Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Hannon Bothma

Dis net perfeksie hier oorkant my aan die One&Only se vyfster-ontbyttafeltjie in die V&A Waterfront.

Daar’s warempel nie ’n krakie aan hierdie kêrel nie.

Hannon Bothma en Julius Swart is al 27 jaar lewensmaats en vennote. Foto: Edrea du Toit

Die Glam Guru se voorkop is so rimpelloos soos sy pers hemp wat so rimpelloos is soos Verneukpan.

Die oggendson streel hom. Die palmboom se takke wieg op die maat van die viole oor One&Only se luidsprekers. Sy vel gloei neutbruin ná ses leeglêweke in Griekeland.

Jinne. Jy wil Hannon Bothma knyp om seker te maak: is hy ’n man of is hy ’n waspop?

Knýp hom, por Julius Swart, Hannon se lewensmaat. “Toe! Ek sê jou hy word oud, hy vergeet partykeer om te flush!”

Pieng. Die man kán bloos.

Laasnaweek op Hannon se 50ste verjaardagpartytjie – ’n steampunk-sirkus met ’n buikdanser, ’n vlamslukker en ’n bebaarde sopraan – het Lizz Meiring die land gerusgestel in ’n skreeusnaakse skets: onse Hannon-Guru is nie ’n “homoterrestrial wat in ’n vlieënde piering hier geland het nie”.

Vlamslukkers, buikdansers, ’n bebaarde sangeres en Lizz Meiring, opgedollie as ’n vrypostige tannie van Vryburg, was deel van Hannon se 50ste verjaardagpartytjie.

Nog net dieselfde Hannes, die polisieman van Vryburg se vreemde seuntjie op wie se kleuterskoolrapport gestaan het: ‘Hannessie hou nie van buite speel nie.’

Wat op vyf sy ouma se pers fluweelhandskoene gedra het toe hy moes gaan bossies uittrek in die tuin.

Wat Dinsdae en Donderdae rugby gespeel het en gepirouette het in Maandae en Woensdae se balletklasse.

Nie jou “algemene” seun nie, 'n sensitiewe wese, beskryf Hannon tong in die kies sy destydse self.

“Maar my ouers het my laat begaan. In ons huis was daar ’n oorskot liefde. My pa was ’n fantastiese rugbyspeler en dit was vir my belangrik dat hy ook darem vir sy broers kon sê Hannes het ’n drie gedruk.”

Julius: “Hy wou nou die dag weer vir die Jozi Cats gaan uitdraf, die gay rugbyspan wat almal so kafdraf. Die straight ouens kan dit nie hanteer as hierdie klomp moffies hulle so pak gee nie. Toe sê ek vir Hannon nee, jou knieë gaan dit nie hou nie, kom ons borg hulle liewer!”

Jy is wat jy is, nè, lag Julius. Op 50. En op 15.

“Toe ons kinders was, het my boeties altyd die blou Lucky Packets in die kafee gekies, en ek die pienke, want daar was ’n kam in. Naderhand het my pa outomaties die pienke vir my gekoop.”

As ek sien wat dit aan haar psige doen, sukkel ek om die trane voor die kamera weg te sluk?.?

Hannon: “Ek het altyd geweet ek is gay. Natuurlik probeer jy maar, want jou maatjies het girlfriends. Maar dan besef jy in ’n stadium: ek hoef nie hierdie mens te wees nie.

“My pa noem my Jansonius. Hy het vir my ’n gedig geskryf vir my 50ste verjaardag, in ’n houtraam wat hy self gemaak het. Dit eindig met: Jy kan nie wees soos ander mense nie, want jy is jy . . .”

En mooimaak wou Hannon nog altyd.

Sy eerste oefensessies was op die afgekapte stert van ’n bees op pad na Vryburg se slagplaas. “Daai sterthare het ek na hartelus gevleg en gesjampoe en in rollers gesit!”

Sy poeier-en-kwas-kunsies kon hy later verfyn in Soutrivier se lykshuis, sonder klagtes van die kliënte.

Hy het as Hannes diensplig gaan doen en as luitenant Hannon uitgepasseer.

“Ek het nog nooit van die naam Hannes gehou nie. Toe makeover ek myself tot Hannon. Dis soveel mooier.”

Mooimaak het ook g'n grense nie. Die afgelope drie winters het hulle vakansie gehou op die Griekse eiland Skiathos. Nie lank nie, toe sny Hannon die Griekse tannies se hare.

Hannon en Julius het Aprilmaand in dié huis in Sandhurst ingetrek nadat Julius ’n jaar lank daaraan gerestoureer het.

Waar hy en Julius ook al in die wêreld reis, gaan Hannon se pienk haarskêrtjie met die diamante op saam.

“Mens weet nooit waar jy gestrand raak nie. Met my skêrtjie kan ek enige plek in die wêreld 'n lewe maak.

“Julius kan langer niks doen as ek. As ek soggens wakker word, wil ek nie net dink h’m, watter strand vandag nie. Daar’s werk, ek wil ’n verskil maak.”

Julius sug: “Toe reël ek maar vir hom tannies se hare om te sny.”

Die volgende dag kom die tannies daar aan met moussaka en origanum wat die een ou tante self in die berge gaan pluk en gedroog het. Dié haarsnye is nou ’n instelling.

Hannon: “Jy het ’n keuse van twee style: clasico of moderna. Clasico is daai ronde kapsel wat die ou Griekse anties met die swart rokke en kruise dra, en moderna as jy van Athene af kom, spuit-en-buig-hare,” lag hulle.

Toe ’n koerant daaroor wou skryf, het Julius blitsig wal gegooi. “Ons gaan nie nou hier ook ’n monster skep nie.”

Dis asof Griekeland en Hannon se Groot Vyf Zero saamspan om hom geduld en eenvoud te leer, frons hy. Amper.

“Ek was altyd ongeduldig en vir ’n groot deel van my lewe verskriklik onvergenoegd. As ek hier is, wil ek liewer dáár wees, want daai plek lyk altyd mooier as hierso. Ek is nou meer tevrede. Hè-hè, dalk wórd ek oud . . .”

Die speenvarkie moes vir oulaas steam-oink.

Eenvoud: “Twee kortbroekies op Skiathos, ’n tandeborsel, ’n lekker cream as jy gaan slaap, net ’n paar sente in jou beursie as jy vinnig iets wil gaan eet of ’n tamatie wil koop.”

Maar níks is vir hom lekkerder nie as om ná ’n reis terug te kom by hul huis in Sandhurst, en hom plat op die spierwit mat te gaan uitstrek sodat Bella en Bessie, die twee pekinese, vir “pappa” ’n lekkie in die gesig kan gee.

Hy en Julius is al 27 jaar saam en dit gaan nie ophou nie, dié liefde, sê die twee amper gelyktydig.

Hannon: “Ons werk as ’n couple, want ons sien die humor in omtrent als. Ons lag van die oggend tot die aand.”

Hy bly ’n oomblik stil. “As jy wil weet wat my rêrig bang maak: dat ek alleen gaan oud word. Ek wil nie hê Julius moet voor my gaan nie.”

Vir Hannon en Julius was die planete opgestel, 27 jaar terug. Hannon was ’n vakleerling-haarkapper by die Mount Nelson-hotel. Julius, ’n kliniese sielkundige, het deeltyds studentewerk by TrustBank gedoen.

Hy het ’n haarsny nodig gehad . . .

“Gaan na Hannon toe, sê iemand, hy is goed, jy sal van hom hou. En ek loop deur die Tuine . . . En daar’s Hannon in sy wit T-hemp en jeans en hy sny my hare. Op pad terug bank toe het ek so bietjie op ’n wolk geloop, gewéét hier gaan iets groots gebeur.”

Julius skryf ’n briefie vir Hannon: “As jy ooit eendag opera toe gaan, vat my saam, hier’s my nommer.”

Hannon: “Ek bel hom en sê Tristan & Isolde is oor twee maande.”

Julius: “Ek sê: Hoekom nie vóór die tyd bymekaar kom nie . . . En jy sê wragtig jy kan my eers oor twee weke inpas! Toe nooi ek jou vir ’n bier ná werk, en dog by myself nou’s ek lekker butch!”

Hannon: “Ek het rêrig nie gedink hy is gay nie. Maar hy het sulke pragtige oë gehad met hierdie bruin hare. En mooi skoene . . .”

Julius: “Hy het ná die bier ’n partytjie gehad, teruggekom en ingetrek daai aand.”

Hannon: “En nooit weer uitgetrek nie. Nét my tuimeldroër die volgende dag gaan haal . . .”

In daardie klein huurkamer met net ’n matras en handdoeke voor die vensters, het Julius aan Hannon begin karring: Maak jou eie salon oop.

Nee, sy kliënte sal hom nie volg nie, was Hannon se bang antwoord.

Toe brand die Mount Nelson, die salon skuif Kampsbaai toe en Hannon se kliënte volg hom.

Julius: “Daar’s jou teken, sê ek vir hom. Ons het in 1993 ’n salonnetjie in Seepunt oopgemaak. Telefoonnommer 439 0577. Die eerste dag R800 gemaak, wat ons maand se huur betaal het. Ek kon dit nie glo nie, dit was net so oorweldigend . . .”

En die eerste tree na hul empaaier.

Hannon se eerste oormaaksessie vir ’n tydskrif was só radikaal, hulle wou dit eers nie plaas nie, want hulle kon nie glo dis dieselfde vrou nie.

Toe nooi Robertson se VLV vir Hannon.

Julius: “Ons kom, sê ek.”

Hannon: “Néé, sê ek, ek weier om voor mense te praat.”

Julius: “En ek sê sorry, 300 tannies wag vir jou. Hannon pak toe sy grimeerpotlode in ’n plastiekroomysboks, met ’n pleister waarop hy geskryf het: Hannon. Dit was verskriklik!

“My transparantprojektor was die spotlight. Daai tannie was blind!”

Ná Hannon se eerste paar skamerige woorde, onthou Julius, het die tannies aan sy lippe gehang.

“En hulle het nooit weer opgehou nie.”

Pousetyd was Hannon volbespreek vir ’n week se opvolg-werkwinkels.

Hannon: “Wat is ’n werkwinkel, vra ek vir Julius. En hy sê, toemaar, ons sal dit uitfigure . . .”

Hulle het. “En dit het in ’n monster ontaard!”

Soms in ’n spoghotel se konferensiesaal, soms in sitkamers waar die vroue agterop sigaretboksies notas maak.

Soms Russiese kaviaar, soms cream crackers met polonie en appelkooskonfyt.

Hannon: “As jy jou gehoor wil saamvat, moet jy in hul skoene probeer klim.”

Julius: “Ek duik altyd eerste in die eetgoed, want dis die vinnigste hoe jy in tune kom met mense, as jy vir hulle sê jinne, jou kos is lekker.”

Hannon: “Want dis mos die beste wat die gasvrou gee. In liefde gemaak.”

Nou is Hannon & Julius ’n empaaier verder. Duisende optredes in duisende dorpe, ’n jarelange TV-reeks en produkte waarvoor mense in lang rye staan, by die saaldeure uit. Vir botteltjies en buisies én ’n selfie saam met Hannon.

Dis ’n leeftyd se dissipline en energie en omgee, knik hulle. ’n Histerie oor detail en gehaltebeheer. Die poster mag nie skeef hang nie.

En, rêrig nog steeds, elke keer as Hannon die mooi uit ’n afgematte vrou verf en poets en blow dry en sy gloei agterna . . . “Seriously, as ek sien wat hierdie oormaak aan haar psige doen, sukkel ek om die trane voor die kamera weg te sluk.”

Nou is daar die wit Mercs, ’n ML vir Hannon, ’n SLC vir Julius, die wit herehuis in Sandhurst met ’n 18de-eeuse marmerbeeld van die godin Diana en 18 karaat detail soos kwashale deur elke vertrek.

“Ek en Julius kom allermins uit ryk families. Ek is ongelukkig iemand wat nie goed aangelê is vir armoede nie. Ek het baie comforts nodig.

“Toe ek hier by die One&Only instap, was my woorde vir Julius: ruik hoe ruik ryk . . .

“En as jy geld het, kom die vraag: hoeveel is genoeg? Wat ons het, is tog oorgenoeg. Jy kom by ’n punt waar jy besef jy het nie so baie nodig nie.”

Vir ’n oomblik in Hannes Bothma se rimpellose pantser sien jy ’n haarlynkrakie van onsekerheid.

“Dalk is dit hoekom ek altyd so suksesvol wou wees: omdat ek so uit lyn was met my maats en nefies en niggies. Ek het baie vriende gehad, maar ek het steeds gevoel mense oordeel my omdat ek anders is.

“Dit was dalk my dryfveer om uit te styg bo al hierdie vooroordele. As ek baie diep moet krap, is dit seker maar dit,” kom die guru uit agter die glam.

Meer oor:  Hannon Bothma  |  Skoonheid  |  Glam Guru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.