Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Duane se ma
‘Tóé huil ek snot en trane!’

Donderdag laatnag gesels ons twee, ek in ’n donker huis met beurtkrag, Estelien Vermeulen doer bo in Mbombela.

Estelien by haar huis in Mbombela. Foto: Hennie Homan

Die gesels word ’n hart-uitstort van ’n ma wat bars van trots, wat weet haar eie pad tot by die Webb Ellis-beker was nie sonder duwweltjies nie – die pad van ’n enkelma om haar seun ’n wêreldkampioen te maak.

Sy praat sonder fieterjasies en haar lewenswaarhede tref een ná die ander soos drieë reg onder die pale.

Estelien is ’n groot babbelkous, maar jy kry haar skoon stilverleë as jy vertel daar’s op sosiale media geskryf sy’s mooi en jonk genoeg om Duane se sussie te kon wees.

“Haai jinne! Rêrig?”

Foto’s van haar in die Mustangs­kuierplek in Mbombela tydens die eindstryd het mense gaande gehad. Jy kon die telbord omtrent op haar gesig lees. Op een foto skree sy só, dis net kleintongetjie.

“Ek het nie geweet hulle neem my af vir die koerant nie, ek was heel onkant gevang, net gedink o hel, ek slaan my naam met ’n plank!”

Jy gaan nou die man van die huis wees. Ek wou hom iets gee om aan vas te hou.

En toe Estelien hoor haar Thor is boonop speler van die wedstryd, “tóé huil ek snot en trane!

“Ek vra nog vir iemand: Wie dink jy gaan Man of the Match wees, ek het nogal ’n goeie gevoel vandag . . . en nét toe ek dit sê, staan dit daar op die TV: Duane Vermeulen. Meer as dit kan jou beker seker nie oorloop nie!”

Sy’t reg van die begin af geweet die Bokke gaan die trofee huis toe bring. “Want ons het hierdie Wêreldbeker vrek nodig.”

Jy hoor ’n lekker sug, ’n behaaglike sug.

“Ek sweer daai motto op die T-hemde van Stronger Together was die Velcro wat almal aan mekaar vasgeplak het. Ek het ook al my mond uitgespoel oor Willie le Roux geen bal kan raakvat nie en Faf wat al die balle wegskop.

“Tot Duane vir my sê: Hou nou op, dis my werk, los ons uit, ons weet wat ons doen.”

Jy weet, Sussa, sê Estelien, haar stem warm van blydskap: “Duane was ’n rough-en-tough kind. Toe hy gebore is, het die ginekoloog in Nelspruit vir ons gesê hy het nog nooit so ’n groot baba gesien nie – 6,1 kg, ons moet vir hom skoolklere en ’n tas koop, hy’s reg vir skool.

Duane was sewe jaar oud toe sy pa, André, dood is aan kanker. Ná die eindstryd, toe Matthew Proudfoot (skrumafrigter) Duane op die veld vasgedruk het, het Proudfoot gesê sy pa sou trots gewees het op hom. En toe kom die trane.

“Duane het ’n klein hartjie, maar as hy die dag op die veld besluit: Vandag gaan julle almal skyt hier onder my, dan is dit so.

“Ek het verlede Saterdagoggend met hom ge-FaceTime voor die game. Jy’s reg vir die game, nè, het ek vir hom gesê. ‘Hoe weet ma dit?’ Jou oë is groen vandag. ‘Huh, Ma?’ Ja, sê ek, jou oë is groen, nie ligblou soos gewoonlik nie.

“Want as my Duane kwaad is of beneuk of beredeneerd gedetermineerd, verander die kleur van sy oë. Hulle was Saterdag groen.”

Bok-groen.

“Toe weet ek die saak is reg.”

Voor elke wedstryd, waar of wanneer hy ook al speel, bel sy ma hom. Elke keer met dieselfde boodskap. Laas Saterdag, voor die belangrikste game van sy lewe, was geen uitsondering nie: “Doen jou bes, gaan uit, neuk jou teenstanders op, maar bowenal: Geniet dit, want dis hoekom jy rugby speel.”

Elke liewe keer hoor Duane dit.

Duane word hier in die lynstaan opgetel. In st. 9 (gr. 11) het hy vir die eerste keer in die eerste span gespeel.

Met Faf wat pronk in sy springbroekie en Frans wat prins Harry uitdaag om ’n bier te down, het Duane kaalbolyf op FaceTime met sy medalje om sy nek en sy Man of the Match-trofee gespog.

“ ‘Kyk hierso, laat ek vir Ma wys, dit kom in so staalboksie, dis nogal mooi.’

“Toe ek hom die volgende dag vra of hy darem al geslaap het, vra hy wat’s dit?”

Sy giggel. “En sy lyf? Knie moer toe van al die shots op die veld, maar hy worrie nie, hulle is op ’n high, hulle gaan nou kuier. Tipies!

“Dan dink ek maar wéér, ja, jis Seun, jy is nog daai klein outjie al is jy 33 jaar oud en verdomp bles omtrent, van al die kepse dra. Jy bly nog my klein seuntjie wat dink dis great om rugby te speel, g? worries oor pyne nie, gaat net aan.”

Terwyl Duane die Engelse stormram, het Estelien vir ’n oomblik, ’n hartseer ene, gewens André, haar man, kon dié glorie-oomblikke saam met haar beleef.

Hy is dood aan testikelkanker toe Duane sewe jaar oud was, kanker wat ontwikkel het uit ’n ou rugbybesering.

“Ek wens jy sien jou kind van daar Bo af, André, nee, ek weet jy sien dit, en ek hoop jy is tevrede en trots soos wat ek tevrede en trots is.

“Sussa,” klim die hartseer in haar stem, “jy wíl nie weet nie.

Duane en sy vrou, Ezel.

“Ek wonder altyd wat André sou sê, daar van Bo af. Sal hy sê: ‘Jissie, well done, jy het goed gedoen met die kinders se opvoeding. Of sal hy sê flip, ek het nie geweet jy sal dit regkry nie!’

“Ons was maar nege jaar getroud toe hy dood is. Jy wonder hoekom gebeur dit met jou en hoe jy hierdie kinders gaan groot kry. Maar jy kry die krag van Bo en as enkelouer is die Bybel jou handleiding, reken ek.”

Die swaarkry om vir haar seunskind rugbykanse oop te maak, het Estelien plek-plek amper omgeskrum. Sy was altyd aan’t goeters bedink vir ’n ekstra inkomste sodat Duane op rugbytoere kon gaan.

“Ek het Avroy Shlain-produkte en Argilla-potte verkoop, ag enige ding, want daar kom ’n toer en ek moet betaal.

“Vandat ek kan onthou, het Duane gesê hy wil rugby speel soos sy pa. Rugby het hom nader aan André gebring. Gladiator is sy all time favourite fliek. Hy sê altyd sy pa het soos Russell Crowe gelyk.

“Van jongs af het Duane leiding geneem, hy was eintlik nog maar altyd my en sy sussie se hero. Meer volwasse as ander kinders, wil ek amper sê. Hy was deel van ’n groot seuns-vriendekring, hulle is nou nog pelle. Maar hy was nooit saam met sy maats net kind gewees nie.

“Ek voel vandag nogal sleg daaroor, want ná André se dood het ek vir Duane gesê: Jy gaan nou die man van die huis wees. Ek wou hom iets gee om aan vas te hou.

“Maar, wee’ jy, dis eintlik ’n verkeerde ding om vir ’n kind te sê, want jy plaas ? onnodige las op hom. Maar jy weet nie, nè, hoe om kinders alleen groot te maak nie.”

Jy hoor die twyfel, die stoei, in haar.

Daar was die oomblik, in st. 9, agter die skool-telbord.

Duane was op pad na ’n seunskamp op Badplaas.

Hanlie Retief

Die pa’s het hulle pa-dinge gedoen vir hul laaities, soos ’n biertjie inglip in die toksak, vermanings om nie rond te neuk nie.

“Ek het vir Duane gesê: Onthou net een ding, jou naam is belangrik, jy gooi dit nie weg nie. Dalk ken jy nie die mense wat rondom jou kampeer nie, maar daar’s altyd iemand wat vir jóú gaan ken.

“So, jy moet besluit: Wil jy saam met jou maats aanjaag en drink en naam weggooi, of wil jy rugby speel? Jy moet nóú vir my sê, ek soek ’n antwoord voor jy in daai bus klim.

“Toe sê Duane hy wil rugby speel. ‘Dan weet jy waar die perke is, my kind . . . ”

Van die pa’s het haar later daaroor gekritiseer, want dis mos maar wat kinders op daardie ouderdom doen – hulle kuier.

“Ja, almal kuier, ek ook, ek wys nie vinger nie, maar as jy êrens wil kom, dan sorg jy dat jy daar kom. Ek dink jy kan dit sien in Duane se lewe, hoe hy sy loopbaan sover hanteer het.”

Haar stem kry ’n krakie hier in die nagdonkerte: “Dit maak my nogal trots, ek dink nie hy het énige klad op sy naam nie.”

Al met Duane se eerste rugbywedstryd op De Doorns, toe die kaalvoetseuntjie op ’n veld vol sneeu uitdraf, het Estelien gedink hy’t talent.

“Maar niemand besef rêrig waantoe dit gaan nie.” En niemand weet van die harde werk en opoffering en deursettingsvermoë wat daardie talent laat blom het nie.

Nadat die Vermeulens uit die Kaap Nelspruit toe getrek het, het Estelien “ ’n baie goeie vriend” ontmoet. Leon Fourie was 23 jaar lank in hul lewens.

“Leon het vir Duane die deur by die Pumas help oopmaak. Hulle het hom ? 20-minute-kans in ’n game teen die Valke gegee, toe speel hy die wedstryd klaar, en kry sy eerste kontrak.

“Maar Leon was bitter streng met my kinders. Ek dink Duane en Leandi wou hom wys hulle gaan bo uitkom, maak nie saak wat hy sê of dink nie. Ek wil amper sê as dit ook nie vir Leon was nie, was Duane nie waar hy nou is nie.”

Estelien en haar vriendin Adelle, Thomas du Toit se ma, was saam in Japan vir die eerste twee weke van die Wêreldbekerreeks.

Die twee het eg Suid-Afrikaans by die wedstryde opgedaag.

Gedress en gepress, met landsvlag-oorbelle en elkere ding. Ek het vir ons blazer-baadjies gekoop en vir ’n vrou gesê sy moet die hele ding lostrek en ons landsvlag daarop vaswerk. Maar ons het dit nooit gedra nie, want ons het gevrek van die hitte,” skater sy.

Nie eens Rescue Remedy help ’n ma daar tussen die derduisendes op die paviljoen as haar seun uitdraf nie. Stres kwadraat.

“Vir my is dit maar net altyd: Seblief, laat niemand op ’n stretcher afgedra word nie. Met die game teen die All Blacks het Pieter-Steph (du Toit) se ma voor ons gesit. Toe hy op ’n stadium bly lê, was sy half histeries. Ons het mekaar vasgegryp. Mens voel: ‘Staan net op, want as jy kan opstaan, is jy nie verlam nie, die res kan ons reg opereer. Staan net op!’ ”

Baie mense het Duane as ’n has-been afgeskryf voor die Wêreldbekerreeks.

“Sussa, en kyk net nou! Dit maak ’n ma se hart seer as jy sulke kritiek hoor, ek was lus om hulle gas te gee, ek sal soos ’n leeu veg vir my kinders.”

Sy’s net ’n “plein, gewone, plat-op-die-aarde-mens wat lief is vir my kinders, my mense, my taal, my land”.

“En,” giggel sy, “ek vrek oor ’n lamstjoppie!

“Maar ek kan vanaand my kop neerlê en ek hoef nie môre wakker te word nie. Ek dink ek het dit gemaak, André, ons kinders is oukei.

“Met óf sonder daai goue trofee.”

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Estelien Vermeulen  |  Rwb19  |  Rugbyspeler
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.