Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met dr. Miles Bartlett
Dokter Redder

Twee vaal deure in ’n hospitaalgang skei twee wêrelde.

Dié kant, waar ons sit buite die waakeenheid vir kinders in die Garden City-hospitaal, Johannesburg. En agter die deure, ’n heelal van stukkende kinders.

Dr. Miles Bartlett van die pediatriese waakeenheid in die Garden City-hospitaal, in Johannesburg, een van min in die land wat spesialiseer in pediatriese noodsorg. Hy het sedert 2006 400 kinders wat verdrink het, behandel. Foto: Deon Raath

Skielik swaai die deure oop vir ’n hospitaalbed wat vinnig ingestoot word. Brandwond-kind, klein mummie in verbande, met net ’n stukkie wang wat uitsteek.

Dr. Miles Bartlett kom met lang treë uitgestap, deurmekaar kuif, driftig aan die praat oor sy selfoon, ’n bol adrenalien in ver-stap-sandale met effe voos wit kouse, ’n kortbroek en T-hemp met die Namibiese vlag en ’n pediatriese stetoskoop om sy nek. En dan glip hy weer terug. Noodgeval.

Ons wag vir hom, op hierdie stoele waar Ingrid en Edmund Senekal op 22 April 2012 gesit en bid het terwyl hy daar binne baklei het vir hul kind se lewe. “Dit was twee weke voor Bart se eerste verjaardag. Hy’t onder ons oë verdwyn en ons het hom 15 minute lank gesoek voor ons hom op die swembadbodem gekry het.”

Bartlett kon hom ná drie ure stabiliseer, maar dinge het nie goed gelyk nie. “Die statistieke was teen hom: hy’s ’n seuntjie – dogtertjies vaar heelwat beter in só ’n situasie – sy pupille was vergroot en sy suikervlak hoog. Al voordeel was die koue water. Bartlett se woorde was: hy kan nie vir ons hoop gee nie, hy kan net vir ons vra om te bid.

Ná vier ure van KPR het ’n? kollega kom vra, wat dink jy doen jy, die kind is dood.

“In die kritieke tyd langs my seuntjie se bed, het dr. Bartlett nie vir ’n oomblik sy cool verloor nie. Toe die alarms eenkeer afgaan en almal op Bart afstorm, het ek histeries geraak. Hy het vir my gesê wees rustig, dis net masjiene, hý monitor vir Bart. Hy maak nie geselsies nie, hy’s baie klinies, ja, eintlik nogal bot, maar daai man het nie ’n oomblik ophou baklei vir ons kind nie.”

Bart is vandag ’n blakend gesonde, woelige gr. 2-kind.

Die brandwond-slagoffertjie Pippie Kruger was ook Bartlett se pasiënt. Haar ma, Anice, raak skoon emosioneel as sy oor hom praat. “My eerste indruk van dr. Bartlett was minder as niks! Hy’t net gesê ‘die pasiënt’ gaan doodgaan. Toe sê ek vir hom: Gaan maak my dogter reg, ek wil haar huis toe vat! Maar . . . ja, hoe sê ek dit anders, as net: ek het heeltemal verlief geraak op daai ou man, hy’t my hele hart gesteel.

“Pippie was 185 dae lank in sy saal. Jy sien hoe moeilik dit vir hom is om nié persoonlik betrokke te raak nie. Hy het op die einde net nog een van haar pappas geraak. Sonder dr. Bartlett was Pippie nie vandag hier nie.”

Meer as 400 verdrinkingsgevalle is sedert 2006 deur Bartlett se hande, met sy revolusionêre behandeling waarin hy die pasiënt se liggaamstemperatuur verlaag tot 34 °C om breinskade te voorkom. Hipotermiese behandelings is in die 1950’s gebruik deur liggaamstemperature te verlaag tot 20 °C. Dis egter gestaak weens te veel risiko’s. Met sy eerste verdrinkingspasiënt het Bartlett in 1991 – weer aan die weier om 'n desperate geval te verloor – ? minder ekstreme 34 °C-verkoeling probeer, met dramatiese resultate.

Bart Senekal was vir vyf dae afgekoel tot 34 °C om breinskade te voorkom en onder verdowing geplaas.

Sy tweede geval laat hom nou nog kopskud, want die 18 maande oue Matthew Everett was eintlik nie veronderstel om te lewe nie. “Dán kry ek sy hart aan die gang, dán stop dit weer. Ná vier ure van kardiopulmonêre resussitasie (KPR) het ? kollega kom vra, wat dink jy doen jy, die kind is dood. Ek onthou die reguit lyn op die monitor, hoe ek gebid het: Here, nou móét U help, ek gaan nog net één keer probeer. En daar begin Matthew se hart klop. Ek kan nié in hierdie werk wees en nie glo nie.” Hy lag. “Die suster het my een kyk gegee en gesê: Nou’t jy van hierdie kind ’n koolkop gemaak.”

In 2011 stap Bartlett een middag sy spreekkamer binne, fronsend vir ’n jong man en sy ma wat sit en wag, want verdomp, hy sien kinders, nie uitgegroeide seuns nie!

“Toe’s dit die einste Matthew, met vakansie uit Engeland waar hy lugvaart-ingenieurswese gestudeer het. Hy het kom dankie sê. My antwoord was: moenie my bedank nie, bedank die Man daarbo, Hy het ? plan met jou.”

Matthew se foto het 'n spesiale plek op Bartlett se lessenaar.

Vurig vertel Bartlett hoe hy baklei vir meer pediatriese waakeenhede in Suid-Afrika. Dié eenheid is die enigste in Johannesburg. “Dis wêreldwyd bewys dat kinders wat behandel word in ‘volwasse’ waakeenhede deur pediaters wat nie intensiewe sorg-spesialiste is nie, en verpleegpersoneel wat nie kinders ken nie, ’n veel kleiner kans het op herstel.

Bart is nou in gr. 2. “Hy is blakend gesond, ons klein wonderwerk,” vertel sy ma, Ingrid.

“Toe ek dié eenheid begin het, was ek die pediaters se openbare vyand nommer een. Hulle het gesê ek steel hul pasiënte. Ek kon dit nie verstaan nie, want ek kry hul pasiënte in ’n beter toestand, húlle hoef nie snags te werk nie, jimmel ek bly omtrent in hierdie saal, ek slaap sommer op die ondersoekbed as die kinders onstabiel is.”

Gelukkig is daar nou beter bewustheid van pediatriese noodsorg, sê hy.

Hy en sy span weet al, teen Septembermaand raak hulle uitgebrand, want dis trauma ná trauma in hierdie saal. “Weet jy hoe oud is ek? Al 72! Dink jy ek kan 'n vrou hê met dié lewe? Huh-uh. Lankal geskei. My kinders sê ek is liewer vir hiérdie kinders,” wys hy om hom, “as vir hulle, en dis seker waar.”

Deesdae steel hy vir homself ’n week elke maand by sy huis in Windhoek. Dis sy wêreld, hy is op ’n plaas in die Khomas-hoogland gebore.

Maar eintlik is dié rye beddens Miles Bartlett se enigste heelal.

“Die beste ding in die wêreld is as ek gelukkig genoeg is om ’n kind aan sy ouers te kan terugbesorg, genees, nadat die kind rêrig, rêrig kritiek was. Dis wonderlik hoe kinders terugbons.

“Die karaktertjie in die hoek daar”, wys hy, “die pa het ’n mediese probleem gehad, en toe jaag sy vrou na hom toe, maak ’n ongeluk, die kar rol en die kind het onder die kar beland. Kopbeserings. Albei sy ouers is in die hospitaal en hy’s angstig, en ek sit nou maar baie daar en gesels met hom.

“Ek ys altyd vir egskeidingsituasies, want dan wil die ma nie hê die pa moet die kind sien nie, maar die kind is kritiek. Ons probeer met die ouers praat, maar dit raak wraaksugtig, met die kind in die middel.

“Ná alles wat ek al hier gesien het, voel ek nogal jong mense behoort ’n eksamen te slaag vir ouerskap. As hulle druip, moet mans gekastreer word!” Hy lag. “Verwonde kinders word verwonde grootmense. My ouers was wonderlik, en my ma het mooi na ons omgesien, maar sy was ’n alkoholis en dit was aaklig. Kinders soek net liefde en aanvaarding. Moenie te veel vir hulle doen nie, want dan verloor hulle die vertroue dat hulle self dinge kan doen. Wees versigtig hoe jy met hulle praat, dis so maklik om ? kind se selfbeeld te knou.”

Met uiters slegte prognoses moet die ouers besluit of die span aktief betrokke moet wees om die kind te probeer red. “Geen ouer het nog ooit gesê ek moenie aktief betrokke wees nie. Ek sien die hoop in hul oë. En die ma’s wat nie opgee nie, dis gewoonlik die kinders wat ons deurtrek.”

En as die kind daarna erg gestrem is?

“Dan is dit te laat, want sodra ons lewe terugkry, is dit by omdraai verby. In een geval was die uitkoms regtig sleg. Ek vra die ma: moet ons jou kind vir rehabilitasie stuur? Nee, sê sy, sy’t gesê sy soek haar normale kind terug. Sy het hom na ’n hospies geneem en hy is drie, vier ure later dood. Wat sê jy vir sulke ouers? Dis hul reg. Ek kan niks op hulle afdwing nie.

“Jy weet dit gaan die gesinsdinamika vir altyd verander. 'n Pa het vertel sy dogtertjie was by toe haar boetie verdrink het. Sy vrou het die dogtertjie blameer, die kind moes hoor: Jý het jou boetie laat verdrink. Vandag is die meisie ’n dwelmverslaafde. Kinders is nie ander kinders se verantwoordelikheid nie, dis die grootmense s’n.”

’n Kind wat sy held geword het, is klein A, erg gestrem ná ’n slegte verdrinking. “Hy’s rehab toe, ek het nie hoop vir hom gehad nie. Later vertel ’n kollega hy’t begin praat en hy skop selfs bal. Toe ek hom weer sien, het hy vir homself gebaretaal aangeleer, en volpunte vir sy gr. 7-wiskunde gekry. Hy en sy gestremde pel ry stampkarre en geniet dit gate uit. Ek het hom gevra hoe hy voel as mense hom jammer kry.

“Toe wys hy in gebaretaal: hulle is stupid. Hy klink deesdae soos Stephen Hawking en gaan in Engeland verder studeer. En sy drome? Hy wil graag kan praat, loop, trou en kinders hê.”

Oop swembaddens maak hom angsbevange. “Wat is belangrik met verdrinkings? Voorkom dit. Daar’s lae van veiligheid: die net, die heining, die hek wat outomaties sluit, bewegingsensors. Ongeag alles, verdrink kinders. Al wat werk, is . . .” sy vinger wys na sy oë, “kýk na jou kinders.

“Die ma gaan winkels toe, die bediende hou ’n ogie . . . een so ’n ma het haar kind yskoud, dood, in die wiegie gekry. Die kind is met ’n loopring die swembad in, en die huiswerker het nie geweet wat om te doen nie.”

Die vrywaringsvorms wat ouers moet teken voor skooluitstappies, laat hom ril. “Ek het al verdrinkings gehad by ’n renosterpark, ’n leeupark, een naby Sun City. Waar was die onderwysers? In een geval het die kinders bo-op die kind op die bodem getrap. Waar laat dit hierdie arme ouers? Hulle het die skool vertrou om na hul kinders te kyk.”

Eintlik kan Miles Bartlett homself nie keer nie, hy’t tot vier jong Afrikaanse bedelaars wat altyd by die hospitaalhek gestaan en bedel het, onder sy vlerk geneem, want hy wou sy geliefde Afrikaanse oupa eer.

“Die Afrikaanse kant van my familie het soveel waardes, daar’s soveel liefde. Ek wou dit vir my oupa doen, maar twee van die vier is intussen dood, een is nog op dwelms en die ander een, wel op hom sou my oupa baie trots gewees het.”

Nee, hy’s regtig te erg, lag hy, hy is ’n reddelose redder, hy hou aan baklei waar hy lankal moes ophou.

“Hoe anders? Dis net . . . jy sien dinge in hierdie saal wat jy nie kan verklaar nie. Jy doen als wat jy medies kan, daar’s amper zero kans vir oorlewing, en dan herstel hulle. Ek glo daar is meer as net medisyne. Op die ou end is dit alles die moeite werd. Jy kan nie ’n prys op ’n lewe sit nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.