SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Edward Kieswetter
Gatvol is verby, nou is dit Thuma Mina

Stap gou saam, sê Edward Kieswetter voor die onderhoud begin, ek wil julle iets gaan wys. Ons langtree agter hom aan tot by die Stars-kamer, die inkomstediens se spilpunt twee deure weg van sy kantoor, waar ontleders aan ’n ovaal tafel ’n magdom skerms sit en dophou terwyl die voorlopige belasting-invorderings in miljarde inrol. Dis die twee groot dae voor die Augustus-spertyd.

In die Stars-kamer by die SAID in Brooklyn, Pretoria, monitor die kommissaris Edward Kieswetter en sy span die miljarde wat inrol voor die Augustus-spertyd vir die voorlopige belasting-invorderings. Foto’s: Deon Raath

Hier word die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) se inkomstestrome gemonitor, die top-100-lys een vir een afgetik, teikens gejaag en banke gemonitor.

Kieswetter staan in die middel, byna priesterlik in ’n hemelblou Madibahemp. Een vir een laat hy die ontleders aan hom rapporteer. Af en toe vat hy ’n sluk water. Rustig. Maar daar’s iets meedoënloos aan hom. Priemend.

Dis dag 123 in die kommissaris-stoel vir hierdie man wat deur pres. Cyril Rama­phosa aangestel is met die woorde: “God het jou gestuur.”

Op die roomwit leerbank in sy kantoor waag ek die vraag: Tom Moyane (sy gekaapte voorganger by die SAID) skuif in sitplek 1B langs jou op die vliegtuig in. Wat sal jy vir hom sê?

Ons het dit tóégelaat. Ons is ’n land in oorlog met onsself. Ons is ons eie vyand.

“Ek sal seker net vir hom vra: Wat het jou besiel? Wat wou jy bereik? En ek sal ook, as ’n medemens, vir hom sê: Ek is teleurgesteld.”

Bestaansrede. Dis vir Edward Kieswetter ’n belangrike woord. Die bestaansrede vir die SAID. “As ek dink aan die geld wat ons invorder, sien ek hoe dit ’n onskuldige kind kan verhoed om in ’n put-toilet te verdrink. My ma is ’n pensioenaris en vir haar is R50 ekstra ’n maand nog ’n maaltyd.

“So, dís wat ek hom sal vra: Wat was sy begrip van die bestaansrede van die SAID? Want vir my gaan leierskap nie oor my nie, ek is hier as dienskneg, ’n middel tot ’n hoër doel.

“Wat sê hy nóú oor hierdie massiewe mislukking van bestuur en integriteit, die fundamentele vesel van ’n gesonde maatskappy wat heeltemal uitgerafel het?”

Wat hom veral dwars in die krop steek, is dat Moyane die groot sake-eenheid wat Kieswetter destyds as Pravin Gordhan se regterhand tot stand gebring het, sonder rede gesluit het. Net dié eenheid het 30% van die SAID se inkomstestroom gegenereer.

“Wég. Ontbondel. Ons moet dit nou weer van die grond af opbou. Hoekom, mnr. Moyane?”

Edward Kieswetter: “As jy heeltyd die ergste verwag, gáán dit gebeur.”

Op 27 Maart, oor hoendervlerkies en slaai in ’n restaurant, lui sy iPhone. Tito Mboweni. “Jy het die job, sê hy vir my. En voor ek ’n woord kon sê, gaan Tito voort: Dankie dat jy dit aanvaar,” lag hy.

“Ek en my vrou is daar weg met ’n, hoe noem mens dit, brakkiesakkie, want my foon het onophoudelik begin lui.”

Nie eens die Meerlust Rubicon óf die Hamilton Russel Pinot Noir uit sy wynkelder kon hom daardie aand lawe nie. “Nee, nee, ek sal op ’n permanente drup moet gaan. Want skielik was dit wérklik, en dis ’n moewiese uitdaging.

“My familie kon dit nie verstaan nie, maar iets in my siel het vir my gesê ek moet, indien ek gevra word, die Thuma Mina-wekroep van ons president beantwoord.”

Hy het die Nugent-verslag “gelees en gelees en gelees”. Daaruit was dit duidelik dat die SAID “gebroke” was.

“En ek praat nie van tegnologie nie, die géés van die mense was gebroke. Ek het heeltyd in my geestesoog die mense gesien, want vir my begin en eindig alles met mense.”

Toe maak Kieswetter sy hart oop in ’n brief aan die SAID se 12 500 werknemers. “Ek het ’n maand lank gedink aan wat ek wil sê, hóé ek dit wil sê, dit oor en oor geskryf.”

Op sy eerste werkdag, presies 12:00, 1 Mei, het elke werknemer die brief, persoonlik aan hom of haar gerig, ontvang.

Dit was Kieswetter se eerste tree na die heling van ’n verrotte inkomstediens.

Die Nugent-verslag omskryf nie eens naastenby die omvang van die staatskaping nie, sê Kieswetter.

“Dis veel erger as wat ek ooit vermoed het. Ek is hartseer vir ons land. Papier is geduldig, ’n verslag is klinies. Wanneer jy voor mense staan en hulle vertel jou hul belewenis, jy kyk in hul oë en sien tot in hul siel, en daar kom ’n traan, dan besef jy die werklike impak van staatskaping.”

60 senior amptenare het onder Moyane die skeldnaam gekry as die supernumeraries, die oortolliges. Kieswetter het hulle een vir een ingeroep. “Dan vertel hulle hoe hulle soggens inkom en die rekenaar aanskakel om die nuusflitse te lees, want hulle kry geen werkverwante opdragte nie. Dis nie net onwaardig nie, dis onmenslik.

“Ek het vroeër met baie van hulle saamgewerk, ek weet watter waarde hulle toevoeg, sout van die aarde, net eenkant toe gestoot. En dís wat my hartseer maak. Hoe kon ons dit aan onsself gedoen het? Ons het dit tóégelaat. Ons is ’n land in oorlog met onsself. Ons is ons eie vyand. Ons ondermyn mekaar.”

Is hy nie bang hy word die road kill van Zuma & kie se Fight Back-veldtog nie? “Ek wil nie naïef wees en sê alles is hunky-dory nie.”

Die openbare beskermer het sy aanstellingsproses en bevoegdheid bevraagteken, en die EFF se aanklag teen Trevor Manuel – dat hy ingemeng het by Kieswetter se aanstelling omdat hy ook bruin is – is deur die hof verwerp.

Kieswetter raak vir die eerste keer ergerlik. “My familie sou veel eerder wou hê dat ek saam met hulle krabbel speel en rooiwyn drink. Mense besef nie watter persoonlike prys jy en jou familie betaal nie. Dis ’n roeping.

“Vir ’n president om dit op so ’n besonderse manier te sê, nie ‘ek plaas jou by die SAID nie,’ maar God plaas my hier . . . dit laat mens nederig voel, dié vertroue in jou.”

En moenie van Kieswetter verwag om deel te wees van die kletsklasse wat mor oor die president nie in die kryt klim teen sy opponente nie.

“Ek is optimisties oor die land. As jy heeltyd die ergste verwag, gáán dit gebeur.”

Drie weke terug by sy vrou in Singapoer, tydens die viering van hul Nasionale Dag, kon hy beleef hoe ses miljoen mense saamstaan en sê: ons is Singapoer, ons is trots.

“En toe dink ek, soos altyd, aan my liewe land, my vaderland. Verdeel en heers, ons teen hulle, is al 300 jaar deel van ons psige. Die dag wanneer ons ons Suid-Afrikaansheid erken, is die dag wanneer ons werklik gaan vordering maak as land.”

Kieswetter het ’n reputasie dat hy nie gras onder sy voete laat groei nie. Ses maande ná sy aanstelling in Transnet se direksie het die uitvoerende hoof, Siyabonga Gama, die trekpas gekry.

As uitvoerende hoof by Alexander Forbes het hy baklei vir regstelling vir die pensioentrekkers wat gely het onder batestroping. Binne sy eerste maand daar is die saak in die siviele hof geskik, binne drie maande het hy vir die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gaan sê hulle beken skuld. “Die ongemaklikste loopbaanbeslissing van my lewe, maar die regte een.”

Sedert sy aanstelling by die SAID is vyf amptenare op voorwaardelike skorsing geplaas, van wie een pas finaal afgedank is.

“Ons word wetlik verplig om belastingbetalers se privaatheid te beskerm, en die publiek is onbewus van die ondersoeke agter die skerms, maar glo my, dinge roer hier.”

Het hy raad vir adv. Shamila Batohi wat deurloop oor die NVG so sloer om kroeks in oranje pakke te kry?

“Adv. Batohi het óók ’n organisasie vol parallelle agendas geërf. Dink jouself in, jy kom die eerste dag hier en jy weet nie wie om te vertrou nie. Niemand gaan vir jou sê: Terloops, I’m on the dark side, nie. Maar hulle ondermyn, daar is troebel water.

“Ná vertroulike vergaderings sal ’n joernalis my daaroor bel, en jy wonder: hoe de duiwel het dit uitgelek? Ek vermoed daar’s skuilname op Twitter, want baie van die twiets wat ek lees, klink soos een van ons mense.”

Kieswetter is besig met ’n outobiografie, Parents Perfect for Me. Van sy munisipale werker-pa het hy die waarde van eerlike harde werk geleer, van sy kleremaker-ma dat jy hier op aarde is om ’n seëning te wees vir ander.

Ná ’n IK-toets op laerskool het hy per toeval uitgevind hy is begaafd genoeg om te kan droom van ’n universiteitsgraad.

Op daardie oomblik het alles vir hom verander.

“As jy grootword in ’n gemeenskap waar die meeste kinders nie eens skool klaarmaak nie, is dit maklik om te glo dis jou voorland.”

Later, in ’n oproep na sy ma, vertel die 79-jarige Jocelyn hoe sy baie keer dink: “Is dit rêrig my kind, het ek rêrig so ’n spesiale mens in die lewe gebring?

“My Edward-kind wou altyd sy mammie geplease het. As daar swaar dae was, het ek rokkies en broekies en voorskootjies gemaak met die off-cuts in die fabrieke se weggooi-bins, en dan het Edward dit smiddae gaan verkoop en ons het weer brood in die kas. My kind is eerlik en regverdig.”

Kieswetter het as arbeider gewerk om te kan studeer en kan na dese alles op ’n bouterrein doen, maar by pleisterwerk trek hy die streep, glimlag hy.

Hy is ’n elektriese ingenieur met drie meestersgrade, en beskou onderwys as sy eintlike passie. By die Harvard-Universiteit was hy ’n ruk lank mede-professor in kognitiewe studies.

Boonop was Kieswetter 30 jaar lank ’n lekeprediker en koordirigent.

“Ek het grootgeword in ’n musiekhuis, en ’n gunsteling is Handel se ‘Holy, Most Holy Art Thou’. Albei my seuns het musiek studeer, en ons het al saam koorstukke gekomponeer.”

Op die troue van sy seun Matthew met ’n Singapoerse Chinese meisie, het Kieswetter sy eie vrou ontmoet – Frances Dydasco, ’n Singapoerse batebestuurder. “Ons het kontak behou, ek het haar naderhand gevra of sy weet van Facetime,” glimlag hy, “drie maande later was ons albei toevallig op sakebesoeke in Londen . . . en die res is geskiedenis.”

“En ja”, gooi hy kop agteroor soos hy lag, “dit het gehelp dat sy mooi is!”

Hy het vroeër afgetree om meer tyd by Frances in Singapoer deur te bring, maar dis nou ook geskiedenis.

“Wat het sy my geleer van myself? Mmm. Harville Hendrix sê ’n mens word aangetrek tot presies die regte verkeerde mens vir jou, as jy die mes is, is jou lewensmaat die slypsteen.”

Hy wys my die rits oudioboeke waarna hy tans luister: Radical Candor, Measure What Matters, en Francis Fukuyama se Identity: The Demand for Dignity and the Politics of Resentment.

Op pad uit, ’n laaste vraag: Wat sê hy vir die moedelose 10% Suid-Afrikaners wat 87% van die belasting betaal?

“Mense, moenie hoop verloor nie.”

Skielik kom daar trane in sy oë.

“Ons het die reg om gatvol te wees, maar terselfdertyd, asseblief, as julle vandag hierdie lees: wees die verandering wat julle graag wil sien.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.