SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Helen Zille
Krisis? Watter krisis?

Matrone is terug om die weeshuis tot orde te dwing.

Helen Zille op bloubergstrand: “Dis business as usual!” Foto: Edrea du Toit

Ná ’n verskriklike week vir die DA kom sy Vrydagoggend agtuur van vriende se huis in Blouberg aangedraf tot by die restaurant, klouter oor ’n muurtjie, gaan sit op ’n nat bankie vir ’n foto, spot oor die simboliek van die stormweer.

“Wie sê dis die ergste week ooit vir die DA? Dis business as usual! Oor ’n paar jaar sal ons terugkyk en vir die soveelste keer sê hoe verkeerd politieke kommentators dit gehad het.”

Vanoggend, vir altyd en vir ewig, Godzille, the meanest motherf*cker in the valley.

Sy skaterlag.

“It is not the size of the dog in the fight, it is the size of the fight in the dog.”

Grrr.

Vra haar of sy net ’n klein bietjie aandadig voel aan die feit dat die partyleier, die voorsitter van die party én ’n burgemeester die pad gevat het ná haar verkiesing tot voorsitter van die federale raad en sy kyk jou aan of dit die belaglikste ding is wat sy nog ooit gehoor het.

Suid-Afrikaners is mal oor martelaars, behalwe as hulle wit vroue is.

“So?” Die woordjie word geïrriteerd afgebyt.

En dis Helen Zille se antwoord.

“Die afgelope twee dae het ons alles gestabiliseer. Ons is goed op dreef om die party te stabiliseer.”

Dan gee sy toe. Sy gee net ’n biétjie toe. “Natuurlik was dit ’n terugslag. Maar as jy van wors hou, moenie kyk hoe wors gemaak word nie. Dink jy nou régtig dinge verloop altyd glad? Huh? Ek sê nie ons gaan dinge dadelik omdraai nie.

“Ná Marthinus van Schalkwyk het ons ’n massiewe vliegramp gehad toe die party geskeur het. Dit het ’n lang tyd gevat om ons kiesers terug te wen, maar ons hét.”

Sy is min gespin oor die stormsee van kritiek waarin sy haar nou bevind, dat sy die party wat sy wou kom red gebreek het, die “wrecking ball” wat die DA sonder leier, voorsitter, parlementêre leier en hoofsweep gelaat het.

“As jy dink hoe moeilik dit vir my is om so uitgekryt te word, hoe erg dink jy is dit nie vir swart DA-leiers nie?

“Hulle sê Mmusi (Maimane) is ’n sell-out, ’n coconut, maar die oomblik as die ding uitbom, ondersteun hulle hom skielik. Nou het die wit miesies hom uitgeskop . . .”

mmusi
Mmusi Maimane en Helen Zille waar hy sy bedanking as DA-leier aangekondig het.

Sy sug oor die narratief wat nou weer losgelaat word, dat die DA weer ’n leliewit Kaapse party is.

“Wie gee om watter kleur is die leier? Ons werk is nie om in te val by die oorheersende narratief nie, maar om ’n alternatiewe narratief te skep.”

Het die Mmusi-projek misluk? “Nee, want ons instellings was sterk genoeg, ons waardes is sterk genoeg, en die grootste sukses van sy leierskap was om op te staan vir aanspreeklikheid. Dit maak die Mmusi-projek ’n sukses.”

En was die hersieningskomitee se verslag onregverdig teenoor Maimane, soos Athol Trollip gesê het?

Sy antwoord nie.

Ook nie op die gerug dat juis Trollip die een was wat Maimane se leierskap ná Mei se rampspoedige verkiesingsuitslae die felste gekritiseer het nie. Dat Trollip self eintlik die leierskap in die oog gehad het.

Al wat sy sê, is dit: “Hoekom het Athol nie by die federale raad gesê die verslag was onregverdig teenoor Mmu­si nie?”

Die DA volg nou bloot die aanbevelings van die verslag. “Dit gaan nie oor ras nie, dit gaan oor leierskap.”

Toe Zille Woensdag daar gestaan het tydens Maimane en Trollip se bedankings, lippe dungetrek soos ’n rooi posbusgleuf, was alles nog volgens die beplande draaiboek. ’n Móói bedanking, solidariteit met die DA-visie. Toe kom Maimane se vuishou: Die DA is nie die voertuig om die visie van een Suid-Afrika vir almal vorentoe te neem nie.

“Dít het my heeltemal geskok. Ek het hom agterna gevra: Mmusi, hoekom het jy dit gesê? Dis mos nie wat jy glo nie, jy het dit nog nooit vir my of enig­iemand anders gesê nie? Toe sê hy hy moes ’n oortuigende rede gee vir sy bedanking.

“Ek het by hom gepleit voor die federale uitvoerende raad se vergadering: Asseblief, bly tot die kongres, die wiel draai, ek sal jou 100% ondersteun. En daar gaan hy en maak daardie aankondiging sonder om vir enigiemand te sê, behalwe vir Athol.

“Toe vernietig hy enige moontlikheid om aan te gaan as parlementêre leier.”

Frustrasie slaan deur in haar stem.

Gaan nog Maimane-lojaliste hom volg? Sy kyk op, blitsig. “Wie’s hulle?”

En sy wys op haar selfoon ’n rits DA-mense wat haar agteraf steun met pompende rooi hartjies, terwyl hulle op Twitter ’n ander deuntjie sing.

“Ek is ’n hopelose politikus, want ek verwag dat mense eties optree. Ek verwag dat mense sê wat hulle bedoel. So, as jy gedink het my vorige boek was ’n riller, wag vir my volgende een.”

Wil sy nie nou haar hare uit haar kop trek oor haar besluit om terug te keer nie?

“Watse simpel vraag is dít! Hoekom sal ek wil? Ek hou van adrenalien, ek het ’n tekort daaraan gehad.”

Voor haar lê ’n nagmerrie-scenario: wit, Afrikaanse kiesers én bruin kiesers in die Wes-Kaap wat sê hulle het nou die DA finaal gegroet, en met die huidige toksiese ras-etiket kan hulle vergeet van enige swart steun.

“Het jy ’n opname gedoen onder kiesers? Jy glo die rasse-nonsens van politieke kommentators!” gooi sy haar kop agteroor, haar oë styf toegeknyp in verontwaardiging. Haar lyftaal: Ag rêrig! Kom met ’n beter een!

“Ek kan nie die gehalte van politieke kommentaar in Suid-Afrika glo nie!” Sy begin iets sê. Trek dit terug. “Ek wil nie onbeskof klink nie.”

Dan kom die antwoord, afgemete: “Enige ernstige analise oor die ontwikkeling van demokrasie sal ná dié week sê die party het met vlieënde vaandels geslaag in drie sleutelaspekte: ’n bevoegde staat, die oppergesag van die reg en volle aanspreeklikheid.

“Maar niemand sien raak dat dit gaan oor aanspreeklikheid nie, niemand kom verby die punt dat die leier swart is, en ek, weens ’n melamien-mislukking, wit is nie.”

Een politieke kommentator, Justice Malala, het darem die spyker op die kop geslaan met sy twiet dat die “outpouring of black solidarity” met Maimane ná sy bedanking belaglik is, want net 4% van swart Suid-Afrikaners het in Mei vir die DA gestem, gee sy toe.

Nou word dit afgemaak as ’n rassekrisis in die DA en Maimane is die martelaar. Sy rol haar oë.

“Suid-Afrikaners is mal oor martelaars, behalwe as die martelaars wit vroue is,” sê sy en lag.

“Van die ses mense wat bedank het, is vier wit mans en twee swart mans, hoe word dit nou ’n rasseding? Alles is nié ras in Suid-Afrika nie, daar is ander dinge wat ook saak maak. Ek is die heel laaste om te sê ras is irrelevant, ek het regtig probeer om die DA te transformeer. Maar as dinge verkeerd loop, hou ons mense aanspreeklik, jou kleur vrywaar jou nie hiervan nie.”

Maar wat van al die swart DA-leiers in die Zille-doodsakker? Lindiwe Mazibuko (“die koukus sou haar uitgestem het”), Mamphela Ramphele (“as ek haar nie aanvaar het nie, was ek weer die wit miesies wat nee gesê het”), Herman Mashaba, Patricia de Lille, Mmusi Maimane?

“Vyf maande terug nog het Herman getwiet oor watter wonderlike mens ek is. Ek is ’n groter sosiaal-demokraat as die meeste in die DA, baie meer links as Herman Mashaba.

“Herman het groot probleme met sy eie koukus en van sy senior amptenare opgetel.”

Haar verhouding met Patricia de Lille is steeds goed. Só close, wys sy met wys- en middelvinger oormekaar.

“Dis op rekord dat ek gedink het die DA het Patricia uiters sleg hanteer.”

Nadat De Lille haar die afgelope week gelukgewens het met haar verkiesing, het Zille haar op WhatsApp geantwoord: “Een van die redes hoekom Mmusi tot verantwoording geroep is, is sy haglike hantering van jou saak. Dis nie die party wat teen hom draai nie, dis die party wat hom tot verantwoording roep om te voorkom dat ander behandel word soos jy.”

Oor Patricia se I-told-you-so-twitterdansie ná Maimane se bedanking, sê Zille dat De Lille verkeerd is om Maimane se situasie met haar eie te vergelyk. “En sy moenie die rassekaart trek nie, dit maak my vies.”

Soos De Lille, het Mashaba gesê die DA se teësinnigheid om transformasie aan te gryp, was ’n rede vir sy vertrek uit die party.

Sy rol vir die soveelste keer haar oë. “Dis totaal onwaar. Dis so maklik om die rassekaart te speel.”

Net op daai oomblik lui haar selfoon. Dis die DA-jeugleier, Luyolo Mphithi, wat vroeër vanjaar in die middel van die Schweizer-Reneke-debakel was. ’n Voorval wat ook nou deur die DA ondersoek word.

“Ek het gedink wat ons in Schweizer-Reneke gedoen het, was gek. Sonder om die ondersoek vooruit te loop: Lu­yolo is daarheen gestuur om daarvan ’n rassekwessie te maak, hy moes ’n mediaverklaring van die hoofkantoor voorlees, hy is ’n jong jeugleier, as die hoofkantoor vir jou so iets stuur, lees jy dit. Hy is onder die bus gegooi. Dis walglik.

“Dis tipies! In hierdie afgelope verkiesing het ons van alles raskwessies probeer maak sonder om eers die kwessie en konteks te ondersoek.

“Ons het ons teenstanders se spel probeer speel. Hardloop Schweizer-Reneke toe, moker die arme Elana Barkhuizen tot op die grond. Sy is ’n meer weerlose weergawe van my, ek kon terugveg ná die kolonialisme-twiet, sy was plat op die grond.

“Dis wat die DA heeltyd verbrou met sosiale media – hulle het dit met my kolonialisme-twiets gedoen, met Ashwin (Willemse), die skool-kunsprojek tans in KwaZulu-Natal. Konteks is alles!

“Toe kom die ware storie by Schweizer-Reneke uit en ons lyk soos blêddie idiote en verloor ons hele ondersteuningsbasis. Ons verstaan tog sosiale media, maar ons jaag dit soos ’n hond op hitte!”

Die DA het begin ontspoor tydens die #FeesMustFall-krisis. “Ek het totaal saamgestem met FeesMustFall, maar toe wit mense die probleem – énigste probleem – in Suid-Afrika geword het, kolonialisme moet val en kom ons brand kunswerke, het ek gedink: Nee.

“En waar was die DA? Doodstil.”

Is dit nie nou tyd vir ’n politieke herskikking in Suid-Afrika nie? “Absoluut, een op grond van waardes.”

Sy het gedink dit sal tussen die nie-rassige demokrate in die ANC en die DA ontwikkel, nooit dat iets tussen die DA en EFF sou gebeur nie.

“Dis ’n funksie van die leierskorps,” knyp sy die woorde uit. “Hoe bring ons mense bymekaar op die basis van waardes? Dít was ons projek, almal het dit verstaan, en dis hoekom ek nou terug is.”

Dit frustreer haar dat alles op die ou end na ras herlei word. “Ons kom eenvoudig nie daarby uit om die ware probleme in ons land aan te pak nie, ons het ’n gruwelike nalatenskap van onreg, van gruwelike diskriminasie. Die debat moet eintlik gaan oor hoe ons dit suksesvol kan aanpak. Gebeur daardie debat? Nee.”

Sy sê ’n twiet van Ryan Coetzee (die oud-DA-LP en lid van die DA-hersieningskommissie) vat dit wat die DA alles moet wees in ’n neutedop saam: liberaal, ten gunste van regstelling, teen rasgegronde beleid, passievol om armoede uit te wis, pro- mededingende markte, en met begrip vir die emosionele impak van Suid-Afrika se verlede.

Nog ’n WhatsApp-pieng op haar foon. Sy los alles, dis ’n foto van haar kleindogter wat vandag soos ’n meermin skool toe is.

“Ag, mannetjies man!” koer die ouma. “Dis wat ek gaan mis met hierdie werk, my tyd by hulle.”

Sy en haar man trek vandag na ’n huurhuis in Nuweland, juis om naby die kleinkinders te wees.

“Ek het nog nie eens die huis gesien waarheen ons trek nie, my man het vir my ’n foto gestuur.”

En dan, net voor sy in gietende reën die pad af hol om die treklorrie te ontmoet, vra ek wat almal vra: Hóékom is Helen Zille terug?

“Oor die meermin. Dink jy ek wil hê my familie moet oorsee gaan bly?”

En onder die rytjies verbete fopwimpers skiet haar oë vol trane.

* Lees ook Rapport sê

Meer oor:  Helen Zille  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.