Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Grant Pattison
Ekonomieë kan herstel. Dooie mense nie...

In die wêreld van konglomerate wat struikel – Anglo, Massmart en Edcon – staan Grant Pattison bekend as die sonskynseun wat die plan maak en laat werk.

“Takel die probleem, takel die probleem.” Verlede week by sy huis in die noorde van Johannesburg, saam met sy hond Sheldon.

Maar selfs dié uitvoerende hoof van Edcon het laasweek vir ’n paar oomblikke geknak toe hy in ’n pynlike telekonferensie vir sy verskaffers moes sê hy kan hulle nie betaal nie.

Aan die einde van sy oproep, toe hy simpatiseer met die verskaffers oor die vernietigende impak daarvan op hulle, was hy so emosioneel dat hy vir ’n paar oomblikke glad nie kon praat nie.

Een van die verskaffers het die oproep opgeneem en toe Bruce Whitfield dit later op sy sakeprogram The Money Show op CapeTalk en Radio 702 uitsaai, het Whitfield ook in trane uitgebars en gesê hy het nog nooit so-iets gehoor nie.

Pattison is die eerste stem uit die sakewêreld wat die verwoestende verlies aan werkgeleenthede en moontlike bankrotskappe weens Covid-19 verwoord.

Ons weet nie wat sou gebeur as ons ’n ander roete gekies het nie.

“As jy wil verstaan onder watter stres bykans elke kleinhandelaar en onderneming in Suid-Afrika nou is, kyk maar net na wat met ons gebeur het,” sê hy Donderdag in ons onderhoud.

“Ek het emosioneel in die telekonferensie geraak, want as ’n mens slegte nuus verbaliseer, word dit skielik ’n verskriklike werklikheid.”

Jy hoor ’n bietjie verleentheid in sy stem – tranerigheid is nie juis in sy DNS nie. Pattison is kindjare reeds taai gebrei in ’n bosskool in Matebeleland. Hy het op ’n myn in Zimbabwe grootgeword, waar sy pa ’n ingenieur was. In sy studentejare het hy vakansies op Vrystaatse goudmyne gewerk.

Taai is Grant Pattison se handelsmerk.

Maar dis juis die paar sekondes emosionele knak op minuut 3:58 in die oproep wat almal aangegryp het.

’n Jonger “en meer astrante” Grant Pattison. Hy is bekend in die sakebedryf vir sy veglus om struikelende kleinhandelreuse soos Massmart en Edcon te red.

Ons het die stem gehoor van die man wat moontlik Edgars se deure finaal sal moet toemaak. Dié 90-jarige sakereus wat soos Ouma Beskuit en Mrs Ball’s ’n Suid-Afrikaanse instelling is.

Pattison was destyds die poppemeester agter die Walmart-Massmart-ooreenkoms. “Soos jy kan onthou, het die regering dit teengestaan. In ’n krisis, pres. Ramaphosa weet dit beter as enig­iemand, beland al die druk op die bestuurshoof. Sukses het baie pappies, maar mislukking is ’n weeskind.”

Edcon se finansiële probleme kom egter reeds van lank voor die korona­virus. Toe Pattison in 2018 uitvoerende hoof geword het, was die kalf in die put.

“Toe ek daar begin het, het ek ’n lang lys opgestel van als wat gedoen moet word om Edcon te red. Februarie was ek deur daardie lys, selfs die laaste taak: ’n verkoopooreenkoms vir CNA.

“In Februarie het Edcon vir die eerste keer ’n positiewe vooruitsig gehad. Ons kon ons weg deur winter 2020 sien, éintlik was ons nogal baie opgewonde oor die winter. Die eerste twee weke van Maart het ons van ons beste verkope gehad.”

Op 16 Maart, die dag ná pres Rama­phosa se eerste ramptoestand-aankondiging, het hul omset met 40% gedaal.

“Dis vernietigend, want drie weke daarvan beteken ’n verminderde omset van R750 miljoen. Daarvan herstel jy nie. Ek het reeds daardie aand besef ek sal nie my verskaffers kan betaal nie.”

En toe kom die inperking.

Vir Pattison en sy span was dit ’n 100 m-naelloop om te probeer plan maak hóé om 730 winkels in sewe lande betyds toegemaak te kry.

“Winkels is nie ontwerp om toe te maak nie. Wat van veiligheid, IT-stelsels, water en ligte, vervoer? Trokke op die pad, vraghouers op see van China af wat in Durban se hawe aankom . . .”

In sy huis in die noordelike voorstede van Johannesburg is hy nou heeltyd aan die planmaak vir ná die inperking. Heeltyd. Selfs tydens ons onderhoud is hy tussendeur besig om e-posse te antwoord. “Ons moet nou die hóé van heropen probeer uitpluis.”

As Edcon sy deure finaal moet sluit, verloor byna 17 000 mense hul werk. Maar, keer hy met ’n effense laggie, “die klem is op ‘as’. Ons gaan ná die inperking ons winkeldeure oopgooi en R3,2 miljard se voorraad verkoop.”

En Edcon se bestuurspan? “Ons sal die groot gat wat die koronavirus geskep het, moet hanteer. Ek weet steeds nie hóé nie.”

In sekere kringe word gesê die streng inperking-roete van ons regering was verkeerd, dat die bankrotskappe, werkloosheid en hongersnood wat dit tot gevolg gaan hê, verreikender gaan wees as Covid-19 self.

Nee, sê Pattison.

“Ekonomieë kan herstel. Dooie mense kan nie.

“Ek glo die president het die regte besluit geneem.”

Wat help dit om nou sulke scenario’s te bedink, sê hy. Dis net demoraliserend. Ons is klaar verbind tot dié pad.

“Hoe weet mens ná die tyd of dit die verkeerde besluit was? Ons weet nie wat sou gebeur as ons ’n ander roete gekies het nie.”

In ’n twiet sê hy hy is verstom met hoeveel selfvertroue kommentators hul menings oor die koronakrisis lug, met hoeveel sekerheid hulle daaroor praat. “Dis ’n een-in-?-honderd-jaar gebeurtenis, daar’s nie handleidings nie. Hoe weet hulle soveel? Tydreisigers? Heldersiendes?”

Pattison noem homself ’n tipiese elektriese ingenieur wat hou van studeer en sport. Hy leer tans in sy vrye tyd Linux en Python.

Van kleinhandel het hy nie ’n snars geweet nie. Hoe hy destyds Massmart se uitvoerende hoof geword het, is al ’n klein bedryfslegende.

Grant was ’n “effens obsessief-kompulsiewe” 27. Ná ? onsuksesvolle werkonderhoud by ’n IT-maatskappy in die Massmart-gebou, loop hy en sy onderhoudvoerder, Richard van Rensburg, vir Mark Lamberti, Massmart se uitvoerende hoof, in die voorportaal raak.

“Daar was ’n paar ongemaklike oomblikke en toe, heel spontaan, noem Richard dat Mark dalk ’n werk vir my het.

“Mark nooi my toe na sy kantoor, en ek sê so ewe: gaaf om jou te ontmoet, maar watse werk doen jy? En watse maatskappy is dié? En toe Mark vir my sê, vertel ek hom met my oormaat naïewe selfversekerdheid dat ek van Dion hou, maar Mákro! Ek was die naweek daar en die produkte was deurmekaar én die stofsuier wat ek wou koop, was uit voorraad.

“Net daar laai Mark my in die kar en ons sit af Makro toe, waar ek vir hom moes vertel wat als verkeerd is. En toe kry ek die werk,” lag hy.

Pattison was later op die kortlys om Eskom se uitvoerende hoof te word. In die kar op pad na die finale onderhoud, is hy gebel en meegedeel dat Brian Molefe heraangestel is.

“Ek was eintlik verlig. Ek is nie so seker of ek goed sou vaar in daardie polities komplekse omgewing nie, my denke is te onafhanklik.”

Pattison het uitvoerende hoof van Edcon geword wetende dis byna ’n onbegonne taak, die skuldlas was oorweldigend. Hy het die pos aanvaar om te probeer keer dat Edcon se (destydse) 100 000 werknemers hul werk verloor.

In die herstrukturering waarin winkelgroepe verkoop is en Edgars-takke van 1 500 na 730 gekrimp het, kon hy daarin slaag om 90% van die vloerpersoneel steeds te behou.

“In die toekoms sal niemand meer onthou dat Edgars en Jet gered is nie. Maar om te kan verhoed dat mense hul werk verloor is beduidend, belangrik.”

Hy begin lag en vertel dat sy grootste ambisie destyds was om die hoofingenieur van die President Brand-myn in Welkom te word.

“Nou dink ek dit sou dalk ’n baie beter idee gewees het!

“Ek het seker maar ’n ingenieursbrein. Ek hou daarvan om dinge reg te maak.”

Sy raad aan mense wat nou naels kou oor hul ondernemings op pad is bodem toe?

“Die eerste ding wat gebeur, is dat ’n mens oorweldig voel. Die meeste van ons kan dinge hanteer wat binne ons beheer is, selfs al is dit stresvol, dis binne ons vermoëns. Maar die koronavirus is totaal buite ons beheer. Ons is gebunker in ons huise, dit voel asof ons in ’n fliek is.

“As ’n mens oorweldig word deur die omvang en skaal van ’n probleem, hardloop jou kop rond in sirkels en al wat jy dink, is: Ek is screwed.

“Ek het nou al geleer as ek so begin voel, hanteer ek dit deur die probleem in deeltjies op te breek en dan een vir een aan te pak.

“Ek voel persoonlik baie beter nadat ek die eerste tien stappe van hierdie duisend-stappe-proses gedoen het.”

Dis presies hoe Pattison net voor die inperking gevoel het, net voor daardie emosionele telekonferensie. Betaaldag was die monster aan die einde van die maand. Personeel, verskaffers. “Hoeveel geld het ek? Wie kan ek wat betaal?

“Kry dit uit die pad. Maak daai oproep verskaffers toe. Byt deur: Ek kan julle nie betaal nie. Doen dit. Dóén dit. Gaan net vorentoe. Never give up.

“Dis wat ’n mens altyd die moeilikste vind: om te begin.”

So. Week 2 van die inperking. Vroegoggend staan die Pattisons op. Trek aan. Eet die spek en eiers. Drink jou vitamiene. Speel bietjie krieket met die vierjarige Jack. Gooi die bal vir Sheldon, die labrador.

“En begin met iets. Wat dit is, maak nie saak nie. Vul jou dae, kry goed gedoen, bereik jou klein mikpunte, jy gaan beter voel.

“En as jy eers momentum het, kort voor lank is jy halfpad deur Die Probleem, en kort daarna is die probleem agter jou.

“Al manier om hierdeur te kom, is om as Suid-Afrikaners saam te staan. Ons is skaars in die begin van die pandemie. Die pad is nog lank vorentoe. Kom ons baklei nie oor onbenullighede nie. Daar is net een vyand: Covid-19.”

Meer oor:  Grant Pattison  |  Covid-19  |  Coronavirus  |  Ekonomie  |  Edcon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.