sy klaskamer gesels, stroom sy leerlinge van laas jaar in om “sir” ná die vakansie te kom groet. “Hierie teacher issie beste,” sê een vir my.

Dillon staan kiertsregop, jy kan hom deur ’n ring trek. Dasspeld, blinkleerskoene, die blonde kuif teruggejel, toonbeeld, voorbeeld.

Die klas is kraaknetjies, plakkate waterpas, skoolbanke skoongeskrop. Hier kry jy nie iPads nie, dis kryt op bord, somme en letters.

Ná sy onderwysgraad by Maties het Dillon gekies om hier te kom skoolhou. “Ek het nie eens geweet waar is Elsiesrivier nie.” Hy het moontlike poste by Reddam House en Curro gehad, met ’n hoër salaris. “Maar toe ek Elsies kry, het ek gespring daarvoor. Ek wou myself uitdaag, ek wou nie my loopbaan begin by die skool met die beste geriewe nie. Ek wou diep induik, die hele onderwysding leer. Hier doen ons wat ons kan met wat ons het.”

Hanlie Retief

Die kinders wou aanvanklik niks van hom weet nie. “Ja, dis reg, nes hulle en hul matroostaal vir mý ’n kultuurskok was, só was ek vir hulle. Hierdie ryk wit man, wat soek hy hier? Toe ek begin borge kry vir boeke en skryfbehoeftes, het hul houding dieselfde bly. Eers met die vakansie-eetprogram kon ek begin sien nou verdien ek hulle respek.

“As die kinders sien jy doen moeite vir hulle, wen jy eintlik hulle respek so maklik, en dit wys net weer hoe ongelooflik vlak die desperaatheid hier lê.

“Die verskil tussen geen respek en respek lê in ’n toebroodjie.”

En 5E se belhamel? “Ook hy het handomkeer verander. Hy was van toe af gehoorsaam in die klas, en sy punte het van 1’s en 2’s verbeter, soveel dat hy sy graad heeltemal op sy eie geslaag het. Iewers laas jaar het hy vir my gesê ek is al een in die wêreld wat vir hom omgee. Dit slaan mens in die maag.”

Dillon het in sy eerste studiejaar op Stellenbosch besef onderwys is sy roeping. “Ek was nog nooit só vasberade om ’n verskil te maak as juis hier nie. Daar is ’n dringende behoefte aan passievolle onderwysers. Almal hier by Elnor deel dié passie, anders sou hulle nie hier gewees het nie.

“Ek is in Durban gebore. My ouers het geskei toe ek baie klein was. My ma het Kaapstad toe getrek, en ná hofbevele oor toesig heen en weer tussen die twee stede gependel. Ek was in nege of tien skole.

“Ek was baie skaam en het dinge beleef wat my as jong kind geskaad het. My eerste stiefma was nogal ’n boelie, en die familie-dinamika was moeilik. Ek het net al hoe stiller geraak.”

Sy ouers kon net vir sy eerste semester op universiteit betaal. “Ek het geweet ek gaan aanhou studeer, kom wat wil. Toe doen ek maar drie jobs gelyktydig én studeer.”

Hy het sy graad met onderskeiding geslaag.

“Dit het vir my gevoel ek baklei vir oorlewing, want ek kon partykeer nie kos, krag én huur bekostig nie. Vir dae aaneen springmielies geëet . . .My situasie was nie naastenby vergelykbaar met wat van dié kinders deurgaan nie, maar dit het my hart oopgemaak vir ander wat swaarkry. Ek verstaan die honger in ander se oë.

“Jy moet elke dag in hierdie 42 kinders se oë kyk voor jy werklik verstaan. En, soos ek sê, dit maak my net meer vasberade om ’n verskil te kan maak.”

Eintlik hoef mens nie ver te gaan soek om ’n verskil te maak nie, sê Dillon sag, emosie om sy mondhoeke.

“Kyk net om jou.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.