Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met dr. Liana Roodt
Die chirurg wat nie afstand hou
Dr. Liana Roodt. Die gemeenskapsdiensjaar waarna baie mediese studente so opsien, was een van die spesiaalstes in haar lewe, sê sy. Foto: Conrad Bornman

‘Ek voel as daar ’n ding is wat aan jou hart vat, moet jy iets daaraan dóén,” sê dr. Liana Roodt byna met ’n fluistering.

Ons sit in haar kantoortjie op vlak F17 in die Groote Schuur-hospitaal, by die algemene chirurgiesaal waar sy as chirurg werk.

Dis Woensdagmiddag.

Woensdagmiddae is moeilik.

Oor ’n uur gaan sy en haar span vir tussen 20 en 25 vroue sê: Jy het borskanker.

“Voor my sal ek – soos elke Woensdagmiddag – die hele spektrum sien van absolute gebrokenheid tot absolute ontkenning. Van dié wat jy nie weet hoe hulle by die huis gaan kom nie tot dié vir wie jy letterlik drie keer moet sê: Dis nou dít. En jy probeer as dokter om daai ruimte te hou vir daai mens, net daar te wees, hoe dit ook al vir haar uitspeel.”

Ná so ’n middag herinner ’n voos Liana haarself: volsirkel. Terug, weer, na die dag toe die ding die eerste keer aan haar hart kom vat het.

Sy was skaars mondig, ’n fyn swartkop in die lang gange van ’n staatshospitaal, besig met haar eerste chirurgie-rotasie. In hul derde jaar is mediese studente die eerste keer uit die lesinglokale en tussen siek mense in hospitaalbeddens.

“Dis waar jy die eerste keer regtig bewus raak van jou eie sterflikheid. Want jy is maar nog kind en niks berei jou voor vir dood en slegte nuus en hospitale nie. Ek was heeltyd moeg, want ek het met ’n beurs gestudeer en vir sakgeld die aande wat ek nie gespoed het nie, bloed getrek by ’n patoloog.

Daar was mense wat gesê het ek los ’n probleem op wat nie myne is nie. Maar natuurlik is dit, gesondheid is almal se probleem.

“So, jy werk vrek hard, jy is beïndrukbaar, dit het gevoel of ek met rou senuwees rondloop.”

Daardie dag stap Liana die saal af met haar blink stetoskoop en jas wat nog na winkel ruik. Tot by die vrou met gevorderde borskanker.

“Dit het net iets in my binneste . . . ek kon net nie nié omgee nie.

“Dis waar ek begin vrae vra het: Is chirurgie genoeg? Ek het begin lees oor ’n meer geïntegreerde benadering tot borskanker. Ek sou dit toe nooit erken het nie, maar ek was ’n bietjie oorweldig.”

Net daar is die saadjie vir ’n projek geplant wat nou mense se lewe red. Project Flamingo.

Ses jaar later, een aand by haar wynklub (“ons het maar ophou sê dis ’n boekklub, he-he-he, wie bluf ons nou eintlik?”) kla Liana steen en been by vriendinne omdat staatspasiënte met borskanker tot drie maande moet wag vir ’n mastektomie.

“Ek was toe ’n mediese offisier in chirurgie by die G.F. Jooste-hospitaal in Manenberg. Toe ek hoor hoe lank my pasiënte vir ’n mastektomie moes wag, was ek soos in, wát? Dis nie die hospitaal se skuld nie, dis ’n stelsel onder geweldige druk, daar is ’n ongelooflike tekort aan teatertyd.

“Chirurgie kom gewoonlik voor chemoterapie of bestra­ling. Om so lank met ’n kankerdiagnose te loop en daar gebeur niks . . . Ek kon net nie daarmee saamleef nie.”

Sy gaan vra toe vir dr. Lydia Cairncross, hoof van die Groote Schuur-hospitaal se borseenheid, om haar te leer om mastektomies in die kleiner G.F. Jooste-hospitaal te doen. “Dit is altyd net in Groote Schuur gedoen. Toe doen ek so twee, drie ’n week daar. Maar dis ’n druppel aan die emmer . . .”

Haar wynklub-pêlle daag haar toe uit: Wat dink jy sal die verskil maak? Meer teatertyd. Maar kom ons kóóp dan
teatertyd, sê hulle.

En: “Skryf jou oplossing in ’n e-pos, ons sal dit die wêreld instuur.”

Operasie Catch Up: operasies oor naweke en vakansiedae as die teaters leegstaan – en die dokters doen dit gratis.

En die e-posse vlieg. Voordat sy haar oë kon uitvee was ­Liana op Cape Talk. En die amaBele Belles, ’n draakboot-roeispan van vroue wat borskanker gehad het, spring aan boord. ’n Skemerkelkparty sorg vir die eerste paar duisend rand en hulle kies ’n vrolike naam (“dit was flaminktyd in die Kaap, daar’s so ’n drankie en dis pienk . . .”)

Vele onderhandelinge later kon Liana selfs die doemprofete oorreed.

“Daar was selfs mense wat gesê het ek bemagtig ’n disfunksionele stelsel, want ek los ’n probleem op wat nie myne is nie. Maar natuurlik is dit, gesondheid is ons almal se probleem.”

Project Flamingo se eerste teaterlys was in 2010, geborg deur die Belles.

Sedertdien kon hulle daarin slaag om pasiënte se teaterwagtyd te halveer. Die operasies kos minder as R4 000, teenoor die R30 000-plus in private hospitale. Hulle doen dit ook in kleiner hospitale, en die Tygerberg-hospitaal – waar die wagtyd vier maande was – is nou ook deel van die projek.

In haar kantoor is ’n stokou bedskerm met dik hospitaallinne wat sy iewers gaan uitgrawe het om haar doktersjas aan te hang. Groot houtletters spel HOPE teen die muur tussen ’n swerm fyn wit papiervlerkies.

Op Twitter noem sy haarself boeremeisie, dokter, dromer, ’n kaalvoet-
bome-omhelser. Óók lief vir hoëhakke – en wragtie, sy seil daagliks met ’n wye glimlag en ’n paar perfekte kuite op daai hakkies deur die 10 000 treë van die Groote Schuur se gange. Prof. Chris sou dit sekerlik waardeer het, maar sou sy hart dit hou?

Haar ganse familie is in Pretoria, in die onderwys: Haar pa is ’n opvoedkundedosent aan Tukkies, ma ’n laerskoolonnie, sussie en swaer onnies by Affies.

Sy het medies gaan studeer, want sy hou “rêrig verskriklik baie” van mense. “En ek het gevoel medies is die naaste wat ’n mens aan jou medemens kan kom.”

Die gemeenskapsdiensjaar waarna almal so opsien, was – vreemd genoeg – een van die spesiaalstes in haar lewe.

“Ek het verwag ek gaan oornag grys word daar in die klein distrikshospitaaltjie in Barberton,” lag sy.

“Toe ek die eerste dag Barberton in my Getz binne ry, op soek na die plek waar ek moes bly, bel die mediese superintendent en sê ry sommer direk hospitaal toe, die ou wat nagskof moes doen, kan nie.

“Wel, dan sê jy nie jy wil eers uitpak ná jou 1 400 km-rit nie. Jy gaan!”

Daardie selfde aand doen sy haar eerste keisersnee. Vingeralleen.

“Dit was óf ek óf niks anders nie. Dan hoop jy maar ek is nie erger as niks nie. Jy word in ’n nag groot . . .”

Stadsdokters vergeet dikwels hoe plattelandse medisyne werk.

“Dit was ’n kosbare jaar – met ’n tweerigtingradio in die bakkie distrikskliniek toe, dán narkose gee, dán bietjie chirurgie, dán ’n bietjie terapie . . .”

’n Mens leer jouself ken, voeg sy by. “Ook as dokter. Daar is baie te sê vir mediese volwassenheid – jy kan immers net sóveel in ’n boek leer, in ’n beskermde saalronde met jou professore.”

Almal het vir haar destyds gevra: Het jy jou varkies verloor om te gaan medies swot?

En as kinders nou kom raad vra, sê ’n deel van haar: Hardloop so ver jy kan. “Maar ’n ander deel sê: As jy dit in jou siel voel, dóén dit, want dit gaan jou nie los nie. Toe ek die eerste keer blootgestel is aan chirurgie het ek gedink, o, ek hou hiervan, báie. Toe sê almal weer: Chirurgie – het jy jou lááste varkies verloor?

“So, jy skuif dit agtertoe, maar dan kom dit weer, en dit het my só kom kry.”

Sy doen steeds haar “roepe” in
Groote Schuur se trauma-eenheid, trauma-chirurgie én borschirurgie. “Baie uiteenlopend, maar dis my twee skalpel-liefdes.”

Daar’s altyd gevalle wat in jou kop bly draai. “Soos die twee sussies, in hul 30’s, by wie weke uitmekaar kolonkanker gediagnoseer is. Dit het my lank gevat om die emosies daaroor te verwerk. Hulle het hul kerkklere aangetrek en so ver gery om die stadsdokters by die groot hospitaal te kom sien . . . dit laat my so klein voel.

“Daar is tye wat ek dink ek moet my afstand hou. En dan dink ek nee, weet jy wat, néé. Ek leer so vrek baie elke keer as ek bereid is om ’n bietjie oop te wees vir wat aan die ander kant van die tafel aan die gang is.”

Dis daardie dans waar medisyne ’n menslike interaksie word en nie net wetenskap nie.

“En dis tog op die ou end hoekom ek dit doen.”

Haar oë blink.

“Jy kom op die plek waar jy besef dat daar heling kan kom sonder dat daar genesing is. Jy kan dalk nie iemand gesond maak nie, maar jy kan hélp. As mense dit reg hanteer, vrede maak, ontdek hulle goed van hulself wat hulle dalk nooit andersins sou leer ken het nie. Dis seker nie almal se manier nie, maar dit anker my.”

So lank as wat sy kan, sal sy in ’n staatshospitaal wil werk. “Dis waar my hart is. Die tariewe in private medisyne skep vir my bietjie van ’n etiese konflik. Ek verstaan dis ’n sakeonderneming, maar mediese sorg is vir my ’n basiese mensereg. Sou ek nie meer ’n staatspos kon hê nie, is Project Flamingo dalk ’n manier om op grondvlak steeds ’n verskil te maak.”

Sy sê dit liggies, op haar fyn manier.

Wat bring die balans? Maak haar gelukkig? Ag, maklik. “Om bene oor Wynand (haar kêrel) se skoot gedrapeer te sit met ’n goeie glasie rooi en die ure om te gesels en lag. Boomklim. Skaaptjoppies en braaibroodjies. En boeke. Baie, baie boeke!”

En mense. Dié wat sy kan gesond maak, en dié wat sy net kan help.

Kyk Woensdagaand om 20:30 na Bobby en Karlien se In jou skoene(via, DStv147) en sien hoe Karlien die pad saam met Liana, haar skalpel en Project Flamingo stap.

* Sondagaand om 20:30 gesels Mimi Coertse oor haar hoë note in ’n Halfuur met Hanlie.

* Dinsdagaand om 19:30 is dit die 007 van Afrikaans, Japie Gouws van die ATKV, se beurt.

Meer oor:  Dokters  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.