Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met ds. Kenny Pritchard

Die streep laatmiddagson wen net-net teen die duister in die kerkgebou.

Ons kan hier foto’s neem, want ds. Kenny Pritchard het “darem nog die sleutels” nadat hy laas week as NG Kerk-leraar afgedank is.

Ds. Kenny Pritchard is uit die NG Kerk se bediening ontslaan oor hy grootgedoop is en sy oortuigings oor die doop in stryd is met die van die kerk. Foto: Edrea du Toit

Stroef sit hy in die lang kerkbank soos ’n Voortrekkerleier met die gewig van die Drakensberge op sy skouers.

Maar dit, liewe gemeente, blyk ’n vergissing te wees.

Want dit gaan eintlik verbasend goed, verseker hierdie dominee my met oneindige sekerheid. Hy is nié Job nie.

Dat die ring hom pas uit sy amp onthef het oor hy hom nie neerlê by die NG Kerk se leerstelling oor die doop nie, dié het hy lankal verwag.

Ek en my vrou, Mariska, is opgewonde oor waarheen die Here ons stuur. Daar is heelwat opsies.

“Voor hierdie storie begin het, het ons lankal geweet hoe dit gaan uitdraai. Ek en my vrou, Mariska, is opgewonde oor waarheen die Here ons stuur. Daar is heelwat opsies.”

Ons gaan sit in die skemer sitkamer en sy woorde val gedrewe, ’n profeetstem veel ouer as sy 31 jaar.

Deur die kantgordyn waai die laatmiddagwind herfsblare rond oor die kerk se leë parkeerterrein.

Hier binne is dit pastorie. Gebruiklike bal-en-klou. Droë rangskikking op die koffietafel. Blou kleedjie met ’n potplant op ’n ronde sytafeltjie.

“Ek is lief vir die gay mense, maar hulle mag dalk dink ek is nie. Ek wil hulle help.” Foto: Edrea du Toit

Jy moet jou oë twee keer knip, want dis amper ’n Saulus-Paulus-storie dié, want skaars tien jaar gelede was Kenny Pritchard met lang hare en backtracks ’n ontluikende Afrikaanse popsanger op KKNK- en Aardklopverhoë.

Laat ons nou maar nie dáárop ingaan nie, keer hy vinnig. “Dis al amper uit my geheue.”

Ds. Kenny se onbehaaglikheid oor verskeie aspekte van die NG leringe kom al ’n lang pad. Reeds as teologiestudent het hy van die kerkleer verskil, oor verskeie aspekte. Sy insigte oor die doop het wel eers gekom nadat hy gelegitimeer is.

“Dit was maar rof gewees, die studies. Ek het nie regtig met die teologie van die dag saamgestem nie. Ek kon nie daarmee relate nie. Dit het my... ingeperk.”

Sy pa, Ken Pritchard, Robertson-Oos se NG herder, “is ook nie in dié stadium gemaklik” met sekere rigtinge van die NG Kerk nie.

Ten spyte daarvan het die jong Kenny ewe dapper afstudeer, sy praktiese jaar in die NG gemeente Melkbosstrand gaan voltooi, in 2015 ’n beroep na dié gemeente aanvaar en is as hul predikant gelegitimeer.

Min het die gemeente egter geweet wat in die gemoed van hul herder broei.

’n Paar jaar gelede was Kenny Pritchard nog ’n ontluikende Afrikaanse popsanger. Sy passie is worship, sê hy.

Soos “die homoseksuele stroom in die NG kerk” waarmee hy hom nie kan vereenselwig nie. Eergister het die hof beslis dat die sinode se 2015-besluit wat gay predikante en gay-huwelike toelaat, weer geldig is nadat dit ’n jaar later herroep is.

Hy huiwer ’n oomblik. “Kyk, enigiemand moet in liefde in die kerk ontvang word. Maar . . . as iets nie reg is nie, moet ons daarteen praat en uit die Skrif is dit vir my duidelik hoe God oor homoseksualiteit voel.

“Ons weet dis ook nie net homoseksueel nie, dis LGTBI (lesbies, gay, transgender, biseksueel en interseks), die hele groep. Waar trek mens in elk geval die streep?”

Hy sug. Die kerk moet wel nie sy rug draai op gay mense nie, maar as dit by kerklike ampte kom, is hy onverbiddelik. “Dan is jy in ’n leiersposisie waar jy ’n leefstyl en lering moet handhaaf.”

Vir ’n oomblik is daar ’n stilte tussen my en die dominee wat nie die kerk se lering oor die doop handhaaf nie.

Hy glimlag. “Ja . . . ek hou nie daarby met die doop nie, maar ter versagting dink ek die meeste Christene in die wêreld glo wel in die bekeringsdoop. So, ja. Die kerk se boodskap moet só wees dat dit jou lewe sal verander as jy ontvanklik is.”

Hy reken dus as ’n gay persoon ontvanklik is, sal hy straight draai?

Inderdaad, knik hy. “Daar is ook ’n geestelike wêreld betrokke. As ’n homoseksueel weet en glo dat hy ’n nuwe skepsel is in Christus, kán hy verander.

“Kom ek sê so: Die gebrek aan fokus op wat in die geesteswêreld aangaan, en geestelike realiteite soos demoniese aanvalle, was ’n groot leemte in my studies.”

Geen súlke onderrig ontvang nie, skud hy sy kop.

“Mense in party kerke is rêrig onkundig oor wat in die geestelike ’n saak van geloof is. Hoe bewys jy dit?”

Dié geestelike oorlog betrek ook gays, reken hy. “Daar is definitief sulke konneksies, ja. Ek sê nie elke geval is so nie.”

En . . . “Ek is lief vir die gay mense, maar hulle mag dalk dink ek is nie. Ek wil hulle help.”

Om tot ander insigte te kom? “Nie net hulle nie, die gays is nou maar net die topic van die dag. So ook wil ek byvoorbeeld mense help wat in vrees en bitterheid lewe, want as vrees jou leefwyse is, mis jy die koninkryk van God, want jy was nooit gewortel in God nie.”

En kwaadstokers . . . Hy sidder as hy dink hoe mense op sosiale media aangaan. “Hulle beweeg op gevaarlike terrein.”

Eintlik wou hy reeds lankal van die NG Kerk wegstap, behalwe vir dié dilemma: “Ek het vir die Here gevra: Hoe lank nog, Here? As ek wegloop, wie gaan die waarheid bring waarvan ek oortuig is?”

So ja, grootdoop was vir hierdie dominee ’n druppel aan die emmer.

Sy bekering tot die bekeringsdoop was geleidelik, vertel hy.

“Die mense wat my geïnspireer het om ’n meer on fire Christen te wees, was sonder uitsondering grootgedoop.”

Christo Nel, nog ’n verloopte NG predikant, se boek Waarheen met die Nuwe Wyn het hier op vrugbare aarde geval. Dit lê byderhand, op die sitkamerkas. Veel gelees, merk jy.

Saam met Christene van verskeie kerkgenootskappe is hy in 2015 in die Kaap gedoop, “sommer by een van hierdie winkelsentrums se swembaddens, waar hulle ook swemlesse gee”.

Woorde ontbreek om dié ervaring te beskryf. “Al wat ek kan sê – dit was ’n awesome experience.”

Hy het dit met sy medeleraars by die Melkbos-gemeente gedeel en kom toe met dié voorstel: dat hy aanbly as die jeugkoördineerder sou hy sy amp moes neerlê.

“Hulle sê toe dis nie nodig nie, hulle sal vir my cover – ek hoef nie kinders te doop nie.”

Nie dat dit vir hom moeilik sou wees om kinders te doop nie, “maar ek kan myself nie daarin uitleef nie”.

Enkele lidmate het geweet van sy grootdoop. “Ek het dit nie verkondig nie, nie gepreek oor die doop nie, maar dit was ook nie ’n geheim nie.”

En so, tussen bekentenis en verdoeseling, het die dominee voortgepreek en gekyk hoe lank hy dié NG perd kon ry voordat hy afgegooi word.

Dit het ook nie juis soos ’n swaard oor sy kop gevoel nie, sê hy met ’n skouerophaling. “Die NG Kerk is nie my huis nie, ek verbind my nie aan ’n denominasie nie.”

Hy is vir groter dinge bestem, is aan hom geopenbaar.

“Ek is nie ’n dienaar van die NG Kerk nie, maar ’n dienaar van die Here. Binne die kerk, buite die kerk . . .

“Baie ander NG dominees voel ook so oor die bekeringsdoop. Ek vermoed hulle hou maar vas aan salarisse en pensioene en dié tipe goed.”

En toe laat verkla ’n “minderheidsgroep in ’n gemeente-kommissie” hom by die ring.

“Die groepie het hul eie vendettas. Hulle was so agteraf, alles was reeds afgehandel toe die gemeente en kerkraad laas week daarvan gehoor het. Dit was vir almal ’n absolute skok.”

Dié groep het hom twee jaar gelede ook probeer uitwerk, sê hy. “Die at-mosfeer was vyandig. Ek het hulle probeer vermy. As pastoriekind verstaan ek darem kerkpolitiek.”

En, sê hy gedrae, hy kyk geestelik daarna. “Christene is in ’n geestelike oorlog, of hulle dit nou wil weet of nie. So. Daar is forces wat deur mense werk. Ek kyk nie na die persoon nie, ek kyk na wat daaragter manifesteer.”

Wat toe wel manifesteer, is dat die groepie Melkbos se nuwe brugleraar bearbei het.

“Toe hy van my grootdoop hoor, vermoed ek, het hy dit as sy plig gesien om dit by die ring aan te meld.

“Die ring se regskommissie het die bal teruggegooi kerkraad toe, maar nog voor dit by die kerkraad kon dien, was ek weer aangekla en dié keer, obviously om dinge ernstiger te maak, is die sinode betrek.”

Die ring en sinode het hul afvallige broeder in liefde hanteer.

“Absoluut. Ons predikante sien om na mekaar. Die ring lyk nou in die koerante soos die slegte ouens, maar hulle moes maar net hul job doen. Van hulle was ontsteld hieroor, maar hulle kon niks doen nie. Ek was skuldig, ek het my kontrak verbreek.”

Die reaksie op sy afdanking was geweldig, sê hy. Dominees wat ook uit die amp is oor die doop, het hom gewhatsapp: Jy het die regte ding gedoen, hou aan.

“Wat in my hart is, weet ek is real, ek het nie hul bevestiging nodig nie, maar dis nice dat daai support daar is.”

Soos baie gemeentelede kan sy pa ook nie verstaan dat hy ontslaan is oor iets soos die doop nie. “Maar hy sien ook waarheen die NG Kerk beweeg, en eintlik is hy bietjie verlig en dankbaar dat ek nou weg is.”

Stewig agter hom staan Mariska, self ’n AGS-pastoor. Dié twee het ontmoet toe sy uitgebrand het ná jare in die AGS-bediening en as assistent-skriba by Melkbos se NG gemeente kom werk het. “By ’n selgroep-byeenkoms het die Here aan my openbaar: Dis jou vrou wat oorkant jou sit.” Mariska het dié teken reeds maande vroeër ontvang, en toe was sy reeds opgetoë met haar jong dominee. Die twee is in die AGS-kerk getroud.

“Ons het ál twee geweet ons gaan nooit kinders hê nie, ons het ’n spesifieke calling op ons lewe. Ons sien onsself rondbeweeg om die evangelie te verkondig.”

Waarheen dié roeping hulle nou vat, kan hulle nog nie openbaar nie.

Einde Maart laat hulle Melkbos se gemeente agter. Van hulle, ontnugter en ontredderd. Op die kerk se Facebookblad sê ’n gemeentelid sy het meer by hom geleer in die afgelope vier jaar as haar 74 vorige jare.

Ja, knik hy, hy weet gemeentes het al oor dié soort ding geskeur.

“Met die Hervorming was daar ook ’n skeuring. Dis sleg, maar ten goede vir openbarings en mense se oë wat oopgaan.”

Ds. Kenny was besonder geseënd om in sy vyf jaar in Melkbos en sy tyd op teologieskool nie deur veel geestelike worstelings te gaan nie.

Ja, skud hy sy kop, die weg was altyd duidelik, die Stem altyd glashelder.

So anders as die wroegings van Dawid, van Jeremia en van Job.

Meer oor:  Kenny Ptitchard  |  Ng Kerk (Ngk)  |  Homofobie  |  Bekeringsdoop  |  Grootdoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.