Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met ds. Tewie Pieters

Hulle noem hom die moruti van Coligny.

Jy kan preek tot jy blou is, maar iewers moet ’n ou iets begin doen, het ds. Tewie Pieters besef toe hy Voortrekkerstraat afstap op pad na ’n soveelste vredesgesprek, en om hom lyk die dorp so gehawend soos sy inwoners se verhoudinge.

Die moruti van Coligny: Ds. Tewie Pieters van die NG kerk Coligny-Oos. Op hierdie pad, op hierdie draai net buite die dorp, was daar op 20 April 2017 drie slagoffers. Matlhomola Moshoeu het nadat hy sonneblompitte gesteel het, sy lewe verloor. Phillip Schutte en Pieter Doorewaard is skul­dig bevind aan moord. Foto’s: Deon Raath

Dit was ses maande nadat Coligny op 20 April 2017 uitmekaargeruk is nadat ’n seun onder fel omstrede omstandighede dood is.

“En ’n onreg homself begin uitspeel het toe twee Coligny-rolmodelle vir die seun se moord aangekla is.”

In dié stadium was die vredesforum, gelei deur ds. Pieters van die NG gemeente Coligny-Oos en biskop Paul Verryn van die Metodistekerk, goed op dreef – brugbouers van ? brose vrede.

“Vir die eerste keer was daar ’n plek waar jy kon sê hoe jy voel sonder dat jy ’n klip hoef te gooi of ’n pad versper. Mense kon om ’n tafel vir mekaar sê dít en dít werk nie in óns gemeenskap nie. Ons het mekaar leer verstaan, alles is gekanaliseer tot hierdie proses van begrip en luister en omgee. Party dae was daar letterlik net tien mense, so klein het dit begin.”

En toe word dit tyd vir doen.

In Voortrekkerstraat het die middeljarige moruti met sy kweekskool-glimlag besef dis tyd vir Coligny se nuwe b(l)aadjie.

En ek sê ag, ek het so gehoop die kerk maak ’n verskil in ons stukkende wêreld hier. En ons het hierdie praatproses en dis letterlik net ek uit die wit gemeenskap. So, nou plant ek maar ’n boom, want dis maklik om ’n boom te plant.

“Ek het die APK, Hervormdes, die twee NG gemeentes en die AGS gevra om elk ’n deel van ons dorp op te knap. Ons sou mekaar die oggend op dáárdie hoek kry,” wys hy met ’n tam grinnik.

Niemand het opgedaag nie. Nie eens sy eie gemeente nie.

“Die koöperasiebestuurder oorkant die straat het my so gekyk en gevra: Is jy moedeloos? Nee, sê ek, al vat dit drie jaar, ek gaan hierdie vrededing doen, want ek sien hoe kom die verandering.”

2017 – Coligny se katarsisjaar – was ook Martin Luther se 500ste gedenkjaar. Ds. Tewie onthou toe skielik wat dié kerkleier gesê het: As ek één dag op aarde oor het, sal ek ’n boom gaan plant.

Hy gaan haal toe een van die jong witstinkhoute op sy werf wat hy “al mooi hoog gekry het” en gaan plant hom by Coligny se ingang.

Witstinkhoute is nie vol fiemies nie, het hy gereken.

En toe plant hy nog een. En nog een.

“By die 80ste boom hou Henk Myburgh, die afgetrede posmeester, stil en vra hoekom doen ek dit. En ek sê ag, ek het so gehoop die kerk maak ’n verskil in ons stukkende wêreld hier. En ons het hierdie praatproses en dis letterlik net ek uit die wit gemeenskap. So, nou plant ek maar ’n boom, want dis maklik om ’n boom te plant.”

Henk begin toe water vir die bome aanry.

Ds. Tewie Pieters: “Terwyl 40 van ons die Lutherse, Anglikaanse en AMC-kerk verf, staan 100 mense daar en sing vir ons.”

Ds. Tewie se volgende teiken was ’n ou waenhuis, ’n onooglikheid in Voortrekkerstraat.

“En ek gaan verf hom. Sommer net.”

Oom Roelf Geldenhuys van Geldenhuys Trekkers hou stil.

“Seun, wat doen jy nou?, en ek sê as ek hier klaar is, vat ek dáái gebou wat so afdop. Die volgende dag bel die koöperasiebestuurder en sê oom Roelf sê jy moet 20 liter verf kom haal.”

Só het dit begin, vertel die moruti en wys na die middelmannetjie in Voortrekkerstraat.

“Ek het die kweek en bloudissels gaan uitspit. Toe kom Agnes van Jaarsveld, ’n boer se vrou, en sy neem dit verder en plant die middelmannetjies tot anderkant uit.”

Bella Lemotlo van die vredesforum bekyk dié moruti se dinge en sê vir haar spannetjie in Tlhabologang: Ons het nie werk nie, ons lewe is sleg, want ons lê en sit net. Ons kan maar netsowel verf en plant soos die moruti, al kry ons nie geld nie, hy kry ook nie geld nie.

Naderhand was Bella se “spannetjie” 600 sterk en Tlhabologang se skoolterrein was vir die eerste keer in jare skoon.

En moruti Tewie het bietjie verf oor en hy takel die winkeltjies van die Bangla­desjers en Pakistani’s wat die ergste deurgeloop het in Coligny se 48-uur-anargie.

Volgende was die townshipkerke. “Terwyl 40 van ons die Lutherse, Anglikaanse en AMC-kerk verf, staan 100 mense daar en sing vir ons.”

Hoofstroomgemeentes raak gebalsem in hul kerkgeboue, sê biskop Verryn.

Die kerk moet homself afvra: Wat gaan ons relevant maak? sê ds. Tewie.

“Is sending regtig net in Mosambiek of China? Is die uitdaging nie hier in ons eie gemeenskap nie? Moenie wag vir die krisis nie – dan moet jou netwerke en verhoudings reeds stewig wees. Ons het nie eens geweet wie is die kerk in Tlhobologang nie.”

Die plundery in die strate van Co­ligny was nog aan die gang, en nog voor die wit kerke begin wonder het wat om te doen, het vier swart kerke aan ds. Tewie se deur kom klop: Wat gaan ons kerke doen . . .

“Is dit nie ironies nie? En toe ken ons mekaar nie eens nie.”

Dat hy nie sy eie gemeente volledig kon saamneem nie, is vir hom ontsettend jammer.

“Dit het my ’n jaar gevat om te besef my gemeente staan nie agter my nie. Ek het regtig gedink my mense verstaan waarheen ons geloofsreis ons vat. Toe Jesus sy bediening begin, het Hy teen die berg opgeklim en lank gedink voor sy eerste preek: Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

“En dan sê Hy: Julle moet die sout wees en julle moet die lig wees. Dis wat ek vir my gemeente gevra het: Waarmee is ons hier in Coligny besig?”

Hy het in ’n stadium baie alleen gevoel, veral ná die kritiek op ’n Kerkbode-voorbladfoto van hom en die plaaslike EFF-leier.

“Dis verkeerd geïnterpreteer,” sê hy, “die EFF beheer die munisipaliteit, en samewerking was onvermydelik. Dit gaan tog oor die gemeenskap.”

Baie het dit egter nie so gesien nie.

“Vandag is dit gelukkig baie anders. My gemeentespan, van boere tot sakemense, help my.”

Waarmee die wit gemeenskap stoei, sê hy, is vertroue. “Hulle sê jy doen al die moeite, jy’t omtrent al die hele dorp geverf – hulle gaan dit maar net weer kom afbrand, soos die afgelope week in die hof gedreig is.”

Die spanning in Coligny loop nou opnuut hoog met Pieter Doorewaard en Phillip Schutte se vonnisoplegging ná hul skuldigbevinding weens die moord op Matlhomola Moshoeu.

As hy oor Doorewaard en Schutte praat, raak ds. Tewie snaarstyf.

“Al drie van hulle is Judasbokke. Hoe tragies is dit nie dat ’n kind so honger raak dat hy sonneblomsade moet steel. En Pieter en Phillip . . . ag, hulle is twee ontsettende goeie ouens. Pieter verhef nie eens sy stem nie, die saggeaardste ou. ’n Oud-Puk wat later in hul familieboerdery kom werk het. Phillip se geval is nog meer tragies, want hy het daardie dag bloot saamgery.

“Dit was die agtste keer dat Pieter-hulle iemand wat die plaas plunder polisie toe gevat het. Die sonneblomme was eintlik al wat daar oor was – alles was al weggedra, die store, pomptoerusting, drade, heinings, die plaashuis self.”

Die Doorewaards is in ds. Tewie se gemeente. “En Phillip het nog altyd so gehelp op die dorp met opheffingswerk, lank voor hierdie ding gebeur het. Dit breek my hart, dit kan jou kind wees . . . wat ’n tragiese onreg.”

Hy besoek hulle gereeld in die tronk.

“Hulle is op ’n baie slegte plek. Phillip het 30 kg verloor, Pieter 20 kg. Jy gaan deur die ellende van 36 in ’n sel en jy word daar verniel. Jy wil nie weet wat daar aangaan nie.

“ ’n Bewaarder van Klerksdorp stap in en vra wie is die kindermoordenaar, en dan klap hy vir Pieter, en die volgende keer as ek hom sien, het hy ’n blou oog.”

Op ’n manier was dit Tewie Pieters se lotsbestemming om nou hier in Coligny dominee te wees.

Coligny-Oos was die eerste beroep wat hy in 27 jaar gekry het ná sy teologiegraad van Tukkies.

“Ek was seker die langste beroepbare proponent in die NG Kerk se geskiedenis,” sê hy met ’n skoueroptrek.

“Ek het later maar my lot aanvaar en gaan boer en ’n mynbou-besigheid op Marikana begin.

“My pa is ’n dominee, en my broer wat nou al dood is, was ook. Ek het hard probeer om in die NG familie te bly, maar die manier hoe die dominees my deur die jare behandel het, was eintlik baie sleg.”

Jare lank het hy agt dae ’n maand vrywillig gewerk in gemeentes wat nie ’n predikant kon bekostig nie. Nadat hy amper twee jaar lank die Coligny-Oos-gemeente se skuldlas help afwerk het, het hulle hom voltyds beroep.

“Dit was ’n wonderlike reis, maar dit verander ’n ou nogal. Daar is hope mense met meer ondervinding as ek binne die kerk, maar min dominees met meer ondervinding as ek búíte die kerk.”

Juis dit het hom uniek toegerus vir wat op hom in Coligny sou wag.

Maar voor dit moes hy self ook van mening verander. Ds. Tewie het self op sy eie mynhoop rasse-vooroordele gesit.

“As jy 27 diefstalle gehad het. En jy het 20 jaar lank gesukkel met dronk plaaswerkers en vakbonde en onproduktiewe werkers, verhard jou hart nogal. Ek was selfs op Eugène Terre’Blanche se begrafnis.”

As dit van die destydse Tewie afgehang het, sou hy waarskynlik nie een versoenende vinger uitgesteek het nie, glimlag hy.

“Dit het ’n tragiese voorval soos April 2017 gekos om my – én die kerk – te kom wakker skud. As ons vroeër begin het, het ons dalk hierdie hele tragedie vermy.”

Verfkwas in die hand, het Voortrekkerstraat Tewie Pieters se Damaskuspad geword. Eers vingeralleen. Toe is daar twee, drie.

“As die mense kom, begin die kritiek verdwyn. 4 000 liter verf word afgelewer. 300 bome. 54 000 kospakkies uit Minneapolis. Die premier kom kyk wat ons regkry. ’n Riooltrok word ná jare se gestoei afgelewer.

“Dit word ’n golf.”

En terwyl die dorpe om jou brand, is jou dorp in ’n varsgeverfde vrede.

“En as dit weer brand . . .” sê hy met ’n gereformeerde glimlag, “dan begin ons maar weer van voor af.”

Meer oor:  Tewie Pieters  |  Coligny  |  Dominee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.