Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Elsa Joubert

Sy sit by die tafel langs die groot venster waar die son inskyn, van waar sy Leeukop en Seinheuwel kan sien, én die palmboom en waterstroompie wat in ’n klipperige plooi van die berg afloop.

Philip de Vos het dié foto van Elsa in 2005 geneem.

Met opmerksame oë kyk sy die wêreld stip aan. Nie oumenswasig nie. Stip.

Op 56 het Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena vir wit mense – die baas en die miesies – ’n blinding laat opgaan voor ’n venster wat altyd toe was.

Op 95 het sy met Spertyd die krakerige deur na ons almal se afloop en eindbestemming ge-olie en oopgestoot.

Min skrywers het al so aangrypend en indringend en onsentimenteel oor oudword geskryf.

Op die ou end is dit vervulling wat jou gelukkig maak in die lewe. Vervulling in wat jy ook al doen.

Háár afloopjare.

Amper-’n-eeu, gedistilleer tot nou se sit in dié stoel, voor dié venster in dié kamer van die Berghof-aftreeoord, met die glas water en die blou strooitjie, die skilderye en die vars geel rose.

Hier. Nou.

Ek sien elke dag uit my venster die wonderlike geweld van ’n stukkie groen wat deur die dik bas stoot, onverhoeds hom oopvou en onhoorbare flapgeluide in die wind maak, skryf sy in Spertyd.

Elsa Joubert en haar broer, Deon, in 1923.

Voor dié venster lees sy nog elke dag Die Burger. “Ek sê vandag vir my carer – ek moet mos nou heeltyd carers hê – ek het nou Die Burger gelees soos ’n muis ’n stuk kaas eet.

“Hennie Aucamp het altyd, baie onvleiend, vir my gesê my grootste karaktertrek is nuuskierigheid. Dan sê ek Hennie, jy gee die verkeerde hoek daaraan. Sê liewer ek is weetgierig.”

Met die bekendstelling van Missionaris se Engelse vertaling het ’n vrou Elsa kom vra wat haar resep is vir so ’n lang, produktiewe lewe.

“Ek sê vir haar ek was nog nooit in my lewe in ’n gim nie, ek het nog nooit gaan draf nie, ek was nog nooit op ’n dieet nie, ek is ’n aandmens, nie ’n oggendmens nie, ek eet als waarvoor ek lief is. En elke aand so halfses drink ek ’n glasie whisky.”

Op ’n sypaadjie in Parys in 1949.

Die vrou was so stomgeslaan, sy’t nie ’n woord kon uitkry nie.

Wat Elsa Joubert nie vertel het nie, was die ritme van haar skryflewe. Hoe sy soggens, sodra die kinders weg is skool toe, begin skryf totdat die voortuinhekkie klik in die middag. Dan pak sy weg en dan is sy ma.

Op die ou end is dit vervulling wat jou gelukkig maak in die lewe, sê sy.

“Vervulling in dit wat jy ook al doen. Ek is ’n groot gelower in werk.”

Elsa en Klaas Steytler het in 1950 in Londen verloof geraak.

Dis net ná drie in die middag. Berghof haal gedemp asem. Dit raak ’n kleinood-uur saam met haar. ’n Beige trui wat oor die ronding van geboë skouers vou. Silwer hare in haar nek bo die hempskraag. Die byna deurskynendheid van die ouderdom.

Maar die sinne vlymskerp, haar uitlê van die blyheid en broosheid van die lewe.

“Ek skryf maklik,” sê sy, “maar ek skryf nie maklik goed nie.”

Sonder woorde is sy verlore. Steeds. “Hoe sal ek weet wat ek dink as ek nie kan sien wat ek geskryf het nie?” skryf sy.

En: “Sonder Afrikaans is ek stom.”

Selfs op 95.

Elsa Joubert

Die spel met woorde kom vir haar al van kinddae af aan.

“Toe ek klein was, was ek lief vir my pa, en my pa was lief vir my. Hy het my vertel van Dal Josafat se skrywers, die Genootskap van Regte Afrikaners. In Dal Josafat se begraafplaas lê baie van hulle met grafskrifte wat sê: Patriot vir Suid-Afrika.

“Ek sê toe vir my pa ek wil ook ’n skrywer word en ek wil ook ’n patriot word.

“Maar later het dit sleg uitgeloop, want ek was nie meer ’n patriot nie. By ’n Gildeberaad vra ek vir Braam de Vries: Jy is op dieselfde plek as ek, ons kan nie patriotte wees nie. Toe antwoord hy: Man, ons is taalpatriotte.”

Met Poppie Nongena is Elsa Joubert se patriot-era sekerlik finaal ingespit in Dal Josafat se diep leemgrond. Dié grinterige verhaal van Elsa se huiswerker se stryd om ’n waardige lewe te lei tydens apartheid het een van die eerste, en sterkste, struggle-romans in Afrikaans geword.

“Daar was so ’n dringendheid met Poppie. Ons was op pad Onrus toe vir die Kersvakansie. Die onluste in die townships was erg.

“Ons huishulp het al haar pakkerasies gehad op pad om in die township ’n bus te kry na die ou Transkei toe. En hier daag sy op net voor ons ry, en sy lyk sleg en ek sê kom sit, vertel, en ek los alles en maak vir ons tee.

Jy word stadig ingelyf in oudword, sê sy.

“Ek het daai oggend geweet dit is my volgende boek en dis nie vir my nie, dis vir ons land en ons mense, want ons stuur op ’n afgrond af en ons wéét dit nie.”

Drie keer ’n week, met die kinders op universiteit, het hulle lang sessies gehad in die meisies se kamer, met die twee stoele en die bandmasjientjie. En so, in Poppie se eie woorde, het die boek beslag gekry.

Die “oëverblindery” van Afrikaner-nasionalisme kon Elsa van vroeg af nie bluf nie. Daarvoor het sy te veel gereis, te veel gedink, haar te veel aan ander plekke en mense laat blootstel.

Op 25, in 1948, is sy alleen met £200 se reistjeks in haar handsak per boot tot by Mombasa in Oos-Afrika en van daar af “met bote en lorries en waens op langs die Nyl”.

Sy wou sien wat gebeur as sy haar marionet-draadjies knip, uitkruip agter die rug van haar veilige Afrikaner-omgewing.

“My ma was doodbang ek beland iewers in Afrika in 'n groot swart pot. Maar vir my was dit ’n obsessie om te gaan, ek is vreeslik obsternaat.”

Elsa Joubert en Klaas Steytler op hul troudag op 15 April 1950 in die Paarl. Foto: Verskaf

Met tikmasjien en kamera het sy Afrika deurreis, Europa, Indonesië, die eilande Madagaskar, Mauritius en Réunion. Haar reisboeke was baanbrekers in Afrikaans.

Die deurklokkie lui. Berghof se aandetes word afgelewer. Sy teken daarvoor, die pen sekuur in fyn, netjiese vingers.

Sy het in Berghof kom woon ná haar man, Klaas, se dood in 1998. Sy is nou deel van die groep wat die langste al daar woon – die laaste-skowwers, noem sy hulle.

Vir Klaas Steytler – skrywer, joernalis en uitgewer – het sy op Ikeys ontmoet, besig met haar M-graad.

Daar was ’n dans in die Jamesonsaal, onthou sy. Sy het ’n aandrok in haar koffer gehad, die bus het ’n sikspens gekos . . . ’n groepie Afrikaanse jongmans het nader gestaan en een van hulle was Klaas.

“Klaas het altyd gesê hy het daardie aand geweet hy gaan met my trou, maar ek was meer geïnteresseerd in ’n ander ou met ’n mouterfiets wat gesê het hy sal my huis toe vat met die mouterfiets, aandrok en al.”

Maar ’n mens vind altyd die snykant van die mes, nè, glimlag sy.

“Ek en Klaas het dadelik geweet ons deel belangstellings. Hy was nogal hooghartig, hy sê hy wil my die Vrydagaand uitneem en het ek al Crime and Punishment gelees? Nee, sê ek, ek kom van Stellenbosch af. Toe bring hy die boek vir my en sê ek moet dit teen Vrydag gelees hê. Ek is ’n vinnige leser en ek slaan groot dele oor, man, maar Vrydagaand was ek fully primed oor Crime and Punishment.

“Toe praat hy nie eens daaroor nie, hy praat oor ander boeke wat ek óók nog nie gelees het nie. Hy het my soveel geleer . . .”

“Ek skryf maklik,” sê sy, “maar ek skryf nie maklik goed nie.”

Vir Elsa Joubert, uit die Paarl, uit die NG Kerk, deel van “die room van Afrikanerdom” soos hulle op Stellenbosch geleer is, was Klaas “sy eie mens, klaar verby al die Afrikaner-goed van daardie tyd.

“Ons twee was maar altyd agterstevoor.”

Klaas het vir ’n paar jaar in Montreal, Kanada, gewerk en in 1949 by Elsa in Parys aangesluit.

“En toe gaan ons verder saam.”

Jy lees die twee verlangende sinne in Spertyd: Ek mis Klaas. Waar is Klaas?

“Ek het ’n naby verhouding met my kinders en kleinkinders. Ek het ’n gelukkige huwelik gehad.”

Sy het genoeg van die wêreld gesien, en genoeg van die wêreld se smart, sê sy. “Ek wil nie nog daarin deel nie. Daarom is Spertyd ’n versadiging en vervulling.”

Sy glimlag langsaam. “Maar nee, ek is nie versadig van die lewe nie, as ek soggens wakker word, is daar altyd nog iets wat ek wil doen, nog woorde om mee te speel.”

Oudword, sê sy, is nie ’n bewuste aflê van dinge nie, jy word stadig ingelyf daarin. Jou liggaam begin jou kniehalter, hy wil nie meer nie, hy’s nie langer lus vir goed nie. Dit raak ’n bodderasie.

En die kop . . . Eers begin jy woorde vergeet, en dis lastig. Dan begin jy gedagtes vergeet, en dis fataal. Want ’n verlore gedagte kom nooit terug nie, dit los ’n swart gat in jou kop.

Sy skryf: Miskien staan die gedagtes in my boekie opgeskryf as ek eendag Anderkant aankom. As ek kan orders gee, sal ek net vra – ’n notaboekie aan die Anderkant. Asseblief. En ’n pen, sommer ’n Bic.

Spertyd, sê sy, was grootliks ’n poging om vir haarself duidelik te maak wat is aan die gebeur, al die dinge wat op haar afkom.

Soms word dit moeilik om te besef jy staan nie meer in die hoofstroom nie. Jy het jou kans gehad. Dis verby.

’n Man het vir haar ’n bos blomme Berghof toe gebring. “Hy het vir my vertel hy en sy ma het ’n hegte verhouding gehad tot ses maande voor haar dood, toe sy na ’n ouetehuis getrek het. Hy kon haar nie meer begryp nie, en sy ook nie vir hom nie. Toe hy Spertyd lees, het hy sy ma weer gevind, het hy my vertel.

“Dit maak skryf die moeite werd.”

In Spertyd skryf sy: Bewerk die klein erfie wat jou toebedeel is, en alles sal daarmee saamkom.

Sy het. En wat ’n manjifieke uitsig het daardie klein erfie van Elsa Joubert.

Meer oor:  Spertyd  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.