Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Gideon Groenewald
Die man wat soek na water

Op ’n grondpad naby Matjiesfontein rem Gideon Groenewald skielik. Die stof maak ’n vaal wolk agter ons. “Kom ek gaan wys jou ’n swerfsteen.”

Dr Gideon Groenewald by ’n leë plaasdam in die Sutherland-omgewing. Foto: Edrea du Toit

Gideon is lank, hy gee sulke metertreë. Onder die ou velhoed is ’n gesig wat son ken.

By ’n pikswart rots steek hy vas en wys ’n spierwit klippie, vasgevang in die swart rots. “Dis duidelik ’n stuk afgeronde graniet wat van Halfway House tussen Pretoria en Johannesburg losgeruk is deur ’n gletser, die gletser het afgeskuif tot by Kimberley waar ’n stuk as ’n ysberg afgebreek het. Dit het afgedryf tot naby Matjiesfontein. En toe die ysberg smelt, het die klippe wat vasgeys was aan die ysberg op die seevloer beland. Nou dáái klippe noem ons swerfstene. Die Dwyka-ystydperk was van 310 miljoen tot 280 miljoen jaar gelede.”

Gideon Groenewald is ook ’n swerfsteen.

Hy het ’n doktorsgraad in geologie, maar hy is eintlik ’n akademiese swerwer, sy navorsing in paleontologie en geo-hidrologie word internasionaal erken. Hy verkies dat mense hom oom noem. “Jy kan swot vir doktorsgrade, maar jy verdien jou oom-titel,” gee hy ’n droë laggie.

Ons beleef die begin van ’n baie groot uitsterwing, bespoedig deur die mens.

In die Noord-Kaap staan hy bekend as oom Gideon Waterman, want die afgelope drie jaar het hierdie man water in droogte gebring. Saam met Gift of the Givers het Gideon en sy span 800 boorgate gesink en uit 500 van hulle het die water ’n boog gespuit.

Gideon, oom Tienie Landmann, sy seun Martyn en die boormanne Petrus, Pheello en Mpeyakhe Mofokeng, drie geslagte, boor al ’n leeftyd. “Dis iets om te sien as dié manne water vind, hulle begin voete stamp, dans rondom die boorgat en dan weet jy die water kom. Hierdie manne weet water is aan die kom, hulle lyk naderhand soos engele wat blink in die stof.”

In die klein ure van die nag, tussen een en vier uur, skuif Gideon agter sy rekenaar in op ’n ontdekkingsreis na water.

“Ek kyk na die droogtegebied met ’n satelliet wat 78 km hoog in die atmos­feer is. Dan bid ek vir God om my die lyne te wys. Ek maak ’n GPS-punt waar ’n pad ’n lyn kruis. Dan ry ek die volgende dag daarheen en doen magnetiese opmetings.”

Die ergste droogte in ’n duisend jaar. Foto: Edrea du Toit

Terwyl ons op die grondpaaie tussen die Karoo-plase ry, wys hy vir ons die “krakies” in die aardkors waar die water lê.

“Nou hiér soek mens, en hiér,” wys hy hulle uit. “En sien jy die krudoringbossies wat hier in so ’n streep groei? Die Here het hulle té bitter vir diere gemaak, want krudorings is waterwysers.”

Heeltyd soek sy oë en dis byna ’n obsessie, want om ons lê die greep van die grootste droogte in ’n duisend jaar. “Net in Sutherland het die skaapgetalle gekrimp van 450 000 na 30 000. Om nie eens van die ander velddiere te praat nie.”

Ons stop by ’n plaasdam waar die visse kliphard en opgekrul op die bodem tussen kleikrake lê. “Alles vrek, paddas, insekte, die groter diere soos aardvarke, skilpaaie, meerkatte. Tot die bloekombome. Nou as ’n blóékom dit nie meer maak nie…”

Ons beleef die begin van ’n baie groot uitsterwing, sê Gideon. Dis die aarde se siklusse wat nou onnatuurlik deur die onnatuurlik bespoedig word. “Elke dag word damme droër, grondwater chemies meer onbruikbaar, ’n ramp is aan die gebeur, maar dit gebeur té stadig vir die mens om dit raak te sien. Dis wat ek in 2019 beleef het.”

“Genadewater”. Midlands-hospitaal, Graaff-Reinet. Foto: Elsabé Pienaar

In hierdie wit Hilux, met Mozart in sy ore, waterbottels wat op die vloer rondrol met sy éie water uit sy éie boorgat, het Gideon in 2019 120 000 km gery op soek na water.

Hy kan nie mooi dink aan een dag in drie jaar wat hy nié vir water gesoek het nie.

Hierdie plaas is baasloos, en hierdie een ook, wys hy die hekslotte terwyl ons ry.

“Die boere wat vasbyt, byt vas. Die ander is of buiteland toe of pap geslaan deur die onsekerheid van die beleid rondom grondbesit. Die institusionele geheue van die boere is nou oorsee, en dis opsigself ’n ramp.

“Maar die planne wat die vasbyters maak, sjoe. Boervroue soos Sybil Vi­sagie en Hester Obermeyer het die vroue van Sutherland, Williston en Calvinia bymekaar getrek en op die internet geadverteer: R200 vir ’n 2 kg-blik koekies vir Kersfees. 24 000 blikke is klaar verkoop. Daai vroue het R5 miljoen in drie weke bymekaarmaak deur by hul stowe te staan en die manne en kinders pak koekies en só gaan hulle die droogte deursien.

“Vrou-alleen het Sybil dié wonderlike idee gekry. Sy het die vroue se gees gedraai, dit het die dorpe aan die loop want die mense moet meel koop, bakpoeier koop. As ’n boervrou hoop het, gaan haar man minder aan selfdood dink.”

“Met 40 liter water, op haar kop, in haar hand, loop sy die pad.”

Gideon het as plaaskind op Lady Grey aan die Lesotho-grens grootgeword. “Ek het dit geweldig geniet om op my eie in die berge te loop, daarom dat ek maar seker ’n swerfkind is.

“Op vier en ’n half het ek vir die eerste keer pad gevat en 12 km na my tannie se huis op ’n ander plaas geloop. En natuurlik ’n helse loesing gekry daarvoor.

“Ek het my eerste dinosourusbeentjie opgetel toe ek 12 jaar oud was. Op 13 het my pa my gewys hoe die stokkies werk om water te kry.

“Ek het al op laerskool my eie boorgat gemaak met ’n wa-as en ’n stuk kabel wat ek uit die nette van ’n ou tennisbaan op Aliwal-Noord gekry het. Toe bou ek ’n boormasjien met ’n pully. Vir drie maande lank het ek vakansies en ná skool met die hand my eerste boorgat geboor.

“Op 18 voet (5,5 m) het ek water gekry. Vandag nog staan die windpomp op die boorgat wat ek vir my pa geskenk het.

“Ek het ’n ongelooflike liefde om vir mense water te kry. Dit gaan nie oor geld nie; geld is ’n noodsaaklike euwel waarmee ek moet saamlewe. Vir my gaan dit oor die 70-jarige gogo wat aangeloop kom en sy skep water, en sy sit ’n 20 liter-drom water op haar kop en in haar hande dra sy nog 20 liter en stap 2 km terug met ’n lag op haar gesig, want sy kon water kry. Dis wat die lewe vir my die moeite werd maak.”

As jong geoloog het hy 11 jaar lank saam met twee kollegas, Baba Tshabalala en Johnny Nonyane, amper 40 000 km deur die Karoo geloop en die Karoo-kom met 10 cm (6 duim) intervalle opgemeet.

“Ons het duisende fossiele uitgegrou en só kon ek die storie skryf van 80 miljoen jaar se droogtes. My doktorsgraad gaan oor die siklusse van droogtes.

“In 1985 het ek per toeval Golden Gate ingestap, ek het ’n slanke swartkopvrou van ’n trap sien afstap en binne vier ure het ek uit die staat bedank en vir Sue gevra om te trou. Sy kon nie ’n woord Afrikaans praat nie, ek nie ’n woord Engels nie, ons het op gevoel getrou. Van toe af het ek en my vrou en kinders saam die land platgeloop.

“Patrys (Patricia) het haar eerste fossiel, ’n buitelbekagtige akkedis, ontdek toe sy 22 maande oud was. Ek was besig om haar te abba. Sy doen nou haar doktorsgraad in argeologie.

“David maak nou sy PhD in paleontologie klaar met my destydse Karoo-navorsing as grondslag.”

Gideon het in ’n stadium agt jaar die Lesotho-hooglande deurkruis as ’n oorgrens-bewaringskonsultant. Daarna was hy vir ’n ruk lektor by die Universiteit van die Vrystaat.

Hanlie Retief

“In 2015 is my vrou skielik dood. Vier dae voor haar dood het ’n vriend, ’n Sotho-profeet, vir my gesê my vrou gaan dit nie maak nie, maar God gaan vir my ’n klein groep mense gee en ek gaan water vind vir kinders.

“Ná my vrou se dood was ek vier maande lank oorval met smart. Ek het vir die Here belowe as Hy my hierdeur kry, sal ek vir kinders water vind. Ek het vir Angus Buchan ’n e-pos gestuur en myself as geoloog aangebied om gratis vir boere te help water vind. Die antwoord was kort: ‘We don’t need your services, sir.’ Dit was toe nié my paadjie nie.

“Vier dae later het Emily Thompson van Gift of the Givers my gebel. Ek het toe nie eens van hulle geweet nie. Sy vra: Is jy oom Gideon Waterman? Nee, sê ek. Maar die Noord-Kaapse mense noem jou so, Oom, kan jy ons kom help?

“Ek is ’n Christen, dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers is ’n Moslem, ons bid al drie jaar saam vir water, ons hou hande vas, ek en hy. Gift se leuse, the best among people are those who benefit mankind, het vir my waar geword. Dit eggo in die Bybel: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Ons steur ons nie aan politiek of infrastruktuur-kwessies nie, al wat ons soek is water, want sonder water gaan mens en dier dood.”

Gideon Groenewald kry die krake en verskuiwings op die aardkors. “Maar die Here gee die water.”

En met dié woorde trek die ou swerfsteen se oë water.

Meer oor:  Gideon Groenewald  |  Droogte  |  Klimaatsverandering  |  Water
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.